Ek het hierdie vakansie die boek “To Kill a Mockingbird” gelees. Eintlik moes ek dit al lankal gedoen het. Maar nou was die regte tyd. Jean Louise Finch is die verteller van die verhaal. Almal ken haar egter as Scout.
Scout se ma is dood toe sy twee was. Atticus, die plaaslike prokureur, maar sy twee kinders groot saam met Capurnia een van die swart vrouens van die gemeenskap. Atticus was ook ‘n diep gelowige mens. Aan die begin van die boek is Scout ‘n rowwe diamant. Maar dwarsdeur die boek lewer verskillende mense insette in haar lewe. Meeste van almal, Atticus, haar pa. Een van die basiese dinge wat Atticus haar leer is: “You must learn to walk in someone else’s shoes.”
Vroeg in die boek, dit was Scout se tweede dag op skool, is sy in ‘n vuisgeveg met Walter Cunningham.Ongeveer vier jaar ouer as sy, maar fisies kleiner as sy. Scout se broer, Jeremy Atticus Finch, of Jem, stop die geveg en sê vir haar Walter is kleiner as sy.
En so word hierdie rowwe diamant deur die loop van die verhaal geslyp. Aan die einde van die verhaal is Scout 9 jaar oud. Arthur, of Boo, Radley was ‘n jeugmisdadiger wat nooit uit die huis uit gekom het nie. As gevolg van al die onwaar stories wat in die klein dorpie, Wacomb, van Arthur Radley vertel is, is almal eintlik bang vir Boo Radley. Aan die einde van die verhaal red Boo Radley Jem en Scout se lewens. Omdat Boo nie die Finch huis ken nie, moes Scout hom telkens aan die hand vat sodat hy kon kom waar hy wil en moet wees.
Boo wil op die ou end huis toe gaan. Maar, omdat hy nooit uitkom nie, is hy bang. Hy vra vir Scout: “Will you take me home?”
Ek wil graag die gedeelte vir julle lees:
“I put my foot on the top step and stopped. I would lead him through our house, but I would never lead him home.
‘Mr. Arthur, bend your arm down here, like that. That;s right sir.’
I slipped my arm into the crook of his arm.
He had to stoop a little to accomodate me, but if Miss Stephanie Crawford was watching from her upstairs window, she would see Arthur Radley escorting me down the sidewalk, as any gentleman would do.”
‘n Bietjie verder staan daar:
“Atticus was right. One time he said you never really know a man until you stand in his shoes and walk around in them. Just standing on the Radley porch was enough.”
Oor ‘n tydperk van drie jaar is die rowwe diamant Jean Louis Finch deur die insette en besondere voorbeeld van haar pa en haar broer en Capurnia en haar vriend Dill en die gemeenskap, gevorm tot ‘n goeie mens.
Dit is waaroor ons eredienste in die oggend en die aand en die kleingroepe hierdie kwartaal gaan. Ons as God se kinders, is deurlopend besig om gevorm te word om goeie mense te wees.
2 Petrus 1:3-9 is een teks wat ons help om te verstaan wat ‘n goeie mens in God se oë is. Petrus skryf sy brief aan gelowiges wie se geloof ondergrawe word deur persone wat ‘n dwaalleer verkondig en mense aanmoedig om onsedelik te lewe.
Die belangrike uitdrukking hier kry ons in vers 5, naamlik “deugsaamheid”. ‘n Goeie mens is ‘n deugsame mens. ‘n Deugsame mens is iemand in wie se karakter deur seker deugde gevorm word. Deur al die jare het die Christelike kerk baie klem geplaas op die vorming van karakter. 1 Petrus 1:5 beskryf hierdie vorming as “om julle geloof te verryk met deugsaamheid”. ‘n Mens sou dalk ook kan sê: Op grond van my geloof is ek nou volgens 2 Korintiërs 5:17 in Christus ‘n nuwe skepping. Maar ons as Christene is ook eerlik genoeg om te sê: Ek is nog nie alles wat ek moet wees nie. Daarom word ek volgens 2 Korintiërs 3:18 al meer verander om meer en meer soos Christus te wees. Maar hierdie karaktervorming is nie iets wat die Gees doen en waarin ek geen aandeel het nie. Volgens 2 Petrus 1:5 moet ek en jy alles in die stryd werp om meer en meer te word wie ons reeds in Christus is.
Die psigiater en terapeut M Scott Peck skryf hieroor. Hy skryf in sy inleiding to sy boek:
“The journey of spiritual growth is a long one.”
Die eerste sinnetjie in die eerste hoofstuk is:
“Life is difficult.”
En dan noem hy sy boek:
“The Road Less Travelled.”
Die kerk het hierdie lewensreis van geestelike groei en die vorming van die gelowige se karakter baie dinge genoem. Geestelike groei; groei in heiligmaking; geestelike volwassenheid, volle oorgawe. In 2 Petrus 1:4 word hierdie lewe beskryf as “deel kry aan die goddelike natuur”. 2 Petrus 1:5 noem dit “deugsaamheid”. Jesus noem dit dissipelskap. Wat ons ook al kies om dit te noem, een ding is seker, dit is nie maklik nie en dit is ‘n lewenslange reis. Mens sou dit ook die goeie lewe kon noem.
Die goeie lewe wat in Psalm 1:1 so beskryf word: “Dit gaan goed met die mens… wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.” (Psalm 1:1-3)
As gemeente wil ons graag hierdie kwartaal hierdie reis aanpak. ‘n Reis op ‘n pad waar daar nie baie verkeer is nie. ‘n Reis waarin ons droom dat elkeen se geloof verryk sal word met deugsaamheid. ‘n Reis waar elkeen van ons al hoe meer deel kry aan die goddelike natuur deurdat ons geestelik groei en al hoe meer word wie ons reeds in Christus is.
Een van die groot gevare is dat geestelike groei of dissipelskap of die lewe saam met God ‘n lysie word van dinge wat ons kan afmerk. As ek elke Sondag in die kerk is, elke dag my Bybel lees, elke week in ‘n kleingroep is, elke dag bid, geld vir armes gee, nie steel nie, nie mense seermaak nie, nie seksueel losbandig lewe nie, dan groei ek geestelik en is ek ‘n volgeling van Jesus en is ek al hoe meer soos Jesus.
Wanneer ons met lysies werk, dan is ons wetties. Hierdie goeie lewe is nie iets wat ek doen nie. “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” (2 Petrus 1:3) In hierdie proses waar ek ‘n goeie mens word, het God die inisiatief geneem. Hy het die eerste tree gegee. Hierdie inisiatief wat God geneem het, kan deur die mens aanvaar of verwerp word. Wanneer ek en jy dit aanvaar, dan verander die manier waarop ons lewe. Dan begin my lewe, die goeie lewe, waarvan Psalm 1 praat. Dan is ek soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte dra op sy tyd en waarvan die blare nooit verwelk nie. Die goeie mens is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
Ek is dikwels jammer oor die woordjie “voorspoedig” in Psalm 1. Juis omdat voorspoed in ons lewe en wêreld verstaan word as dit met my finansies en my gesin en my gesondheid altyd goed moet gaan. Die woordjie “voorspoed” pas glad nie by die metafoor van die boom wat by waterstrome geplant is nie. Die Direkte Vertaling sal hier vertaal “gedy”. Intussen is daar eintlik geen belofte in die Bybel wat enige mens kan gebruik om te sê: God belowe dat dit met my finansies, gesin, gesondheid en lewe altyd goed sal gaan nie.
Die goeie lewe is juis nie dit nie. Die goeie lewe is ‘n lewe waar die karakter van God veral deur deugde in my lewe na vore kom. Op my lewensreis saam met God, word ek al hoe meer goed net soos God goed is.
In die geskiedenis van die kerk was daar veral sewe sulke deugde wat algemeen aanvaar is as die deugde wat in ‘n goeie lewe tot uitdrukking kom.
In 2 Petrus 1 word reeds die volgende deugde genoem: Geloof; kennis of wysheid; selfbeheersing; volharding of hoop; liefde.
Die deugde wat nie hier genoem word nie is: Waagmoed en geregtigheid.
Daar word aanvaar dat daar drie teologiese deugde is. Hierdie drie is:
Liefde, geloof en hoop.
Die ander vier word kerndeugde genoem. Hulle is:
Wysheid, selfbeheersing, waagmoed en geregtigheid.
Dalk moet ons iets sê oor “deugsaamheid” soos dit in vers 5 staan. Die Griekse woord is areten. In die Direkte Vertaling word die woord vertaal met uitnemendheid. Die Griekse woordeboek sê hierdie woord kan vertaal word met deugsaamheid, morele uitnemendheid of selfs volmaaktheid. Hierdie woord word net twee keer in die Nuwe Testament gebruik. Hier en in Filippense 4:8.
In die Griekse wêreld is die terme gebruik wanneer iemand beskryf word wat sy volle potensiaal uitleef. ‘n Christen wat ‘n lewe van uitnemendheid leef is besig om alles te word wat God bedoel het hy/sy moet wees. Ek en jy is na die beeld van God geskep. God is goed. My potensiaal is om meer en meer die karakter van hierdie goedheid van God in my hele lewe sigbaar te laat word. Volgens 2 Korintiërs 3:18 sou dit beteken dat die heerlikheid wat van ons uitstraal steeds meer word. My en jou potensiaal is dat ons die beeld van God in hierdie lewe sigbaar maak. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Dit doen die Here wat die Gees is.
Daar gebeur altyd goed in ons lewe wat ons laat wonder: Hoekom? As toegewyde Christene sal ons soms in stilte die vraag so formuleer: “Here, waarmee is u in my lewe besig?” Die antwoord lyk vir my lê in ‘n mate hier: “Ek is besig om jou die mens te laat word wat ek bedoel het jy moet wees.” Ek en jy is op ‘n pad waar daar nie baie verkeer is nie. “This is the road less travelled.”
Kan ek afsluit met To Kill a Mockingbird. Op die laaste bladsye van die boek sien ek iets van hierdie reis saam met God. Die aand na die traumatiese gebeure waar Arthur Radley Jem en Scout se lewe gered het. Jem is in sy bed verdoof nadat hulle sy gebreekte arm gespalk het. Attiicus het vir Scout ‘n storie gelees. Dit was eintlik ‘n nare storie. In haar poging om Atticus te oortuig dat sy nie geslaap het nie, vertel sy iets van die verhaal.
Sy vertel so:
“’An’ they chased him ‘n’ never could catch him ‘cause they didn’t know what he looked like, an’ Atticus, when they finally saw him, why he hadn’t done any of those things … Atticus, he was really nice …’
His hands were under my chin, pulling up the cover, tucking it around me.
‘Most people are, Scout, when you finally see them.’
He turned out the light and went into Jem’s room. He would be there all night, and he would be there when Jem waked up in the morning.”
Scout se reis saam met Atticus en Capurnia en Jem en Dill en selfs Arthur Radley het van haar ‘n goeie mens gemaak. ‘n Mens wat anders na mense kyk. God reis saam met ons. Die manier waarop Hy dit doen is om mense oor ons pad te stuur. Mense wat saam met ons reis. En net soos die twee dissipels op pad na Emmaus praat ons met mense en kom ons met mense in aanraking sonder om te weet: Hierdie mens is die manier waarop God saam met my reis. En wanneer jy in jou donkerste nag van swaarkry en seer en twyfel en selfs ongeloof worstel: “He would be there all night, and he would be there when Jem waked up in the morning.” So het ons die goeie en getroue God in die Woord en in ons eie lewe en die lewe van ander leer ken.
Sal jy nie saam met ons as gemeente op hierdie reis gaan hierdie kwartaal nie. Ons het jou nodig. Ons glo God wil jou gebruik van ons goeie mense te maak wat anders na mense te kyk. Soos Hy na mense kyk. Maar wie weet, dalk kan God ons ook gebruik om van jou net nog meer van ‘n goeie mens te maak.
Laat 'n boodskap