Tieners en gewoontesondes

Na al die jare is dit nog steeds vir my lekker om met tieners hulle lewens te mag deel. Ek besef telkens dat my tyd hiervoor minder en minder raak. In die NG Kerk lê die tieners aan die einde van Graad 11 of begin van Graad 12 belydenis van geloof af. Ek het deur al die jare nog gekies om hierdie groep tieners deur hierdie jaar te begelei. Hierdie jaar gee ek bietjie aandag aan die vrae waaroor hulle graag wil gesels. Ek het hierdie jaar se groep aan die einde van verlede jaar ontmoet en gevra: Wat is die vrae waaroor julle graag volgende jaar sou wou gesels? Nou gee ek aandag aan daardie vrae en so nou en dan gooi ek iets in wat hulle nie gevra het nie, maar wat ek dink vir hulle belangrik is om oor te dink.

Een van hulle vrae was: Wat maak God met gewoontesonde? Gelukkig het ek twee teologiese studente wat saam met my dink wanneer ek voorberei vir die Sondagaand se aanddiens en die onderwerp wat die tieners in die kleingroepe gaan hanteer. Toe ek met hulle hieroor praat, was ek verbaas om te hoor dat die een sê dat hy nie regtig weet wat met die term bedoel word nie. Ons moet dus eers antwoord op die vraag: Wat is gewoontesonde?

Gewoontesonde is ‘n sonde waarmee ons worstel. Ek is bewus van ‘n sonde in my lewe en ek weet weet ek behoort dit nie te doen, maar ek doen dit of ek behoort dit te doen, maar ek doen dit nie. Vir sommige is dit ‘n vinnige humeur, woede, skinder, leuens, begeertes, pornografie, steel. Ek sien in my eie hart dikwels hoe ek onbuigbaar aan my eie agenda en my eie planne bly vashou. Ek sien ook onleerbaarheid waar ek nie bereid is om na ander te luister en toe te laat dat God my deur ander se woorde verander nie. Ek sien ook alte dikwels my onwilligheid om my eie tekortkominge te erken. Ek sien dikwels hoe die rassistiese invloed en breinspoeling waaraan ek in my kinder jare en veral op Hoërskool en in die weermag blootgestel is, na vore kom in die manier waarop ek oor anderskleuriges dink en voel.

Ons moet onder geen illusie wees nie, sonde is lekker. Daarom doen ons dit.

Ons leef in ‘n gebroke wêreld waar almal van ons op verskeie plekke en verskillende maniere blootgestel word aan die versoeking om iets te doen wat ek weet ek nie veronderstel is om te doen of iets nie te doen nie, wat ek weet ek veronderstel is om te doen. Wanneer ek nie toelaat dat God deur sy Woord en deur sy Gees my eerstens daarop wys dat dit sonde is nie, en tweedens nie van sy teenwoordigheid in my lewe gebruik maak om die versoeking te weerstaan nie, dan word so ‘n sonde dikwels ‘n gewoontesonde.

Ek rasionaliseer my sonde

In my eie lewe het ek ontdek dat ek een van die eerste dinge wat gebeur wanneer ek in ‘n gewoontesonde vasgevang word, is dat ek dit rasionaliseer. Ek dink redes uit waarom ek dalk nie nodig het om op te hou om die sonde te doen nie. Ek rasionaliseer op dei volgende maniere.

  • Ek onthou dat ek by geleentheid vir myself gesê het dat Paulus ‘n doring in sy vlees gehad het en dat hierdie sonde nou maar my doring in die vlees is.
  • By ‘n ander geleentheid het ek vir myself gesê dat geen mens sonder sonde is nie en ek is ook maar net ‘n mens.
  • Ek het ook al vir myself gesê dat God se genade groot genoeg is om ook my gewoontesonde te vergewe, en as ek eenmaal sy kind is, kan ek maar weet dat ek vir altyd sy kind is en dat Hy my nooit permanent sal wegstoot nie.

Ek kan dus goeie redes uitdink waarom ek my in my gewoontesonde kan verlustig en nie nodig het om daaraan te werk nie.

My verhouding met God lei skade

Ek het egter ook ontdek dat ek myself bluf. Dit maak nie saak hoe ek my gewoontesonde regverdig nie, my verhouding met God lei skade. Ek kan net eenvoudig nie die Heilige Gees so maklik oortuig as wat ek dink ek myself (en ander) oortuig nie. Die Heilige Gees wat in my en in elke ander kind van God aan die werk is hou net eenvoudig nooit op om my daaraan te herinner dat God nie tevrede is met hierdie sonde in my lewe nie. Maar, daar is ook maniere waat die stem van die Heilige Gees stiller gemaak kan word. Met die verloop van tyd verdwyn my vrymoedigheid om tyd met God deur te bring. Ek lees nie meer die Bybel nie, ek bid nie meer nie.

Ek mis my doel in die lewe

En daarmee saam kom die volgende en dalk die grootste probleem: Ek kan nie sonder die innerlike leiding van die Heilige Gees raaksien waarmee God in hierdie wêreld besig is nie. Ek moet deur God se oë na hierdie wêreld kyk sodat ek ook kan sien waar en hoe Hy my wil gebruik om deel te wees met sy herskeppingswerk in hierdie wêreld.

Gewoontesonde gaan my nie beroof van my kindskap nie. Gewoontesonde gaan my ook nie beroof van my plek in die hemel nie. Maar, gewoontesonde maak dat ek nie met God se oë kyk nie en nie met God se ore luister nie en nie met God se hart voel nie. Gewoontesonde keer dat ek God se medewerker is. Omdat ek intelligent genoeg is om vir myself uit te werk wat goeie en mooi en regte dinge is, doen ek dikwels daardie dinge ten spyte van gewoontesonde in my lewe. Maar almal wat goed doen en almal wat die dinge doen wat Jesus gedoen het, is nie noodwendig besig met dit waarmee God besig is nie.

Ek kan ‘n wanpersepsie ontwikkel oor die evangelie

Die grootste gevaar vir tieners is dat hulle kan leer dat God se genade so groot is dat ek nie nodig het om te verander of te groei nie. Tieners kan begin glo dat op grond van dit wat Jesus in die verlede aan die kruis op Golgota gedoen het, is my toekoms in die hiernamaalsm, in die hemel, verseker ongeag dit waarmee ek my in hierdie lewe besig hou. Ons almal behoort te weet dat dit goedkoop genade is en nie God se genade nie en waarskynlik geen genade nie. Met so ‘n teologie het die hele kwessie van heiligmaking uit die woordeskat van Christene en die kerk verdwyn.

Intussen is ek ‘n nuwe skepping (2 Kor 5:17). Intussen is God se bedoeling juis om ons al hoe meer te verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18). Intussen het God ‘n goeie werk in ons lewens begin wat Hy besig is om te klaar te maak (Fil 1:5-6).

In my en in die kerk

En dit wat God in my lewe gedoen het en waarmee Hy in my lewe besig is, doen Hy ook in die kerk. Die kerk, as die gemeenskap van gelowiges, is ook ‘n nuwe skepping wat al meer verander word aan die beeld van Christus gelyk te word deurdat God wat die goeie werk in die kerk begin het, ook besig is om dit te voltooi en klaar te maak.

In my en in die kerk en in die wêreld

En dit waarmee God in my lewe en in die lewe van die kerk besig is, daarmee is Hy ook in die wêreld, sy skepping, besig. God is besig om alles nuut te maak sodat voor Hom (dit is Christus), elke knie sal buig. God het bedoel dat verloste en nuutgeskape mense sy medewerkers sal wees en dat ons saam met Hom sal werk om God koning van die ganse kosmos te maak.

“As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.” (2 Kor 6:1)

2 thoughts on “Tieners en gewoontesondes

Add yours

  1. Ek het uiteindelik op 15 Februarie met ‘n gewoontesonde gebreek. DIt was ‘n gewoonte wat ek baie duidelik geweet het tussen my en God staan. Ek kon voel hoedat ek telkens vir Hom vra om my te wys wat is verkeerd in my lewe en dat Hy my moet verander, maar Hy moet net nie hieraan raak nie. Ek het op 15 Februarie na ‘n preek-opname van Angus Buchan gekyk waarin hy gepraat het oor gewoontesondes en dat dit soos ‘n leeu is wat jy toelaat om in jou huis te bly: jy voer dit, jy streel dit en versorg dit, en op ‘n dag draai dit om en maak jou dood. Ek het met die krag van God daardie oggend besluit om te breek daarmee en dit heeltemal oor te gee,

    Die wonderlike is dat ek nou ervaar dat die Here werklik toegang tot my lewe, my hart en my drome het en dat Hy besig is om my te verander. Ek is klaar nie meer dieselfde mens wat ek 3 weke gelede was nie. Ek is so dankbaar en dit maak dat ek al hoe meer van my lewe vir Hom oopstel en Hom vertrou met meer en meer. Hy was nog al die jare getrou, ten spyte daarvan dat ek Hom net die krummeltjies van my lewe gegee het, nou ervaar ek strome van sy genade.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: