Volgens ‘n verklaring deur die regering is daar ‘n plan vir Vrydag:
“Die sosialemediaboodskappe word gestuur om die land se beeld in oneer te bring, om die ekonomie te ontwrig en om die indruk van wanorde en vrees in gemeenskappe te wek.
“Burgerlike organisasies, sakeondernemings en die samelewing in die geheel word aangemoedig om saam met die regering te werk om ons demokrasie te versterk om sodoende ’n beter Suid-Afrika te skep en by te dra tot ’n beter en veiliger Suid-Afrika,”
Eerstens is ek bly daar is ‘n plan. ‘n Plan wat blykbaar deur ten minste al die opposisie partye gesteun word. Die plan behels dat almal wat ontwrig, ontsteld en kwaad is oor die effek van President Jacob Zuma se kabinetskommeling aan massaoptrede sal deelneem.
Tweedens kan ek nie anders as om die geweldige ironie in die kommer van die regering raak te sien nie. Hulle is bekommerd dat hierdie protes die land se beeld oneer gaan aandoen; die ekonomie gaan ontwig; die indruk van wanorde en vrees gaan skep.
Hoe lagwekkend is hierdie kommer nie. Dit is presies wat die regering gedoen het. Die Guptakrasie het ons land se beeld onbeskryflike oneer aangedoen. As jy iets wil verstaan van ‘n ekonomie wat ontwrig is en steeds ontwrig word, gaan kyk na die wêreldmarkte se reaksie sedert verlede Maandag toe Gordhan van sy oorsese reis teruggeroep is. Die enigste wanoorde is die president van die ANC en Suid Afrika wat hom nie eers aan sy eie leierskap steur nie, maar eerder dans op die deuntjie wat die Guptas speel. Watter groot vrees is daar by die armstes van die armes en die mees weerloses in hierdie land dat deur hulle presiedent se optrede, hulle nie net Vrydagoggend nog armer wakker geword het nie, maar dat hulle daagliks steeds armer word as gevolg van hierdie waansinnige optrede.
Die boodskap wat op sosiale media die rondte doen is:
“Every citizen, every city, everyone that cares about our country. Not because of the DA or any political party but because of South Africans. Do not go to work, or to school or do anything unless you’re taking to the streets in protest.
Block highways, stand with your communities, go to political houses, go to prayer meetings, arrange your own marches. Do whatever you can to make your voice heard.”
Sal ons wat werklik opreg bekommerd is oor wat besig is om te gebeur, die moed hê om hieraan gehoor te gee? Sal werkgewers (en baie van ons is werkgewers) die moed hê om die dag hulle besighede te sluit. Sal werknemers die dag die moed hê om nie te gaan werk nie? Sal ons, vir wie protesoptogte so vreemd is, die moed hê om ten minste ‘n gebedsgeleentheid by te woon vir hierdie moeilike saak? Sal sommige van ons dalk die moed hê om tog deel te gaan wees van ‘n protesoptog iewers?
Ek vra hierdie vraag, want ek dink ons kinders en ons kinders se kinders gaan eendag vir ons vra: Wat het julle gedoen toe hierdie verskriklike onreg die land getref het?
Hoe gaan jy op hierdie situasie reageer?
My siening is nie almal dink en doen en verstaan op dieselfde vlak nie. Hierdie is werklik al lankal al die grootste seer wat seker nog nooit reg gedokter is nie. Ons Hemelse Vader se tyd is naby om ‘n einde te maak aan hierdie bose-sweer.