Die koninkryk van God is een van die belangrike fokuspunte van die boodskap wat Jesus Christus gelewe en verkondig het. Die koninkryk van God is veral in die laaste helfte van die vorige eeu al meer verstaan as dat dit uit twee diemensies bestaan: Die alreeds en die nog nie. Sekere aspekte van die heerskappy van God is “alreeds” sigbaar in hierdie lewe, maar daar sal altyd die dimensie wees, wat “nog nie” sigbaar is of gerealiseer het nie. In Jesus se lewe breek die alreeds van die koninkryk of heerskappy van God deur, terwyl die “nog nie” ook blyk. Alhoewel Hy sommige mense gesond maak (alreeds), maak Hy nie almal gesond nie (nog nie). Alhoewel sommige kies om die goeie nuus te glo (alreeds), kies almal (nog) nie om dit te glo nie.
Een van die belangriker dinge om te aanvaar is egter die verhouding tussen koninkryk en kerk. Die heerskappy van God strek baie weier as die kerk. Enersyds bestaan die kerk omdat die koninkryk van God alreeds in hierdie wêreld ingebreek het en in Jesus Christus tot by ons gekom het. Die kerk bestaan omdat God iets gedoen het. Die kerk is dus produk of resultaat van God se werk in hierdie wêreld. Die koninkryk was eers en toe was die kerk.
Maar, mens moet ook verstaan dat die koninkryk of die heerskappy van God tog ook baie meer is as die kerk. God se werk en heerskappy is nie beperk tot die kerk nie. God is in die wêreld (waar die kerk ook is) aan die werk. Alhoewel God nie afhanklik is van die kerk nie, speel die kerk ‘n wesenlike rol in die koms van God se koninkryk of die deurbreek van die heerskappy van God in hierdie wêreld.
Mens sou kon sê dat hierdie God se missie is: God is besig om sy koninkryk op aarde te vestig. Die kerk neem nie die inisiatief nie, God neem die inisiatief. Die kerk is God se werktuig in hierdie proses van die koms van God se koninkryk. God die Vader het ons deur die verlossingswerk van Jesus Christus deel gemaak van die huisgesin van God sodat ons onder leiding van die Heilige Gees kan onderskei en ontdek waarmee God in hierdie wêreld besig is, sodat ons deel kan wees van God dit waarmee God besig is.
Ek hoor alreeds die besware teen hierdie onvolmaakte kerk. Maar juis dit is deel van die alreeds en die nog nie. Alhoewel die kerk alreeds deel is van God se werk op aarde, is die kerk nog nie volmaak in haar optrede en doen en late nie. In hierdie proses van alreeds en nog nie en van onvolmaaktheid moet die kerk ook telkens erken: “Ons ken ten dele.” In die verlede het ons met die lig tot ons beskikking geglo dat dit is hoe dinge is, maar nou besef ons: “Hier is iets wat ons nie raakgesien het nie.” Dit bring die kerk selfs op plekke en tye waar sy moet erken: “Ek het ‘n fout gemaak. Ek het seer gemaak.” Juis die onvolmaaktheid en die erkenning en die belydenis van die kerk, gee my hoop om te besef dat hierdie nog nie die volmaakte koninkryk van God is nie.
Ons kan nie by die verlede vassteek omdat dit vir ons gerieflik is nie. God is aan die werk en aan die beweeg in hiertdie wêreld. Groei beteken tog ‘n deurlopende proses van losmaak en opneem, van aflegging en aanvaarding. Die kerk moet meer en meer die Bybel lees met die doel om te onderskei en te verstaan wat die ware wese van God is en waarmee God in hierdie wêreld besig is, sodat ons ons kan besig hou met die dinge van ons Vader.
Die kerk is teken daarvan dat God se heerskappy reeds in hierdie wêreld teenwoordig en werksaam is, die kerk is ook ‘n voorsmaak van hoe die heerskappy van God wat reeds deurgebreek het en onder die leiding van die Heilige Gees is die kerk instrument waardeur God se heerskappy op elke terrein en vlak van die samelewing deurbreek.
“Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” (Fil 3:7-8)
Maleagi 2:17
Maleagi 3 en 4.