Wie sit aan die tafel? (Tienernagmaal)

Ons gemeente vier een maal per kwartaal tydens die aanddiens, wat hoofsaaklik ‘n tienerdiens is, nagmaal. Terwyl ek voorberei het vir die aand het ek skielik besef dat ons met betrekking tot die tieners geweldig baie as vanselfsprekend aanvaar. Ons bedien nagmaal, maar ek het gewonder watter persentasie van hulle het al ooit met iemand gepraat oor waar die nagmaal vandaan kom en wat die betekenis daarvan sou wees. Ek het toe die aand op die volgende manier ingerig.

Ek het die nagmaalstafel reg in die middel van die liturgiese ruim geplaas. Ons het gelukkig groot hout stoele wat in die verlede seker by die nagmaal gebruik is. Ek het een van die groot stoele in die middel geplaas en die Christuskers reg voor die stoel op die tafel. (Ons steek by elke erediens die kers aan as simbool van die teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus.) Weerskante van die groot stoel het ek twaalf ander stoele gepak.

Met Lukas 22:14-23 as teks het ek verduidelik waar die nagmaal vandaan kom. Dat Jesus en sy dissipels eintlik die Pasmaaltyd geëet het, maar dat Jesus sy dissipels geleer het om dit in die toekoms op ‘n nuwe manier te gebruik. Hulle moes dit in die eerste plek gebruik om te onthou (Vers 19) en tweedens om uit te sien na die feesmaal saam met Hom in die Nuwe Jerusalem (Verse 16-18). Ek het ook verduidelik dat Jesus die onsigbare gas is in ons alledaagse lewens, by elke erediens, en by elke nagmaal. Daarom kan die een stoel by die nagmaal dalk leeg gelaat word om ons daaraan te herinner dat Jesus ook teenwoordig is.

Toe het ons by die groot vraag gekom: Wie sit aan hierdie tafel? Ten minste het die twaalf dissipels daar gesit. Ek het verduidelik dat ek iets oor ‘n paar van die dissipels gaan sê en terwyl ek praat moet hulle kyk met watter dissipel hulle identifiseer. “Watter een van die dissipels laat jou aan jouself dink?” Ek het toe begin om in ‘n paar sinne iets van die dissipels te sê. Elke keer wanneer ek oor een van die dissipels praat, het ek op ‘n ander stoel rondom die tafel gaan sit.

“DIssipels wat vir Jesus lief was en vir wie Jesus lief is.” Ek het natuurlik aan Johannes gedink na wie daar op hierdie manier in die Johannesevangelie verwys word. Die een wat so ‘n besondere band met Jesus gehad het, dat Jesus aan die kruis vir hom kon vra om sy ma te versorg. En hy het dit ook gedoen.

“Dissipels wat nie bang is om die kruis op te neem en Hom te volg nie.” Hier was Lukas in my agterkop. Ek het verduidelik dat hy waarskynlik een van Paulus se metgeselle op sy sendingreise was en dat hy die grootste deel van die Nuwe Testament (Lukas en Handelinge) geskryf het.

“Dissipels met ‘n oneerlike verlede.” Matteus is darem die ideale voorbeeld hiervan. As tollenaar en belastinggaarder het hy nie net die Romeinse regering belieg en bedrieg nie, maar die Jode by wie hy die belasting moes insamel ook.

“Dissipels met ‘n geweldadige verlede.” SImon die Seloot sou sekerlik in vandag se terme ‘n ekstreme terroris gewees het. Die Selote het mos veral die tollenaars gehaat omdat hulle as verraaiers bestempel is. Aan hierdie tafel sit ook mense wat in ander omstandighede aardsvyande sou gewees het.

“Dissipels wat dink hulle is beter as ander.” Nie een van die dissipels wou die ander se voete was nie. Die takie was te minderwaardig. Hulle het nie kans gesien om te dien nie. Iemand wat nie so belangrik is soos ek nie moet dit maar doen. Einde laaste het Jesus dit gedoen.

“Dissipels wat net nie kan ophou twyfel nie.” Wie anders as Thomas. Thomas se twyfel het hom op ‘n punt gebring waar hy nie eers meer sy beste vriende geglo het nie. Net as hy met sy eie oë sien en met sy eie hande voel, dan sal hy glo.

“Dissipels van wie ons nie baie weet nie.” Ek dink byvoorbeeld aan Bartlomeus, Jakobus (Nie Johannes se broer nie), en Judas (Nie Iskariot nie). Ons weet nie regtig veel van hierdie dissipels nie, maar hulle was volgelinge van Jesus wat saam met hom aan die tafel gesit het.

“Dissipels wat hulle verhouding met Jesus vir hulle eie voordeel probeer misbruik het.” Johannes en Jakobus se ma het na Jesus toe gekom en gevra of hulle aan sy regter en aan sy linkerkant kan sit wanneer Hy eendag sy koninkryk oprig.

“Dissipels wat een ding sê en ‘n ander ding doen.” Petrus het hart en mond belowe dat hy Jesus nooit in die steek sou laat nie en net soos Jesus gesê het, voor die haan drie keer gekraai het, het Petrus drie keer ontken dat hy Jesus ken.

“Dissipels wat eerder “embarrass” word as dat hulle by Jesus staan.” Hierdie dissipel het nie ‘n naam nie. Ons weet net dat die aand toe Jesus gevange geneem is, het hy eerder kaal weggehardloop as dat mense hom moes herken as een van Jesus se volgelinge.

“Dissipels wat net oor hulle telerustelling kan kom nie, wat meer van Jesus verwag het.” Vir Judas was Jesus blykbaar nie wat hy gedink het Hy sal wees nie. Daarvom het hy hom verraai vir 30 muntsukke.

Wie sit by die tafel? Onvolmaakte mense. Maar belangriker as dit, dit is mense met wie God op reis was. Ons sien na Pinkster en in die kerkgeskiedenis hoe elkeen van hierdie onvolmaakte dissipels (Met die uitsondering van Judas) op hulle eie unieke en wonderlike manier deel word van God se plan met sy kerk en met sy wêreld.

Ek het die tekens laat uitdeel. Voordat ek dit ingestel het, het ek weer gevra dat hulle moet terugedink aan watter een of twee van die dissipels herinner hom/haar aan hulleself. Nadat ek die tekens ingestel het, het ek die gemeente genooi om op een van die stoele te kom sit en die tekens te gebruik. Wanneer hy/sy op die stoel kom sit, dan erken hy/sy eerstens sy/haar eie onvolmaaktheid, maar sê ook dadelik: “Ek besef dat U met my op weg is. Dankie dat U gebreekte liggaam en U bloed wat vergiet is, maak dat ek by hierdie tafel kan kom aansit. Ek is nie alleen nie. U is met my saam met ander onvolmaakte volgelinge van U op weg.”

Uit die aard van die saak het almal nie op ‘n stoel kom sit nie. Ek was nogal verbaas oor hoeveel wel gekom het.

3 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

3 responses to “Wie sit aan die tafel? (Tienernagmaal)

  1. Christelle

    Ek het myself nog nie so ingedink nie, wat ek wel al baie gewens het en ook hoop is om hulle almal eendag in die hiernamaals te kan ontmoet……

  2. Interessant om so aan d dissipels te dink

  3. Louisa du Toit

    Wanneer jou hartseer is oor die stukkende wêreld en jy wonder wat gaan word….. spreek die mense wat aan die nagmaals tafel gesit het van hoop. Jesus het hoop, verlossing en lewe gebring en gegee. Dankie vir die perspektief .

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s