CHRISTENE BUITE DIE KERK

Ek praat Sondag-aand met ‘n groep tieners oor die erediens. Ek vermoed dit sal nie van veel waarde wees om tieners te probeer oortuig om eredienste by te woon as hulle reeds skepties is oor die rol van die kerk in ons gemeenskap nie. Ek wil probeer om met hulle in gesprek te gaan oor die saak, maar ek wil met hulle in gesprek gaan oor die redes waarom mense hulle rug op die kerk draai.

Ek het reeds in Engels oor hierdie saak ge”blog”, maar intussen het ek die snit raakgeloop van Dan Kimball, die outeur (Dan Kimball) van die boek “They Love Jesus but not the church.” Ek sou graag ‘n paar lesers se oor hierdie saak wou hoor.

Dan Kimball se waarnemings na gesprekke met mense buite die kerk het hom die volgende gevolgtrekkings laat maak: Lees voort “CHRISTENE BUITE DIE KERK”

VERSOEKINGS – WAT JY WAAR KRY? (3)

Die onderwerp van versoekings het my baie aan die dink gehad.

My oorspronklike bedoeling was om Sondag-aand ‘n bietjie met die tieners hieroor te gesels. Ek gebruik gewoonlik die reaksie op die “blog” om my te help nadink oor die onderwerp. Tieners is ook deel van die dink-proses. Ons het ‘n tiener-selgroep waar min of meer 45 tieners elke Dinsdag-aand by die kerk bymekaarkom en dan kuier ons in vier groepe. Ek het ‘n groep van 14 meisies tussen Graad 10 (Standerd 8 ) en Graad 12 (Standerd 10). Die gesprek met daardie tieners Dinsdag-aand was baie interessant. Die ander groepleiers se belewenis was grotendeels dieselfde.

Ek het hierdie gevolgtrekking gemaak: Dit is vir die meerderheid van die tieners in daardie groep nie belangrik om versoekings te weerstaan en plekke en situasies te vermy waar die versoekings hulle kan oorweldig nie.

Dit is natuurlik weereens ‘n bevestiging van wat ons al baie lankal weet, maar sukkel om te hanteer. Daardie groepie tieners gaan nie nou skielik besluit om “nee” te sê vir ‘n versoeking en om weg te bly van die plekke af waar die versoekings is, net omdat ek wat hulle dominee is so sê nie. Lees voort “VERSOEKINGS – WAT JY WAAR KRY? (3)”

‘N WAGTENDE PA OF ‘N SOEKENDE PA…

Ek lees by geleentheid die verhaal van ‘n pa en sy seun in die Amerikaanse Burgeroorlog. Die seun se naam was Jonathan en teen die vader se sin en wens het Jonathan een nag weggeloop en by die Noordelike magte aangesluit tydens die burgeroorlog. Daar het baie tyd verby gegaan sonder enige woord van Jonathan. Een nag het die pa ‘n droom gehad dat sy seun ernstig gewond is en dat hy die versorging van ‘n pa nodig het.

Die pa het sy plaas in die sorg van die werkers gelaat en uitgevind waar die soldate dalk mag wees. Met veel moeite het hy by die voorpunt van die linies uitgekom. Hy het die bevelvoerder gevra of hy dalk weet waar sy seun is. Die bevelvoerder het geantwoord dat daar vroeër die dag ‘n ernstig veldslag was en dat ‘n hele paar soldate gewond was. Sommige van die wat gewond is word reeds versorg, maar daar is ook ‘n groot groep wat nog steeds op die slagveld lê en wag om versorg word te word. Die bevelvoerder het toe aan die pa toestemming gegee om te kyk of hy sy seun kan opspoor. Lees voort “‘N WAGTENDE PA OF ‘N SOEKENDE PA…”

STUKKENDE MENSE IN ‘N STUKKENDE WÊRELD

Ons sou eerder nie oor die stukkende werklikheid waarin ons lewe wou praat nie, of as ons oor die stukkende werklikheid moet praat, kom ons praat oor die honger en die lyding en die swaarkry en die pyn en die armoede en al daardie dinge. Die stukkend-wees buite onsself. Ons sou onsself nie as stukkend wou reken nie.

Die woord waarmee die Bybel hierdie stukkend wees beskryf is ook ‘n woord wat eerder vermy word: Sonde. Moenie oor sonde praat nie. Moenie op sonde fokus nie. Moenie sondebewus lewe nie. Maar tog, mens worstel elke dag met hierdie gebroke werklikheid.

Ek het gisteraand twee baie lang gesprekke met twee tieners gehad. Die tieners het altwee die gesprekke geinisieer – hulle wou met my oor die dinge praat. Beide het in die slaggat van drank, dwelms, seks ens. getrap. Vir die duur van die gesprek wou die tieners net oor hulle eie gebrokenheid praat. Nie een van hulle se ouers weet nie. Meeste van hulle vriende weet. Hulle weet – ek is stukkend. Lees voort “STUKKENDE MENSE IN ‘N STUKKENDE WÊRELD”

GROEPSDRUK – WEEREENS

Dit lyk my groespdruk is ‘n werklikheid. Ek gaan vandag kyk of ek ‘n paar tieners hier kan kry om saam te gesels. Ek wonder as mens die volgende raad vir tieners gee, of dit sal help:

(i) Weet wat jy weet en moenie toelaat dat iemand jou kop deurmekaar praat nie. (Ken jou persoonlike waardes.)

(ii) Sê wat jy dink en voel. Moenie iemand probeer oortuig nie, dan gaan hulle jou ook probeer oortuig.

(iii) Aanvaar dat jy een of ander tyd die ongewilde en “un-cool” ding sal moet doen om “nee” te sê vir iets wat vir die hele groep lekker lyk. Berei jou voor vir daardie dag.

(iv) Wanneer jy vir iets “nee” gesê het en nie met die groep saam gegaan het nie, gaan daar van jou vriende wees wat jou of vir ‘n paar minute of vir die res van jou lewe gaan terg daaroor, maar daar gaan ook daardie persone wees wat jou respekteer vir die feit dat jy jou standpunt gehandhaaf het. Lees voort “GROEPSDRUK – WEEREENS”

TIENERS – IS GROEPSDRUK ‘N “ISSUE”?

Tieners is kudde diere. Hulle leef, beweeg en bestaan in groepe.

My matrikulant tiener stap Vrydag-aand met ‘n lang gesig by die TV kamer in. Toe ek vra wat aangaan sê sy al haar vriende gaan vanaand by ‘n sekere kuierplek wees en sy het gesê sy het reeds gesê dat sy nie sal kan gaan nie, want sy weet ek sal haar nie toelaat om na ‘n plek toe te gaan waar onder andere drank bedien word nie en nog die potensiaal het dat ‘n groot klomp ander dinge ook kan gebeur. Einde laaste voel ek my kind se sosiale lewe kan nie lei onder my rol in die gemeenskap nie. Ek gee my toestemming dat sy mag gaan. Natuurlik was die manipulerende lang gesig toe vergete. My enigste voorwaarde was ek stap saam met haar in en gaan kyk wat daarbinne aangaan en as ek dink dit is nodig, dan kom sy saam met huistoe.

Ek voel omtrent soos ‘n “celebrity” toe ek daar instap, want die meeste van die tieners wat my ken is bly om my te sien. Lees voort “TIENERS – IS GROEPSDRUK ‘N “ISSUE”?”

GELYKENIS 15: BOODSKAPPERS EN GEWELDENAARS

Die meeste van ons sal kan identifiseer met vandag se gelykenis. Die meeste van ons was al boodskappers van God wat deur mense sl;eg behandel is. Die meeste van ons was ook mense wat die boodskappers van God sleg behandel het. Hierdie gelykenis gaan oor ons.

“‘Luister na nog ‘n gelykenis,’ het Jesus gesê. ‘Daar was ‘n grondbesitter wat ‘n wingerd geplant en ‘n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ‘n parskuip uitgekap en ‘n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. Lees voort “GELYKENIS 15: BOODSKAPPERS EN GEWELDENAARS”

GELYKENIS 13: DIE EIENAAR BESLUIT OOR DIE SALARIS

 Ons kan verseker wees dat die koninkryk van die hemel die standaarde van regverdigheid en billikheid te alle tye sal handhaaf. Maar ons kan ook met die verwagting leef dat die wêreldse standaarde vir billikheid en regverdigheid in die koninkryk van die hemel dalk op sy kop gedraai kan word. In vandag se gelykenis is dit wat gebeur:

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ‘n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. Lees voort “GELYKENIS 13: DIE EIENAAR BESLUIT OOR DIE SALARIS”

GELYKENIS 12: VERGEWE ASSEBLIEF!

Ons leef in ‘n gemeenskap wat ‘n onblusbare behoefte het aan vergifnis.

In Spanje word die storie vertel van ‘n pa en sy seun wat van mekaar vervreem geraak het. Die seun het weggeloop van die huis af en die pa het na hom gaan soek. Die pa het vir maande aaneen na sy seun gesoek, maar kon hom nie opspoor nie. In ‘n laaste desperate poging om met sy seun versoen te raak, het die pa ‘n advertensie in die koerant van Madrid geplaas. Die advertensie was: “Liewe Paco, ontmoet my asseblief Saterdag voor hierdie koerant se kantoor. Alles is vergewe. Ek is lief vir jou. Jou pa.”

Daardie Saterdag het 800 Paco’s opgedaag wat graag deur hulle pa’s vergewe wil word.

Hoeveel keer moet mense vergewe? Dit is waaroor vandag se gelykenis gaan. Lees voort “GELYKENIS 12: VERGEWE ASSEBLIEF!”

Blog at WordPress.com.

Up ↑