Ek is elke tweede Dinsdag by ‘n groep jongmense – almal profesionele mense onder 35. Met die uitsondering van een paartjie het almal reeds kinders. Ons gesprekke is altyd baie interessant omdat hulle nie huiwer om hulle vrae te vra nie. Gisteraand was Jona ons tema.
Uit die aard van die saak moes die kwessie oor vis aan die orde kom. Was daar regtig ‘n vis? Nadat hulle n rukkie gesels het, het ek verduidelik dat die kenners se menings uiteen loop. Daar is die wat sê die hele verhaal is waar en dat God wat alles geskep het en Jesus uit die dood laat opwek het ook eenmalig ‘n vis kon skep om Jona in te sluk en hom na drie dae weer op die strand uit te spoeg. Ander is weer van mening dat die verhaal is maar Jona gebruik die vis as ‘n metafoor om te verduidelik wat hy deurgegaan het vandat hy oorboord gegooi is totdat hy uiteindelik op die strand uitgespoel het.
‘n Verdeer mening is dat die verhaal van Jona ‘n mitologiese verhaal is wat ook in ander godsdienste opduik en in die Bybel beland het deur iemand wat die mitologiese verhaal geneem het en dit oorvertel het om in die konteks van Israel se godsdiens te pas. Dan is daar ook die wat sê dat die hele Jona verhaal tipe van ‘n gelykenis is wat vertel is om ‘n bepaalde boodskap oor te dra.
Die gesprek hieroor was dinamies. Ek weet nog steeds nie presies wat dink of glo elkeen in die groep nie. Ons het na geluister sonder dat die een die ander van sy standpunt wou oortuig. In die begin het die onsekerheid oor die boek Jona telkens tydens die gesprek na vore gekom. Hoe meer ons egter die boodskap van Jona ontdek het, hoe meer het die onsekerheid oor die boek Jona op die agtergrond geskuif.
Die boodskap van Jona sny gans en al te diep en konfronteer mens te veel met jouself om by die vraagstukke vas te steek. Een van die dinge wat ons vir seker kan weet is dat Jona nie na Nineve toe wou gaan nie. Na sy ervaring met die storm en die vis en die drie dae binne in die vis, het Jona gehoorsaam toe God die tweede keer vir hom sê om na Nineve toe te gaan. Jona was waarskynlik bang. Wie wil weer deurgaan wat Jona deurgegaan het. Die vorige keer was hy ongehoorsaam en kyk wat het gebeur.
Feitlik die hele groep het saamgestem dat hulle die boodskap van Jona leer ken het as dat jy nie vir God kan weghardloop nie en dat jy op een of ander stadium sal moet doen wat Hy wil hê jy moet doen. Seker wel waar. Maar is dit die kernboodskap van Jona.
Die rede vir Jona se onwilligheid blyk in hoofstuk 4. Wanneer die mense van Nineve luister en hulle bekeer, word Jona kwaad vir God. Jona is kwaad want hy het God goed geken en hy het geweet dat dit gaan gebeur. Dit vat nie baie om God so ver te kry om af te sien van sy plan van straf nie. God wou seen. Jona wou straf. Jona wou gehad het God moet Nineve straf. Jona wou gehad het God se oordeel in al sy felheid moet die mense van Nineve tref.
Die mense van Nineve was Assiriërs. Die Assiriërs het Jona se mense baie skade berokken en baie seer veroorsaak. Assirië en Israel se geskiedenis, hulle verlede, was die rede waarom Jona hulle nie God se genade gegun het nie.
Natuurlik sal ons hier ernstig ontken dat ons soos Jona dink en voel. Op hierdie punt gaan meeste van ons sê: Dit is regtig nie vir my n probleem as God aan ander mense genade betoon nie. In my gesprekke met mense en die opmerkings wat ek hoor weet ek nie of ons 100% eerlik is met onsself nie. Ek moet eerlik wees en sê dat Jona my bietjie ontmasker het. As ek dink aan mense wat my gesin en my kinders seer gemaak het, dan weet ek nie. As ek sien hoe goed dit gaan met mense wat van God niks weet en niks wil weet nie, dan is ek nie baie ver van Jona af nie.
In ons dierbare land is die slagordes opgestel om wraak te neem vir wat in die verlede gebeur het. Die een groep se seer gaan selfs honderde jare terug. Die ander groep se seer het veral na 1994 ernstige tot rampsoedige afmetings aangeneem. Die ander groep beleef nou werkloosheid, armoede, hongersnood. Almal soek iemand om die skuld voor te gee. Maar, te gelowig om vir God te sê: “Ek weet U gaan hulle nie straf nie.’ Dalk is daar tog nog hierdie stukkie voormheid wat oorgebly het: “U mag hulle seën, maar ek wil net instrumenteel wees nie.”
Ek wil ook soms soos Jona onder ‘n skuiling gaan sit en “sulk” oor God se “onregverdigheid”.
Jona wou die grense van God se genade bepaal. Jona wou God se goedheid reserveer vir hom en sy mense.
God se bedoeling met Israel was dat hulle ‘n seën vir al die nasies sou wees. Hier gebeur dit. Die Jood Jona bring die boodskap van die genade van die God van Israel na ‘n vreemde nasie en Jona is kwaad wanneer mense positief reageer en hulle lewens verander.
Op die ou end gebruik God ‘n komkommerplant om vir Jona sy selfsug uit te wys. Jona is erg dankbaar vir die besondere bevoorregting wat hy van God gekry dat hy die luukse van n skuiling het wat hy self gebou het en ‘n komkommerplant wat God voorsien het. Toe God die komkommerplant laat verdwyn is Jona kwaad oor God dit wegvat.
Jona gun God nie die voorreg om self die grense van sy genade te bepaal nie.
God se genade is grensloos.
Die Jona verhaal eindig met Jona steeds onder die verdroogde komkommerplant, kwaad vir God. Intussen beweeg God aan. Daar is nog baie stede soos Nineve. Daar is nog ‘n ganse mensdom wat wag om God se genade te beleef. God het aanbeweeg en sy Seun gestuur, nie na Nineve nie, maar na Jerusalem vir die ganse wêreld.
Wil ons dalk die grense van God se genade vasstel?
Het God dalk al aan beweeg terwyl sommige nog kibbel en dikmond is oor ons eie komkommerplantjies wat verdroog het en onregte van die verlede en God wat nie die mense gestraf het wat ek gedink het hy moet straf nie?
Hi Attie, moenie moedeloos word nie. Dit is al weer ek.
Net ‘n kort bydra soos wat ek die bbodskap van Jiona aan my kinders verduidelik het:
Moenie jou moeg maak oor die vraag of daar nou ‘n “groot vis” was of nie – toe ek klein was, het hulle sommer gepraat van ‘n walvis. Dit kan waar wees of ‘n metafoor, maar dit is egter nie waaroor die boodskap gaan nie. Die Here het homself per geleentheid as “‘n hoeksteen / klip” beskryf om sy dood en opstanding te verduidelik. Dit sê nie dat die Here wel ‘n klip was nie.
Al wat die verhaal / boodskap van Jiona vir ons wil leer is: Maak nie saak wat jy besluit of doen of waar jy gaan weg kruip nie, as die Here jou roep, hetsy vir werk of dood, Hy sal enige iets, selfs ‘n “groot vis” gebruik om Sy wil vir jou lewe ten uitvoer te bring. In my lewe was daar nie ‘n groot vis nie, maar die Here het albei my niere “gevat” om my instaat te stel om Sy wil vir my te bereik.
Ek verstaan Jona nog ‘n bietjie anders ook. Natuurlik moet ons nie vlug vir gehoorsaamheid nie. Ons moet God se wil doen. Maar Jona se grootste fout lyk vir my is dat hy God se agenda wou bepaal. Jona wou sien dat God Nineve straf en vernietig. Jona is kwaad vir God omdat God nie volgens sy pype dans nie. Jona wou nie aanvaar dat die mense van Nineve kon verander nie. Jona was meer bekommerd oor die komkommerplant as oor die mense van Nineve wat dat verlore kon gaan. Jona het nie God se passie vir mense in nood gedeel nie. Die tragiese is dat God ook nie vir Jona kon oortuig om sy passie te deel nie.
Ek dink Jona se boodskap is baie meer van toepassing op die tyd waarin die NG Kerk nou is as wat ons graag sal wil erken. Ons kleingroep het gisteraand dit teenoor mekaar erken: Mense spat uitmekaar wanneer hulle God se agenda wil bepaal en vir God wil voorskryf vir wie Hy goed moet weess en wie nie.
Linda
Daar word min inligting gegee oor Jona se interaksie met God voor die tyd, interaksie tussen Jona en die matrose, en tussen Jona en die mense van Nineve. Sekerlik met ‘n doel. Dit gaan bloot nie oor Jona nie, maar oor God se universele doel om alle mense tot Hom te bekeer en sy koninkryk uit te bou. God werk met ‘n groter, vooraf bepaalde plan vir alle mense, ongeag nasie, taal of kultuur. Die vraag is of ons ‘n “Jona-gesindheid ” daaromtrent het ? Bly ons selfgeregverdige, onbetrokke toeskouers ?