Cas Weppener lei hierdie jaar ons eredienste tydens Pinkster. Hy doen dit na aanleiding van die Afskeidsgesprekke wat Jesus met sy dissipels gehad het en wat in Johannes 13-17 opgeteken is. Hierdie gesprekke vind plaas aan die tafel waar Hy die laaste keer saam met sy dissipels eet en ook tussen die wingerde.
Gisteraand het Hy onder andere die Heilige Gees vergelyk met ‘n soufleusse in’n teater. ‘n Souffleuse is die persoon wat met die volledige teks iewers staan of sit. Wanneer iemand op die verhoog sy woorde vergeet, is sy die een wat vir daardie persoon sy woorde fluister en Hom herinner wat Hy moet sê. Die Heilige Gees doen dit in ons lewens.
Ek dink maar net hoe Hy dit in my eie lewe doen. Na 26 jaar in die bediening kan ek nog steeds Sondae preek en weet ek dikwels ‘n ou waarheid op ‘n nuwe manier sê. Ek kom in my voorbereiding weekliks af of iets oor ‘n teks wat vir my nuut is. Die Heilige Gees, my souffleuse, herinner my aan aan alles wat ek moet sê. Ek dink aan al die kleingroep wat ek al in my lewe moes hanteer waar ek met gesprek werk en mense dikwels opmerkings maak en vrae vra, waar die Heilige Gees my herinner aan iets wat ek gelees het of somtyds selfs net daar vir my ook nuwe verstaan oopbreek.
Gisteraand het ons nagmaal gevier waar almal vorentoe gekom het (Cas noem dit ‘n lopende nagmaal) en by my of by hom die brood en die wyn gekry het. Mooi geleentheid. Intieme oomblikke.
Wat my egter opgeval het is Herman Bavinck se geloofsbelydenis oor die Heilige Gees wat hy nou al by elke diens gedoen het. Hier is hy:
Ek glo in ‘n geheimsinnige Iemand wat naby my is,
wat binne-in my is,
wat my armsalige gespartel en gespook sien
en wat my dan stilletjies vashou
en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.
Ek het dit vele male in my lewe ervaar
as ek wegsink en meegevoer word deur die strome van die lewe
wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook in beslissende momente in my lewe ondervind
dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.
Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan
en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.
Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde
as’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.
En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees,
Iemand wat my vashou,
Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.
Ek glo in die Heilige Gees.
(Herman Bavinck)
Ek glo beslis in die Heilige Gees God se Gees is beslis deel van my en my gesin se lewe ek is so bly hieroor Dankie Here.Sonder God is ons niks en sonder Sy Gees is ons verlore.