In n artikel op BEELD se webblad staan daar:
Die meerderheid van parlementslede het Dinsdagmiddag ten gunste van die ad hoc-komitee se verslag oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting gestem.
229 LP’s het ten gunste van die wetsontwerp gestem, 107 LP’s het daarteen gestem en 2 LP’s het nie gestem nie.
Minstens 35 ANC-LP’s het teen die wetsontwerp gestem.
Ek persoonlik sien hierdie as een van die donker dae in die geskiedenis van Suid Afrika. Die ooreenkomste met die wet wat op Woensdag 19 Oktober 1982, wat later bekend geword het as “Swart Woensdag”, deur Jimmy Kruger in die tyd PW Botha afgekondig en met rampspoedige gevolge toegepas is, is duidelik.
Een van die belangrikste probleme met die wet is dat daar nie ‘n klousule is wat ‘n persoon wat geklasifiseerde inligting het beskerm sou die inligting in openbare belang wees nie. Bv. sou die inligting oor Julius Malema, Bheki Cele, Minister Cwele, ens. nie aan die lig gekom het sou die wet voorheen in werking gewees het nie. Die openbare vervolger het ook haar kommer oor die wet reeds laat hoor.
Die feit dat die Nelson Mandela kantoor vir Herinneringsdag hulle stem teen die wet laat hoor het, spreek boekdele. Almal weet hoe versigtig hulle is om enige uitsprake teen die ANC te maak. Juis omdat NelsonMandela nie vanuit die graf wil regeer nie. Groot ANC leiers (Hoofsaaklik van die verlede) is openlik krities. Byvoorbeeld Jay Naidoo en Ronnie Kasrils. Daarmee saam is dit ook belangik dat sommige ANC LP’s teen die wet gestem het, ten spyte van die feit dat hulle nie net verplig is om teenwoordig te wees nie, maar ook om ten gunste van die wet te stem. Hierdie is uitsonderlike gebeure in en vir die ANC. Dalk is Terro Lekota reg dat die ANC Swart Dinsdag sal betreur wanneer hulle in die opposisie banke sit. Dalk is Helen Zille reg dat die DA teen 2017 die regering kan oorneem. Evita sê: “It is a goverment by the people, for the people by people who don’t care for the people.”
Enige persoon hoef net in die media te kyk na die bekendmaking van talle gevalle van korrupsie deur verskeie hooggeplaasde lede van die ANC. Natuurlik is die media nie engeltjies nie en doen hulle dinge verkeerd en is beriggewing soms nie van die beste nie, maar feit is dat die meerderheid van hierdie onthullings in ‘n groot mate waar is. Ons weet nog nie wat die uitkoms gaan wees rondom die onthullings van beweerde korrupsie teen Julius Malema en nou Mac Maharaj nie.
Mense kritiseer die wet vir verskeie redes. Ek dink sommige kritiseer dit omdat hulle dink en voel alles wat die ANC doen moet teengestaan word. Ander kritiseer die wet omdat hulle regtig donker wolke op die horison sien. Korrupsie in die regering en die ANC is besig om die armstes van die armes te benadeel. Die wet maak dit onwettig, strafbaar met tot 25 jaar tronkstraf, om enige geklasifiseerde inligting wat dalk in openbare belang mag wees, bekend te maak. Die wet maak die prosedure waarvolgens duidelikheid oor sulke inligting gekry kan word onhoudbaar en die werkswyse sal net lei tot die vervolging van die persoon wat die inligting het.
Gelde wat aan luukse verblyf, duur motors, uitspattige partytjies, omkoopgeld vir tenders spandeer is, sou alreeds ‘n groot verskil kon gemaak het in vraagstukke soos HIV/VIGS, behuising, onderwys, mediese versorging, ens. Hierdie wet gaan nie net beteken dat sulke onnodige kostes in die toekoms as geheim geklassifiseer word en dus nie toeganklik vir die algemene publiek gaan wees nie, maar daar gaan in die toekoms niks wees wat sulke kriminele bedrywighede verhinder nie. Hoekom dan nou nie omkoopgeld vat as die wet my gaan beskerm nie.
Ek verstom my egter vir Christen leiers se swye oor hierdie saak. Die sosiale ongeregtigheid wat op die medium tot langtermyn die gevolg van hierdie wet gaan wees, moet nog gesien word. Maar ek wonder soms of die kerk nie so graag die ANC ter wille wil wees dat hulle liewers niks wil sê nie. Ek is verbaas oor almal wat hulle stemme laat hoor oor die missionêre karakter van die kerk en in so ‘n belangrike saak swyg.
Missionêr beteken om jou stem te laat hoor teen enige vorm van sosiale ongeregtigheid. Ek kry soms die gevoel dat die enigste sosiale ongeregtigheid waarteen Christen leiers hulle stemme laat hoor is die foute wat die NG Kerk in die verlede gemaak het. DIt is inderdaad baie maklik om vandag op te staan en te se as ek in die apartheidsjare geleef het, sou ek ook in opstand gewees het. Sommige se selfs hulle sou waarskynlik op Robben Eiland gewees het.
Hierdie is een van daardie geleenthede waar ons ons stem moet laat hoor.