Vir verskeie redes is ek genoodsaak om na te dink oor die hele kwessie van “veilige ruimtes”. Enersyds was dit as gevolg van eie ervarings. Andersyds was dit as gevolg van waarneming van ander persone as deel van ‘n groep, gesprek of vergadering. In die tyd wat ek hieroor gedink het, het ek opmerkings gehoor soos:
“Naam… is nie reg nie, eintlik is dit hoe ons oor die saak moet dink.”
In hierdie situasie sal “naam” waarskynlik nie weer aan die gesprek deelneem nie, “naam” is verkeerd.
“Wat jy sê is waar, maar ons het dit al probeer en dit is ‘n probleem waarop ons nie die antwoord het nie.”
So ‘n persoon sal nie die vrymoedigheid hê om weer aan die gesprek deel te neem nie. Hoe weet ek wanneer ek weer iets sê wat hierdie groep se ervaring alreeds ‘n finale mening oor laat vorm het?
NEGATIEWE VEILIGE RUIMTE
Daar is iets soos negatiewe veilige ruimtes. Negatiewe veilige ruimtes is ruimtes wat geskep word en waar jy daarvan verseker word dat jou idees en oortuigings nie bevraagteken gaan word nie.
“In most cases, safe spaces are innocuous gatherings of like-minded people who agree to refrain from ridicule, criticism or what they term microaggressions… so that everyone can relax enough to explore the nuances of, say, a fluid gender identity.”
Indien ‘n kerk of gemeente op hierdie manier ‘n veilige ruimte wil wees, is daar geen ruimte meer vir groei nie. Die word “mikro-agressie” het my opgeval in verskeie artikels wat ek hieroor gelees het. Dit lyk vir my mikro-agressie is ‘n baie subtiele vorm van agressie wat veral daartoe bydra dat nuwelinge op hulle plek gehou word en nie toegelaat word om die die status quo te versteur nie.
POSITIEWE VEILIGE RUIMTE
Daar is egter ‘n ander, positiewe en selfs noodsaaklike, veilige ruimte waarsonder individuele en organisatoriese groei nie kan plaasvind nie. In hierdie veilige ruimte wil ons juis mense aanmoedig om te praat. In hierdie veilige ruimte moet deelnemers juis daarvan bewus wees dat hulle deel wees van die groep hulle ongemaklik gaan maak. In ‘n gesonde veilige ruimte moet dit juis veilig wees vir elkeen in die ruimte om intelektuele risikos te neem waar elkeen die reg en die vryheid om ander ongemaklik te laat voel met hulle idees en rasionele argumente. In hierdie veilige ruimte het elkeen die REG om gehoor te word sonder enige vrees en saam met die reg om gehoor en verstaan te word, gaan die VERANTWOORDELIKHEID om na ander te luister en te verseker dat ek ook verstaan wat hulle wil sê.
Within marginalized communities, safe space refers to a space where you can let your guard down and speak freely with other people who get what you’re experiencing and aren’t going to attack you for speaking with less than impeccably defensible logic at all times. (Lees hierdie artikel HIER)
My ervaring is dat die konteks waarbinne ek meestal funksioneer (die kerk) nie altyd so ‘n veilige ruimte is nie. Natuurlik beteken dit dan ook dat die kerk nie ‘n veilige ruimte is om na die randfigure van die samelewing te luister nie, maar ons sal eers moet seker maak dat ons ‘n veilige ruimte is vir die wat reeds deel van ons is voordat ons daarvan kan droom om ‘n veilige ruimte vir randfigure te wees of te skep. (Ek vermoed dat dit nie in ander plekke, situasies, gemeenskappe baie beter of anders is as in die kerk nie).
Een van die redes hiervoor is waarskynlik dat daar in die kerk en in elke gemeente uiteenlopende menings oor sake en standpunte oor menings en interpretasies van die Bybel is. Daarmee saam werk ons in die kerk en gemeentes met verskillende generasies. Gisteraand het ons ‘n gesprek gehad waar die jongste persoon ‘n tweede jaar student is en die oudste persoon ‘n afgetrede professor. Met ander woorde, daar is uiteenlopende generasies en uiteenlopende denke. Kom ons noem dit diversiteit.
Indien ons nie daarin slaag om van situasies soos hierdie veilige ruimte te maak nie, dan sal die diversitiet aanleiding gee tot geskeidenheid en selfs verskeurdheid. Indien ons egter daarin kan slaag om van sulke geleenthede veilige ruimtes te maak, dan sal ons eenheid in diversiteit kan beleef.
‘n Veilige ruimte is onder andere ‘n ruimte waar die wat daar is beleef dat hulle daar hoort (EK BEHOORT) en dat dit vir die ander saak maak (EK MAAK SAAK) dat hulle wel daar is. In ‘n veilige ruimte waar ons groei en ontwikkeling (EK GROEI) wil sien gebeur sal al die deelnemers ook moet aanvaar dat my mening (wat ek sien as die normatiewe mening) (EK WORD GEHOOR) uitgedaag gaan word (EK LEER). Die uitdaging van my mening as die normatiewe mening, beteken nie dat my mening verwerp word nie, maar skep eerder ‘n veilige ruimte waar my mening verbreed, en selfs indien nodig verander kan word, maar heel waarskynlik eerder as meer genuanseerd na vore gaan kom (EK LUISTER). Indien nodig sal ek tot die insig kom dat my mening (wat ek gedink het die normatiewe mening is)
In dieselfde artikel hier bo skryf die persoon:
As a pastor, I also see another meaning for safe space that describes a community rooted strongly enough in grace that everyone is safe in the sense that they will not be mocked, abused, or thrown out regardless of what they say.
Ek sou graag die gemeente (en die kerkverband) waar ek predikant is wil sien as ‘n ruimte wat vry is van enige veroordeling, waar dit heeltemal aanvaarbaar is om vrae te hê, met onsekerhede te worstel en sterk menings te hê oor die sake wat vir my/ons belangrik is, net so lank as wat ons mekaar in liefde aanvaar en in liefde na mekaar luister.
Ek dink dat ‘n missionale gemeente wat deel wil wees van dit waarmee God besig is, sal baie hard daaraan moet werk om van die gemeente ‘n positiewe veilige ruimte te maak. Hierdie veilige ruimtes sal in ons gesinne moet gebeur en is noodsaaklik vir alle kleingroepe en alle vergaderings van die kerk. Indien gesinne, kleingroepe en vergaderings dit regkry om veilige ruimtes te word, sal die gemeente vanself ook ‘n veilige ruimte word waar die randfigure van die samelewing welkom sal voel en waar geestelike en persoonlike groei deur die werking van die Heilige Gees kan plaasvind.
Laat 'n boodskap