Hoe maak ek my kind groot tot eer van die Here?
Ek is met my hele hart verbind aan die verbond wat God met ons as ouers en met ons kinders het. Ek glo met my hele hart dat ons as ouers eerstens geroep is om in die lewe van ons kinders deel te word van dit waarmee God besig is – die missio dei, God se sending.
In Lukas 2 lees ek die verhaal van Josef en Maria en die manier waarop hulle deur hulle ouers-wees deel was van dit waarmee God besig was en steeds is. Ek dink ons kan iets by hulle leer.
“Ag dae later, toe dit tyd was om die kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is. Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. In die wet van die Here staan immers geskrywe: ‘Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.’ Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik ”n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.” (Lukas 2:21-24)
Die babatjie Jesus word deel van die godsdienstige gebruike van daardie tyd. Na ag dae is Hy besny. Die godsdienstige gebruik of tradisie van die besnydenis begin in Genesis 17: 23-27 toe Abraham in gehoorsaamheid aan God al die mans en seuns wat by hom in sy geselskap was besny het. Daarna het die besnydenis een van die uitstaande aspekte van die godsdienstige lewe van die Israeliete geword. Josef en Maria, die ouers van Jesus, is getrou aan die godsdienstige tradisie wat hulle ken as die wet van Moses.
Maar dit is nie al nie. Die wet het ook voorgeskryf dat ‘n vrou wat geboorte gegee het vir 40 dae onrein was. Na die 40 dae was daar sekere rituele, gebruike, tradisies, godsdienstige reëls wat voorgeskryf het het hoe die reinigingstyd afgesluit word. Die die man en die vrou moet ‘n offer by die tempel bring. Omdat Josef en Maria arm was kon hulle ‘n paar tortelduiwe of twee jong duiwe bring om te offer. Hulle het dit gedoen. (Sien hieroor meer in Eksodus 13:2, 12 en Levitikus 12:8)
In Lukas 2:41 lees ons dat Jesus se ouers elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan het.
In hierdie paar gebeure sien ek die manier waarop ons as ouers ons kinders tot eer van die Here kan grootmaak. Maak hulle deel van die godsdienstige gebruike, tradisies en rituele van jou geloofsgemeenskap. Wanneer ons as ouers op ‘n Sondag-oggend opstaan, ons kinders wakker maak en as gesin saam kerk toe gaan, dan het ons daardie dag een van die belangrikste dinge gedoen in ons roeping om dissipels van die Here Jesus te wees. Terwyl ons dissipels is, is ons ook besig om van ons kinders dissipels te maak. Deur net te doen wat ons met die doop van ons kinders belowe het, is ons deel van dit waarmee God in hierdie wêreld besig is.
Moet nooit die krag van daaglikse, weeklikse, maandelikse en selfs jaarlikse godsdienstige rituele, tradisies en gebruike onderskat nie. Godsdienstige rituele, tradisies en gebruike is die werk- en speelplek van God die Heilige Gees. Hy is die een wat in die harte van ons kinders dinge wakker maak wat ons nooit sou kon bid of dink nie, terwyl hulle hierdie godsdienstige rituele, tradisies en gebruike beleef.
Laat 'n boodskap