LEWENSMISSIE

Ek is amper bang om die woord “missie” hierbo te skryf. “Missie” en “missionêr” is na my mening oor-gebruikte woorde. Onder missie verstaan ek die antwoord op die vraag: “Hoekom is ek hier?” Die antwoord op dié vraag lees eintlik soos ‘n missieverklaring: “Ek glo dat God my geskep het om Hom te loof, Hom lief te hê en Hom en ander te dien.” Hoe hierdie lewensmissie in elke individuele mens se lewe tot uitdrukking kom is weereens uniek en net ‘n bewys van die absolute kleurvolle en kreatiewe God wat ons hiertoe geroep en gevorm het. Wanneer ons toelaat dat ons ongeorganiseerde, of soms oor-georganiseerde, lewens en besig wees met ons eie dinge en belange ons perspektief op die saak versteur, dan ontdek ons dat daar nie meer balans in ons lewens is nie. Ons raak ongelukkig en ontevrede.

Ignatius van Loyola sien ongeërgdheid (Indifference) as die oplossing, die eienskap waarna elkeen van ons moet soek. Met ongeërgdheid word nie bedoel dat ek glad nie meer vir dinge omgee of selfs daaraan geheg raak nie, maar eerder dat ek baie liggies vashou aan al die gawes wat ek uit God se hand ontvang. Vir elke kosbare gawe is ek eerbiedig dankbaar en ek ontvang dit met vreugde, maar terselfdertyd is my verbondheid daaraan liggies, effentjies. Ek omhels hierdie gawe of ek laat dit gaan, alles afhangende van hoe dit my help om my lewensmissie te leef: om Hom te loof, Hom lief te hê en Hom en ander te dien. Ongelukkig is dit ook so dat dieselfde dinge wat God in sy groot genade as geskenke of gawes aan ons gee, maklik ook afstand tussen ons en Hom kan bring. Wanneer dit gebeur en ons dit begin besef, dan moet ons besef dat ons lankal nie meer God se gawes liefdevol en dankbaar omhels nie, maar dit nou in een of ander besitlike greep vasgegryp het. Dan is dit tyd om te laat gaan. Ongeërgdheid is die gewilligheid om so te lewe dat ek in staat sal wees om dit te laat gaan as dit nodig is.

In hierdie trant praat ons gisteroggend tydens ons Bybelstudie oor afgodery. ‘n Moeilike konsep vir mense van die 20ste eeu. Die groep se definisie van ‘n afgod was op die ou end enige iets anders as God wat jou vrede en jou vreugde bepaal. Ons het onder andere gepraat oor hoe goed soos sport en die ekonomie en die omstandighede in ons land en die toekoms van ons kinders en kleinkinders in hierdie land en die misdaad en die korrupsie tot gevolg het dat Christene “depressief” raak. Wanneer ons dan depressief raak kan ons nie meer uitdrukking gee ons skeppingsdoel nie: om Hom te loof, Hom lief te hê en Hom en ander te dien.

God en God alleen moet die bron van vrede en vreugde vir my lewe wees.

Alles op hierdie aarde en in ons lewens is aan ons gegee om ons te help om ons skeppingsdoel te verwesenlik. Ons moet al hierdie dinge gebruik om die doel te leef en ons vrymaak van die dinge in soverre dit ons verhinder om Hom te loof, Hom lief te hê en Hom en ander te dien.

Makliker gesê as gedoen?

“Hemelse Vader maak my meer en meer bewus van die doel waarvoor U my hier op aarde geplaas het. Leer my om U met oorgawe te loof en te prys en ook om U en ander rondom my te dien. Gee my die genade om ongeërg te lewe met die dinge wat U my in U groot genade so vryelik skenk. Leer my om die mens wat ek voor U my liefdevolle God is, met my hele wese te omhels.”

NOGEENS VRYGEMAAK

Tydens die aanloop na die laaste vergadering van die Noordelike Sinonde by Weesgerus en dan natuurlik tydens die vergadering self, het ek  begin dink oor “vrygemaak”. Sê nou vrygemaak sou meer beteken as net dat ek vrygemaak is van my sondeskuld en nou vergewe is. Vanoggend is ek nou weer op die onderwerp en sluit ek aan by dit waaroor ek Maandag geskryf het.

Vanoggend lees ek Filippense 3:7-16 en in besonder hierdie woorde van Paulus:

“Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (Fil 3:8-9)

Vrygespreek en vrygemaak om in ‘n naby en intieme verhouding met Jesus te kan lewe en om Christus as enigste bate te verkry. Lees voort “NOGEENS VRYGEMAAK”

GEESTELIKE VRYHEID

Geestelike vryheid is ‘n innerlike vryheid, ‘n vryheid van die verstand en van die hart. Mense wat geestelik vry is, weet wie hulle is – met al hulle gawes en beperkinge – en is gemaklik met wie en wat hulle is.

Ons het egter verskeie dinge wat hierdie geestelike vryheid van ons inperk. Hierdie dinge het tot gevolg dat  ons nie God  se roepstem hoor nie. Voorbeelde hiervan is: Lees voort “GEESTELIKE VRYHEID”

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑