CHRISTEN WANBEGRIP – ‘N NUWE AANSLAG

Ek is baie verbaas oor die baie kommentaar wat ek gekry het op my vorige skrywe oor Christen wanbegrip. Ek is veral verbaas oor die hoeveelheid mense wat reageer en sê ek gaan nie kerk toe nie, maar ek het wel die behoefte om kerk toe te gaan, of ek gaan nie kerk toe nie, maar dit beteken nie dat ek nie glo nie.

Daar is ‘n hele paar mense wat reken dat die gelowiges buite die kerk ‘n groeiende getal is. Hierdie is een van die redes vir geweldige groei wat “emergent” beweging veral in die VSA beleef. Hulle fokus op daardie mense wat nie meer kans sien om in die huidige kerk-sisteem as gelowiges te funksioneer nie. Een van hulle het bv. ‘n kerk in ‘n ongebruikte kroeg oopgemaak waar mense tydens die erediens by die kroegtoonbank of rondom die tafels gesit het.

Belangrike name in hierdie gesprek is Scot McKnight (Hy kom in Mei-maand Suid Afrika toe) en Brian McClaren.

Die “emergent” beweging is op soek na daardie mense wat die rug op die modernistiese-era gedraai het en nou in ‘n era leef waarvoor hulle nie regtig ‘n naam het nie, en daarom noem hulle dit sommer die post-moderne era.

Die post-moderne mens vra veral met betrekking tot leierskap in die kerk ‘n nuwe aanslag. As ek nou ook lees wat op die blog geskryf is, dan stem dit ooreen met dit wat ek by die “emergent”-skrywers oor hierdie saak lees.

Moderniste: Analise. Post-Moderniste: Leef met geestelike dissiplines.

Moderniste: Praat. Post-Moderniste: Luister.

Moderniste: Objektiewe tegnikus. Post-Moderniste: Geestelike vriend.

Moderniste: Soldaat/Verkoopsman. Post-Moderniste: Dans op God se musiek.

Moderniste: Profesioneel. Post-Moderniste: Amateur.

Moderniste: Probleem-oplosser. Post-Moderniste: Probleem-raaksiener.

Moderniste: Verdedig. Post-Moderniste: Vra verskoning.

Moderniste: Dreig/Bedreiging. Post-Moderniste: Inklusiewe aanvaarding.

Moderniste: Weet. Post-Moderniste: Soekend.

Moderniste: Alleen. Post-Moderniste: Spanbouer.

Ek sou oor elke een van hierdie onderwerpe ‘n bietjie meer kon sê, maar as ‘n voorbeeld gaan ek net ‘n klein bietjie meer sê oor die eerste een wat ons hierbo aangedui het.

Moderniste: Analise. Post-Moderniste: Leef met geestelike dissiplines.

Die moderne geestelike leier dissekteer die Bybel soos ‘n wetenskaplike ‘n kadawer sou dissekteer. Die doel is om kennis te verkry deur sorgvuldige analise. In die moderne era was/is kennis mag.

Ek is onlangs weer gekritiseer omdat my preke nie genoeg eksegese openbaar nie. Ek maak nie die Bybel genoeg uitmekaar sodat “nuwe insigte” bekom kan word nie.

Die post-moderne mense verloor hierdie beheptheid met analise, kennis, inligting, geloof-sisteme en ook met die wat daarmee behep bly. Die post-moderne mens is op soek na iemand met daardie ewig ontwykende eienskap van wysheid. (Let wel: Wysheid # Kennis.) Wysheid word bekom deur geestelike dissiplines en nie deur akademiese kwalifikasies nie. (Let wel: Akademies kwalifikasies het nie oorbodig geraak nie, maar speel net ‘n ander rol.) Die post-moderne leier se lewe word gekenmerk deur ‘n intense geestelike opregtheid.  Hierdie leiers se morele gesag is geleë in hulle karakter eerder as in hulle intelektuele kwalifikasies en prestasies.

Die leier in die post-moderne era is veel stadiger om antwoorde te gee en verkies om eerder tyd te hê om te dink voordat enige antwoord gegee word. Die post-moderne leier domineer met opregtheid en vriendelikheid, en nie met intelektuele hoogmoed nie.

Ek is daarvan oortuig dat dit net een van die vaardighede is wat die leiers wat die kerk in Suid Afrika die nuwe era wil inneem sal moet aanleer. Ek wonder ook of dit nie dalk die vaardighede is wat aan die swerwende gelowiges weer ‘n geestelike tuiste gaan gee nie.

21 Kommentaar

Filed under Post Moderniste

21 responses to “CHRISTEN WANBEGRIP – ‘N NUWE AANSLAG

  1. Dis wat ek ook soek in ‘n kerk. Opregtheid, vriendelikheid, samehorigheid. Om deel te wees van…. Op die stadium sien die kerk my maar min, daar is geen moederskamer en erger nog, geen geduld. My kinders is klein en 1 of 2 ure is nog vir hulle ‘n ewigheid. Ek’s moeg vir die ‘hou jou kinders stil’ en ‘ kan jy nie beheer uitoefen’ kyke en kommentare. Ek hoor in alle geval niks wat die ds sê nie. Ek bly eerder tuis, lees, sing saam met my kinders, klap saam met hulle hande en bid saam met hulle. Jesus is tog hulle Redder ook, hoekom moet hulle uitgesluit en afgesonder word?

  2. Stoeier

    Attie, my rakke staan vol geestelike boeke van vooraanstaande skrywers, almal met hul unieke mening oor die evangelie. Verder mis ek ook nie ‘n TV program wat handel oor Jesus nie, veral die op Discovery, National Geograpic en History Channels. Onlangs wonder ek hoekom lees en kyk ek al die goed. Behalwe dat baie van die menings teenstrydig is met die bybel, skep van dit ook verwarring. Ek besef toe dat ek besig was om die evangelie tot die fynste detail te probeer analiseer en opsoek was na meer konkrete bewyse. Ek het ook verwag dat julle meer “eksegese sal openbaar” in preke en totaal behep geraak met analise en kennis en vergeet dat Christenskap gebou word op geloof en liefde teenoor mekaar.

    Ek dink jy het reeds die post-moderniste beweging begin in SA met jou hantering van ons gemeente se tieners .

  3. Pikkelik: Mag ek maar verskoning vra namens die kerk. Ons het in ons gemeente ruimte van ongever 80 vierkante meter waar ouers met klein kindertjies kan sit terwyl hulle die volledige diens op binnekring televisie volg. Maar, oor die algemeen fouteer die kerk dikwels met betrekking tot die akkomodering van ouers met klein kinders. Op ‘n dag sal jou omstandighede verander en sal jy kans sien om weer saam met jou kinders kerk toe te gaan.
    Stoeier: Dit is vir my ook moeilik om hierdie oorgang te maak. Ons leef met di een voet in die die era waarin ons groot gewoond het, en probeer met die ander voet vastigheid vind in die post-moderne era. Ons tienerkinders leef in ‘n groot mate reeds in die post-moderne era.Jy sal weet dat 50% van die tieners in ons gemeente kom uit gebroke huise. My strewe is om vir hulle ‘n vaderfiguur te wees en nie ‘n leermeester nie.

  4. Thinus

    Ek het vir lank ook ‘n wan begrip gehad, ek het vandag “The Secret ” klaar gelees, en nou verstaan ek omtrent alles, die wanbegrip dink ek is dat ons onself so martel en tekort doen as God vir ons net goie dinge wil gee, lees die boek! Dis baie goed!

  5. Thinus: Ek weet daar is ook baie mense wat vra: As God dan net goeie dinge vir ons wil gee, hoekom sien ons so min daarvan?

  6. Thinus

    Omdat ons ditf nie vir ons self gun nie, ons voel skuldig, we are the authors of our own limitations, Jesus het gese: jul wat sleg is weet hoe om vir jul kinders goeie goed te gee hoeveel te meer nie ons Vader in die Hemel nie

    Doom ons bid verkeerd, moet nie se wat jy nie wil he nie, maar fokus op wat jy wil he, as ons fokus op die negatiewe is dit ‘n self fulfilling prophecy, Ek stel voor lees die boek

  7. Katrien

    Thinus, dit is goed om alle dinge te ondersoek, maar behou die goeie, laat die Skrif jou maatstaf wees.

    Lukas ll:9 VRA, en vir julle sal gegee word
    : 13 As julle wat sleg is dan weet om vir julle kinders die goeie dinge te gee- die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat VRA.

  8. Thinus

    Exactly!! Dankie Katrien

  9. Attie, nou wonder ek net, as daar soveel verandering nodig is om mense weer te laat kerk toe gaan en na die dominee luister, word die huidige en toekomstige teologiese studente voorberei hierop, lyk hulle studieplan en vakke anders as vandag se dominees? M.a.w. word die studerende dominees post-modern geleer?

    En hoe kan dit gebeur, as die lektore dalk nog vasgevang is in die ou manier van dominee wees? Of vra ek nou dom vrae?

  10. Attie, net nadat ek hier bo gelees en kommentaar gelewer het, kom ek hierop af:

    http://mycontemplations.wordpress.com/2008/03/28/what-does-the-emerging-conversation-look-like/

    Jy sal dit dalk ook interessant vind.

  11. Sonkind: Ek het nie genoeg inligting oor wat op Universiteit gebeur nie, so ek gaan jou ‘n antwoord skuldig bly op daardie een. Ek het onlangs vir Cobus van contemplations ontmoet en ek lees graag wat hy skryf. Hy is op hierdie stadium ‘n student en werk ook by ‘n gemeente terwyl hy studeer. Ek weet sy twee kollegas is redelik oopkop oor hierdie dinge en ek luister graag wat hulle dink en sê.

  12. Ek moet eerlik erken dat ek met my post nooit aan die kerk gedink het nie. Net aan skynheiliges. Ek vir een is baie gelukkig in my kerk en gaan gereeld kerk toe. Ek het nog nooit oorweeg om my kerk te verlaat nie.

    ‘n Predikant het eendag vir my gese, bevraagteken alles waarin jy glo. Dit was die beste raad ooit gewees, deur my geloof te bevraagteken moes ek self antwoorde soek. Dit het my net versterk en selfvertroue gegee.

  13. Attie

    Ek wil nog vra, bedoel jy met “die kerk” net die NG Kerk of kerke in die algemeen?

  14. Pingback: In antwoord oor die vraag oor postmodernisme in ons opleiding « teo @ UP

  15. Sonkind, thanx vir die link. Daai post is actually net ‘n inleiding vir iets waaraan ek in die volgende paar weke wil aandag gee, om regtig bietjie weer te kyk waar die emerging gesprek inpas, sal maar kyk of ek daarby uitkom.

    Attie, net ‘n vinnige vraag: Is jy dood seker dat Leef met geestelike dissiplines die teenoorstaande van analise is? Meer nog, is jy dood seker dat die postmoderne minder klem op die eksegese plaas?

    Ek het die vraag oor die fakulteit begin antwoord, toe word dit baie lank, toe post ek dit liewers hier. Dit is die blog van ‘n paar teologie studente, ek het gedink dit is die regte plek om dit te post.

  16. Adrie: Ek praat van die kerk in die algemeen, maar die NGK is aan my meer bekend. Goeie raad daai oor bevraagteken alles. Daardie bevraagteken moet egter ‘n altyd gepaard gaan met die gewilligheid om soms voor “geen antwoord” situasie te kom. Dit is waar geloof intree. Ons moet bereid wees om met meer vrae as antwoorde te leef,
    Cobus: Ek weet nie regtig wat presies die teenoorgestelde is nie. Wat ek wel bedoel is dat die modernistiese mens beindruk word met analise, terwyl die nuwer beandering (versigtig om dit post-modernisties te noem) meer vra vir kanrakter wat gepaard gaan met opregtheid en integriteit. Ek sal bietjie meer daaroor skryf. Ook maar die resultaat van bietjie leeswerk oor die onderwerpe en dit is ‘n effense opsomming van ‘n deel daarvan.

  17. Sorry, oor die eksegese. Nee die post-moderne mens plaas nie minder klem op die eksegese nie, hy stop net nie by die eksegese nie, maar gebruik sy eksegese om by die praktyk uit te kom. Modernisties was kennis en inligting alles. Post-modernisties het die kennis en die inligting wat by wyse van eksegese opgedoen word, praktiese implikasies. Dit is na my mening een van die redes waarom ons as kerk nou gehelp moet om missionêr te dink en missionêr te leef. Ons het nie die bietjie wat ons geweet het uitgeleef nie. En nie net eksegese van die Woord nie, maar ook eksegese van die kultuur en die mens in sy kultuur of omgewing.

  18. Ek is versigtig vir die kontraste benadering. Nelus Niemandt het dit ook gebruik, en selfs Brian Mclaren al. Maar ek ons postmodernisme heeltyd in kontras tot modernisme definieer dan eindig ons of met ‘n anti-modernisme op, of ‘n subjektiewe benadering wat, alhoewel dit vir my mooi lyk omdat dit sê wat ek wil hoor, ons maklik in ‘n nuwe relatiwisme kan laat opëindig, iets wat ek nie dink enige van ons wil hê nie.

    Postmodernisme verwerp nie Modernisme nie. Dit is tog nie die betekenis va die prefix ‘post’ nie. Die postgraduate verwerp nie sy vorgraadstudies nie, maar groei daardeur, en sif daardeur. Ek dink nie dit is wat jy wil sê nie, maar dit kom partymaal so oor wanneer die goed so gekontrasteer word, maar postmodernisme is nie anti-analities nie.

    Fritjof Capra se web of life ilustreer dit nogals mooi. In my oë een van die beste definisies van postmodernisme, maar vanuit die natuurwetenskappe. Dit gaan dan oor theory of relativity, proses denke, sisteem denke, deep ecology ens. Maak ook baie van holisme. Maar om te maak of dit enige iets anders as analises is dink ek nie doen reg aan die werk nie, eerder ‘n ander vorm van analise.

  19. Ek dink die doel van die kontraste is eerder om poging om te verstaan op watter punt is ons op hierdie reis. Wanneer ek die dinge vir myself so formuleer is my doel om te verstaan en nie om te “label” nie. Ek moet analiseer sodat ek kan… praktyk aandui of kennis oordra? Dit is die vraag.

  20. Attie met so ‘n dominee in ons midde, kan ons nasie bou! ‘n Oopkop dominee wat na my punte ook luister, is mos iets wat almal na soek! Was so bang vir die kerk van doeke dra tyd – die dominee wat daar voor staan en bulder, jy gaan hel toe as jy stout is! Wanneer jy groot word en rebels raak met hope vrae, dan kry jy net so kwaai kyk. Op die daad retireer jy, kap hakke in die grond en hardloop met die spoed van wit lig…..
    Nou gaan ek stadig terug kruip en argiewe lees miskien gaan ds Attie ‘n paar van daardie vrae aanspreek. Die eerste ding wat ek hier op jou argiewe moet gaan soek is “Evolusie”, Attie die mense dink ek is Satan se suster as ek net die woord oor my lippe laat gly!? Hulle val my so aan dat ek nagmerries kry oor die vure van hel wat my verteer!!! 🙂
    Net nog ‘n laaste gedagte, soos ek luister is die kerk deesdae vir sommige mense hulle sosiale uitstappie van die week, hulle gaan nie om die boodskap te hoor nie, hulle gaan kuier vir vriende (lekker gesels, kuier en nuus aandra- skinder is die regte woord) en pronk en kyk mekaar uit met hulle nuwe skoentjies en Habits nommertjies! (Ek hoor dit weekliks: Sannie vertel my Sondag by die kerk blah blah blah…) Nêrens: “Jong Ds Attie het Sondag so interessante preek gehad ………….

    Ek sê as jy ‘n interessante dominee daar op die preekstoel het, wat jou aandag vasgryp met ‘n oop kop vir die werklike lewe dan kan jy mense vir die kerk werf! Geloof is so nodig. Geloof = morele waardes en sonder geloof sal almal rondhardloop en moor, verkrag, lieg en bedrieg? En hier sluit ek af want ek hou niks meer van politiek.

  21. Wipneus: Welkom.
    Daar sal altyd die wees wat Sondag sien as ‘n wonderlike sosiale geleentheid, maar daar is ook die wat verwag om in die erediens een of ander vorm van ontmoeting met die lewende God te hê. Hierdie is ‘n groeiende groep.
    Ek moet eerlik sê dat ek nog maar erg soekend is en dat dit redelik maklik is om hierdie dinge hier te skryf, maar in die praktyk werk dit nie altyd so maklik nie, maar ek sal nie ophou probeer nie.
    Oor evolusie: Daar is so baie teorië en argumente dat mens se kop soms erg deurmekaar raak. Die belangrike boodskap van die skeppingsverhale is na my mening dat God geskep het en nie noodwendig hoe God geskep het nie. Op hierdie “blog” kuier ouens wat “Kreasioniste” is – rofweg beteken dit mense wat glo dat God alles in sewe dae geskep het. Dan is daar ook die wat heeltemal aanvaar dat die aarde sy ontstaan baie miljoene jare gelede gehad het, maar dat God die Oorsprong, die Begin, die Skepper was. Ons aanvaar mekaar – op die ou end is die kritiese vraag: Wat maak jy met Jesus Christus?
    Dankie vir jou kuier.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s