DIT IS PINKSTERTYD

Ons bely tydens ‘n erediens: “Ek glo in die Heilige Gees.” Hierdie week word daar in die meeste NG Kerke Pinkster-eredienste gehou. ‘n Tradisie wat al meer as 150 jaar oud is. ‘n Goeie tradisie. Die eredienste vind plaas in die tyd tussen hemelvaart en Pinkster. In ‘n poging om iets van die eerste Christene se ervaring te deel of te herroep, kom gemeentes in die kerk bymekaar en dink aan die dissipels wat in die tien dae tussen Hemelvaart en Pinkster gereeld op dieselfde plek bymekaar was en op die vervulling van die belofte van die Heilige Gees gewag het. En toe die wonderlike belewenis gehad het wat in Handelinge 2:1-13 beskryf word.

Die Heilige Gees speel in die Gereformeerde kerk dikwels tweede viool.  Ek dink dit was in reaksie op die oordrewe en manipulerende “Gees-drywende” predikers. Ek dink egter daar is meer as genoeg oor die Heilige Gees te sê. Ons leef nie in die tyd van Christus nie. Ons leef in die tyd van die Gees van Christus en die Gges van die Vader. Ons leef in die tyd waar Christus gekies het om nie meer as Jesus van Nasaret, die mensgeworde Woord, by ons te wees nie. In die Gees is Hy steeds God met ons. Soos dr. AA VanRuler dit stel: “Dit gaan oor die hele God wat in ons woon.”

Ons leef in die tyd waarin Jesus sy belofte aan sy dissipels dat Hy altyd by hulle sal bly tot aan die voleinding van die wêreld vervul deur in die Gees by sy kerk teenwoordig te wees. Ons leef in die tyd waar die koninkryk wat in die tyd van Jesus naby mense gekom het, vandag steeds deur die werking van die Gees in die lewens van volgelinge van Jesus Christus die koninkryk tot by mense bring. Die Heilige Gees lei ons, leer ons, versterk ons, troos ons, vermaan ons, herinner ons, bemoedig ons, bemagtig ons, vorm ons, oortuig ons. Elkeen van die dinge die werk van dieselfde Gees.

Ek onthou dat my dosente ons daaraan herinner het dat ons nie elke Pinkster ‘n herhaling van die eerste Pinkster moet soek nie. Dit gaan nie gebeur nie. Dit het wel al in die verlede gebeur. Die gebeure in die Paarl en Wellington onder die leiding van ds. van der Lingen is ‘n bewys daarvan. Die Gees waai ook waar Hy wil. Maar, as ons kan nie ophou Pinkster vier omdat ons bang is mense kan dalk ‘n verwagting hê dat ‘n herhaling van die vroeë gebeure sal plaasvind nie, dan moet ons ook ophou om Kersfees, en Goeie Vrydag en die Opstanding te vier.

Met hierdie feesdae roep ons herinnering die grootsheid van God se genade geskenk op verskillende momente van die verhaal waarmee Hy besig is.

Pinkstereredienste is bedoel om ons opnuut bewus te maak van die potensiaal van die Heilige Gees in elkeen van God se kinders. Ons weet dat ons op ons eie nie die evangelie tot aan die verste uithoeke van die aarde gaan neem nie. Maar, deur die wonderlike van die Heilige Gees kan ons.

Mag elke leser hier oppad na Sondag wanneer alle kerke Pinksterfees gaan vier, in hulle harte, waar die Gees inwoon, voorberei word om opnuut weer deur die Gees van God aangegryp te word sodat ons werktuie in sy hand in hierdie wêreld kan wees.

12 Kommentaar

Filed under Pinkster

12 responses to “DIT IS PINKSTERTYD

  1. Christelle van der Walt

    Baie, baie mooi Ds. Attie! Dit is voorwaar vir ons almal weer ‘n geleentheid om die Heilge Gees in ons harte te verwelkom.

  2. Werner Olivier

    Pinkstertyd bly maar ‘n spesiale tyd op die Kerk kalender en wat my altyd tref is die woorde van Jesus voor hy opgevaar het na die hemel waar hy ons meedeel dat Hy ons nie wees agter laat nie,maar ons sy Gees gee.Kragtige woorde wat spreek tot ‘n mens.Ek het op die oomblik net vergeet waar dit staan,maar bly vir my altyd spesiaal.
    Groetnis

  3. Attie ek glo nie aan die leer van die Drie-eenheid nie. Die woord ‘God-drie-enig’, ‘Drie-enige-God’ of ‘Trinit’ kom nerens in ons Bybels voor nie.

    Voorts. Maak gerus ‘n studie tussen Deuteronomium 6:4 in ‘n Afrikaanse Bybel en dieselfde teksvers in die King James vertaling. In die KJ lees dit:

    “Hear O Israel, the Lord our God is one.”

    Maar in Afrikaans lees dit:

    “Luister, O Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.”

    Nie net is die Afrikaanse Bybel so vertaal dat God se naam skielik ‘n meervoud geword het inteenstelling met die Engels en Herbreeus nie, maar die hele betekenis van die Afrikaanse vertaling is so aangepas om die leer van die Drie-eenheid te bevorder.

    Dan is daar ook die saak wat ek al gehoor het dat die woord wat in ons Bybels met ‘Gees’ vertaal was, het eintlik op niks meer afgekom as dat dit verwys na die krag van God nie. Dit was nooit bedoel om te verwys na ‘n onafhanklike persoon nie.

    • DIV

      Barend my vriend: Ek lees darem nou nie van vandag af Christelike literatuur nie en dikwels juis ook die wat van my verskil. Soos bv. die Nuwe Hervormers se goed van tyd tot tyd. Ek is nie heeltemal seker hoe ek oor jou oortuigings moet dink en voel nie.

      Kan ek vra: Glo jy dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het en in ons plek aan die kruis gesterf het? Dalk moet ek nie veel verder gaan as dit nie. Kan jy daardie vraag antwoord?

      Groete

      • Ek is geen nuwe misvormer nie DIV. Ek’s ‘n trotse lidmaat van die NG kerk. Maar, daar is baie dinge wat my in die leer van die drie eenheid laat twyfel. En om jou vraag te antwoord, ja, ek bely Jesus as God. Ek aanvaar die kerk se standpunt en staan self daarby maar ek is openlik skepties.

        Daar is baie dinge wat my laat vermoed dat die dinge van die ‘Trinity’ iets is wat mense uitgedink is. Behalwe dat dit die woord ‘God-drie-enig’ nerens in die Bybel voorkom nie, sien ek nerens dat Jesus dit vir mense geleer het nie. Ek sien voorts geen enkele plek in die Bybel waar Jesus vir mense se, ‘Ek is YHWE’ wat mens geword het, aanbid my’, nie. In die ou Testament het hierdie verskynsel dikwels voorgekom, bv. ‘Ek is die Here (sic) jou God wat jou uit die land van slawerny bevry het’.

        Ons sien in die Bybel tot vir Jesus waar Jesus bid tot God! Hoekom sal God tot Homself bid? ‘Onse Vader wat in die hemel is’? (Nie dat ek glo die hemel is iewers ‘daar bo’ soos sekere mense nie, maar nogtans).

        So Jesus bid tot God, maar nee ons is mos slimmer as Jesus, ons bid tot Jesus self. Wonder ek nou skielik hoekom ons daai ‘what would Jesus do’ bandjies gedra het as kinders . . .

        Ook Matteus 15:22-28 laat my wonder. Veral vers 24.

        Jesus en Sy volgelinge, so wil dit vir my al meer en meer lyk, was nie die eerste ‘Christene’ nie. Ook Handelinge hoofstuk 11 laat my lekker twyfel.

        In my nederigheid is ek eerlik oor my twyfel, anders as sekere mense wat praat asof hulle God se kop verstaan.

        Vrede vir jou.

        • DIV

          Barend: Jesus het darem ook gesê “Ek en die Vader is een.” Hy het ons ook aangemoedig om in sy naam te bid. In die evangelies lees ons ook van bv. Thomas wat bely: My, Here en my God. En Andreas wat sy broer gaan roep en sê dat hulle die Messias gevind het. Nee, wat Barend, jy is dalk net te seker van wat jy nie glo nie om jouself ‘n twyfelaar te noem. Ek het nog nie een keer ‘n klein bietjie onsekerheid oor wat jy nie glo nie opgetel nie. Twyfel het te make met openheid om anders oortuig te word. Tog jammer dat twyfel die nuutste “goeie werk” geword het. Oor die dinge wat vir jou oënskynlik glashelder is, wonder ek darem.
          Groete.

        • Werner Olivier

          Barend,ek sien jy is darem eerlik in jou twyfel.Ek persoonlik het nog niemand in my lewe ontmoet wat praat asof hulle ons Meester ten volle verstaan nie.So persoon moet nog gebore word.Ons as mense kyk nou nog in ‘n dowwe spieel en sien ‘n raaiselagtige beeld,maar eendag sal ons
          alles sien soos dit werklik is.Nou ken ons net gedeeltelik,maar eendag sal ons ten volle ken soos ons Meester ons ten volle ken.
          Groetnis.

  4. Barend:
    1. Jy is verkeerd oor die vertaling van die Woord Gees (dat dit net bedoel is om met die krag van God vertaal te word.) Gees beteken eerder iets soos wind.
    2. Die leer van die drie-eenheid weerspreek juis jou misleidende interpretasie van God. Lees gerus ‘n tekls soos Romeine 8:12-17 of Johannes 16:5-15 en die begin en die einde van elkeen van Paulus se briewe en jy sal sien die Bybel praat deur lopend van die Vader, Seun en Heilige Gees.
    3. Ek dink jy moet weer mooi gaan kyk of die die Afrikaanse teks van Deut 6:4 daarop dui dat God meer as een is. Ek dink net eenvoudig jy lees nie die Afrikaans mooi nie. En as ek op soek is na goeie vertalings is die King James nou nie juis die beste vertaling wat daar is nie.

    • Dankie Attie. Ek het geen twyfel dat die skrywer(s) van Romeine geglo het dat Jesus God is nie. Maar sien my kommentaar by DIV. Dit is vir my net treffend dat die nuwe testament, veral die evangelies, deur die ‘gentiles’ geskryf was nie. En dat daar ‘n konflik was tussen die eerste volgelinge en die latere volgelinge van Jesus, dit is so duidelik soos daglig.

      En oor die King James, miskien is dit ‘n ‘slegte’ vertaling, ek sal nie weet nie, maar die 1933 Afrikaase vertaling klop ook beslis daarmee. Die verskil tussen die 1983 en die 1933 Afrikaanse vertalings van Deuteronomium 6:4 is treffernd! Baie treffend.

      Vrede vir jou.

      • Barend – ek dink nie jy verstaan mooi nie. Daar is geen manier wat ‘n mens daardie teks in Deuteronomium in die Nuwe Afrikaanse Vertaling kan lees en daaruit aflei dat daar nou van God in die meervoud gepraat word nie.

  5. Martie

    In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was self God. Die Woord het ons ons kom woon… Ons het sy heerlikheid gesien wat Hy as die enigste Seun van die Vader gehad het.
    Kan mens dan anders as om te glo dat Jesus die Seun van God is en dat ek dan tog maar tot Hom my Voorspraak by die Vader kan bid.
    Ek twyfel oor baie dinge. Ek verstaan nie alles rondommdie wederkoms van Jesus nie. Ek verstaan ook nie die kwessie van die uitverkiesing nie. Ek verstaan ook nie alles oor die werking van die Gees nie.
    Maar, daar is sekere dinge waaroor ekmnie twyfel nie en een daarvan is dat Jesus die Seun van God en self ook God is.
    My druppeltjie…
    Dankie Doom.

  6. Dankie vir almal se kommentaar. Van al die evangelies is die Johannes evangelie vir my die mees verdagste. Die hele Bybel is in elk geval so vol historiese en teologiese teenstrydighede dat ek twyfel of ek dit enigsins as ‘n ‘bewys’ vir enige argument kan gebruik. Ek het bloot maar my vermoedens. Ek kan nie God se kop lees soos sekere mense nie.

    Maar sterkte vir julle almal. Ek sal julle in vrede probeer los in die toekoms.

    Prost.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s