Ek lees gewoonlik meer as een boek gelyk. Ek het jare terug agtergekom dat as ek net een boek op ‘n slag lees, raak ek verveeld met die boek en dan maak ek selde die boek klaar. As ek twee boeke gelyktydig lees, dan neem dit my langer om ‘n boek klaar te maak, maar ek maak dan gewoonlik altwee klaar.
Op hierdie stadium lees ek Marin Lloyd Jones se “The Beatitudes” en Phillip Yancey se boek “Reaching for the Invisible God”. In Lloyd Jones se boek lees ek van die honger en dors na wat reg is vir God en in Yancey se boek hierdie woorde: “Sometimes God allows us to determine the intensity of His presence.” Hierdie twee gedagtes het my op die spoor gesit van Intimiteit met God. In my eie lewe beleef ek hierdie honger en dors na intimiteit met God, terselfdertyd herinner Yancey my daaraan dat God my soms toelaat om die intensiteit van ons intimiteit (Sy nabyheid of teenwoordigheid in my lewe) te bepaal.
Hierdie stukkie is nou maar die resultaat van my leeswerk oor die onderwerp.
Elkeen van ons is geskep met ‘n honger en dors na die nabyheid of teenwoordigheid van God ins ons lewens. Almal erken net nie dat dit hulle hierdie behoefte het nie, of hulle is nie bewus daarvan dat dit eintlik die groot gemis in hulle lewerns is nie.
Ek sien in die Bybel dat God eintlik verlang om naby aan ons te wees. Dit is dalk ‘n vreemde gedagte om te dink dat God na ons verlang, maar in die Evangelies is dit duidelik dat God sy beste gegee het om die gebrek aan intimiteit wat deur die sondeval veroorsaak is, te herstel. Hy het sy Seun Jesus gegee met die doel dat die intimiteit met Hom weer herstel sal word.
Intimiteit kan nooit net van een kant af kom nie. “It takes two to tango.” God het baie moeite gedoen om met die mens te “dans”. Reg van die begin – die Paradys tot vandag het Sy begeerte om met my en jou te “dans” nooit verander of verminder nie. Telkens het Hy weer die musiek opgesit en ons vir dievolgende “dans” gevra.
God se brandende begeerte om in ‘n intieme verhouding met ons te wees word gesien in die feit dat Hy deur al die eeue en millenia besig was om hierdie intimiteit te herstel. Hy het die hoogste prys betaal sodat hy met ons elkeen in die tuin van Eden kan wandel. Hy wou met ons “dans” op die maat van Sy onmeetbare en oneindige liefde.
In die Paradys het Hy na Adam geroep en vandag roep Hy nog steeds na elkeen van ons. Hy wag om Sy hartsverlange met my en jou te deel terwyl Hy ook verlang om te hoor wat my en jou diepste hartsverlange is.
Maar wat behels hierdie intimiteit?
Hoe moeilik of maklik is dit om hierdie intimiteit te bewerkstellig? Eintlik is dit nie so verskriklik moeilik nie. Al wat dit van my en jou vra is om nooit op te hou om te honger en dors na hierdie intimiteit nie.
Die grootste hindernis tot hierdie intimiteit is dikwels ons persepsie van wie God is. Ons baseer dikwels ons persepsie van wie God is op die optrede of gesindhede van ander mense. Ons glo God is soos mense is. Met die gevolg dat ons dikwels ‘n versteurde beeld van die karakter van God het en dat hierdie versteurde beeld intimiteit met God verhinder. Daarmee saam is dit ook heel moontlik dat ons ervarings en omstandighede hierdie intimiteit verhinder.
Dwarsdeur die Bybel beklemtoon die Here dat Hy vir ons ‘n veilige vesting en ‘n skuilplek is. Hy is ons bron van veiligheid en sekuriteit en behoud. Die fout wat ons egter maak is om ons veiligheid en sekuriteit en standvastigheid in ons status of posisie of vriende of familie te vind. Vir een of ander rede dink ons dat ons al hierdie dinge gaan verloor wanneer ons intimiteit met God beleef. Vir een of ander rede glo ons nie dat God ons gelukkig en tevrede en vol blydskap wil sien nie.
Intussen gebeur presies die teenoorgestelde. Ons ontmoet God en Hy vul en begeester elke aspek en faset van ons lewens. Elke faset en aspek en terrein van my lewe is beter daaraan toe omdat God op ‘n besonder intieme wyse daarby betrokke raak en dit hervorm en verander – totdat en sodat ons ons sekuriteit in Hom en in Hom alleen vind.
Hoe bewerk en bevorder ek hierdie intimiteit? Ons gaan na God toe en leer om aan Hom vas te hou met die wete dat ons besig om presies dit te doen waarvoor Hy ons geskep het – om in Sy intieme teenwoordigheid te leef en dat Hy ons nooit sal wegstoot nie. (Lukas 11:9) Hy het ten volle en sonder om enige iets terug te hou alles gegee, sodat elke een van ons in Sy oorvloedige teenwoordigheid kan leef.
Maar, ek kan nie iemand ken vir wie ek nie tyd gee nie. Intimiteit ontwikkel as gevolg van naby-kontak oor tyd. In hierdie naby kontak oor tyd ontwikkel vertroue en verander harte en groei daar ‘n wonderlike deernis vir mekaar. Het jy al ooit daaraan gedink dat Hy alreeds vir jou wag? Wat ‘n wonderlike gedagte is dit nie. Die Skepper van alles wat is en alles wat ooit sal wees wag om in hierdie intieme verhouding met my en jou te wees. Hierdie tyd behels natuurlik dit wat ons ken as stiltetyd: Tyd alleen met God rondom in sy Woord en in gebed.
Dalk is jou verskoning ook maar wat myne baie keer is: My vol program. Jy weet nie hoe besig ek is nie! Die waarheid is: Ons is almal besig en almal van ons het vol programme. Maar die lewe en ‘n verhouding word gebou rondom verskeie momente en spontane kontak met mekaar. Dit lyk vir my mens moenie daardie klein momente en spontane kontak deur die loop van ‘n dag onderskat nie. Jy kan jou kontak deur die loop van die dag begin deur net eenvoudig te sê: “Ek het U lief Here Jesus.” of: “U is my Koning en my God.”
Wat sal gebeur as jy deur die dag gaan en kort deur die loop van die dag net in jou gedagtes sê: “Ek het U lief Here Jesus.” of: “U is my Koning en my God.” of: “Dankie dat U my eerste liefgehad het.” Wat sou gebeur as jy hierdie drie sinnetjies memoriseer en net vir ‘n week lank dit soveel kere as moontlik deur die loop van die dag herhaal en dit die laaste gedagtes maak voordat jy gaan slaap en die eerste gedfagtes voordat jy opstaan? Jy kan ook kies om ‘n kort teksvers deur die loop van die dag te herhaal en daaroor na te dink.
Wat daarvan jy probeer dit net vir een week?
Hierdie gedagtes kan op die ou end tot gevolg hê dat jy deur die loop van die dag met God wandel, deurdat Hy kort-kort die middelpunt van jou gedagtes is. Hierdie werkswyse kan dalk net die begin wees van ‘n hele lewe wat deur die wonderlike teenwoordigheid van God oorheers en gevul word.
As jy sukkel met een of ander saak in jou lewe, lees bietjie wat sê die Bybel daaroor en maak ‘n punt daarvan om deur die loop van die dag daaroor na te dink. Die Here verlang nie net om aan die begin of aan die einde van elke dag ‘n stukkie van ons tyd te kry nie, Hy verlang daarna om sy teenwoordigheid te laat oorspoel tot elke oomblik van ons lewens. Wanneer jy jou weer kom kry, het jou behoeftes en jou begeertes verander en honger en dors jy na die teenwoordigheid van God op so ‘n manier dat jou behoefte aan Hom nooit vervul word nie, alhoewel jy meer en meer in Sy teenwoordigheid is.
Om oor Hom te dink is egter nie genoeg nie, voer met Hom ‘n gesprek. Jesus het mens geword en Hy het met ander mense op dieselfde manier ‘n verhouding gebou as wat ons vandag verhoudings bou. As jy tyd gee om die Bybel as die Woord van God te lees en te oordink sal jy agterkom dat Sy gedagtes al hoe meer jou gedagtes word en jy sal beleef dat Hy jou in jou gedagtes en deur jou gedagtes bemoedig en lei en verseker van sy wonderlike teenwoordigheid en liefde. Hoe meer jy oor Hom lees en van Hom weet en hoe meer jy met Hom in jou gedagtes besig is, hoe meer sal jy beleef dat jy Sy “stem hoor”.
Mens moet Hom ook kan hoor. Net soos jy met Hom praat, moet daar ook tye wees wat jy stil raak en luister en hoor. Hierdie “hoor van die stem” van die Here is meestal net ‘n stil wete; ‘n diep oortuiging; ‘n onverklaarbare sekerheid dat Hy jou liefhet en wat die volgende tree is wat jy moet gee. Dit is altyd wys om ‘n notaboekie byderhand te hou waarin jy hierdie gedagtes en sekerhede en leiding kan neerskryf. Hierdie gedagtes en oortuigings en leiding kan dan in gesprek met ander Christene getoets word om seker te maak dat jy nie jou eie gedagtes volg nie, maar dit kan ook gebruik word om jou te herinner aan wat dit is wat Hy wil hê jy moet weet of doen.
Onthou gerus dat Hy wil weet van elke gedagte, elke begeerte en elke droom. In die Bybel het Dawid byvoorbeeld vir God gesê dat hy kwaad is. Dink jy vir een oomblik God het nie geweet dat Dawid kwaad is of hartseer is of berou het nie. Natuurlik het God geweet en natuurlik weet God van elke gedagte wat in jou lewe is, maar Hy verlang dat jy dit vir Hom sal sê.
Daar is niks wat jy nie vir God kan sê nie. Daar is niks wat Hy nie sal wil hoor nie. Daar is niks wat jy nodig het om te probeer om vir Hom weg te steek nie. Hy wil nie hê jy moet op jouself ‘n las of ‘n juk laai wat Hy graag vir jou wil dra en van jou wil wegneem nie. (Matteus 11:28-29) Hou gerus in gedagte dat jy God nie kan verras nie. Hy weet alles – alles. (Hebreers 4:13). Ten spyte daarvan het Hy ons nog steeds lief met ‘n liefde wat geen einde ken nie.
Neem ‘n geloofstap en stort jou hart uit teenoor die Een wat jou eerste liefgehad het. Wees bereid om te luister. Wees gereed om te groei in jou intimiteit met God. Die bal is in jou hande. Hy verlang daarna om naby aan jou te wees – jy bepaal die intensiteit van Sy nabyheid.
Attie terwyl ek hierdie inskrywing van jou lees dink ek aan iets wat ek in die week gelees het!
From heaven His eye is downward bent,
Still glancing to and fro,
Where’er in this wide wilderness
There roams a child of woe.
And as the rebel chooses wrath,
God wails his hapless lot,
Deep-breathing from His heart of love
‘I would, but ye would not.
Attie dis waar wat jy sê. In my eie lewe moet ek egter tot my spyt bieg dat Hy al ‘n hele paar CD’s moes aansit om my aan die dans te hou. Soms beleef ‘n mens Hom met ‘n passie ‘n “presence” wat ongelooflik is en dan is daar weer tye wat mens half in ‘n woestyn is. Dis egter net ‘n gevoel en as ons geloof van gevoel afgehang het was ons seker almal verlore.
Lady: So waar van baie van ons se lewens: “I would but ye would not.”
Pikkelik: Dissipline is om vol te hou selfs wanneer mens nie daarna voel nie. Die enigste manier, glo ek, wat mens in die teenwoordigheid van God kan leef is om te bly oefen.
ATTIE dit is alles so waar wat jy hier skryf, God weet van alles nog voordat ons iets doen weet GOD al wat ons wil doen.
Hi meermin. As ek dit reg het is dit die eerste keer dat jy hier kommentaar lewer. Baie welkom en dit is natuurlik waar dat Hy alles weet, maar tog verlang dat ons dit sal sê.
Toe ek nou die stuk klaar gelees het kan ek nie anders as om die volgende te sê nie …. as ons hierdie lewe verlaat en saam ons God die ewige lewe ingaan , gaan ons heeldag , aldag ons God loof en prys . Dis die intensiteit waarmee ons God moet dien ,ons moet nou vir iemand bid , nou vir iemand van God vertel , nou mekaar bemoedig , nou ….. As ons eers by God is sal ons dit nie meer kan doen nie , dit moet nou gebeur terwyl ons hier op aarde leef . In die hemele gaan ons net Hom loof en eer en aanbid , 24,7 as dit nie nou al reeds intens is nie , gaan ons dalk uit voel saam die ander wat God aanbid en eer en lof bring .. Kom kry daai intimitiet so paar skale op met God , Dis in elk geval lekker om intens met God te kuier .
Dawie: Ons moet God nou reeds liefhe met ons hele hart en siel en verstand en met al ons krag, en ons naaste soos ons self.
Ai, dis lekker om weer in die blog te loer! Dis als waar wat Attie hier geskryf het. Ek het elke oggend vroeg opgestaan om saam met my Here se stiltetye te geniet. Dis my koffietyd met my Here. In my moeilike tye, het ek seer, bitter, verlange gehad. My stiltetye het minder geword van te veel of eerder dalk depressie? Toe dit als oor was, het ek weer begeerte gehad om terug te kom na my soggens se stiltetye. Ek kon nie… ek het baie kere deur die dae vir Here gevra om my te help om terug te kom! Met ander woorde, ek het ook na Hom verlang.
‘n Maand terug, baie vroeg in die oggend en als was nog donker in die huis, het ek die helder wit LIG gesien wat in my plekkie geskyn het. Dis my plekkie waar ek soggens gehou het, dieselfde tye. Ek het instinktief geweet, Here wag vir my. Hy verlang ook na my. Dit het my moed en krag gegee om aan te gaan met my soggens se stiltetye. Soos Attie se, “Mens moet Hom ook kan hoor. Net soos jy met Hom praat, moet daar ook tye wees wat jy stil raak en luister en hoor. Hierdie “hoor van die stem” van die Here is meestal net ‘n stil wete; ‘n diep oortuiging; ‘n onverklaarbare sekerheid dat Hy jou liefhet en wat die volgende tree is wat jy moet gee.
GOD WEET ALLES VAN jou seer, bitter, ensovoorts. Jy het NIKS om vir Hom weg te steek nie.
Sien in Finesse April 2008 op bl. 103 van die eerste vrou wat ook getuig oor die helder wit Lig wat sy ervaar het.
mens lees bv n hele boek deur in n dag maar sukkel om n hoofstuk in die Bybel te lees….
((Attie))
Ek verkeer die heel beste met God wanneer ek op my klavier tokkel. Dis daar waar my gedagtes, begeertes, en die inhoud van my siel verenig en in diep golwe in Sy teenwoordigheid vloei. Dit gebeur dikwels dat ek ook bewus word van dinge wat my vrede en intimiteit met Hom belemmer soos: versoekinge, emosies en begeertes wat teen Sy riglyne bots. Dit is ook dan daar waar ek menigmaal my hart uitgehuil het en skrifgedeeltes soos ‘My genade is vir jou genoeg’ spontaan in my gedagtes vrygestel word en vir my krag en vrede bring.
Volharding: Lekker om van jou te hoor. Swaarkry maak soms dat mens hierdie intimiteit laat vervaag. Dissipline is die wagwoord en bring dit weer terug.
Platter: Is waar.. baie tyd vir baie ander dinge, maar min tye vir die beste dinge.
Magrietjie: Hy ontmoet elke een van ons op ‘n unieke plek en op ‘n unieke manier. My studeerkamer is vir my die plek. Vroeg in die oggend wanneer die huis slaap en alles stil is, dan begin ek my dag in Sy teenwoordigheid en ek vertrou dat daardie vroeg-oggend intimiteit die res van die dag se intimiteit sal bepaal. Dit gebeur dikwels, maar dit gebeur ook somtyds nie. Soms word ek so opgeneem in die dag se program, dat ek aan die einde van die dag besef: Ek het feitlik geen kontak met Hom gehad nie.
Attie ek was eers Sharks is nou meermin!
OK nou verstaan ek ook beter.
Dit is ongelooflik dat God naby jou as mens wil wees. Hy is immers God. Die verbystering wat ‘n mens beleef as jy besef God het met jou alleen kontak gemaak… in jou kar; die glimlag van ‘n ander; in ‘n woord. Daardie gedagte maak my nederig en dankbaar dat ek kan se Here, ek het U lief. U is my God. Dankie vir U kruisdood en opstanding. Kom gou Ruiter op die wit perd, ek wag!
annie: Ons wag en leef met groot verwagting en passie.