Ons gemeente is nou besig met die reis van die Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes. Op hierdie stadium het ons al bietjie na die gemeente luister, ons is besig om na die gemeenskap te luister. Hierdie is ‘n ries nie ‘n program nie. Hier is nie duidelike stappe wat ‘n mens moet volg nie. Dit wil vir my lyk asof onderskeiding krities belangrik kan raak vir hierdie proses. Onderskeiding is ook een van die kapasiteite wat aangeleer moet word. Toe ek eers hieroor begin dink, toe is ek eintlik verbaas hoe baie ‘n mens dit nodig kry.
Ek besef ek het hierdie pad gestap toe ek oor die beroep na Waverley gemeente moes besluit. Ek het ook in ‘n mate hierdie pad gestap toe ek Renate gevra het om met my te trou. Toe ek dit eers begin neerskryf, toe besef ek dat ek dit dalk baie meer kan gebruik. (Ek dink selfs die lidmate van die NG Kerk kan dit in hierdie tyd gebruik as hulle moet besluit waar hulle die kruisie moet trek oor die wysiging van kerkorde artikel 1). Ek sou dit gebruik as ek weer ‘n kar moet koop of ‘n groot uitgawe moet aangaan. Ek dink selfs onderskeiding kan ‘n leefstyl word.
Omdat ek dit graag vir ons taakspan sou wou aanleer, het ek ‘n paar gedagtes met behulp van ander neergeskryf. Hier is dit:
As Christene moet ons deurlopend besluite neem en onderskei tussen reg en verkeerd. Somtyds moet ons selfs vir ander mense help om ʼn belangrike besluit te neem. Besluitneming of onderskeiding kan soms ʼn verwarrende proses wees.
Sommige Christene dink dat as ek tussen twee moontlikhede moet kies, dan is die wil van God gewoonlik die moeiliker besluit en die een wat van jou die meeste opoffering vra. Ander glo weer God se wil is die besluit wat die meeste geld in bring, beste voordele vir my inhou, persoonlike sukses waarborg en waaruit ek die meeste voordeel trek. (Die invloed van ʼn verbuikerskultuur, materialisme en “Voorspoed-teologie” wys in hierdie denkpatroon.) Daar is ook diegene wat dink dat as jy nie iets wil doen nie, dan is dit juis ʼn aanduiding dat dit God se wil vir jou lewe is. Ander glo weer presies die teenoorgestelde. Daar is ook die mense wat die Bybel oopmaak en dan glo dat hulle met hulle vingers die vers gaan raak druk wat vir hulle duidelik sal maak wat God se wil is. Ander wil besluite en onderskeiding met hulle verstand uit redeneer en werk gewoon met ʼn lysie van voor- en nadele.
Ander worstel met vrae soos: Hoe maak ons met die sogenaamde “oop deure” en ander tekens wat oor ons pad kom en ons eie begeertes en behoeftes en self-opoffering?
Elke Christen behoort die dissipline of gewoonte van Bybelse onderskeiding onder die knie te hê. Hierdie dissipline of gewoonte gaan egter oor meer as goeie oordeel, oop deure en besluitnemingsvaardighede. Regte besluite en die onderskeiding van God se wil vloei vanuit ʼn persoonlike verhouding met die Here waarin gebed in besonder ʼn rol speel. Met ander woorde as ek God se wil oor ʼn saak wil ken of as ek moet onderskei wat waar is en selfs wat gedoen moet word, dan is dit nie ʼn tegniek wat ek uit die lug uit gryp en nou vinnig ʼn paar goed doen, en dan verwag dat ek die regte besluit sal neem nie. Die gawe van onderskeiding en die neem van besluite wat in ooreenstemming met God se wil is, vorm deel van my persoonlike verhouding met die Here wat deurlopend in stand gehou word.
Onderskeiding is verder gebaseer op die werklikheid van die Heilige Gees se teenwoordigheid en werksaamheid in die lewe van die gelowige en die geloofsgemeenskap. Jesus het belowe dat die Heilige Gees ons sal lei en God se wil aan ons bekend sal maak.
Ons kan op die Heilige Gees staat maak om:
- Ons te verseker van God se liefde, goedheid en betroubaarheid (Rom 8:16)
- Ons te oortuig van sonde, en hoe en waar ons nie eerlik is met onsself nie (Joh 16:8)
- Ons in die volle waarheid te lei en ons lewens voor te berei vir die nuwe lewe wat Christus bring (Joh 16:13)
- Christus in en deur ons te verheerlik (Joh 16:14) deur alles wat met ons gebeur.
- Die vrug van die Gees in ons na vore te bring (Gal 5:22-23)
As ons God se wil wil ken, moet ons verseker wees van God se liefde. Onderskeiding is gebaseer op ʼn intense vertroue van God se mooiste en beste bedoelings vir die skepping, die kerk, en my persoonlik. As ons nie God se bedoelings kan vertrou nie en as ons bang is dat sy wil ons lewens kan omkrap in plaas daarvan om dit meer sinvol te maak, kan ons vermoë om op Hom te wag en sy stem te hoor ernstig in die wiele ry. As ons nie in ons harte daarvan oortuig is dat God met sy wêreld op weg is en in sy wêreld aan die werk is nie, dan gaan ons leiding soek en vra vir dit wat vir ons persoonlike of selfs vir die gemeente of die kerk belangrik is, maar nie wat vir God se wêreld en God se plan met hierdie wêreld die beste is nie.
Dit is uiters noodsaaklik dat ons in hierdie proses van onderskeiding ons gevoelens oor ons vertroue van God eerlik en opreg teenoor Hom uitspreek. Voordat ek kan hoop om sy leiding te ervaar, moet ek weet hoe ek dink en voel oor God se leiding en God se wil vir my lewe en die implikasies van gehoorsaamheid. Deur hierdie eerlike en opregte gevoelens teenoor God uit te spreek, skep ons vir die Gees die ruimte en die geleentheid om ons opnuut te oortuig van God se liefde en trou en leer Hy ons hoe om God te vertrou.
As ons God se wil vir ons lewe wil onderskei, sal ons ook vir die Gees van Waarheid die geleentheid moet gee om ons bewus te maak van die dinge wat ons besluitneming gaan beïnvloed. Hierdie is dinge soos: status, persoonlike agendas, ons eie gemak, persoonlike vrese, dinge wat ons voorheen gesê het, ens. Dit is uiters noodsaaklik dat ons ons persoonlike agendas aan God bekend moet maak en vir Hom moet vra wat dit is wat in ons moet sterf en gekruisig moet word voordat ons sy wil sal raaksien.
Iemand bid soos volg wanneer hy op soek is na leiding en nodig het om God se wil te onderskei: “Here, ek is bereid om te ontvang wat U gaan gee, te laat los wat U wil neem, klaar te kom sonder die dinge wat U gaan weerhou, doen wat U van my verwag en te wees wie U wil hê dat ek moet wees. Amen”
Wanneer ons hart gereed is om te ontvang wat dit ook al is wat God gaan sê, is ons in ʼn posisie waar ons kan wag en luister vir enige aanduiding van die Here se kant af. Ons rus in die stil en seker vertroue dat ons nie nodig het om dinge op ons eie uit te sorteer nie. Ons raak sensitief vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat geopenbaar word in liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Die aanwesigheid van hierdie dinge in ons lewens herinner ons daaraan dat ons nie buite die grense van God se sorg en kennis kan beweeg nie.
Praktiese aanbevelings:
Moenie te haastig wees nie. Die proses van onderskeiding is nie ʼn haastige en vinnige ding nie. Dit is beter om nie alles op een slag te doen nie. Hierdie proses kan selfs die kern van jou stiltetyd of tyd alleen met God wees oor ʼn paar dae of selfs weke. As mens oorhaastig is, kan jy dinge besluit wat jou eie gedagtes is, en nie God se leiding is nie. As mens op God se leiding wag, neem dit tyd. Nie elke besluit wat jy neem hoef dieselfde proses en al die stappe in te sluit nie. Sommige besluite is makliker as ander. Ek sou ook aanbeveel dat wanneer jy ʼn belangrike besluit moet neem of op soek is na God se wil of onderskeidend wil leef, dat jy jou gedagtes iewers neerskryf. Gaan dikwels terug na waar jy die vorige keer was en kyk wat die Here reeds gedoen het en waarmee Hy reeds besig is. (Ek stel vir myself ‘n tydsbeperking waarby ek naastenby hou. Ek bly besig totdat ek voel dat ek ‘n besluit in ooreenstemming met God se wil en God se hart geneem het.)
-
Wees stil in die teenwoordigheid van die Heilige God. Konsentreer op God se liefde en goedheid. Dank Hom vir die Heilige Gees wat in jou woon en ook die Een is wat jou lei. (Jy sou Johannes 16:5-15 kon lees en nadink en bid oor die werking van die Heilige Gees in jou lewe en hoe dit van toepassing is op waar jy jou op hierdie stadium in jou lewe bevind.)
-
Dink na oor wat dit beteken om volkome oorgegee en gehoorsaam te wees aan God se plan en God se wil. (Hier kan jy Romeine 12:1-21 gebruik om na te dink oor ʼn lewe van volle oorgawe en aanbidding.)
- Bely enige iets wat maak dat jy Hom nie ten volle kan vertrou nie.
- Bely enige iets wat verhinder dat jy in volle oorgawe aan Hom lewe.
-
Watter rol speel hierdie besluit of keuse in wie jy werklik is en wie jy aan mense voorgee om te wees?
- Bely enige valsheid indien nodig – waar jy voorgee om iets of iemand te wees wie jy nie werklik is nie. Wanneer jy met jou mond een ding sê maar in jou hart ʼn ander ding wens of (Jy kan Romeine 7:21-25 lees en daaroor nadink om jou hiermee te help.)
-
Wat is jou motiewe vir hierdie besluit? Wat is die diepste redes waarom jy ʼn besluit wil neem of nog nie ʼn besluit geneem het nie?
- Bely daardie onsuiwer motiewe wat jou terughou.
-
Konsentreer op Jesus se gebed in die tuin van Getsemané: “Nogtans nie wil nie, maar U wil geskied.” Bly met die een sinnetjie besig tot jy beleef dat dit werklik uit jou hart uit kom en dat jy bereid is om alles prys te gee om God se wil te doen en sy wil in jou lewe te laat geskied. Vra God om jou te verander sodat jy met jou hele lewe sy heerlikheid en sy liefde sal verkondig. As jy nog nie hierdie gebed met volle oortuiging kan bid nie, bid dan dat die Here dit vir jou moontlik sal maak. Wees eerlik met jouself. As jy agterkom dat jy nie die gebed met oorgawe kan bid nie, neem tyd. Kom selfs die volgende dag terug totdat jy hierdie gebed met oorgawe en alle eerlikheid kan bid.
- Praat met God oor die dinge wat keer dat jy die gebed bid. Vra Hom om dit weg te neem en reg te maak.
-
Vertel nou vir die Here van jou besluit of keuse. Ondersoek die saak in fyn besonderhede. Skryf jou gedagtes iewers neer.
-
Deel nou jou begeertes met God. Wat is dit wat jy wil jy hê?
- Is dit wat jy wil hê dalk ʼn weerspieëling van ʼn dieper, selfs ander, begeerte of selfs ʼn seer?
- In hoe ʼn mate is die besluit wat jy moet neem in harmonie met liefde vir God en liefde vir jou naaste?
- Hoe neem hierdie besluit jou dieper en dieper in getrouheid en goedheid in en die weerspieëling van die karakter van Jesus Christus?
-
Gebruik jou verstand:
- Hoe help hierdie besluit jou om die vrug van die Gees uit te leef?
- Hoe gaan jou besluit ander mense raak? Sal hulle dit as ʼn besluit van liefde en lewe beleef?
- Skryf die voordele en die nadele en die gevare van elke moontlikheid neer.
-
Gee aandag aan jou gevoelens:
- Wat van hierdie besluit maak jou rustig omdat jy besef dat dit die vrug van die Gees, soos liefde, vreugde, geloof, vrede, in jou wakker maak? Hoekom dink jy beleef jy dit?
- Wat maak jou positief opgewonde en gee vir jou hoop?
- Probeer jouself in ʼn situasie uitdink waar jy die betrokke besluit geneem het. Wat beleef jy?
- Wat van hierdie besluit ontstel jou en maak jou onrustig en verward? ʼn Verkeerde besluit laat mens dikwels van God en mens verwyder voel.
- As jy voor God staan en aan Hom moet verduidelik waarom jy hierdie besluit geneem het, hoe sou jy jou besluit motiveer?
-
Gee aandag wat die Here vir jou sê terwyl jy die Bybel lees. Is daar iets wat van toepassing sou kon wees op die besluit waarmee jy op hierdie stadium worstel en die onderskeiding wat jy moet maak? As ek deur my Bybel blaai is ek altyd verbaas oor die datums en gebeure wat in die kantlyn staan. In my gewone leesprogram, het die Here al by herhaling die Woord gebruik om my gedagtes te vorm.
-
Kry die raad van volwasse Christene wat na jou en saam met jou sou luister. Vra vrae soos:
- Is ek ʼn goeie rentmeester?
- Hardloop ek wag van iets af, of ek hardloop ek na iets toe in plaas daarvan om te wag?
- Is ek oop vir ander leiding as dit wat ek tans dink die leiding is wat ek kry?
- Hoe dien hierdie besluit gemeenskap en die gemeenskap?
-
Lê jou besluit aan die Here voor. Bid vir wysheid en die vryheid van die Gees en dat die Heilige Gees deurlopend in jou sal werk. Wag. Vra die Here dat Hy jou hart en verstand en gees in harmonie met mekaar sal bring. Bevestig al drie die besluit wat jy wil neem?
-
Moenie haastig wees nie. Wag op die Here.
Vrede.