Is alle sondes gelyk?

Ek was onlangs in ‘n gesprek waar iemand weer die opmerking maak: “Vir God is daar nie groot of klein sonde nie.” So ‘n persoon sou natuurlik een of twee teksverse uit die Bybel ook kon aanhaal.

“As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” (1 Joh 1:8)

Of:

“As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Joh 1:10)

Een van die gevolge van “geen groot of klein sonde nie” is eerstens die oorlading van onnodige skuldgevoelens wat so maklik deur die “hel en verdoemenis” predikers misbruik word. In hierdie dikwels emosioneel manipulerende tipe van aanslag is dit al te dikwels maar net weer die persoon wat deur sy eie morele skuld en sondigheid reageer net om seker te maak dat hy/sy nie in die hel beland nie. Maar, tweedens is daar die gevaar dat die wat eintlik skuldig is en skuldig behoort te voel, hulle eie oortredings rasionaliseer met opmerkings soos: Almal van ons is sondaars.

In 1996 het die Suid Afrikaanse Raad van Kerke die term “solidarity in sin” begin gebruik. Die teoloog Miroslav Volf se opmerking hieroor is:

“Solidarity in sin is disturbing because it seems to erase distinctions and unite precisely where the differences and disjunctions matter the most – where dignity is denied, justice is trampled underfoot, and blood is spilled.”

Kan ‘n mens werklik die sprong maak om te sê dat aangesien almal sondaars is, is alle sondes gelyk? Die kind wat boelie se wreedheid kan tog nie vergelyk word met die kind wat geboelie word se woede nie. Die verkragter se wreedheid en geweldadigheid kan tog nie vergelyk word met die verkragte se haat nie. Almal is dalk sondaars, maar alle sonde is nie gelyk nie.

Om alle sonde as gelyk te behandel skep ruimte vir onreg om voort te duur en weer en weer herhaal te word. Inderdaad is niemand onskuldig nie, maar daar is altyd oortreders en slagoffers. Waar mense as gevolg van geweld en wreedheid en gulsigheid benadeel word en na die rand van die samelewing verdring word, is die oortreders die wat die geweld en die verdrukking pleeg en die slagoffers is die teen wie daar gesondig word. Waar boelies toegelaat word om te boelie is boelies die oortreders en die wat geboelie word die slagoffers. Waar geweld en misdaad verkragting tot gevolg het is die verkragter die oortreder en die verkragte die een teen wie daar oortree word.

Alle sondes is dus nie gelyk nie, maar alle sondaars het die versoening nodig wat net deur die gekruisigde Christus bewerk kan word en reeds gewerk is. Wie begenadig word, sal altyd weer opgeroep word om te begenadig. Wie versoen is, sal altyd weer opgeroep word om te versoen. Wie vergewe is, sal altyd weer opgeroep word om te vergewe.

In hierdie lydenstyd wat Woensdagaand (6 Maart 2019) afgeskop het, kan ons dalk meer hieroor dink. Sal ons as begenadigdes nie in navolging van Christus ons kruis opneem en Hom volg wat vir ons gesterf het, toe ons nog sondaars en God se vyande was. (Romeine 5:8 en 10)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: