LITURGIE VIR STILWEES (1/03/2017))

Hier is my liturgie vir vandag se stilwees. Dalk kan dit jou help

TOETREDE

Die aarde is vol van U heerlikheid. Vir ‘n paar oomblikke vertoef ek in die teenwoordigheid van die Een. U was reeds hier. U verwelkom my in U teenwoordigheid. U teenwoordigheid vul my hele wese. Tot diep binne in my diepste menswees. Die aarde is vol van U heerlikheid.

VRYHEID

U het my vrygemaak. Vrygemaak om te kan kies. Nie meer gebonde en uitgelewer aan die sondige natuur waar ek geen keuse het nie. In vryheid onderwerp ek my aan U, gee ek my hele menswees oor in U deurboorde hande van liefde en deernis. Wel wetende dat u met genade en teerheid met my sal werk.

TEENWOORDIGHEID

Waar ek ookal gaan, U is reeds daar. Net soos U nou reeds hier was toe ek ingestap het. Gee aan my die genade om hierdie teenwoordigheid in hierdie dag en meer in elke ander dag raak te sien. Ontmoet my in die stiltes van hierdie dag.

DIE WOORD

As julle armes help

1 “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.

2 “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 3 Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4 sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

As julle bid

5 “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 6 Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

As julle vas

16 “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 17 Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig 18 sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

 NADINK (MEDITASIE)

Vandag is As-Woensdag, die eerste dag in Lydenstyd. Ek het vanoggend ‘n As-Woensdag geleentheid saam met ‘n groep predikante van die NG Kerk bygewoon. Lydenstyd gaan dikwels gepaard met die maak van sekere verbintenisse asook die prysgawe van iets wat gesien word as ‘n “vas” om juis aan daardie verbintenisse aandag te gee. By die geleentheid het iemand daar juis na my toe gekom en ‘n opmerking gemaak oor “Die Koffietafel” en hoe hy dit altyd gelees het. Dit het my toe laat besluit dat ek vir lydenstyd daagliks my persoonlike “Liturgie vir Stilwees” hier gaan kom plaas. Tog interessant dat die teks vir vandag juis sê dat ons nie ons godsdienstige pligte in die openbaar moet nakom om deur ander gesien te word nie. Is dit wat ek doen?

By vorige geleenthede is ek wel daarvan beskuldig en dit is een van die redes waarom ek my rug op Facebook en ander sosiale media gedraai het. (Terloops, hierdie skrywe verskyn outomaties op facebook van my webblad af.) Ek is egter ook bewus daarvan dat die gebede wat ek vir ‘n lang tyd geskryf het deur baie mense gebruik is. Ek is ook bewus daarvan dat baie mense juis worstel met stiltetyd en hoe om dit sinvol in te kleur. Hierdie is my persoonlike liturgie vir wanneer ek tyd alleen met die Here deurbring. Dalk kan dit jou ook help.

As die tyd my toelaat gaan ek vir ses weke daagliks so ‘n liturgie hier kom plaas. Gebruik dit soos jy goeddink.

Terwyl jy nadink (mediteer), dink hieroor:

  • Watter vebintenis sou jy kon maak? Iets wat jy onderneem om vir hierdie ses weke te doen.
  • Wat sou jy kon prysgee (vas) vir hierdie ses weke om dit dan eerder te vervang met dit waartoe jy jou verbind?
  • Watter beeld skep Jesus in hierdie verse van die Vader? Wat het vir jou die meste betekenis?

JOERNAAL

Jy kan jou nadink/meditasie in ‘n geestelike dagboek of joernaal skryf.

GEBED/GESPREK

(Gebruik hierdie gebede om jou gesprek met God verder te neem deur daarop uit te brei.)

Here, U het my naam in U handpalms gegraveer. Selfs al sou ander my vergeet, U sal my nooit vergeet nie.

Here U het my na U beeld geskep, leer my om as skepsel na U beeld U verteenwoordiger in hierdie gebroke wêreld te wees.

Here, U het my oorlaai met goedheid, maak my ‘n kanaal van U goedheid na die mense wat in hierdie dag oor my pad sal kom.

LEEF

Laat Heer U liefde deur my vloei.

Waar haat is laat ek daar U liefde bring.

Advertisements

Lewer kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s