Ek het al agtergekom dat heelwat van die mense wat hier lees eintlik nie ‘n baie groot liefde vir die kerk het nie. In sekere gevalle wil dit vir my voorkom asof die mense hulleself ook nie Christene wil noem nie. Ek dink maar aan ‘n inskrywing wat VRYDENKER ‘n paar dae terug gemaak het. Ek het nogal begrip vir mense wat so voel.
Ons moet natuurlik besef dat die koninkryk van God nie gelyk is aan die kerk nie en dat die kerk ook nie gelyk is aan die koninkryk van God nie. Met ander woorde daar is mense wat deel is van die koninkryk van God, maar nie deel is van die kerk nie, en daar is mense wat deel is van die kerk, maar nie deel is van die koninkryk van God nie. Koninkryksmense wat nie deel is van die kerk nie het dikwels in die kerk seergekry of is bitter teleurgestel in die kerk en die manier waarop die kerk funksioneer. Die kerk bestaan egter uit mense, met die gevolg dat die seerkry en die teleurstelling deur mense veroorsaak is. Dikwels is dit mense in leiersposisies (Moet asseblief nie net aan predikante en pastore en priesters dink nie.) wat verantwoordelik moet wees vir hierdie seerkry en teleurstelling.
Tog mag die onvolmaaktheid en tekortkominge van die kerk nie veroorsaak dat ons die belangrikheid van die kerk onderskat nie. Die leraars van ons gemeente het onlangs ‘n werksessie saam met prof. Malan Nel gehad waar hy weereens beklemtoon het dat die dinge wat die plaaslike gemeente doen, die manier is waarop God na die wereld toe kom. ‘n Voorbeeld is wanneer ‘n gemeente help by mense in nood, is dit God se manier om by daardie mense in nood uit te kom.
Die kerk speel ‘n belangrike rol in God se plan met hierdie wereld. Die kerk is God se gekose instrument. Aan die ander kant kan ons ook nie die kritiek wat daar soms teen die kerk mag wees, sonder meer ignoreer nie. Ek dink ons moet na die kritiek luister. Sommige kritiek is wel net ‘n stuk self-regverdiging om nie deel van die kerk te wees nie, maar daar is ook kritiek wat die kerk tot berou en belydenis behoort te dryf. Juis omdat die kerk uit onvolmaakte mense in diens van ‘n volmaakte God staan, kan die kerk soms ook kritiek hanteer as ‘n geleentheid om dit wat hulle doen nog beter doen en om te vorder in die groei na die kerk, gemeente en mense wat God bedoel het hulle moet wees.
In Filppense 2:1-4 gee Paulus juis ‘n waarskuwing aan hierdie mooi gemeente in Filippi. Alles dui daarop dat dit eintlik baie goed gegaan het in die gemeente in Filippi wat dit dan so half en half ‘n verassing maak as ‘n mens lees dat hy hulle met hierdie woorde waarsku dat hulle eenheid dalk bedreig kan word:
“…maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.”
Die eenheid in die gemeente van Filippi word bedreig. Ek dink dit is ‘n bedreiging in elke gesonde en lewendige gemeente. Dit is juis wanneer mense baie ernstig is oor hulle dienswerk in die koninkryk en oor hulle roeping as gelowiges, dat die dinge wat hulle glo vir hulle al hoe belangriker raak. Hoe meer entoesiassme en passie daar by gelowiges is, hoe groter is die kans dat mense met hulle oortuigings teenoor mekaar te staan gaan kom. Baie kere is dit juis hierdie konflik, en die manier waarop dit in gemeentes hanteer word, wat mense seermak en teleurstel en maak dat mense hulle wegdraai van die die kerk af.
In verse 3 en 4 noem Paulus drie dinge wat hierdie eenheid kan versteur:
(i) Selfsug.
Daar is altyd die gevaar dat mense nie werk om die saak van die koninkryk te bevorder nie, maar om hulleself te bevorder. Wanneer ‘n mens bietjie deur die kerkgeskiedenis lees, dan tref dit jou hoe die belangrike rolspelers in die kerk, belangrike posisies vermy het, omdat hulle gevul was met ‘n eerlike en opregte onwaardigheid om hierdie groot werk vir die Here te doen. (‘n Voorbeeld hiervan is Ambrosius. Ek sal by ‘n ander geleentheid oor hom skryf.) In plaas van persoonlike ambisie, was hierdie mense gevul met begrip van hulle onwaardigheid – eintlik is dit vir hulle ondenkbaar dat die Here hulle sou kon gebruik in hierdie belangrike werk. Het ons dalk hier te make met ‘n ontbrekende element in die koninkryksmense binne die kerk?
(ii) Persoonlike status.(Eersug)
Status is vir baie mense ‘n groter versoeking as geld. Om deur mense bewonder te word en as belangrik beskou te word en deur mense gekomplimenteer te word is vir sommige net eenvoudig onweerstaanbaar. Die Christen se ingesteldheid behoort te wees dat mense nie vir hom/haar op die skouer klop nie, maar dat ons Vader in die hemel verheerlik sal word. Hierdie bedreiging vir eenheid word egter maklik weggesteek, agter die woord: “Dit is nie ek nie. Dit is nie vir my nie. Dit is alles vir die koninkryk.” Terwyl sommige mense elke klop op die skouer beleef as die realisering van persoonlike ambisie en status.
(ii) Oorskat eie belangrikheid. (in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.)
Die persoon wat altyd net op sy eie belange fokus bots dikwels met ander. Die lewe word vir hierdie persoon ‘n kompetisie waar daar pryse is wat gewen moet word. In hierdie spel is ander mense vyande of ten minste opponente. Konsentrasie op die self lei onafwendbaar tot die uitskakeling van ander. Dit is soms verbasend wat mense alles sal doen om vyande of opponente onder die dekmantel van liefde uit te skakel.
Paulus wys egter ook op vyf dinge wat hierdie bedreiging van eenheid kan teenwerk.
“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing -“
(i) Ons is almal in Christus.
Geen mens kan in onenigheid (dalk: on-een-(nig)heid) lewe en terselfdertyd daarop aanspraak maak dat hy/sy een is met Christus nie. As Jesus Christus ons metgesel op die pad is, is dit ook vir ons makliker om met ander reisgenote op weg te wees. My verhouding met my medemens is ‘n baie goeie barometer van my verhouding met Christus. Wanneer ons altyd in gedagte hou dat ons een is in Christus, sal dit vir ons al hoe makliker raak om ook die eenheid in Christus te bewaar.
(ii) Die krag van die Christelike liefde.
Christelike liefde is daardie onoorwinbare goeie gesindheid wat nie bitterheid ken nie en net op soek is na daardie dinge wat goed is vir ander. Christelike liefde is nie ‘n gevoel nie, dit is ‘n leefstyl van praktiese liefde. Christelike liefde is juis ‘n oorwinnende liefde – ‘n lewe van oorwinning wat begin by ‘n oorwinning oor my eie wil. Die Christelike liefde beteken selfs liefde teenoor die mense wat ons haat, daardie mense van wie ons nie hou nie, en daardie mense wat nie juis “lovable” is nie.
(iii) Die Heilige Gees wat in elkeen van ons is.
Die Heilige Gees vorm ‘n band tussen my en God en tussen my en my medemens. Dit is die Heilige Gees wat ons in staat stel om die Christelike liefde te leef. Wanneer mens in voortdurende on-een(nig)-heid met ander mense lewe, dan moet jy nie verbaas wees as mense vrae het oor die inwoning van die Heilige Gees in jou lewe nie. Die lewe wat God vir elkeen van sy kinders hier op aarde bedoel het, was ‘n lewe van liefde vir God en liefde vir die mense rondom my.
(iv) Meegevoel wat mense vir mekaar het.
God het die mens geskep om in harmonie met mekaar te lewe. Wanneer hierdie harmonie versteur word, dan mis die mens sy skeppingsdoel. Hierdie meegevoel kan net gebeur wanneer ‘n mens tyd maak om te luister, luister na daardie mense wat soms as opponente of kompetisie gesien word vir die saak waarmee ek besig is. Ons aanvaar baie maklik dat ons ander mense se motiewe ken en hulle gedagtes verstaan en hulle gevoelens weet. Meegevoel gebeur wanneer ek my persepsies oor mense weer en weer kontroleer om seker te maak ek het reg verstaan. Daardie meegevoel verhinder skeuring en on-een(nig)-heid.
Ek het onlangs weer hierdie opmerking gehoor: Niemand skuld my ‘n belydenis nie, maar ek skuld dalk ‘n paar mense vergifnis. Ons wag dikwels totdat iemand kom bely voordat ons vergewe. Die Christelike liefde vergewe selfs sonder belydenis. Vergifnis is dikwels ‘n baie persoonlike saak en ander mense hoef nie altyd te weet as ek vergewe het nie. Vergifnis is die manier waarop ons meewerk om die en-een(nig)-heid in gemeentes te herstel.
Hoe voel jy oor die kritiek wat daar teen die kerk en teen Christene uitgespreek word?
Watter een van die drie bedregings vir eenheid dink jy is die grootste bedreiging?
Watter een van die vier dinge wat on-een(nig)-heid verhinder is die grootse nood op hierdie stadium in die kerk?
Hoe moeilik/maklik is dit om mense te vergewe wat jou seergemaak of teleurgestel het?
Hoe belangrik dink jy is dit om mense wat jou seergemaak of teleurgestel het te vergewe?
More lees ons Filippense 2:5-11. Een van die mooiste gedeeltes wat Paulus geskryf het.
DS ATTIE die kerk is nie meer wat dit was toe ons kinders was nie, ek gaan nie gereeld kerk nie, maar GOD is nie net in kerke teenwoordig nie, ek bid in my binnekamer – ek lees my BYBEL – ek glo in GOD. Ons gemeente staan bekend as ‘n RYK gemeente, daai ooms en tannies kyk mens middeldeur as jy die kerk binnestap, die musiek is oorverdowend, die orkes is te hard, geen mens kan teen sulke harde musiek sing nie, baie kere is die liedjie wat hulle speel nie eers die een wat op die bord wys nie, dan speel die “band” en die mense sing wat op die bord verskyn!! Vir my is dit belaglik! EK GLO. EK IS ‘N CHRISTEN! God is oral om ons, nie net in kerke nie.
meermin: Jy is reg. God is nie net in kerk nie. God is alomteenwoordig. Dit is juis Christene se verantwoordelikheid om seker te maak God is nie net in kerke nie.
Ek sou aanbeveel dat as jou eie gemeente jou so ontstel, gaan kyk bietjie of daar nie ‘n ander gemeente is waar jy gelukkig sou kon wees nie. Maar… die doel is nie om jou skuldig te laat voel omdat jy nie kerk toe gaan nie, ek dink net dat as jy in ‘n gemeente kom waar jy gelukkig is, sal jy dalk meer geluk in jou verhouding met die Here beleef.
Hallo Attie!! Ek wil ook bietjie vandag weer ‘n stuiwer in die beurs werp… Ek hou daarvan om kerk toe te gaan. Ons is bevoorreg om in ‘n wonderlike gemeente te wees hier aan die Oos-Rand met 4 predikante (waarvan prof Hennie Stander een is). Ek lees gereeld dat mense sê dat ander mense die oorsaak is hoekom hulle nie meer in die kerk kom nie. Meestal dink ek dit is net ‘n gerieflike verskoning om nie kerk toe te gaan nie. Ekself is ook al deur mense in ons kerk seergemaak maar dit gaan my nie daar weghou nie. Ek het vergewe. Mense moet besef dat ons almal mense is… mense is vol sonde, nie een is volmaak nie. Ons luister sommige Sondae net sommer na ons kerk se erediens oor die internet (www.hawe.co.za) maar dis tog lekker om soms deel te wees van die erediens – die sang, die preek, die aanbidding – om die teenwoordigheid van die Heilige Gees ook daar te ervaar saam met mede-gelowiges. Om deel te wees van die huisgesin van God. Om in mekaar se lief en leed te deel. Ek wil dit nie anders hê nie!!
Hi Attie…. sorry, maar jy’s ‘getag’…………
Dit het my lank geneem om die onderskeid te kon tref tussen die kerk en God en my eie glo in God. Eers toe ek die dag besef dat die kerk, soos ons dit vandag ken, maar net ‘n mensegemaakte ding is en dus ook feilbaar is soos mense, daardie dag het ek vrede gekry. Ek oordeel nie meer die mense in die kerk wat “klip-Christene” is nie, dis hulle saak. Ek sal wel vir hulle bid, want dis my plig, as ek myself as ‘n opregte Christen beskou. En ek het lankal weer ‘n kerk gekry waar ek tuis voel, want selfs na 10 jaar, het my behoefte om tog maar in ‘n kerk te kom en na die Woord te luister, nooit heeltemal weggegaan nie.
As iemand vir my sê, na aanleiding van ‘n kerkmens se optrede: “Sien jy, dis hoekom ek nie ‘n Christen wil wees nie, want kyk hoe maak julle.”, dan sê ek: “Hokaai, stop die lorrie net daar. Jy veralgemeen nou. Net soos alle swartmense nie skelms is nie, en soos alle wit mense nie rassiste is nie, is alle Christene nie vals nie.”
Oor vergewe – dis nie altyd maklik om iemand wat jou teleurgestel het, te vergewe nie, maar vergewe maak mens vry. Regtig. Om heeltyd ‘n wrok in mens se hart te dra, maak mens siek in jou hart en uiteindelik ook siek van liggaam en gees. Naderhand kan jy glad nie meer aangaan met jou lewe nie, want daar die onvergewensgesindheid vreet jou op, soos kanker.
Ek sit hier in ‘n lente-rige Europa en lees hierdie gesprek en is dankbaar vir al die baie dinge wat die kerk in my geboorteland vir my en my inmiddelike mense beteken het en vir die goeie werk wat die kerk oor die algemeen vermag het. Ja daar was maar altyd geite en goeters en sakke vol skeinheiligheid en hoogmoed en dies meer, maar oor die algemeen was my ervaring positief. Suid-Afrikaners van alle kleure en kulture het baie om die kerk voor te bedank, met al sy foute en apartheid-verlede en als ingesluit, want daar was ook baie kerke wat eweneens teen apartheid gestry het.
As ek egter kyk na hoe die kerk sy mag misbruik het in die middel-eeue en na-middeleeue … of ten minste die maghebbers in die destydse hoofstroomkerke dan verstaan ek hoe baie (post?)moderne Europeërs vandag hier in Europa lankal die kerk verlaat het en ys ek om te dink dat ons jongmense en ons kinders ook gaan terugkyk na die SA wit-kerke en sê “as dit hule God se ideë van liefde is wil ons hom nie ken nie”. Mag die mense wat God regtig ken hom so daadwerklik uitleef in SA dat mense dit moeilik sal vind in die nuwe geslag om te dink dat die God van die kerk enigiets anders as liefdevol is.
Die kerk is maar net ‘n plek waar ons bymekaar kom om die Here te loof en prys … ons binnekamer soos die bybel dit noem is waar ons persoonlike tyd met God deurbring , daai persoonlike verhouding waar net jy en die Here gesêls … en dan die selgroep of bybelstudie waar jy meer oor God se woord leer en deel met ander … Ons liggaam is nou die tempel die kerk , daai dag toe ek Jesus ingenooi het het dit vir my begin verander , ek wil nou saam ander die Here loof en prys in die kerk , wat maar net ‘n gebou is waar ons met Jesus in ons die plek heilig maak . Bring julle liggaam tempels na die kerk gebou toe en vergeet van iemand wat jou dalk daar weg hou en kom loof en prys saam , saam kan ons die kerk vol maak met God se teenwoordigheid …..
ek dink ek trek Rustenburg toe…
So sit ek nou mooi stadig en lees, en vinnig dink… Dankie vir die perspektief!