- GOD GEBRUIK VERSOEKINGS OM MY TE LEER OM TE GEHOORSAAM.
Tweedens gebruik God versoekings om ons gehoorsaamheid te leer. Versoekings is ’n slenter van die duiwel om ons geestelike groei te belemmer. Versoekings is die manier waarop die duiwel dissipels van die Here Jesus tot ’n val wil bring. ’n Getroue dissipel van die Here Jesus wat voor die versoekings van Satan swig, maak nie net sy eie getuienis tot niet nie, maar ook die van baie ander dissipels. Maar ook, die getuienis van die kerk.
Wanneer ek toegee aan versoekings kom my geestelike groei ten minste tot ’n stilstand. Baie kere, dalk die meeste van die kere, beweeg ek ’n paar treë agteruit. Ek val so hard dat dit ’n lang tyd neem om te herstel en weer op die been te kom en vorentoe te beweeg. Somtyds neem dit maande, selfs jare.
“Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word.” (Matteus 4:1)
In die boek Hebreërs staan daar dat Jesus verstaan wat ons deurgaan omdat Hy self ook versoek is. Hy was ’n mens soos ek en jy. Dit was vir Hom net so moeilik om nie toe te gee nie. Hy is vir 40 Dae in die woestyn deur Satan versoek. Hy het elke keer basies dieselfde antwoord gegee: Gaan weg – daar staan geskryf… Die antwoord op versoekings is gehoorsaamheid aan die Woord van God.
Elke versoeking bring my by ’n vurk in die pad. By die vurk in die pad het ek een keuse: Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid.
Gaan kyk weer mooi na die drie versoekings waarvoor Jesus nee moes sê. Met al drie versoekings het die duiwel probeer om te keer dat Jesus doen waarvoor Hy gekom het. Satan wou keer dat Jesus sy doel bereik. Lees voort “dissipelskap – meer en meer soos Jesus (3)”