WAW! ONS IS BEGENADIG

Ek het Sondagaand Lukas 12:13-21 ook met die Graad 11 kinders in ons gemeente behandel. Deur die loop van die aand het ons oor ryk teenoor arm begin praat. Ons kyk toe na die verskillende moontlikhede van ryk vs arm.

RYK HIER ARM BY GOD

Hierdie gelykenis maak dit duidelik dat dit moontlik is om ryk te wees in hierdie wêreld maar arm, of nie ryk nie, by God.

ARM HIER RYK BY GOD

Jesus se gelykenis van die ryk man en Lasarus laat mens besef jy kan arm wees hier en ryk by God.

ARM HIER EN ARM BY GOD

Jesus se gelykenis van die goue muntstukke verduidelik dit. Die man wat sy enkele muntstuk gaan begrawe het en nie daarmee gewoeker het nie, word nog van sy enkel muntstuk ook ontneem.

RYK HIER EN RYK BY GOD

Ja, dit is moontlik. Weereens die gelykenis van die goue muntstukke. Die een met die vyf muntstukke word nie net in die teenwoordigheid van God verwelkom nie, hy kry ook nog die muntstuk van die man wat net een gehad en niks daarmee gehad het nie.

In die Ou Testament is dit veral duidelik dat die profete God se patos met die arme verkondig en aankondig. In ons tyd word die kerk heeltemal tereg daartoe opgeroep om armoede in elke moontlike gedaante en vorm aan te spreek en te beveg. Maar armoede is nie sonder meer gelyk aan ryk by God nie.

Ek kon Sondag-aand met die tieners oor RENTMEESTERSKAP praat. Op hierdie stadium het hulle nog nie juis geld waaroor hulle rentmeesters moet wees nie, alhoewel die meeste van hulle meer sakgeld in ‘n maand kry as wat werkers in ander lande per maand verdien. Maar, hulle het iets wat hulle op ‘n verantwoordelike wyse moet bestuur. En sou hulle die dinge op verantwoordelike wyse bestuur, sou daar sekere gevolge wees.

Tieners is in besonder rentmeesters van hulle tyd, talente, vermoëns, vaardighede en geleenthede. Die samestelling van ons gemeente is van so ‘n aard dat 95% van die kinders die tyd, talente, vermoëns, vaardighede en geleenthede het om feitlik enige beroep te kies, daarvoor te gaan studeer en suksesvol te wees in die studies en die beroep. Tieners is rentmeesters daarvan. Indien hulle dit op ‘n verantwoordelike wyse bestuur, sal hulle ryk wees by God.

Maar, hierdie tyd, talente, vermoëns, vaardighede en geleenthede is feitlik alles net genade. Natuurlik speel ouers ‘n rol hierin, maar genade is om iets te kry wat jy niks aan gedoen het om dit te verkry nie. Die feit dat hulle in ‘n gesin gebore is waar ouers dit vir hulle moontlik gemaak het is alreeds net genade. Met ander woorde: WAW! ONS IS BEGENADIG. 

Ek het onlangs ‘n gesprek met ‘n tiener uit hierdie begenadigde omstandighede gehad. Hy reken toe die speelveld is gelyk gemaak. Die anderskleuriges kinders in hulle skool het nou die geleentheid om bv. dieselfde  wiskunde as hulle te hê, maar hulle kom dit steeds nie deur nie. Hy was verbaas toe ek met hom verskil en sê: Die speelveld is nie gelyk nie. Hoe kom daardie kinders by die skool? Hulle kom meestal met taxi’s. Hulle bly dus nie in die gegoede woonbuurte wat ons bly nie. Na wie toe het jy gegaan toe jy op laerskool met wiskunde gesukkel het? Na my ouers toe. Na wie toe het hy gegaan? Na niemand toe nie, want waarskynlik het nie een van sy ouers wiskunde tot op die vlak gehad dat hulle hom met sy wiskunde op laerskool kon help nie en waarskynlik was daar ook nie iemand in die gemeenskap nie. Kry jy ekstra wiskunde klasse? Ja. Kry hy ekstra wiskunde klasse? Nee! Hoekom nie? Wel in die gemeenskap waar hy bly is daar niemand wat so ver met wiskunde gevorder het dat hy hom met sy wiskunde kon help nie. WAW! ONS IS BEGENADIG.

Rentmeesterskap wat ophou by ‘n verantwoordelike bestuur van tyd, talente, vermoëns, vaardighede en geleenthede, is eintlik maar net die buig van die knie voor die gees van die tyd naamlik materialisme en ‘n verbruikersmentaliteit. As jongmense soos hierdie goeie rentmeesters van God se genade in hulle lewens is, gaan hulle self waarskynlik binne 10 jaar na skool in die top 1% verdieners in die wêreld wees. (Sien Global Rich List) Volgens die syfers wat verlede maand bekend gemaak sukkel slegs 1.3% gegradueerders om werk te kry. Die vraag sal dan wees: Hoe bestuur ek dit wat ek dan onverdiend uit God se hand ontvang het?

Gaan ek dan my swaarverdiende geldjies gebruik om my skatkamers vol te stop of gaan ek as goeie rentmeester dit gebruik sodat ek ryk kan wees by God?

Goeie rentmeesterskap vir ‘n tieners behels dat hy hy/sy groot droom oor sy/haar toekoms en die meeste maak van elke geleentheid wat op sy/haar pad kom. Goeie rentmeesterskap is om te droom van suksesvol wees, maar sodat ek deel kan wees van God se oplossing in ‘n stukkende wêreld.

3 Kommentaar

Filed under Gelykenisse

3 responses to “WAW! ONS IS BEGENADIG

  1. Christelle van der Walt

    Dit is inderwaarheid so Ds. Attie – daar is soveel ander dinge wat by my opgekom het terwyl ons die week oor geld gepraat het. Ek wens die skoolkinders kon ‘n ekstra vak neem soortgelyk soos Ds. se blad. Almal is net op ‘n selfone besig niemand sit en praat met mekaar meer nie. Puik Ds.!

  2. Werner Olivier

    Hierdie skrywe laat my net weer besef dat,wat ons is,is ons uit genade en wat ons het,is aan ons geleen.Onverdiende goedheid wat ons elke dag ontvang,
    deur net ons beste te gee vir almal wat ons pad kruis.Dankie Attie.

    Groetnis.

  3. gerrit

    Ons moet meer tyd met mekaar maak.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s