So ver is ons hierdie week van beurtkrag gespaar. Ek verstaan dat die rede daarvoor is omdat die meeste van die myne nie gewerk het nie en dus minder krag gebruik het wat toe tot gevolg gehad het dat ons nie beurtkrag hoef te gehad het nie.
Twee dinge het my opgeval. Die een is die mens se wonderlike vermoë om aan te pas. Die eerste paar dae was die beurtkrag mateloos frustrerend. Binne ‘n week of twee het die meeste van ons begin om in ‘n sekere sin daarmee saam te leef en self voorbereid te lewe.
In my eie lewe speel die krag ‘n baie belangrike rol. Ek doen die meeste van my skryfwerk en voorbereiding op die rekenaar. Wanneer die krag in die middel van so ‘n voorbereiding afgaan, dan het ek in die begin gewoonlik ‘n groot klomp werk verloor of ek was gestrand. Nou “save” ek alles waarmee ek op hierdie stadium besig is op ‘n geheuestokkie en ek maak seker my skootrekenaar is gelaai. Wanneer die krag afgaan stap ek kombuis toe, gooi vir my ‘n koppie koffie in, skuif oor na die skootrekenaar, druk die geheuestokkie in en gaan aan waar ek laas opgehou het. Ek verloor gewoonlik ‘n paar minute se werk, maar dit is nie die ergste nie.
Die tweede ding wat my opgeval het is dat ek ook ‘n bydra kan maak. Ek woon vir twee dae ‘n geleentheid by vir ‘n sekere groep van die predikante van die Noordelike Sinode. Gisteraand het ons na Theuns Ellof, een van die mees briljante manne in ons land geluister. Hy het ons opnuut weer bewus gemaak daarvan dat die kerk se verhouding met die wêreld die van kritiese solidariteit behoort te wees. Ek en my een kollega het dit verstaan as dat ons nie as kerk van buite die samelewing kan staan en kritiseer en fout vind nie, maar dat ons van binne die samelewing ons profetiese rol behoort te speel.
Die tragiese werklikheid is dat baie kerke en gemeentes hulle losgemaak het van wat in die wêreld gebeur en al hoe meer Christenskap op die handhawing van die status quo begin fokus het. Maar, ook is elke ding wat verkeerd gaan ‘n aanduiding daarvan dat ons nog altyd reg was en dat Suid Afrika op dieselfde roete is was die res van Afrika. By ander het daar ‘n stuk politieke gedienstigheid gekom waar alles wat die regering sê en doen mooi en goed en reg is.
Ons gemeente se leraarspan het vroeër in die week reeds met mekaar gesels oor hoe ons as gemeente en as Christene met betrekking tot die kragsituasie deel van die oplossing kan wees. Ons herinner mekaar toe aan iets wat verlede week oor die radio gesê is. Dit was iets in hierdie lyn: Daar is 7 miljoen huishoudings in die land. As elke huishouding een ou gloeilamp vervang met energie-besparende gloelampe gaan ons 300 megawatt krag spaar. (Ek dink ons onthou die berig en die syfers reg.) Energie-besparende gloeilampe gebruik 11 watt in plaas van 60 watt elektrisiteit.
Ons gaan ons lidmate aanmoedig om die ou gloeilampe kerk toe te bring en in ‘n groot houer te gooi as teken van ons solidariteit met die nood van ons land. Dit beteken egter nie dat ons die foute wat mense soos Alec Erwin en die res van die kabinet gemaak het met betrekking tot hierdie situasie sal goedpraat nie, maar ons gaan ons bes probeer om deel te wees van die oplossing en nie net deel van die probleem nie.
As demonstrasie daarvan dat ons as kerk van die Here Jesus deel van die oplossing en nie deel van die probleem wil wees nie, gaan ons van Sondag af ons gemeente aanmoedig om in Februarie maand soveel gloeilampe as moontlik te vervang. Een vir een gaan ons nie ‘n groot verskil maak nie, maar indien ons gemeente se 1500 huishoudings elkeen tien gloeilampe vervang sal daardie 15 000 gloeilampe ongeveer 750 000 watt bespaar.
Ek wonder of jy kans sou sien om ook iets hiervan te maak?
Attie, en net so by the way, Prof Hennie is van laas Sondag af n regte doom, sy seun het die diens waargeneem. Seun bevestig pa!
Manlief is mos “paranoid” oor ligte!! Daar mag nie n lig in ons huis onnodig brand nie, en elke gloeilamp is al vervang met die low watt’s. Hy sê juis gister dis net hy en klein Zee wat ligte in ons huis afsit – ja skuldig daaraan!! Maar praat nou van krag, vandag het ek regtig krag van Bo nodig. Dit voel of daar so donderwolk om my hang, geen idee hoekom nie!
(((attie))) Het jou ‘gemis’ vir ‘n dag…. nou’t ek weer ‘n goeie ‘fix’ gekry!! Na gister.. ERG nodig!!!
Attie ek dink dit maak nie saak wat ons probeer of wat nie, niks gaan help nie, daar is net mense wat nie ‘n duit omgee wat gaan gebeur en wat nie, ek het al so baie dinge in en om my huis afgesit omdat ek probeer help, maar ry mens hier in die stad in die aand, brand geboue en staatsdepartmente se ligte vir wie weet aan, begin by die geboue in die aand, sit alle ligte, aircons (heaters) AF, dit sal dalk so bietjie help ……….
Dis n wonderlike idee. Kan ons nie nog instansie uitdaag om dieselfde te doen nie?
Dis manier wat julle wil help en positief bly is prysenswaardig. Ek dink nie dit sal enigsins bydra om die kragkrisis op te los nie, maar daar seker groter satisfaksie daarin om ten minste te probeer eerder as om net te kla…
Zee: In ons lys het die gesin redelik vinnig aangeleer om te spaar.
Platterfuss: Ek sou graag wou hoor oor gister… Maar dalk later.
Sharks: Ek was nou by twee dae by ‘n tipe van ‘n konferensie. Al drie sprekers was manne wat nie deel van die regering of die ANC is nie, maar al drie is reg in die binnekring van die dinge wat op die hoogste vlak in Suid Afrika gebeur. Hierdie drie manne het my hoop opnuut weer hoop gegee vir ons land en vir sy mense. Ek dink ons gaan dit maak.
Idee: Een van die manne op die konferensie het by ons die gedagte van kritiese solidariteit ingeskerp. Juis daarom wil ons deel wees van die oplossing en nie van die probleem nie. Ons gaan hierdie gloeilamp ding doen en ons gaan waarskynlik ‘n paar ander ouens uitdaag. Maar ons gaan ook na die instansies in ons dorp toe gaan (Bv. die plaaslike stadsraad en as mense wat self iets probeer doen hulle vra om dieselfde te doen en vra: Wie kan ons kontak as al die stadsraad se ligte deur die nag brand.
BiB: Ek dink regtig ons gaan dit maak, maar as ons dit nie maak nie, soos jy sê, sal ons kan sê: Ons het gedoen wat ons kon.
Ons het vandag vir Roy Anderson die voormalige voorsitter van die JSE gevra: Wat gee vir hom hoop vir hierdie land. Sy antwoord is: Die land se mense. Ek dink ons moet mekaar aanmoedig om so te lewe dat ons ander mense hoop sal gee.
Ek wil ook nie negatief wees nie, maar mens moet onthou van die 10 gloeilampe in ‘n huishouding is selfs saans gewoonlik nie almal gelyk aan nie, en deur die dag is hulle almal af.
Aan die ander kant stem ek nie saam met Boer nie – elke bietjie help.
Wat ek voorstel julle doen is om vir mense wat dit nie kan bekostig nie van die lae-energie gloeilampies te skenk, maar hulle moet ‘n werkende gewone gloeilamp in ruil bring, en die moet julle breek, of gee dit bv. vir hoenderplase of iets dergeliks waar dit vir noodsaaklike verhitting gebruik kan word, maar nie weer in sirkulasie beland nie.
Wat mens hartseer maak – mense by my vrou se werk het opgelet ‘n straat se straatligte brand in die dag. Vele pogings is aangewend om die munisipaliteit te bel om dit afgeskakel te kry, met geen sukses nie.
Lees hierdie storie by Wimpie van der Sandt:
http://wimpievds.blogspot.com/2008/02/n-ander-perspektief.html
mykopop: Ons gedagte is om die uitdaging bietjie verder te neem. terloops die watts verstaan ek word gemeet in terme van ‘n uur. Dit neem soveel watt vir die gloeilamp om per uur te brand. Ek gaan bietjie werk aan daardie gedagte van skenk een vir elke een wat ingebring word. Ons voel nogal sterk daaroor dat die goed nie weer in sirkulasie kom nie. Die munisipaliteite is skuldig. Ons sal ook daar rondom bietjie van ‘n strategie moet uitwerk.
Ons worrie nie in Dubai nie, ons het olie……….