In Johannes 2 is Jesus en sy ma en sy dissipels by ‘n huweliksonthaal. Die wyn raak op en dit is ‘n teken van baie slegte maniere van die bruidegom.
Jesus se ma, Maria, word bewus van die probleem en kom sê vir Jesus van die probleem.
Johannes verwys twee keer in sy evangelie na haar , maar hy noem nie haar naam nie. Hy wil nie die aandag wegdraai van Jesus deur iemand anders “centre stage” te laat wees nie.
Maria vra nie, sy sê net. Maria gee nie ‘n opdrag nie, sy sê net.
En dan verander Jesus die water in wyn.
Hy het nie nodig gehad om dit te doen nie.
Die seremoniemeester weet nie Hy het dit gedoen nie, want hy weet nie waar die wyn vandaan kom nie. Die bruidegom weet nie, want hy hoor maar net dat die beste wyn nou geskink word.
Die eerste wonderwerk volgens Johannes, nie juis iets wat die aarde skud en mense opgewonde maak nie. As Hy dit nie gedoen het nie, sou daar ook nie juis veel verskil gewees het nie. Hy het hierdie byna onbenullige ding gedoen, omdat Hy dit wou doen.
Daar is sekere dinge wat “God dinge” is. God skep en God onderhou en God red en God maak gesond en God herstel. Dit is “God dinge”. Ons verwag eintlik van Hom om sulke dinge te doen nie. Ons het die vrymoedigheid om vir Hom te vra om die dinge te doen.
God het my lief en ek het Hom op my eie onvolmaakte manier lief en ons leef in ‘n verhouding van wedersydse liefde. Hy het my uniek gemaak. Hy weet wat my gelukkig sal maak, en Hy gee dit. Hy gee daardie dinge wat my laat sê: “Here, dit was nie nodig nie.”Want ons i in ‘n verhouding.
Dit was nie nodig dat Hy my sonde vergewe nie, dit is waar ja, maar hierdie is anders. Hy bederf my.
Dit was nie nodig dat Hy vir my die ewige lewe gee nie, dit is waar ja, maar hierdie is anders. Hy doen dit om met een rede, en dit is om die lewe vir my ‘n klein bietjie lekkerder – nie noodwendig beter nie – te maak, want Hy het my lief.
Dalk is dit die mees onverklaarbare dinge in ons lewens en in diè lewe, daardie “dit was regtig nie nodig” dinge.
Ons is in ‘n verhouding en Hy is betrokke in die detail van my lewe en ons verhouding, want dit is wat liefde doen, dit laat jou dinge doen wat die ander een nie sou dink om te vra nie.
Here, dit is nie nodig nie.
Here, U het “centre stage” in my lewe.
Laat 'n boodskap