CHRISTEN WANBEGRIP – SOUT EN LIG

Adrie skryf op haar blog – doringsensomsrose onder die opskrif: CHRISTEN WANBEGRIP oor christene met ‘n klein lettertjie. Haar groot frustrasie (en baie ander sin ook) is met mense wat graag getuig dat hulle christene is, maar wie se lewe die teenoorgestelde wys. Wat my onder andere getref het was hoeveel mense daar kommentaar lewer wat sê dat hulle hulleself as gelowiges sien, maar nie deel van die kerk sien nie, juis as gevolg van hierdie teenstrydigheid.

Ek is besig met leeswerk met die oog op ‘n preek Sondag 6 April. Voordat ek op Adrie se “blog” afgekom het, het ek reeds besluit dat ek oor ons roeping om sout en lig te wees gaan preek. Ek is daarvan oortuig dat Jesus se opstanding uit die dood ons hier en nou ook reeds laat opstaan tot ‘n nuwe lewe waar ons as gelowiges sout en lig vir die wêreld moet wees. In my leeswerk vestig ‘n skrywer my aandag op die belangrikheid van die volgorde van hierdie twee uitdrukkings.

Die sout wees word verstaan as dat die gelowige deur wie hy/sy is en deur die manier waarop hy/sy lewe ‘n bepaalde uitwerking op die wêreld het. As sout het ons die roeping om “anders” te wees. Ek moet daarna strewe om die mense rondom my se aandag te trek deur my optrede wat “anders” is en deur die manier hoe ek dinge “anders” doen. Hierdie “andersheid” moet die mense rondom my nuuskierig maak. Hierdie “andersheid” moet by mense die behoefte wakker maak om ook anders te wees. My optrede en my gedrag en die manier waarop ek lewe wys wie ek regtig is. My leefstyl moet mense so nuuskierig maak dat hulle begin om vrae te vra oor my “andersheid”. Met ander woorde: Die opstandingslewe moet mense se aandag trek.

Wanneer mense dan begin om vrae te vra oor my opstandingslewe, is dit my geleentheid om lig vir die wêreld te wees. As mense deur my lewe agterkom wie ek is, kan ek begin om deur my woorde vir hulle van die lig te vertel. As sout het ek ‘n algemene indruk wat ek hoop om op alle mense te maak, as lig het ek die geleentheid om in ‘n een tot een verhouding in ‘n spesifieke mens se lewe die lig van die Goeie Nuus oor Jesus te laat skyn. As gelowige beweeg ek van die algemene na die spesifieke.

Die probleem is dat gelowiges hierdie volgorde omruil. Ons getuig graag van die “lig” wat ons ontvang het wat maak dat ons nie meer in hierdie duisternis leef nie, maar intussen is daar geen sprake van “sout” wees in ons alledaagse optrede nie en leef ons in effek voort in die duisternis waaruit die “lig” wat ons verkondig ons oënskynlik gelei het.

Of ons as gelowiges dit nou wil erken of nie, ons lewens moet altyd meer sê as ons lippe. Indien dit nie die geval is nie, sal die effek van ons lippe weinig tot niks wees nie. Dit gebeur net al te veel dat mense met hulle lippe die Goeie Nuus oor Jesus verkondig, maar met hulle lewens van die teenoorgestelde getuig. Wanneer dit wat sê vooraf gegaan word deur wie ek is, het my woorde die belangrike element van geloofwaardigheid – indien ek die volle waarheid verkondig, maar dit nie leef nie, moet ek verstaan dat my woorde waarskynlik geen impak sal hê nie – weens ‘n gebrek aan geloofwaardigheid in my eie karakter.

Dit vra nie volmaaktheid nie, dit vra net ‘n eerlike omgaan met myself, en dit vra dat ek eerlik sal wees oor my foute en altyd bereid sal wees om uit my foute te leer. Dit vra net ek nie die wonderlike waarheid van God se genade en vergifnis sal misbruik as ‘n verskoning vir my blatante gebrek aan integriteit en geloofwaardigheid nie.

Ons moet eers sout wees voordat ons as die lig van die wêreld kan optree.

28 thoughts on “CHRISTEN WANBEGRIP – SOUT EN LIG

Add yours

  1. Dalk moet ek effens verbeter. Dit is presies wat ek ook voel. Dat ‘n Christen se leefwyse ander moet nooi om ook Christenne te wees.

    Iemand het eenkeer ‘n driehoek geteken, met God bo (vas), jy links en ander regs. As jy nader aan ander probeer beweeg, bring dit jou nie noodwendig nader aan God nie. As jy en ander egter nader aan God beweeg, bring dit julle ook nader aan mekaar.

  2. Adrie: Die gelowige se fokus moet wees op sy verhouding met God en daaruit voortvloeiend moet ander mense ook in die prentjie kom. Scot McKnight ( Sy skakel is op my lys) prat van die “Jesus Creed waar ons God meer lief het as enige iets anders en ons naaste soos onsself. My probleem is dat mense hulle eie regte en persoonlikheid en begeertes en luste meer lief het as wat hulle God het en ander mense het.

  3. en dis presies hoekom ek ds matthys en sy gemeente ver weg gestuur het… En hoekom ek kerkloos raak!

    My groot christen buurman donns sy vrou op, ek bel ds, hy ignore!

  4. Platter: Hierdie dinge maak ‘n mens hartseer, maar… dalk moet jy eendag weer probeer. Daar is ouens (ook dominees) wat anders is. Daar is gemeentes wat anders is. Dalk moet jy eendag kom kuier.

  5. Wel, miskien is kuier nader as wat ons dink! Ek KAN nou weer leef!

    En ek het net n (my) gemeente afgeskryf, nie almal nie! En hier is n nice ‘engelse’ gemeente… I like!

  6. Ek kry net vandag n email wat handel oor Rom 12:2 waar gese word dat ons nie aan hierdie wereld gelyk moet word nie. Tog sien/beleef ons dit elke dag. Ek stem, om anders te wees is om Jesus ‘like’ te wees.

  7. Ek hou daarvan “Wanneer dit wat sê vooraf gegaan word deur wie ek is, het my woorde die belangrike element van geloofwaardigheid ” So ek moet eers my kredietwaardigheid vestig.

  8. Etienne: Ek dink daar is gelowiges wat regtig wil probeer, maar ontmoedig word – en dikwels verkleineer word deur ander gelowiges wat net op hulle getuienis of selfs op hulle Sondag in die kerk wees staat maak.
    Alec: As ons eerlik moet wees, sal ons moet sê dat die kerk baie werk het met betrekking tot ons geloofwaardigheid.

  9. As ‘n mens bietjie mooi kyk na “sout”. Word ook gebruik as “ontsmettingsmiddel” en “skoonmaakmiddel” in wonde. Dit is dan ons taak, reinig en heel van ‘n stukkende wereld om ons. En ‘n lig kan ook nie helder skyn voordat dit self nie “skoon” is nie.

  10. Pikkelik: Ons stryd moet juis wees om in hierdie wereld te wees, maar nie van die wereld nie. As ons daardie stryd prysgee, dan raak ons wereldgelykvormig in plaas van Jesus gelykvormig.
    Marina: Sout het verskillende funksies, klein bietjie sout gee ‘n ander smaak aan ‘n groot ete.
    meermin: Ek dink… as jy geluk na seerkry smaak, dan is dit omdat God jou seerkry in diens geneem het en vir jou geluk aangwend het. Lyding en swaarkry is ‘n stuk onverklaarbaarheid, maar ‘n werklikheid ten spyte van God se almag en liefde.
    Oubaas: Is nogal waar – sonskyn na ‘n storm is altyd meer helder en word meer waardeer.

  11. Ek moet rondborstig erken dat wanneer dit by geloofsake kom, ek nog baie onvolwasse is. Daarom probeer ek goed afpreek in terme wat ek verstaan of mee kan assosieer. Wees dus maar asseblief geduldig met my.
    Ek is een van die wat “kerk’ as ‘n instansie biokot as gevolg van my persepsie dat Christene se Sondagpraatjies en Maandag handel en wandel nie ooreenstem nie. Die onderliggende boodskap wat ek uit die stukkie neem is dat dit dalk juis die verkeerde ding is om te doen, en dat die regte ding om te doen eerder sou wees om in te skakel en as voorbeeld te staan van hoe dit moet gedoen word.

    Indien ek dit wel reg verstaan, skep dit nogal vir my ‘n dilemma in die sin dat alles wat ek myself in die laaste 8jaar of so wysgemaak het, eintlik ‘n klug is.

  12. Jaco: Ek dink mense het meer as genoeg rede om negatief te wees oor die manier waarop Christene optree. Ek is egter baie jammer oor die veralgemening wat gebeur het. Ek doen bv. nie besigheid met ‘n persoon wat homself as ‘n Christen sakeman voorstel nie. Ook nie met iemand wie se besigheid se naam een of ander Christelike betekenis het nie. Ek verkies om deur my omgang met ‘n sakeman met die verloop van tyd te ontdek dat hy ‘n gelowige is omdat hy sy besigheid anders doen of bedryf. Maar… ons moet van binne die standaarde verhoog. Soos ek vir Platter ook gese het: Daar is gelowiges en gemeentes wat anders is. Maak ‘n verskil van binne. Kom word deel en dan kan mens kritiek uitspreek waarna mense makliker luister. Die kerk is ver van volmaak af en sal in hierdie liefde altyd die stempel van onvolmaaktheid dra.

  13. Ek het eens op ‘n tyd gevoel ek moet kerk toe gaan. Daai gebou met die rye banke, orrel wat speel, dominee wat voor staan en preek, Psalms wat gesing word, susters wat koek bak tydens ‘n basaar ensovoorts.

    Toe vat ek my bike en ek ry. Baie vroeg elke Sondag-oggend klim ek op en ek ry. Ek soek kerk.

    Sien, die ding van kerksoek was nie maklik nie. Daar was een Bybel, maar klomp kerke. Toe kom daar ‘n nuwe vertaling Bybel en die een kerk wat ek een Sondag besoek het, gebruik nie die nuwe vertaling wat ek aangeskaf het nie. Ander gebruik weer nie die ou vertaling nie, maar die nuwe vertaling. Daai kon ek nog vat, want ek het altwee, die nuwe en ou vertaling.

    Maar steeds was die probleem van na watter kerk toe ek moet gaan. In watter bank moet ek gaan sit. Daar is een God, maar baie kerke. Die NG, Hervormd, Gereformeerd, APK, AGS, Ou Apostolies, Nuwe Apostolies, Anglican, Katoliek, ZCC, ja ek was tot by die ZCC. In die Apartheidsjare. Sonder problems. By ‘n ander kerk net buite Heidelberg was daar tot woes gesuip tydens die preek.

    So, ek het die verskillende kerke besoek. Een God, baie kerke. Ek probeer toe die “regte” kerk kies. Ek ry die bike. Orals. Eers naby en toe al verder. Pretoria, Johannesburg, Florida, Roodepoort, Vereeniging, Ermelo, Potchefstroom, Kimberley, Durban, Pongola, Windhoek… Orals. Ek ry. Want ek soek.

    By party kerke het ek nie ‘n probleem opgetel as ek laat was nie. By ander was ek suur en streng aangekyk. By ander het ek my pak klere in die badkamer gaan aantrek as ek betyds was. By ander het ek weer ingesluip as die diens al aan die gang was. By party kon ek Nagmaal meedoen, by ander was besoekers nie welkom om deel te neem aan Nagmaal nie.

    En ek dag toe al die tyd my probs is om die regte kerk te kry. Toe kom ek agter verskillende gemeentes van dieselfde kerk in verskillende woongebiede / dorpe preek verskillende goed.

    Toe was ek by een God, verskillende kerke, twee Bybels en verskillende gemeentes, verskillende kerkrade… Verskillende sienings, oortuigings en vertolkings van die Woord.

    Toe was ek deurmekaar. Toe weet ek nie meer nie. Ek weet nou nog nie.

    En tog wil ‘n rowwe ou soos ek ook graag kerk toe gaan. Ek wil ook gaan luister wat die dominee of priester preek. Ek wil ook luister na die Woord en ek wil ook vir Jesus sê ek is dankbaar omdat Hy aan die kruis ook vir my sondes heeltemal betaal het.

    Nou bid ek maar langs die pad en lees die Gideons Bybeltjie wat ek in die SAW gekry het. Lekker klein, die Bybeltjie pas in my leerbaadjie se sak. Nuwe testament met Psalms en Spreuke.

    En ek wonder nogsteeds watter kerk is dan reg? Eish… Ek krap nogsteeds kop.

  14. Attie, dankie vir die boodskap, dit het met my gepraat vandag.

    Gertgariep, ek het jou nou gate uit geniet! Ek soek intimiteit en kos vir my siel, as die Leraar gevul is met die Heilige Gees en hy hou by die Woord is my kop deur. Dominees het ons gebede nodig, mens moet hulle in jou stiltetyd insluit, want hulle het nodig dat medegelowiges hulle bene stut.

    Ek skakel vroegoggend op Radio kansel in, op AM 657 Ek is veral heerlik tuis met Ds. Hendrik van Wyk; hy is sy sout werd.

  15. Gertgariep: Baie dankie dat jy hier kom kuier het.
    As ek so lees is ek so dankbaar vir ons gemeente. Ons gemeente het 4 jaar terug saamgesmelt met ‘n onafhanklike gemeente omdat ons gesien het ons kan saam meer doen as elkeen op sy eie. Is ons gemeente reg oor alles – ek glo nie, want ons ken ten dele.
    Twee dinge weet ons, die een is dat Jesus Christus deur sy sterwe en opstanding mense met God versoen en dat mense wat met God versoen is geroep is om God bo alles lief te he en ander mense net so lief te he as wat hulle hulleself het. Jy sal welkom wees. Partykeer preek ek ook maar vrot volgens my eie standaarde, maar ek het die Here lief.
    Jy sal met ‘n glimlag verwelkom word as jy laat instap en as dit nagmaal is sal die dominee wat die nagmaal bedien almal wat glo dat die Here Jesus in sy/haar plek aan die kruis gesterf het welkom is om saam nagmaal te gebruik. Die laaste Sondagaand voor die skool gesluit het, het ons nagmaal bedien aan 300 tieners en net soveel volwassenes. Ek weet kerke is baie keer die grootste oorsaak dat kerke leeg is.
    As jy ooit hier in my omgewing kom, laat weet ‘n bietjie. Maar moet nooit ophou om die Gideon Bybeltjie te lees nie. Terloops daar is nog ‘n nuwe vertaling uit wat baie mooi Afrikaans gebruik. Ons gebruik hom ook van tyd tot tyd.
    Katrien: Jy is welkom. Ek is bly as dit mense laat dink. Het my ook laat dink.
    boendoe: Geniet die nadink.

  16. Ou Gert ek lagnou so lekker dat die trane teen my rug afrol. Ek het met dieselfde probleem geworstel. Nou laat ek die Gees my lei, en as ek in ‘n kerk kom wat die Gees my wys kry ek die woord wat ek wil hoor!

    Baie predikante hou nie van die idee dat mense rondswerf nie. Ons dien tog EEN God aan die einde van die dag.

  17. Oubaas: Ek dink ook nie dit is die ideaal om rond te swerf nie en jy is reg ons dien op die ou end EEN God en Vader van ons Here Jesus Christus, maar dit is ‘n verskynsel waarmee ons saamleef en wat ons as predikante in ‘n groot mate aanvaar.
    Ek begrawe hierdie week ‘n twee-jarige kind wat Vrydag in ‘n swembad verdrink het. Die jong-mense was ook swerwers en was ‘n hele paar kere by ons in die gemeente, maar nou moet ons hulle heeltemal van voor af leer ken. Daar is geen verhouding met enige vorm van ondersteuning uit die gemeente nie en hulle het die ondersteuning van ‘n geloofsgemeenskap nou baie nodig – hulle sê self so. Ons gaan dit steeds gee, maar dit kon net soveel makliker gewees het.

  18. Attie ek hhor wat jy sê.

    Wat my egter kwel is dat die “plaaslike” herder nie sy skape in sy trop kan hou nie, omdat dit vir my wil voorkom of preke nie meer “trefkrag” het nie.

    Ek kan dit verdedig deur te sê baie predikante sit met soveel probleme in hul gemeentes wat hul moet uitsorteer dat hulle nie meer genoeg tyd kry om hulle preke behoorlik voor te kan berei nie.

    Aan die anderkant is die hoofpredikant by ‘n gemeente so dominerend dat sy assistente nie kans kry om te preek nie. Die assistent kan dalk ‘n beter preek gee as hyself, maar word dit nie gegun nie! Ai!

    Die verblydende wat ek deesdae opmerk is, dat daar gemeentes is wat fenominaal groei.

    Ek was Paasnaweek op Sasolburg. Die AGS Kerk daar is onlangs (ek dink in 2003) vergroot. Ek hoor daar is planne om dit nog groter te maak omdat die bestaande kerk al klaar weer te klein is. Dit sê vir my iets van ‘n herder wat sy werk reg doen!

    Ek weet nie waar jou kerk is nie, maar sal graag eendag daar wil draai gooi.

  19. Oubaas: ons is in Rustenburg en is ook baie dankbaar vir die groei in die gemeente ons werk nie regtig met ‘n leier-dominee nie alhoewel ek die groter deel van die prediking hanteer. Ons is vier predikante en die ander kry elkeen ook kans om te preek. Dit is wel waar dat predikante baie besig is met lidmate se probleme ens. ‘n Herder se funksie is die versorging van die kudde en dit maak dit soms vir leraars moeilik om die lidmate baie tyd vra. Maar, ek dink ‘n prediker het die verantwoordelikheid om goed voorberei te wees wanneer hy preek. Laat weet as jy in die omgewing is, dan kom kuier jy.

  20. Dominee, hoe gemaak as n ds. se optrede teenoor n lidmaat soms ook nie strook met SY Sondag preek nie. Dit is dan waneer jy respek verloor vir hom en met ander oe na die kerk kyk. Ds. is ook net mense maar jy verwag net bietjie meer van so snr. predikant. Dit maak seer en los littekens. Ek probeer troos maar skade is gedoen. Is ds. nie veronderstel om voorbeeld ten alle tye te wees nie. Verskoon asb. dat ek nou anoniem bly.

  21. Anoniem: Ek wens ek het vir jou ‘n duidelike antwoord gehad. Ek sien jy skryf di. is ook maar mense en daarmee is jy heeltemal reg. Ek word ook dikwels kwalik geneem vir dinge wat ek doen en die manier waarop ek teenoor mense optree deur mense wat baie erger teenoor my optree en wie se lewens ook maar ‘n ernstige skadukant het.
    Die vraag waarmee ek nou sit is: Is dit billik om van ‘n dominee meer te verwag as wat mens van jouself verwag of wat jy van ‘n ander Christen verwag?
    Natuurlik is ‘n ds. veronderstel om te alle tye ‘n voorbeeld te wees, maar so is elke ouer byvoorbeeld ook. Wat sou ‘n ouer van sy kind verwag indien ‘n kind vra: Is ‘n ouer nie veronderstel om altyd vir ‘n kind ‘n voorbeeld te wees nie? Jy as my ouer is nie vir my ‘n voorbeeld nie, so ek kan nie meer respek hê vir jou nie en ek kyk nou met ander oë na die gesin!
    Ek wonder of daardie ouer nie sal sê: Ons maak almal foute – ouers ook. Vergewe my asseblief vir my foute. En… een van die belangrikste lewensvaardighede wat mens moet aanleer is die vermoë om te vergewe. Ek dink dit is wat ‘n ouer vir die kind sal sê. Ek dink nie dit is in die kerk baie anders nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: