‘n Vrou skakel verlede week een van ons gemeente se leraars. Sy is onderwyseres in die grondslag-fase by een van die laerskole in ons omgewing. Sy vertel van die nood wat die leerders in daardie skool beleef. Die kinders het nie skryfbehoeftes nie. Hulle kort goed soos skrifte, potlode en liniale. Ons besluit toe om die gemeente te vra om te help.
Ons kondig toe by die drie eredienste af van die nood. Teen gisteraand het ons n bedrag van R2200 gehad en ons het reeds skrifte vir 60 kinders en n klomp potlode en liniale. Sommige mense het inkleurkryte en “kokie-penne” gekoop. Tieners het gisteraand opgewonde gereageer en die boeke en potlode ens. sal deur die loop van die week by die juffrou se eie kinders wat saam met die tieners in die skool is gegee word.
Iemand het verlede jaar gevra of Waverley sal weet as NG Waverley nie meer daar is nie. Hierdie vraag het die toets geword om die bestaansreg van enige gemeente te meet. Ek dink dit is ‘n onbillike en onredelike vraag. Een van my kollegas het heeltemal tereg geantwoord dat die gemeenskap waarskynlik nie sal besef as ons deure toe is nie, omdat ons nie te koop loop met wat ons doen nie.
As NG Waverley se deure toe was, sou daardie kinders nie vandag almal al die skryfbehoeftes gehad het wat hulle nodig het nie.
As ons nie daar was nie, sou 84 kinders by dieselfde skool Vrydae huistoe gaan sonder dat hulle ‘n ordentlike bord kos gehad het. Die meeste van daardie 84 kinders weet nie of hulle weer sal eet voordat hulle Maandag weer by die skool iets kry om te eet nie.
As ons nie daar was nie sou10 berjaardes uit dieselfde omgewing die volgende week nie kos gehad het om te eet nie.
As NG Waverley nie daar was nie, sou 25 gesinne in die gemeenskap nie elke maand ‘n pak kruideniersware gekry het om hulle deur die maand te help nie.
As ons nie daar was nie, sou twaalf meisies by ‘n kinderhuis bly dink het dat hulle vir niemand saak maak nie. Nou kry hulle elke maand al hulle persoonlike benodighede. Met hulle verjaarsdae en oor kersfees en dikwels ander tye deur die loop van die jaar word hulle op n besondere manier saam met die ander meisies bederf. Want mense in die gemeente het elkeen n dogter “aangeneem” om te “bederf”.
As ons nie daar was nie sou ongeveer 120 kinders in een van die laerskole in ons omgewing nie elke dag ‘n toebroodjie gehad het om tydens pouse te eet nie. Hulle sou honger moes kyk hoe die ander kinders eet omdat hulle gesinne nie kan nie bekostig om kos skool toe te stuur nie.
Ek het niks gesê oor ons gemeente se aktiwiteite buite ons gemeenskap soos bv. in Marydale en Botswana nie. Ook nie oor huiswerkers wat naaldwerkvaardighede geleer word en eredienste wat vir anderstaliges gehou word of ons Bybelverspreiding nie.
Ek weet dat ander gemeentes se bydrae in die gemeenskap van so n aard is dat dit jou sprakeloos laat – ek oordryf nie. Ek is veral verbaas oor wat geloofsgemeenskappe wat nie aan kerke of gemeentes verbonde is nie regkry en waarby hulle alles betrokke raak.
Ons gemeente se tema vir die jaar is dissipelskap. Dissipelskap het vir ons drie dimensies: Na bo (My verhouding met God); na binne (My verhouding met mede-gelowiges en na buite (My (ons) verhouding met die gemeenskap.) Missionere gemeentes begelei dissipels om beter dissipels te wees en maak van mense wat nie dissipels is dissipels van Jesus Christus deur met omgee-liefde betrokke te raak by mense in hulle nood. Ons wil veral aandag gee aan die derde een – die uitreik na buite – want niemand weet beter as ons dat ons betrokkenheid by ons gemeenskap nie naastenby is wat dit veronderstel is om te wees nie. Ons as gemeente het ‘n baie-baie lang pad om te stap voor ons die missionêre gemeente kan wees wat ons graag wil wees, maar ons sal nie moed verloor oor die pad nog lank is nie.
Ons gemeente is eintlik soos n digbeboude woonbuurt. As jy iets in daardie woonbuurt wil bou, moet jy eers iets anders afbreek. Ons wil en ons gaan iets nuuts bou, maar ons wil nie blindelings in-plons en afbreek nie. Ons is besig met die bou-proses en ons is daarvan oortuig dat daar teen die einde van 2011 ‘n paar “geboue” sal wees wat afgebreek is en nuwes wat gebou is. Daar sal nuwe geboue in aanbou wees en daar sal waardevolle geboue wees wat gerestoureer is. Hierdie skryfbehoefte oefenintjie, het gewys die gemeente is gereed om te help waar dit nodig is.
Die kerk moet deurlopend kritiek verduur oor die evangelie wat ons verkondig en omdat ons in God glo. Sakkie Spannenberg het onlangs geskryf dat die kerk binnekort slegs ‘n sosiale funksie sal verskil. Sakkie is blind vir wat die kerk reeds doen. Die kerk maak ‘n verskil en ek dink dit is tyd dat die kerk begin sê watter verskil daar in die gemeenskappe gemaak word. Die NG Kerk was in die 2009/2010 finansiële jaar naas die staat die grootste finansiële bydraer tot opheffingswerk in die land. Ek het oor die naweek gelees hoe Allan Hirsch skryf dat die sal moet begin om die gemeenskappe bewus te maak van dit waarmee hulle besig is. Die gemeenskap, die ganse wêreld moet weet dat God deur die kerk oppad is na ‘n nuwe hemel en n nuae aarde.
Onvolmaak met onvolmaakte leiers en onvolmaakte lidmate, maar tog met brandende harte om deel te wees van dit waarmee God in die wêreld besig is – dit is wie en wat NG Waverley is.
Die vraag of “die gemeenskap sal agterkom as NG Gemeente Waverley sy deure sal toemaak” is glad nie “‘n onredelike of onbillike” vraag nie, maar is eerder ‘n baie relevante vraag. Verskeie vooraanstaande teoloë het al dieselfde vraag in die verlede oor die NG Kerk in die algemeen gevra. Die feit dat die vraag geva was en die antwoorde hierbo gegee word is bewys dat iemand nagedink het oor die vraag. Dit is met dankbaarheid en met ‘n mate van trots dat NG Gemeente, Waverley kan sê: “Ja, ons maak ‘n verskil in die gemeenskap – nie net in die harte van mense nie, maar ook in die welstand van mense”. Die oomblik wanneer die kerk ophou om die tipe vrae oor homself te vra, moet die kerk bekommed begin raak.
Attie, ek dink baie van die kerkkritici verkies opsetlik om die positiewe rol wat die kerk in gemeenskappe speel mis te kyk en bllot op die kerk se foute te hamer. Maar dan is dit ook so dat die kerk meestal die dinge soos jy hierbo noem nie aan die groot klok hang nie en miskien is baie mense nie bewus dat gemeentes nie net eredienste is nie.
Sterkte met julle werk in die gemeenskap en doen so voort!
Ek is ‘n lid van die NG kerk en ek sé dit met trots. In ons kerk word die Woord van God gepreek, en nie ‘n verdraaiing wat ons as mens pas nie. Ry maar deur ons land – watter kerk se toring sien jy in ELKE dorp al van ver af? Ja, die NG! want dis HULLE wat nog al die eeue bereid was om uit te reik, die evangelie te verkondig aan mense wat nog nie gehoor het nie. Hulle steel of skep nie die room, die entoesiastiese mense van reeds bestaande kerke nie, maar is bereid om ongesiens hulle werk te doen. Dit maak my baie seer as ek hoor dat daar twis in gemeentes is, of dat gemeentes moet “toemaak” Mag ons kerk nog lank bestaan regoor die land. Mag God se woord steeds vreesloos verkondig word. Mag Hy geëer word.
maju terus salam kenal selalu