raad vir ‘n huwelikspaartjie wat gaan trou

‘n Verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou is bedoel om as een van die mooiste verhoudings en een van die kosbaarste “iets” in jou lewe te wees. Die teendeel is ook waar, die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou kan ‘n leewenslange pyniging wees. En dan natuurlik is daar enige iets tussenin.

Ek kan vandag nog die dag onthou toe ek my vrou die eerste keer gesien het en wat alles daardie dag en daardie oomblik deur my kop gegaan het.Oor haar wil ek sê soos Nick in die rolprent “The Wedding Date”. “I would have missed you, even iif I never met you.”

Ek dink nie ons doen alles soos die boek sê nie, maar ons is gelukkig en ons maak mekaar gelukkig en ons kom deur baie moeilike tye wat ander se verhoudings gesink het. Maar, ons is gelukkig. Weereens soos Nick dit sê: “I would rather fight with you than make love to anybody else in the world.” (Ja, ok, ek het gisteraand die erg voorspelbare fliek gekyk en sal hom waarskynlik net onthou vir die twee sinne.)

Vroeër in die jaar het ek huisbesoek gedoen by twee jongmense. Die aand was vir my en ook vir die twee mense ‘n verrasing, want sonder dat enige een van ons dit bedoel het, het ons by ‘n stukkie hartseer in hulle lewens uitgekom. Daardie aand was die begin van ‘n baie aangename pad wat ek en die twee mense saam kon stap.Wat die pad so ‘n aangename pad gemaak het, was die gewilligheid van die twee jongmense om te erken waar hulle foute maak en waar hulle nodig het om te verander en dan die opgewondenheid waarmee hulle gaan doen het wat hulle geweet het hulle moes doen.

Op die ou end het hulle besluit om te trou en die troue is nou binne die volgende paar weke.

Ek en sy het gistermiddag gepraat oor die troudag en die reëlings en al sulke dinge. In ons gesprek vra sy: “Gaan ek oor die huwelik preek? Gee ons riglyne vir hoe ‘n mens in die huwelik moet leef?”

Ek het haar deur die loop van die jaar so goed leer ken, dat ek die vraag agter die vrae hoor: “Ds. Ek het die Here lief en ek wil hierdie huwelik reg leef, maar ek is bang? Ek weet nie hoe maak ‘n mens van ‘n huwelik ‘n sukses nie. Gee net ‘n bietjie raad asseblief.”

Ek gaan vir haar raad gee en sekere aanbevelings maak oor wat ek dink ‘n huwelik ‘mooi en vervullend maak, maar nou weet ek ook hier kom lees mense wat ook goeie raad sou kon gee wat uit jare se ervaring kom.

As jy vir hierdie twee jongmense raad moet gee oor die huwelikslewe wat voorlê, wat sal jy sê?

8 thoughts on “raad vir ‘n huwelikspaartjie wat gaan trou

Add yours

  1. As ek mag raad gee,(22 jaar getroud met ‘n wonderlike man) moenie lank tob oor iets wat die ander een verkeerd doen nie, en onthou as dit BAIE sleg gaan, byt vas, dit word altyd weer beter. Moet nooit dreig met egskeiding nie, want dan begin dit al hoe meer lyk na ‘n oplossing en moet NOOIT ophou bid vir jou huwelik nie, al gaan dit baie goed. Dis wonderlik om iemand te hê wat vir jou lief is, koester dit elke dag.

  2. Ons het gevind dat ‘n mens se verhouding met mekaar elk dag groei en verander. Die beste deel hiervan is dat, as julle dit regkry, word dit net beter. Daar is verseker ‘n fase waar julle mekaar leer ken, want die verhouding wat jy voor die troue het is anders as daarna, onafhankilk van jou oortuigings van wat voor ‘n huwelik reg en verkeerd is. Jou huwelik is die een verhouding wat jy die meeste moet koester en oppas, want dit is minder volmaak as jou verhouding met God omdat mense meer kompleks is as ons Vader. Hy verstaan ALTYD. Probeer onthou dat wanneer julle verskil, hoe ernstig ookal, dit niks verander aan die liefde wat daar tussen julle is nie. Wanneer dit goed gaan by die huis en julle altyd uitsien om mekaar te sien, is die res van die wereld se “curve balls” heelwat makliker om te bat. Jou lewensmaat en jou kinders is van die grootste geskenke wat jy ooit van God sal ontvang.

  3. Attie: Sê vir vir die paartjie: “Wees altyd lief vir mekaar soos bedoel in 1 Kor. 13.” Dit was die gedeelte wat Ds. Tobie Bothma as teks gebruik het op my Annalize se troudag en as daar verskille kom (wat normaal is – ons het gister gehoor konflik kan ook goed wees) gebruik ons altyd ‘n vers uit die gedeelte (ter verdediging). Ek sal byvoorbeeld sê: “Onthou die liefde verdra alles” en sy sal antwoord met, “Ja, maar die liefde word nie verbitterd nie”.
    1 Kor. het nog altyd vir ons gewerk.

  4. Kommunikasie is krities. Ek en my man is beste maats. Ons deel ons hartseer, ons vreugdes, vertel daagliks vir mekaar wat by die werk gebeur het, sommer elke dag se gebeure. Het gemeenskaplike belangstellings wat kommunikasie bevorder. Ons maak tyd vir mekaar en het nog nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie (23 jaar). Moet nooit te trots wees om te sê jy’s jammer nie. Dr Willie Marais het ook gesê liefde is ‘n keuse, nie ‘n gevoel nie. Respekteer mekaar en die huweliksbeloftes. Groete 🙂

  5. Die Huwelilk is soos twee hout blokkies wat aan mekaar geplak word, as die Gom nie daar is nie, kan twee houtblokkies nooit plak nie – God is die Gom in ‘n huwelik – laat Hom toe om die Gom te wees want slegs dan kan twee houtblokkies een word in Jesus.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: