Ek preek Maandag-oggend by die matriek-diens van die hoërskool waar my dogter hierdie jaar in matriek was (Rustenburg Hoërskool). Terloops, sy het Vrydagaand erekleure vir akademie gekry – haar pa is baie trots op haar. Nadat ek lank gewonder het oor wat dit is wat ek graag sou ou hê dat hulle moet hoor, het ek hierby uitgekom: “God het meer vertroue in jou as wat jy in jouself het – en daarom is jy veilig by Hom.”
Ek het besluit om Psalm 118 te gebruik met die gedagte dat ‘n mens in hierdie woeste lewe van vandag nodig het om by die Here te skuil. Daar gebeur egter soveel dinge wat ons laat dink dat ons nie meer welkom is om by Hom te skuil nie, maar ook wat mens laat dink dat jy die Here so teleurgestel het, dat Hy vertroue in jou verloor het soos jy dalk vertroue in jouself verloor het. (Ons maak mos die fout om te dink dat God oor ons voel soos ons oor onsself voel.)
Ek wonder hoeveel voorbeelde is daar van mense wat ten spyte van hulle omstandighede agtergekom het dat hulle welkom is om by God te skuil en dat God hulle steeds vertrou?
Job is ‘n voorbeeld.
Die duiwel se aanklag is dat Job net by die Here skuil omdat daar iets in is vir hom. As dit nie meer goed gaan met Job nie, sal hy sy rug op God draai en nie meer by God skuil nie. God het egter soveel vertroue in Job, dat hy toelaat dat die duiwel alles wegneem. Job het nie gedink hy kan nie, maar hy het geweet hy moet. Ons ken die storie… Job staan onwankelbaar vas, hy verlaat nie sy skuilplek nie.
Die vrou wat op owerspel betrap is.
Op heterdaad; “red handed”; “in the act”‘ uitgevang, skuldig pleit en hoop op versagtende omstandighede is die enigste uitweg. Maar, Jesus verwerp haar nie, inteendeel, nadat Hy gesê het dat Hy haar nie oordeel nie, stuur Hy haar weg met hierdie baie eenvoudige gedagte: “Moet dit nie weer doen nie.” Jesus het meer vertroue in haar as wat sy in haar self het.
Ek weet nie of sy gedink het dat sy met die “habit” gaan breek nie. Maar, Jesus het meer vertroue in haar vermoë om haar lewe reg te ruk as wat sy self het. Sommige reken dat een van die vroue wat Jesus tot op die einde gevolg het, hierdie vrou was.
Die man wat geweier het om te glo as hy nie voel en sien nie.
Dit is natuurlik Thomas. Vir drie jaar ‘n getroue volgeling van die Here Jesus, maar toe dinge nie uitwerk soos hy gedink het nie, toe weier hy om te glo as hy nie met sy vingers voel en met sy oë sien nie. Ten spyte van sy twyfel, stuur die opgestane Here Jesus hom saam met die ander dissipels die wêreld in. Jesus het meer vertroue in Thomas as wat Thomas in homself en in Jesus gehad het. Jesus vertrou vir Thomas ten spyte van sy twyfel.
Hoekom reageer die Here so op Job en die losbandige vrou en die twyfelende Thomas? Wat het gemaak dat veral Job nie sy rug op God gedraai het en nie begin twyfel het of hy regtig veilig is by God nie? Ek dink Job was die hele tyd bewus daarvan dat daar ‘n groter prentjie is.’n Prentjie wat hy nie noodwendig sien nie of ten minste nie heeltemal kan sien nie, en hy aanvaar dat in hierdie groter prentjie speel hierdie dinge wat met hom gebeur een of ander rol selfs al verstaan hy dit nie. Hy het besef dat dit wat met Hom gebeur nie die volle prentjie is nie, maar dat hy en sy lewe net een klein ratjie in die groter ratwerk van God se besig wees met Sy skepping is.
Dit maak nie van God die outeur of skepper van sy lyding en swaarkry nie, dit maak van God eerder Iemand wat alles wat Hy kry gebruik om die groter prentjie te skilder.
Paulus verwoord hierdie vertroue wat God in ons het op ‘n besondere manier wanneer hy skryf dat niks ons kan skei van die liefde van God nie – die liefde wat God vir ons het. (Romeine 8:28) En in Fillipense skryf hy dat net een ding vir hom belangrik is en dit is om Christus Jesus te ken en die krag van sy opstanding te ondervind. (Fil. 3:7-8)
Ek kan veilig by God skuil, en ek sal veilig by God wees, selfs al voel ek asof duisende en tienduisende rondom my val – ek sal veilig wees. Ek is veilig by Hom, aan sy liefde is daar geen einde nie. (Psalm 118:1-4)
Hierdie matrikulante gaan ‘n onseker wêreld in, dit is belangrik dat hulle twee dinge weet.
Een: Ek is nêrens meer veilig as by God nie, aan sy liefde is daar geen einde nie.
Twee: Gaan die toekoms in met die wete dat God meer vertroue in jou het as wat jy in jouself het.
God vertrou jou met jou eie toekoms, daarom gee Hy vir jou die vryheid om keuses te maak wat ‘n invloed sal hê op hoe jou toekoms lyk. Partykeer sal jy goeie besluite neem, ander kere slegte besluite, maar aan Sy liefde is daar geen einde nie.
God het meer vertroue in jou as wat jy in jouself het, by Hom is jy veilig – Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Dagse Ds Attie
Baie belangrike boodskap vir die jong en “onseker” mensies wat nou op die drumpel van ‘n “wrede, wye grootmens lewe” staan.
Ek glo dat ons onvermoe om te glo dat God in ons glo en altyd liefhe nou verband hou met die lewenspad wat onsgestap het. Eendag luister ek na ‘n persson wat dit as volg verduidelik. As jy vir kinders sou se, jy het ‘n kanarie (voeltjie) in jou sak, sal hulle onmiddelik reageer met iets soos “kan ek hom sien”?
Groot mense wil dadelik redeneer, jy sal nie want hy gaan in jou klere mors, of ek hoor dan niks so daar is nie ‘n kanarie nie. Kinders glo eers en dan sou dit verkeerd wees, dan is hulle teleur gesteld en as jy dit weer en weer doen glo hulle jou naderhand glad nie meer nie.
Groot mense wil eers bewyse he voor hulle glo. Die probleem is net ons kyk heeltyd die bewyse mis. God se skepping as beeld van Sy liefde en vermoe is om ons, maar ons wil dit nie meer sien nie.
Seker oor ons dan gedwing voel om aan Hom erkenning te moet gee.
Groete en seenwense.