CARPE DIEM

In die tronk, sonder rede in die tronk. Tog is hierdie man se getuienis “want ek weet dat alles op my redding sal uitloop…” In hierdie omstandighede weet Paulus dat hy ondersteuning van twee oorde kan verwag.

(i) DIe ondersteuning van vriende se gebed. (want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid…)

Paulus het nooit so belangrik of geestelik so volwasse geword dat hy nie meer aanspraak gemaak het op die gebede van sy vriende nie. Hy het altyd geweet dat nie hy of enige iemand anders enige iets kan doen sonder gebed nie.

In die tyd waarin ons lewe het gebed byna oorbodig geraak. Die indruk wat ek soms by mense kry, is dat hulle nie regtig daarvan oortuig is dat gebed ‘n verskil kan maak nie. Het die mense in ons dag dalk so onafhanklik en selfstandig geraak dat ons nie meer God se ondersteuning wat deur gebed verkry word nodig het nie?

(ii) Ondersteuning van die Heilige Gees. (… want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan.)

Die teenwoordigheid van die Heilige Gees is die vervulling van die Here Jesus se belofte dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie en dat Hy aan ons ‘n ander Trooster gaan stuur om vir altyd by ons te wees. Ek wonder hoeveel ruimte laat vandag se gelowiges vir die werking van die Heilige Gees?

Omdat Paulus die ondersteuning van sy vriende in gebed het en ook die ondersteuning van die teenwoorigheid van die Heilige Gees, het hy hierdie verlange: “Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe…”

Twee uitdrukking beskryf vir ons Paulus se gesindheid. Eerstens: Dat ek niks sal doen waarvoor ek my hoef te skaam nie. Hierdie skaam kry het te make met mens se gewete wat besonder sensitief gemaak word deur die Heilige Gees wat in ons werk. Ons kan maar hierdie les by Paulus leer: Het ek nodig om my in die teenwoordigheid van die Heilige Gees te skaam vir dit waarmee ek besig is?

Een van die probleme wat Jesus met die Fariseers gehad het, was dat hulle hulle sondes gerasionaliseer (Goeie redes gehad het waarom hulle sonde gedoen het of nagelaat het om iets te doen) het. Jesus het hulle daarvan beskuldig dat hulle in klein dingetjies getrou was maar die groter dinge nie gedoen het nie. Ons het vandag maar nog steeds goeie redes waarom die eise van gehoorsaamheid soos dit in die Woord beskryf word, nie meer geld nie. Wanneer word ons dan soos die Fariseers?

Dit sluit aan by die tweede gedagte uit die vers: Hy wil net daardie dinge doen wat Christus sal verheerlik. Christene en kerke doen dinge wat mense negatief maak teenoor kerk en Christene. Soms is hierdie kritiek nie geregverdig nie, en dan is dit ook maar ‘n geval van rasionalisering, maar ons kan nie ontken dat die manier waarop Christene mekaar en ander mense behandel en die kerk lidmate en ander mense behandel.  Ons verwag soms meer van ander as wat ons bereid is om self te doen – dit is ‘n goeie definisie van ‘n Fariseer.

Christene en kerke se optrede kan soms op geen manier Christus verheerlik nie.

‘n Laaste gedagte uit hierdie gedeelte van Paulus, hy verlang om by die Here te wees. “Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste…”

Die woord wat Paulus gebruik vir hierdie verlange het drie betekenisse gehad in die Griekse gemeenskap gehad.

Dit is eerstens die woord wat gebruik word wanneer ‘n mens gereed is om te vertrek en die tentpenne begin uittrek. Die dood is die derugang na ‘n ewige tuiste – nie meer tente nie, maar in die plek wat die Here Jesus vir my gereed gaan maak het.

Die tweede betekenis het te make met ‘n skip wat gereed maak om die hawe te verlaat en nou word die toue waarmee die skip aan die kaai vasgemaak is losgemaak en die ankers word opgetrek. Beide losmaak van die toue en optrek van die ankers is dieselfde woord.

Wanneer ‘n mens sterf vertrek jy op ‘n reis na die hemelstad, jy span jou seile na die winde van die Heilige Gees.

Die derde betekenis is die van probleemoplossing. Wanneer ‘n probleem opgelos is, is die situasie ontknoop. Die dood beteken ook ‘n einde aan die probleme wat mens in hierdie lewe ervaar. Kan jy jou indink watter uitkoms sou die dood vir Paulus gewees het wat op hierdie stadium in die tronk was?

Ek sou graag met hierdie gesindheid wou lewe. Sonder om hierdie ‘n depressie-uitdrukking te maak of om die dood te sien as ‘n ontvlugting. Die lewe is vir my lekker – baie lekker. Maar juis omdat die lewe vir my so lekker is, weet ek dat die dood vir my ‘n deurgang na die lewe sal wees wat al my stoutste verwagtinge sal oortref en dat die geluk en die vrede en tevredenheid wat ek in hierdie lewe beleef in alle opsigte en by verre oortref sal word.

Aan die een kant wil ‘n mens uitroep: Carpe diem – Gryp die dag. Maak alles van hierdie dag. Geniet hierdie lewe voluit, want ons is gemaak vir hierdie lewe.

Maar mens wil ook uitroep: Maranata – Kom Here Jesus. Ja kom gou! Want ons is nuutgemaak vir ‘n ewige lewe saam met God.

Nadink vragies:

Hoe beleef jy die gebedsondersteuning van jou vriende?

Watter rol speel die Heilige Gees as ondersteuning in jou lewe?

Paulus wil ons aanmoedig om ons tentpenne nie te diep in hierdie lewe in te slaan nie. Wat is jou gedagtes daaroor?

Watter uitdrukking sou jy vandag eerder wou gebruik: Carpe diem of Maranata?

More lees ons Filippense 2:1-4.

5 thoughts on “CARPE DIEM

Add yours

  1. Die Heilige Gees ly my elke dag, sonder HOM kan of wil ek nie lewe nie! Ek weet die HERE is daar vir ieder en elk van ons, ons moet JESUS elke dag innooi in ons harte, asook in ons lewens, want sonder GOD is ons NIKS nie! My geloof word net elke dag sterker en sterker, omdat ek ‘n KIND van GOD is! Wie sal my van my GOD beroof? Nie eers die duiwel self sal dit reg kry nie!

  2. Ek bid elke dag vir my vriende, noem hulle by die naam en waarvoor ek vir hulle bid. Sonder om te vra en sonder om te sê sien ek beweging en werking deur die Heilige Gees. Die fyn aanvoeling/en stem van die Heilige Gees ly my elke dag. As ek nie in die oggend stilte tyd gehad het nie en so my dag begin het nie voel ek baie alleen. Tentpenne? Myne is maar diep ingekap, ek glo daar waar ek NOU is gee ek alles ook in my geestelike lewe. Carpe diem- waar ek nou is en ook eendag waneer ek DIE lewe verlaat vir die ewige lewe.

  3. Hoe beleef jy die gebedsondersteuning van jou vriende? *** Ek moet sê ek het baie ondersteunende vriende, en as dit nie vir hulle was nie, weet ek nie so mooi nie!

    Watter rol speel die Heilige Gees as ondersteuning in jou lewe? *** Ek vra elke dag vir LEIDING en wysheid!

    Paulus wil ons aanmoedig om ons tentpenne nie te diep in hierdie lewe in te slaan nie. Wat is jou gedagtes daaroor? *** Ek wil my tentpenne inslaan daar waar veral behoeftiges my benodig in die lewe. Ek het ‘n vreeslike softspot vir mense wat weens omstandighede swaarkry! (LET WEL: Ek praat nie van dronkaards wat hul eie ondergang bewerkstellig nie!)

    Watter uitdrukking sou jy vandag eerder wou gebruik: Carpe diem of Maranata? Albei! Ek wil LEWE en DIEN!

    Lekker aand vir almal.

  4. meermin: Inderdaad: Niks kan ons skei van die liefde van God nie, die liefde wat daar vir ons is in Christus Jesus ons Here nie.
    HeLo: Natuurlik moet ons hierdie lewe voluit lewe en nie lossies rondbeweeg soos klippe wat rol en rol nie. Tog behoort daar in ons harte ‘n verwagting van die wederkoms te leef. Elke dag word ek wakker, en dink: Miskien kom die Here vandag. Dan gaan ek uit en ek leef daardie dag voluit asof dit die laaste dag is. Vanaand voor ek gaan slaap, dink ek: Dit was toe nie vandag nie, dalk more.
    “Oubaas” (gawie): Ek sien jy wil ook hierdie lewe volledig ernstig neem. Dit is nogal ‘n kenmerk van vandag se Christene wat hulle roeping in hierdie lewe ernstig neem. Ons wil nie op die stoep sit en wag vir die wederkoms nie, ons wil werk en veral daar waar nood is.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: