Die volgende skrywe met betrekking tot die kerkraad se aanbeveling is gister by die eredienste van ons gemeente uitgedeel:
AGTERGROND
Die kerkraad het die laaste paar weke ʼn inligtingstuk oor die proses met betrekking tot die Wysiging van Kerkorde Artikel 1 aan die gemeente beskikbaar gestel. Op die inligtingstuk het die kerkraad bekend gemaak dat ʼn buitengewone kerkraadsvergadering op Maandag 23 Maart 2015 gehou sou word waarop die kerkraad ʼn besluit sou neem oor die aanbeveling om aan die gemeente te maak. Die kerkraad het op Maandag 23 Maart 2015 die saak met openheid, eerlikheid, verdraagsaamheid en liefde bespreek.
DIE VERGADERING
Die gesindheid op die kerkraadsvergadering was een wat getuig het van wedersydse begrip en gewilligheid om nie net na mekaar te luister nie, maar ook waar en wanneer nodig deur die feitelike van die situasie gelei te word.
Die optrede van die kerkraadslede tydens die vergadering getuig juis van die gesindheid wat die voorgestelde nuwe Artikel 1 van die Kerkorde, in die NG Kerk in Suidelike Afrika tot stand kan bring. Die Algemene Sinode het gedroom van ʼn kerk waar ons ten spyte van ons verskille steeds deur die eenheid wat die Gees smee aan mekaar gebind sal bly.
Die besluit van die kerkraad was nie eenparig geneem nie, maar wel met ʼn twee derde meerderheid. Die kerkraad het dit goed gedink om kerkraadslede die vryheid te gee om volgens hulle gewete tydens die gemeentestemming te stem en ook volgens hulle gewete in gesprekke met die gemeente betrokke te raak.
AANBEVELING
Die kerkraad het op ʼn buitengewone kerkraadsvergadering gehou op 23 Maart 2015 besluit om aan die gemeente aan te beveel dat die nuwe Artikel 1 van die Kerkorde goedgekeur word.
DIE PAD VORENTOE
Van nou af tot 16 Mei is ʼn tyd waarin die gemeente ingelig gaan word oor die aangeleentheid. Elke lidmaat het die vryheid om volgens sy/haar persoonlike oortuiging te stem. Nadat die gemeente gestem het sal die kerkraad op 25 Mei 2015 ʼn besluit neem wat in ooreenstemming met die gemeente se besluit is.
Die kerkraad het die leraars versoek om hierdie besluit van die kerkraad aan die gemeente oor te dra en te motiveer waar nodig. Na die erediens van Sondagoggend 3 Mei 2015 sal daar by 30ste Laan, Cunninghamlaan en Huis Vergenoeg ʼn inligtingsgeleentheid wees waar die gemeente ingelig word oor die Wysiging van Kerkorde Artikel 1.
In hierdie tyd is die gebed van die kerkraad dat dieselfde gesindheid wat tydens die kerkraadsvergadering geheers het, ook in die gemeente na vore sal kom wanneer ons oor hierdie uiters sensitiewe saak met mekaar praat.