WYSIGING VAN ARTIKEL 1 VAN DIE KERKORDE VAN DIE NG KERK

Hier is die inligting wat Sondag in ons gemeente versprei ismet betrekking tot die wysiging van Artikel 1.

Agtergrond

Ons gemeente (NG Waverley) vorm deel van die NG Kerk in Suid Afrika. Hierdie verhouding met ander NG gemeentes word die “kerkverband” genoem. Die kerkverband behoort vir elke lidmaat van die NG kerk belangrik te wees aangesien dit een manier is waarop ons uitdrukking gee aan die eenheid van die kerk. In sy Hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 het Jesus vir die eenheid van die kerk gebid. As gemeente moet ons hard werk om uitdrukking te gee aan daardie eenheid.

As NG kerk gee ons op verskillende maniere uitdrukking aan hierdie kerkverband. Gemeentes wat in dieselfde omgewing werksaam is word bymekaar gegroepeer in Ringe. Ons gemeente vorm deel van die Ring van Derdepoort. Ringe in ʼn bepaalde streek word saam gegroepeer in streeksinodes waarheen alle gemeentes in daardie streek afgevaardig word. In totaal is daar tien streeksinodes: Wes en Suid Kaap; Oos-Kaap; Noord-Kaap; KwaZulu-Natal; Vrystaat; Wes Transvaal; Oostelike Sinode; Sinode Hoëveld, Noordelike Sinode en Namibië. Ons gemeente vorm deel van die Noordelike Sinode. Die Algemene Sinode is die beleidmakende sinode en word saamgestel uit afgevaardigdes uit elke streeksinode.

In Artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk word uitgespel wat die belydenisgrondslag van die kerk is. Met ander woorde, die NG Kerk glo dat sekere belydenisse die leer verwoord wat die kerk glo in ooreenstemming met die Bybel as die onfeilbare Woord van God is. Op hierdie stadium word slegs die Drie Formuliere van Eenheid (Die Nederlandse Geloofsbelydenis; die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) in die Artikel genoem. Die besluit oor die Drie-Formuliere van Eenheid is reeds in 1618-1619 by die Sinode van Dordrecht geneem.

Die Algemene Sinode het in 2013 besluit om die belydenisgrondslag van die NG kerk te verander. Hierdie wysiging sal eerstens tot gevolg hê dat die ekumeniese belydenisse, die Apostoliese Geloofsbelydenis (Wat ons meestal Sondae in die kerk bely); die geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius, wat al vir baie eeue deel van die kerk se belydenis is, nou ook in Artikel 1 van die kerkorde genoem word. Hierdie belydenisse is al baie lank ook deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag, maar is net nog nooit in Artikel 1 van die kerkorde genoem nie. Nou word hiervoor voorsiening gemaak.

Wat egter in besonder bykom is dat daar nou ruimte geskep word vir lidmate van die NG Kerk wat wil bely dat die Belhar belydenis in ooreenstemming met die Woord van God is. Alle lidmate word nie verplig om dit te onderskryf nie, maar die wat wil kan. Die kerkorde sê ook vir die eerste keer dat hierdie uitbreiding van die belydenisgrondslag sonder dwang geskied. Daar rus dus geen verpligting op iemand om die Belhar belydenis te aanvaar of nie te aanvaar nie.

Op hierdie stadium lees Artikel 1 van die kerkorde as volg:

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.

Die Algemene Sinode se voorstel is dat hierdie artikel 1 gewysig word om as volg te lees:

  1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.
    2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
    2.2  Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie.
    3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ’n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied.

Alhoewel die Algemene Sinode die beleidmakende sinode is, kan die wysiging van die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie sonder die instemming van twee derdes van die gemeentes en al die streeksinodes geskied nie. Ons gemeente wil graag deelneem aan hierdie proses omdat die kerkverband ook vir ons belangrik is.

Elke belydende lidmaat van die NG kerk word opgeroep om oor hierdie uiters belangrike saak te stem. Die proses gaan soos volg verloop:

1 Maart – 19 April    Kontrolering van lidmaatregister

1 Maart – 16 Mei      Inligting aan gemeente

23 Maart                    Eerste Kerkraadsvergadering (Geslote Vergadering)

Formuleer aanbeveling aan gemeente

10 – 17 Mei               Gemeente stem

25 Mei                       Tweede Kerkraadsvergadering

Kerkraad besluit soos gemeente gestem het

19 Junie                    Noordelike Sinode stem

Wie mag stem?

Slegs ingeskrewe lidmate van ʼn bepaalde gemeente mag in daardie gemeente stem. Om hierdie proses moontlik te maak word elke lidmaat nou versoek om te bevestig dat hy/sy lidmaat van die gemeente is. In die week van 10-17 Mei sal daar voorsiening gemaak word dat mense ook na-ure en selfs op die Saterdag en die twee Sondae voor en na die erediens kan stem.

Alhoewel hierdie saak vir sommige lidmate nie baie belangrik mag lyk nie, is dit tog belangrik dat elke lidmaat hom/haar vergewis waaroor dit gaan en dan ook moeite doen om in die bepaalde tyd ʼn stem uit te bring. Die kerkraad versoek dus elke lidmaat om deel te neem aan hierdie proses en hulle stem uit te bring.

Elke lidmaat word versoek om die aangehegte vormpie te voltooi.

Aangesien ons drie verskillende punte het waar mense moontlik sou kon stem, word lidmate versoek om aan te dui waar hulle graag sou wou stem.

BEVESTIGING VAN LIDMAATSKAP

Hiermee bevestig ek, (Volle naam en van, ook nooiensvan) __________________________________________________________

Geboortedatum: …………………………………..

Dat ek ʼn belydende lidmaat is van die N G Gemeente Waverley.

Die laaste gemeente (wat ek onthou) waar ek voorheen lidmaat was is_________________________

Ek sou graag by die volgende punt wou stem: (MERK ASB NET EEN)

30ste Laan

Cunninghamlaan

Huis Vergenoeg

__________________________                                                           ___________________

Handtekening                                                                                            Datum

Ek kan gekontak word by:

Telefoonnr: ………………………………..

Selnr: ………………………………………..

Epos:  ………………………………………..

My huidige woonadres is: ………………………………………………………………………………..

One thought on “WYSIGING VAN ARTIKEL 1 VAN DIE KERKORDE VAN DIE NG KERK

Add yours

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: