EK WIL NET GOD SE SPOOR SNY

Ek dink die laaste paar weke dikwels oor leierskap.

Ek hoop dit is algemene kennis dat iemand wat in die alledaagse lewe ‘n leier is nie noodwendig ‘n goeie leier in ‘n gemeente ook sal wees nie. Ek dink die teendeel is dikwels (nie in alle gevalle nie) waar.

‘n Leier in n gemeente moet tot n sekere mate ‘n aangename persoon wees. Mense moet met hom oor die weg kan kom en hy/sy moet dit vir hulle maklik maak om met hom/haar oor die weg te kom. John Maxwell reken “Leadership is influence. Nothing more. Nothing less.” ‘n Aangename persoonlikheid en die feit dat mense van jou hou gee natuurlik vir jou n basis omm van te werk om mense te beïnvloed.

Iemand met ‘n aangename persoonlikheid kan mense egter ook negatief beïnvloed. Leiers kan ook sulke aangename mense wees dat mense alte lekker in hulle gemkasones ontspan. Hoe meer tuis jy my in my gemaksone laat voel, hoe meer hou ek van jou. Ek vertrou op jou as my geestelike leier om seker te maak dat ek nie nodig het om my grense te skuif nie. Solank dit gebeur het jy my ondersteuning.

Steve Jobs was nogal van mening dat ‘n mens iets moet ontwikkel wat mense nie weet dat hulle nodig het nie. Leiers in ‘n gemeente moet mense op ‘n roete kan neem wat hulle nie gedink het hulle sal moet bewandel nie. n Roete wat aanvanklik selfs ongemak en weerstand tot gevolg sal hê, maar wanneer ons ons bestemming bereik of die produk (In Steve Jobs se geval) gebruik dan kan ons nie dink dat ons ooit op ‘n ander plek kon wou wees of sonder die produk kon klaarkom nie. Wanneer iemand as geestelike leier aan grense begin druk, kan dit jou gewildheid skade doen.

In die koninkryk behels dit dat ‘n leier ‘n gemeente sal bewus maak van waar God reeds aan die werk is en die gemeente dan op daardie weg neem.

Vaardigheid is belangrik. Osmer se boek oor Praktiese Teologie het my opnuut weer bewus gemaak hiervan. As gemeenteleier moet ek die dinge wat ek doen goed doen. Ek moet vir myself hoë standaarde stel en n mate van uintenmendheid nastreef. In dit wat ek doen moet ek die beste wees wat ek moontlik kan wees.

Gemeenteleiers verskil. Almal kan nie in dieselfde dinge uitblink nie. Elkeen het sy eie gawes waarmee die Here hom/haar geseën het. My bietjie ondervinding in die bediening het my geleer dat lidmate oor die algemeen nie van hulle dominees verwag om alles vir almal te wees nie. Lidmate verwag egter wel van hulle dominees om dit wat hulle doen goed te doen.

Hierdie is dan nogal n vraag waarmee ek worstel: Weet my gemeente wat hulle van my kan verwag? Weet my gemeente waarin ek kan uitblink en waarin ek nie kan uitblink nie?

Enige organisasie, gemeentes ingesluit, het ondersteuningsbaisse. Elke leier het sy/haar ondersteuners wat hom/haar sal volg waar hy/sy ookal gaan en wat hy/sy ookal doen. Ek is egter daarvan oortuig dat 99% leiers hierdie ondersteuningsbasis oorskat. Hulle oorskat hulle ondersteuningsbasis omdat hulle die gemeente se onderskeidingsvermoë onderskat. Ek het vroeg in my lewe gekies om eerder te veronderstel ek het geen ondersteuningsbasis nie. Op die manier is dit eeerstens vir my makliker om die regte ding te doen en tweedens dwing dit my om erns te maak met die ander persoon se ondersteuningsbasis. Derdens is ek los van baie spanning omdat dit nie regtig vir my belangrik is wie knik instemmend wanneer ek iets se of doen nie.

Leierskap in die kerk is nie ‘n gewildheidsveldtog nie.

Leiers moet kan luister. Leiers moet ook kan prysgee. Leiers moet die groter prentjie kan sien, net solank dit God is wat die groter prentjie skets en nie ander mense nie.Leiers moet die toekoms kan sien. Nee, nie die toekoms van ‘n enkele gemeente of selfs ‘n kerk nie. Leiers moet God se voorkeur toekoms (Preferred future) vir sy koninkryk sien. Daardie voorkeur toekoms van God vereis dat die leier dan sy eie voorkeure en eie idees en drome en ideale moet prysgee, vir God se voorkeure, idees, drome en ideale.

Hierdie is vir my moelik. Ek toets dikwels dit wat ek as God se voorkeur toekoms sien aan die Bybel, gespreksgenote en wat mense hieroor skryf. Somtyds slaan ek die bal sommer baie ver mis. Ander kere weet ek: Hier is God se toekoms. Net so min as wat ek altyd God se voorkeur toekoms elke keer reg het, net so min het ek die roete elke keer reg. Somtyds word ek selfs gedwing om ‘n roete te neem wat ek weet nie die kortste en die vinnigste roete gaan wees nie. Maar, ter wille van die eindbestemming, moet ‘n mens soms daardie roete volg.

Ek dink goeie leiers moet iets by spoorsnyers leer. In my dienspligjare in die sewentigerjare het ek onder andere bietjie opleiding gekry in spoorsny. As spoorsnyer het ek nie altyd geweet waarheen ons oppad is nie. Ek moes net die hele tyd die tekens soek wat vir my aandui in watter rigting die persone wat ons wil inhaal beweeg het. Die een wie se spoor ek sny, is die een wat die roete bepaal.

As spoorsnyer het ek egter ook so min bagasie as moontlik gedra. Gewoonlik net die basiese. My wapen, my waterbottel en iets ligs om te eet. ‘n Swaar vrag sou my aandag aftrek van wat ek eintlik veronderstel was om te doen. Iewers agter my is daar ‘n voertuig wat my rugsak en my slaapgoed en die ander benodighede sal bring. Ek moes net die spoor sny.

Gewildheid, of die belangrikheid om mense tevrede te hou, kan onnodige bagasie word. Verskuilde agendas kan my aandag aftrek. Die behoefte om altyd reg te wees kan maak dat ons God se voorkeur toekoms mis. Al die dinge kan maak dat ek die spoor verloor.

As ‘n spoorsnyer die spoor verloor, is die enigste manier om dit weer op te tel, om terug te gaan na waar hy hom die laaste keer gehad het. Onnodig om te sê dat baie tyd dan gemors word en dikwels word die spoor dan so oud dat ons hom nie meeer kan volg nie. Al wat dan oorbly is om te wag tot ons iewers weer ‘n varser spoor optel wat ons kan volg.

God se spoor is vars in hierdie wêreld. Hy laat orals rondom ons tekens van waar Hy beweeg. Ons as leiers moet net die spoor sny.

Ek wil net God se spoor sny.

2 thoughts on “EK WIL NET GOD SE SPOOR SNY

Add yours

  1. Attie, dit is nou baie mooi en ek vereenselwig my 100% met wat jy sê.
    ‘n Goeie leier moet kan luister en moet kan voorloop en moet besluite kan neem, al is dit nie altyd gewilde besluite nie, maar die regte besluite. ‘n Goeie leier moenie “iemand daar vêr” wees nie, maar moet wees soos “die goeie herder”, tussen sy skape sodat die skape die stem van die goeie herder kan hoor en hom kan volg – iets soos spoorsny of spoor vat.
    Ek dink Waverley Gemeente het baie goeie herders, elke op sy eie gebeid en saam vorm die leiers ‘n gedugte span, al word daar soms verskil – solank ons met ‘n oop gemoed daaroor kan praat. ‘n Leier hoef nie altyd gehoor te word nie, maar moet ook soms gesien word sodat “die skape” die “goeie Herder” ongesiens kan volg.
    Ja, dominee, ek dink jy het die saak mooi raakgevat.

  2. Die bg artikel is baie van waarde.Ek het oor jare baie oor leierskap gedink.Ek wil ook net iets byvoeg wat ek oor jare waargeneem het,in die werks situasie en by ander organisasies waar ek vergaderings bygewoon het.Hierdie lewe van ons gaan oor mense.Elke mens is in n meerdere of mindere mate elke dag met mense in kontak.Elke mens wil graag erkenning ontvang in dit wat hy doen.Hoe word mense beweeg om die beste te doen en om hulle volle potensiaal te bereik.Die antwoord na my mening, goeie leierskap.Hoe lyk n goeie leier.Hy kan goeie en slegte eienskappe besit en die lyste kan lank wees.n leier word geken aan sy persoonlikheid.Sy persoonlikheid bepaal wie hy is en hoe die organisasie lyk.n Goeie leier hoef ook nie altyd gewilde besluite te neem nie.n Sleutel vereiste vir n goeie leier is na my mening om sy mense met wie hy te doen het te ken en om interaksie met hulle te he.Persoonlike interaksie.Nie deur middel van ons moderne kommunikasie middele soos e/posse,face book ens nie.Die algemene lidmaat/werker moet nooit onderskat word in n organisaie nie.Iemand het eenkeer gese,gaan vra die juniorste lid van n organisasie hoe ervaar hy die plek en jy sal die antwoord kry oor hoe die plek funksioneer en hoe die leierskap is.

    Ten slotte.Ons sit vandag met n leierskap krisis veral in die werksplek.Die leiers is nie meer betrokke by die werkers nie.Maw die persoon wat bo sit weet nie meer wat die persoon onder doen nie.In die vorige bedeling het die Leiers presies geweet wat die jongste persoon in n organisasie doen.

    Kyk veral na my sleutel vereiste vir n goeie leier en jy het die antwoord hoekom ek weg is by Waverley Gemeente.

    Groete:Werner Olivier.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: