Die oorspronklike Markus-evangelie eindig by Markus 16:8. Alles in die laaste verse (9-20) is anders as die res van die Evangelie. Daarmee saam is hierdie slot in nie een van die belangrikste manuskripte wat gevind is nie. Die Evangelie eindig dus sonder ‘n logiese slot. Twee moontlikhede word meestal genoem. Die een is dat Markus nie lank genoeg gelewe het om die slot te skryf nie, of dat die slot weggeraak het.
Wat besonder belangrik is, is hoe die taak en rol van die kerk in hierdie verse uitgespel word. Die man wat die slot geskryf geskryf het, was daarvan oortuig dat die Here Jesus aan die kerk sekere take gegee het wat gedoen moet word.
(i) Die kerk het ‘n verkondigingstaak. (Vers 16) Die kerk en elke lidmaat van die kerk van die Here Jesus het die taak en verantwoordelikheid om die Goeie Nuus van Jesus te vertel. Elkeen doen dit op sy eie manier. Een van die maniere waarop ek dit doen is deur hierde “blog”.
(ii) Die kerk het ‘n genesingstaak. (Vers 17) Christenskap het nie net te make met die verlossing met die oog op die hiernamaals nie. Christenskap het te make met die hele lewe – ook die liggaam. Deur die kerk wil die Here Jesus genesing bring vir liggaam, siel en gees.
(iii) Vers 18 vertel hoe Christene slange sal optel en as hulle iets drink wat giftig is sal hulle nie sterf nie. Hierdie is sterk simboliese taal. Uit dit wat hier staan blyk dit dat die Christen ‘n ongekende krag en vermoë sal hê om die lewe te hanteer. Hierdie krag is die werking van God die Heilige Gees in elke een van God se kinders.
(iv) Die kerk is nooit alleen nie. (Verse 19-20) Die Here Jesus het nooit opgehou om in die kerk en deur die kerk te werk nie. Die Koning van die kerk is steeds in en deur die kerk aan die werk. Ons is kerk in die teenwoordigheid van en deur die kragtige werking van die Opgestane Here Jesus.
Die Evangelie volgens Markus eindig dus met die boodskap dat die Christelike lewe in die teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus geleef word.
My vorige inskrywing oor intimiteit met God het juis hiermee te make. Ek en jy bepaal self die intensiteit van ons intieme lewe in die teenwoordigheid van die Opgestane Here Jesus. Hierdie intensiteit van die intimiteit het niks te make met ‘n mens se verlossing nie, dit het wel alles te make met ‘n mens se lewe van dankbaarheid.
Daarmee bedoel ek dat die mens wat nie in ‘n intieme verhouding met God leef nie, nie nou skielik nie verlos is nie. Lloyd Jones het my baie bewus gemaak daarvan dat ‘n lewe in die teenwoordigheid van God maak dat mens op die punt kom waar jy een vraag vra: Is dit moontlik dat hierdie saak of hierdie ding of hierdie gewoonte of hierdie mens of hierdie emosie my intimiteit met die Here kan benadeel? Indien ek “ja” antwoord daarop, dan is dit net nie vir my die moeite werd nie.
Die lewe in die teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus is die gevolg van ‘n honger en dors na dit wat vir God reg is, maar dit is ‘n honger en ‘n dors wat nooit gestil word nie. Jy soek altyd meer.
Leef vandag in die bewuste teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus!
Attie dankie vir hierdie pragtige inksrywing. Ek het eergister so snaakse droom gehad, ek kan vir niemand beskryf hoe daai droom my geraak het nie!!
Attie, Soms laat jy my baie diep dink en ander kere soos vandag, jubel my hart omdat jy alles bevestig waarin ek glo.
Meermin, jy prikkel my nuuskierigheid.
Meermin: Jou droom maak ons nuuskierig.
Justine: Bly ek kon jou laat jubel.