Prof Piet Naude oor BELHAR

Ek lees gieter hierdie kommentaar van Piet Naude op LITNET. Ek dog ek plaas dit hier as iemand dalk wil lees.

Ek was op pad tussen George en Port Elizabeth toe ek die sms van kollega Rheti van Niekerk kry dat die NGK se Algemene Sinode deurbraakbesluite oor kerkhereniging en Belhar geneem het. Ek is nie tans meer aktief betrokke by kerklike leierskap nie, en het nie die binnekringdebatte noukeurig gevolg nie.

Maar ek was onmiddellik bly en verlig oor die nuus.

Die rede hiervoor is dat ek nooit sinies oor die kerk of spesifiek die NGK was of kon word nie. Tydens ’n bespreking van my Belhar-monografie, Neither calendar nor clock,  in Bloemfontein het die gespreksleier uit Nederland gevra: “Hoe kan jy nog lidmaat van hierdie kerk bly?” My antwoord was: “Dis God se kerk, en Christus se Heerskap kan op die lang duur nooit gekeer word nie – al vat dit jare, en al gebeur dit deur skade en skande.”

Die besluit oor kerkhereniging is nie regtig nuut nie. Die NGK het in 1986 die draai weg van ’n rasgebaseerde ekklesiologie gemaak, en toe reeds ’n verbintenis tot sigbare kerkeenheid uitgespreek. Wat wel nuut is, is die dringendheid en duidelike praktiese riglyne hoe so ’n proses kerkregtelk moet geskied. Die daad word nou by die vroeëre woord gevoeg, en dit moes eintlik al lankal gebeur het.

Dis ’n uiters wyse en nugtere besluit wat wil keer teen verdere kerkskeuring (soos die APK) en teen moontlike onverkwiklike stryde agterna. Dit sal nou koelkopleierskap en goeie teologiese begeleiding verg om die pad deur gemeentes en ringe te loop terug na die Algemene Sinode.

Die eintlike deurbraak lê in die Belhar-besluit.

Vir baie ontleders en teoloë was die normatiewe Gereformeerde karakter van die NGK op die spel met Belhar. Ek en ander het met besonderheidsontledings aangetoon waarom die NGK in 1986 en die jare daarna nie konstruktief met Belhar kon omgaan nie: dis aanvanklik beskou as aanval op die NGK; die feit van ’n belydenis was as onnodig radikaal gesien; die ontstaansgeskiedenis het die motiewe van die NGSK verdag gemaak; en daar is lomp, maar onsuksesvolle, pogings aangewend om die inhoud van die belydenis te diskrediteer.

Maar die diepste redes vir die NGK se onbeholpe hantering van Belhar was teologies van aard: die NGK se teologiese rigting in die eerste helfte van die 20ste eeu is deur ’n spesifiek Suid-Afrikaanse vertolking van Abraham Kuyper se  neo-Calvinisme en die Skotse piëtisme van Andrew Murray bepaal. Die neiging was dus om vanuit die skepping en die pluriformiteitsbeginsel te dink eerder as vanuit die herskepping en die versoening in Christus. Die werklike posisie van Johannes Calvyn en die konfessionele impak van Karl Barth het eers in die vroeë 1970’s begin om stadig in die teologie van die NGK in te sypel. Laat ons nie vergeet dat van die heel eerste geskrifte oor ’n belydende kerk uit die pen van Beyers Naudé gevloei het nie, en die hoofstroom bereik het in die werk van die Stellenbosse dogmatikus Willie Jonker. 

Hierteenoor het die destydse NGSK hul Gereformeerde selfverstaan sterk vanuit Barth en Bonhoeffer en die ekumeniese teologie bedink. Belhar 1982 was die resultaat van ’n lang en moeisame tog om eenheid, versoening en geregtigheid vanuit die Bybel en die Gereformeerde tradisie tot belydenis te omvorm.

In hierdie sin was Belhar dus teologies gewoon te vroeg vir die NGK.

Ek is nie so seker dat die NKG se huidige besluit uit ’n diep teologiese verskuiwing spruit nie. Vyf-en-twintig jaar het ’n nuwe geslag gebring met minder emosionele en historiese bagasie. Die demokratiese oorgang in Suid-Afrika het lidmate al hoe meer gemaklik laat word in ’n multikulturele samelewing waar besluitnemingsbevoegdheid nie meer eksklusief by Afrikaners lê nie. En die proporsionele vermindering van die Gereformeerde aandeel aan Christene in Suid-Afrika speel waarskynlik ook ’n rol om liewer saam te staan as alleen.

Maar teologie staan mos nooit los van konteks nie. Wat nou nodig is, is herbesinning van die NGK se teologiese rigting. Menslik gesproke sal Belhar baie moeilik deur die NGK self aanvaar word, maar dat ons Belhar in ’n herenigde kerk sal ontmoet, staan nou ten minste vas.

Dis nooit te laat om te bely nie.             

6 thoughts on “Prof Piet Naude oor BELHAR

Add yours

  1. Hierdie is my persoonlike blog en ek praat nie namens enige ander leraar of enige ander persoon nie. Ek vereenselwig my met die besluite van die Algemene Sinode met betrekking tot Belhar. Ek het nie probleme met die teologiese inhoud van die Belydenis van Belhar nie.

  2. Attie,
    Toe ek so paar dae gelede ook die kommentaar van Prof Piet Naude onder oë gehad het, het ek nogal gedink dat dit werklik die eerste sinvolle kommentaar oor die onderwerp is.
    Wat veral belangrik is, is sy opmerking dat hy nie so seker is dat die besluit uit ‘n diep teologiese verskuiwing spruit nie. Ons weet almal dat die VGK en andere destyds gesê het dat die aanvaarding van Belhar “ononderhandelbaar” is vir eenwording. Belhar is maar net die eerste “klein klippie” in die pad na eenwording van al die kerke. Die “groot klippe” lê nog voor en sal gaan oor die ander “kern-dinge” en ek hou met belangstelling die modus operandi dop om ook die “groot klippe” uit die pad te rol. Gaan die NGK ook sê dat “saambly”, “duiweluitdrywing”, ens. “ononderhandelbaar” is, of gaan ons maar weer “ons seile na die wind draai ter wille van “omgee vir mekaar en “liefde vir mekaar”?

    Brain,
    Ek sou ook graag ons eie dominees se kommentaar EN REDES DAARVOOR WOU HOOR. Net om te sê “ek aanvaar die Algemene Sinode se besluite met betrekking tot Belhar”, is werklik nie genoeg nie. Die teologiese inhoud is nie in dispuut nie – dit gaan alles oor die agenda vir die aanvaarding en die werklike redes vir die aanvaarding daarvan. Ek kry werklik die gevoel dat “alle kaarte nie op die tafel is nie”.
    Glo my maar, in ons leeftyd sal ons nie die “een gesamentlike kerk sien nie”. As belhar so reaksie uitlok, wat van al die ander sake?
    Belhar is ongelukkig nou die hoof besprekingspunt, maar ek is meer besorg oor al die ander besluite oor die “kerk-sake” soos die doop, saambly, Satan se bestaan, duiweluitdrywing, ens. Dan wil ek ook graag weet wie nou die NGK se segsman na die afskaffing van die Moderator? Die “Eerste Algemene Selretaris van die Algemene Siniode”?
    Ter inligting aan die wat my gekontak het:
    Ek het ons dominees per e-pos gevra dat hulle ‘n gesamentlike verklaring moet uitreik oor ons gemeente se “verstaan en hantering van die besluite van die Sinode” en ek hou maar dop wat van die versoek gaan word.

  3. Ek gaan nie die gemeente se sake hier bespreek nie.
    Die kerk moet haar aan God verantwoord en die vraag wat gevra moet word is: Het ons opgetree in terme van die beginsels van die Woord? Het die dinge wat ons gese het en die dinge wat ons gepraat het die Woord aan die woord laat kom? Was ons getrou aan die Woord as die openbaring van God?

  4. Attie,
    Ter afsluiting van die gesprek moet ek antwoord op jou vrae aan my en my antwoord is dat ek nie so seker is dat ek onbevange “Ja” kan antwoord op jou vrae nie, bloot omdat die besluite oor Duiweluitdrywing, Saambly, Satan en die Doop my totaal verwar. Laat my maar toe om te glo soos my ouers en hulle voorouers oor die dinge geglo het. In my 1983-vertaling lees ek nie dat God hom oor die dinge so aan die mens geopenbaar het nie.

  5. Handelinge 2,38 En Petrus sé vir hulle; Bekeer julle,(kom tot die geloof in Christus)en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: