‘N WAGTENDE PA OF ‘N SOEKENDE PA…

Ek lees by geleentheid die verhaal van ‘n pa en sy seun in die Amerikaanse Burgeroorlog. Die seun se naam was Jonathan en teen die vader se sin en wens het Jonathan een nag weggeloop en by die Noordelike magte aangesluit tydens die burgeroorlog. Daar het baie tyd verby gegaan sonder enige woord van Jonathan. Een nag het die pa ‘n droom gehad dat sy seun ernstig gewond is en dat hy die versorging van ‘n pa nodig het.

Die pa het sy plaas in die sorg van die werkers gelaat en uitgevind waar die soldate dalk mag wees. Met veel moeite het hy by die voorpunt van die linies uitgekom. Hy het die bevelvoerder gevra of hy dalk weet waar sy seun is. Die bevelvoerder het geantwoord dat daar vroeër die dag ‘n ernstig veldslag was en dat ‘n hele paar soldate gewond was. Sommige van die wat gewond is word reeds versorg, maar daar is ook ‘n groot groep wat nog steeds op die slagveld lê en wag om versorg word te word. Die bevelvoerder het toe aan die pa toestemming gegee om te kyk of hy sy seun kan opspoor.Aangesien dit alreeds donker was, het die pa ‘n lantern aangesteek om sy seun te soek. Die lig van die lantern het op die een gewonde na die ander geval, die oomblik wat die gewondes die lig sien, het hulle geroep om hulp. Ander was so erg beseer, dat hulle nie eens meer om hulp kon roep nie. Die taak het onmoontlik gelyk. Hy het die slagveld deurgestap van die een punt na die ander en oor die een gewonde liggaam na die ander gestruikel. Hy kon nie sy seun kry nie. Die pa het nie geweet hoe hy sy seun sou kry nie.

Toe maak hy ‘n ander plan. Terwyl hy oor die slagveld stap roep hy: “Jonathan Smythe! Ek is jou pa. Ek soek jou.” ‘n Kreun kon hier en daar gehoor word. Meer as een van die gewondes het gekreun: “Ek wens dit was my pa.” Die pa het aanhou soek totdat hy ‘n baie flou, byna onhoorbare antwoord kry: “Pa, hier is ek. Hier!” En toe: “Ek het geweet jy sou my kry.”

Die Nuwe Testament vertel die verhaal van die wagtende pa. Die pa wie se seun na ‘n ver land gegaan het en al sy rykdom daar uitgemors het en al die tyd het die pa by die huis gesit en wag. Toe die seun uiteindelik tot sy sinne kom en besluit om huis toe te kom, toe sien sy pa sy seun lank voor die seun die pa sien. Die wagtende pa het sy seun gekry.

In hierdie verhaal is die pa die een wat deur sy liefde gedryf word om sy seun te gaan soek. Die seun wat die wil van die pa geken het, maar tog steeds sy eie wil gedoen het. Die soekende pa het sy seun gekry.

As ek aan my eie lewe dink, dan is die tweede verhaal meer die geval in my lewe die soekende Vader wat my kom soek het. Ek het Hom nie gesoek nie, maar Hy het my kom soek. Ek was op plekke waar mense nie sou verwag om ‘n hemelse Vader raak te loop nie, maar tussen die liggame van ander gewondes het Hy my gekry.

Volgens ons Bybelleesprogram lees ons vandag 1 Petrus 1:17-21.

“Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.” (1 Petrus 1:17)

Ek wonder: Hoe leef mens vandag in hierdie wêreld met eerbied vir God?

Ek wil Sondagaand met die tieners praat oor sonde. Ek wil probeer fokus op die feit dat ons met God versoen is en nou ‘n nuwe lewe lei. ‘n Lewe wat gekenmerk word deur eerbied vir God. Ek sou waarskynlik as dominee ‘n hele paar dinge hieroor kon sê, maar ek wonder hoe dink jy wat kan mens sê: Hoe leef mens vandag in hierdie wêreld met eerbied vir God?

In hoe ‘n mate dink jy kry jy dit reg om met eerbied vir God te lewe?

Wat maak dit vir jou moeilik om met eerbied vir God te lewe?

Hoe weet jy as iemand anders met eerbied vir God lewe?

Ek lees graag …

Advertisements

8 Kommentaar

Filed under Christen tieners.

8 responses to “‘N WAGTENDE PA OF ‘N SOEKENDE PA…

  1. Alec

    In ons tyd is dit moeilik om veral met tieners oor respek en liefde in een sin te praat omdat liefde vir ‘n tiener ‘n seksuele konnetasie het wat nie altyd met respek saamgaan nie. Daarom dink ek om die werklike omvang van liefde te verduidelik is die groot uitdaging.

  2. Elmarie

    Eerbied kom mos net met ‘n diep besef dat elke asemteug ‘n genadedaad van God se kant af na ons toe is. Die ou cliche` “it’s not about you” geld seker hier. As jy so vol is van jouself en net wil ontvang, in plaas van net gee en dien, gaan jou mensliggie alles om jou so in die skaduwee gooi dat jy ander se liggies doodblaas en nie plek laat vir God se enorme lig om in en deur jou te skyn nie.

  3. Doom At

    Ons verloor ons vrymoedigheid voor God omdat ons moet voldoen aan menslike vereistes wat baie keer onmoontlik is en as ons nie daaraan kan voldoen nie, dan voel ons minderwaardig en gee sommer alles op, en besluit dan nee dis nie vir my nie, dis uit my eie ervaring as jongmens en toe ek vir die eerste keer my lewe vir God gegee het

    Maar toe besef ek die volgende:
    Eerbied is iets baie dieper as net mooi maniere en hoflikheid, dit is ‘n absolute liefde en aanvaarding van ‘n persoon waarteenoor ons eerbiedig is, nie net dit nie, dis ook ‘n groot respek wat ons dan vir daai persoon het, omdat ons nie ‘n persoon wil teleurstel of kwaad vir ons wil he nie, behandel ons hom/haar mooi.

    In die geval van God is die beste manier om teenoor God eerbiedig te wees om teenoor sy skepping eerbiedig te wees, om te verstaan dat ons almal broers en susters is dat almal gelyk is, almal probleme het en dat almal liefde nodig het, maak nie saak wie ons is nie, en dat die aarde aan God behoort en dat ons nie eintlik iets ons eie kan noem nie.

    Wanneer ons besef dat maak nie saak waarheen ek gaan, waar ek is en wat ek gedoen het nie, ek hou nooit op om God se kind te wees nie.
    Dan is dit asof ‘n mens amper automaties begin eerbiedig word.

    Tiens

  4. Attie, ek dink om met eerbied vir God te lewe is om gehoorsaam aan Hom te wees.

    Solank ek nog nie doen wat God vra nie, solank ek die Here op my eie voorwaardes wil dien en solank ek eers kyk wat ander mense doen voordat ek besluit of ek gehoorsaam aan God gaan wees, het ek nie ware eerbied vir Hom nie.

    God vra van ons ‘n Noag-se-gehoorsaamheid. Die soort gehoorsaamheid wat wys dat jou geloof eg is. Nie enigeen kan ‘n ark bou terwyl mense jou uitlag nie. Ons gehoorsaamheid word getoets wanneer ons die wind van voor kry of wanneer dinge moeilik gaan.

    Net soos Noag maak ons almal maar foute, nie een van ons is volmaak nie. Christenskap, of die feit dat ons met God versoen is en nou ‘n nuwe lewe lei, vrywaar ons nie van sonde nie. Nog minder verwag dit van ons groot dade of net wonderlike gebeure nie. Om tot eer van die Here te leef – is om “anders” te leef. Om “anders” te leef – is om oomblik na oomblik te leef. Om oomblik na oomblik te leef – is ‘n afkap-proses. Net soos ‘n beeldhouer iemand se gesig uit ‘n stuk klip moet kap, so moet ons alles wat nie soos ‘n Christen lyk, die oomblik wat dit opduik, afkap. Oomblik na oomblik. Dag na dag. ‘n Lewensverandering gebeur nie oornag nie, dis nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar ‘n proses.

    Natuurlik impliseer dit ook dat ek Sy getuie sal wees.

  5. Ek gaan bietjie in een sin sê wat ek by elkeen lees:
    Alec: Verduidelik hoe lyk liefdfe wat gepaard gaan met respek.
    Elmarie: Elke asemteug is genade – verstaan dit en jy sal eerbied hê.
    Thinus: Eerbied kom as ek iemand so liefhet dat ek hom/haar nie wil teleurstel nie.
    wa-‘n bietjie: Neem tyd – is nou verweef met gehoorsaamheid.
    Dit lyk amper asof mens nie eerbied kan leer nie, maar net die pad kan aanwys wat eerbied vir God as eindbestemming het.

    As ek nie eerbied of respek vir my medemens het nie, dan het ek waarskynlik ook nie eerbied of respek vir God nie.

  6. Alec

    Ek is baie lief vir my ma, EN het die grootste respek vir haar. So kan ek aan ‘n paar voorbeelde dink waar ek a.g.v. my liefde vir die persoon baie moeite vir die persoon sal doen sonder om iets in ruil daarvoor terug te verwag.

  7. Attie

    Ek wonder eintlik nog steeds oor presies “eerbied vir God” in die praktyk lyk. So. is daar in ons kerk hieroor gepreek (Mal 1), en uit die preek het daar ‘n paar vrae in my gemoed gekom; dinge wat dit NIE is nie:
    1) dis nie uiterlike eerbied, soos ‘n aanspreekvorm nie. “Dr”, “Ds”, “Oom” is nie noodwendig eerbied nie. Ek onthou hoe ek geen respek vir een van my pa se vriende gehad het nie, hoewel ek hom natuurlik nog “oom” moes aanspreek (en vice versa).
    2) in die diens is gesê dat respek vir God laag is as jy ure voor die TV na sport kyk, maar nie tyd het vir Stiltetyd nie. Wel, vir my is dit natuurlik ook nie ongekwalifiseerd waar nie. Ja, ons moet stiltetyd hou en tyd MAAK daarvoor; maar ek dnk nie ‘n mens kan tydsineling / prioriteite so meet nie.

    So hoe lyk eerbied?
    1) Ek dink gehoorsaamheid is ‘n teken van eerbied, maar weereens is dit nie ‘n swart-wit antwoord nie, want my knders is steeds ongehoorsaam aan my, maar dit beteken nie dat hulle geen respek/eerbied vir my het nie. Ons is en bly darem nog steeds mens/sondaars.
    2) Ek dink dis beslis in die hart, in die gesindheid, in hoe jy oor Hom en Sy werke praat/dink/voel.

    Miskien help dit nie eens nie, maar ek is huiwering om kits antwoorde te gee, soos so maklik kan gbeur. Godsdiens is mos maar ‘n verhouding, en die goed word binne in die verhouding uitgewerk. Daar’s dalk ‘n element van: dit verskil van persoon tot persoon?

    Og, dis duidelik dat ek nie weet nie né.

  8. attie

    Alec: EK hou van wat jy sê dat liefde maak dat jy niks terug verwag nie.
    Swartwitpens: Eerbied buite ‘n verhouding kan nie bestaan nie. Ek stem ook saam en dink ons moet versigtig wees vir kitsantwoorde. Dalk iets van: Eerbied is om sensitief te wees vir hoe die ander een sal reageer op wat ek doen of nie doen nie. Maar eerbied in ‘n verhouding van liefde gaan ook saam met die gedagte dat ek weet dat ek ten spyte van my gebrekkige eerbied steeds welkom is.
    Ek dink graag saam…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s