Stiltetyd – gebed

Gebed is ‘n wesenlike deel van stiltetyd. Jesus het vir sy dissipels die Ons Vader gebed geleer. Die Roomsekatoelike bid die Ons Vader deurlopend. Ek reken dat dit selfs n goeie gebruik of gewoonte kan wees. Ek weet van besware teen gewoonte-Christene ens. maar daar is slegter gewoontes wat ‘n mens sou kon aanleer. Probeer gerus net vir een daag om elke uur op die uur vir ‘n oomblik stil te raak en die Ons Vader gebed te bid. Besef dan die dissipline wat daarmee gepaard gaan maak kyk veral of dit dalk vir jou enige betekenis gehad het.

Volgens die evangelies was Jesus dikwels alleen om te bid. Frank Laubach en Brother Lawrence het ‘n besondere boekie geskryf: “Practicing the Presence of God.” Frank Laubach het eintlik die boekie geskryf en groot dele van Brother Lawrence se werk bygesit. Die tweede helfte van die boek is net Brother Lawrence se werk. Hierdie is twee manne wat daarin kon slaag om van oomblik tot oomblik in gesprek met God te leef. Beide van hulle het egter ook tyd gemaak vir, wat ek sou noem, stiltetyd.

Wanneer ek iemand begin leer oor gebed, dan begin ek met die hand. Die duim is die vinger wat ek gebruik om te wys dat alles reg is – en dit is aanbidding waar ek fokus is op die volmaakte God en Vader van ons Here Jesus Christus en op alles wat Hy doen. Die wysvinger is die een wat iemand uitwys wat kwaad gedoen het. Dit is die vinger wat ek gebruik om my sonde en tekortkominge te bely. Die middelvinger is die vinger wat langer is as al die ander en ons is geroep om ‘n lewe van daknbaarheid te lei. Die dinge in my lewe waarvoor ek God dankie kan sê staan uit bo al die ander dinge in my lewe. Die ringvinger is die vinger van verhoudings en ek gebruik dit om te bid vir die mense vir wie ek lief is en wat naby aan my is. Die pinkie is die swakste van almal en daar dink ek aan al die dinge wat ons nie sonder God kan doen nie. Ek dink aan ons gemeente en die wereld. Of enige iets anders wat oor my pad kom.

Hierdie is slegs net ‘n wenk om te begin. Gebed is bedoel om ‘n gesprek tussen twee vriende te wees. Rob Bell sê in een van sy DVD’s dat God so naby as my asem aan my is. Jesus het gesê Hy noem ons sy vriende. Die Heilige Gees is my ewige metgesel wat altyd by my is en my nooit in die steek laat nie. God is ook my Vader. ‘n Wonderlike intieme verhouding tussen my en die mees volmaakte pa wat daar ooit sou kon wees. Ek praat met Hom as my vriend.

Gebed is n gesprek asof God in die stoel oorkant my sit en ek vir Hom vertel van alles wat in my gedagtes is. Ek vertel vir Hom van my dag wat voorlê en waar ek Hom op ‘n besondere manier gaan nodig hê. Ek praat met Hom oor die dinge wat ek in die Bybel gelees het wat my bybly en waaroor ek wonder. Ek vertel vir Hom van die goed waaroor ek bekommerd is en die dinge wat vir my groot vreugde bring. Ek vra sy raad oor groot besluite. Elkeen van hierdie dinge is egter nie net iets wat ek vir Hom noem nie. Ek praat en ek gee vir Hom inligting oor wat in my hart leef.

Ek het byvoorbeeld vanoggend gebid oor my preek vir Sondag-aand wat ek vandag moet afrond. Ek het nie net gevra dat Hy my deur die Heilige Gees sal lei nie, ek het Hom vertel hoekom ek sy leiding nodig het. Ek het gesê dat my eie kennis dikwels in die pad staan van dit wat Hy vir die gemeente wil sê en gevra dat Hy vandag by my kennis verby sal werk. Ek het ook gesê dat ek preek oor God se droom vir ons en dat ek verder wil gaan as om te sê God het ‘n droom vir elkeen van ons se lewens en dat ons daardie droom moet ontdek en dit moet lewe. Alhoewel dit ook waar is, dink ek God se groter droom is vir die wêreld. God se droom vir arm en honger mense en mense wat swaarkry en die skepping. Ek wil graag mense uitdaag om betrokke te raak by mense in nood en vir hulle bewus maak van geleenthede waar hulle betrokke kan raak. Ek weet dat ek die woorde kan sê, maar net Hy kan hulle deur sy Heilige Gees oortuig. So was my gesprek met God oor my preekmaak vandag ‘n lang gesprek.

Ek het ook ‘n baie lang gesprek gehad oor my huurders wat nie hulle huur betaal nie en die dinne waarheen my dogter saam met ‘n jong man gaan en hoe ek haar vertrou en nie vir hom nie. Nie dat ek hom baie goed ken nie, maar hy bly ‘n man. Ek het ook gepraat oor my twee kollegas wat Sondag-oggend moet preek. Ek het gepraat oor die kleingroepe wat volgende weer moet begin en dat hy mooi sal werk met die leiers wat so getrou is. Dit was ‘n lang gesprek.

Ek moet egter ook sê, meer kere as wat ek graag sou wou erken, skiet my gebedslewe te kort. Meer oggende as wat ek graag wil hê, het ek na n paar minute niks meer om te sê nie. Daar is tye wat so teleurgesteld is oor dinge wat gebeur het, dat ek nie met God wil praat nie. Hoekom het dinge nie anders gebeur nie? Daar kom dae wat ek nie by my stiltetyd uitkom nie. Maar ek hou nooit op nie. Selfs in droogte tye weet ek: Ek kan nie wegbly nie.

Ek weet egter ook, Hy is baie meer getrou as ek. Wanneer ek dan een oggend weer die moed bymekaar skraap en in my stoel gaan sit, kom ek agter Hy wag reeds vir my. Ek wil my verbeel ek kry soms raas oor ek so lank laas daar was, maar ek mag verkeerd wees.

4 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

4 responses to “Stiltetyd – gebed

  1. Wes

    Hi Attie, Soos ek al vir jou gesê het, is die tye wat ek die naaste aan God was in my lewe is die talle kere wat ek plat op my rug in ,n hospitaal gelê het. Iemand het eenkeer vir my gesê dit is God se manier om “my te dwing om op te kyk na hom en in die afwesigheid van die lewe se gejaag tyd saam met hom deur te bring”. Hoe skeef en krom en teologies foutief die storie ook al mag klink, as ek terug dink was dit werklik kwaliteit stiltetye saam met die Here. Vandag “praat” ek baie keer sommer hardop met die Here as ek alleen in die motor ry of bid ek sommer hardop as ek so alleen ry en sing ek baie keer saam met Piet Smit en andere geestelike leidere, sommer so in die ry. Dit is ook baie kosbare stilte tyd vir my. In die oggende of aande is my stiltetye meer formeel, soos Bybel lees of geestelike boeke bestudeer. Die boodskap is dat elke mens sy eie manier het om met die Here te praat en stilte tyd te hê. Vir my is die Here altyd die pasasier in my motor as ek alleen ry en gebruik ek die tyd om met Hom te praat. Dit werk vir my…….

  2. ‘n Boek oor gebed wat vir my besonder baie beteken het, is “Prayer, the great Adventure” en net soos dit nou moet uitwerk, kry ek nou nie die boek om al die besonderhede te gee nie. Die wonderlike van daardie boek was dat dit nie vol “moenies” is nie. Dit gaan daaroor dat dit maak nie altyd saak HOE jy bid nie, maar wel DAT jy bid. Dat jy ALLES maar ALLES voor God se deur kan lê. Ek het by my geskryf oor my gebedsjoernaal (as jy dit so wil noem). http://toortsie.wordpress.com/2011/01/23/joernaal/ Ag, dis eenvoudig, maar dalk beteken dit vir iemand iets. Mooi dag!

  3. ek hoop nie jy dink ek is voorbarig dat ek nou my skakel hier kom plak het nie???

  4. Hier is die boek: Prayer, the great adventure. Deur David Jeremiah. Uitstekend!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s