Ek het Maandag Leonard Sweet se toerustingsgeleentheid, wat deur e-kerk gereël is, by Pierre van Ryneveld bygewoon . Ek kan my eenvoudig verluister aan die man se manier van praat. Hy is ‘n bobaas storieverteller wat stories op so ‘n manier vertel dat jy deel van die storie word en voor jy jou weer kom kry, word jy deur die storie gevorm.
‘n Paar dinge wat hy gesê het, het my nogal laat dink. Hy het gepraat van die belangrike rol wat die etenstafel in die Joodse lewe gespeel het en onder andere ook in die lewe van die Amish in die VSA. Rondom die etenstafel word stories vertel en verskillende geslagte leer om na mekaar te luister. Hy vertel toe in besonder dat wanneer iemand van ‘n Amish-gesin op sy eie wil gaan om Hom-/haarself te “vind” buite die Amish-gemeenskap, dan hou daardie gesin aan om vir hom ‘n plek aan die tafel te dek. Net die dek van die plek aan die tafel vertel reeds ‘n storie. Sommige gesinne skep selfs kos in vir die een wat weg is om hom-/haarself te vind. Ouers weet wat dit beteken om te bid sonder om ‘n woord te sê. Hoeveel onuitgesproke gebede word gebid terwyl die tafel gedek word, die kos opgeskep word, en die leë sitplek by elke etenstafel gesien word. Ons moet gaan dink hoe ons die etenstafel gaan terugbring in huise, gemeentes en gemeenskappe.
Hy het ook die baie belangrike opmerking gemaak dat hierdie baie opwindende tye is waarin ons lewe. Ons in SUid AFrika en in die NG Kerk verstaan van opwindende tye. Maar hierdie is nie noodwendig lekker tye en lekker oomblikke nie. Ons is twintigste eeuse mense wat in die een en twintigste eeu getuies van die drie-enige God moet wees. Hierdie is nie maklike tye nie. As ek kon kies, sou ek nie in hierdie tyd wou bedien nie. As ek kosn kies ou ek nie sekere dinge in my bediening wou hanteer nie. Ek is gemaklik in die tyd waarin ek groot geword het en die tyd waarin ek gevorm is. Maar, die feit dat ek nie hier wil wees nie, maak nie dat ek die verantwoordelik van die nou by my verby kan laat gaan nie. God het ons, die kerk, geroep vir ‘n tyd soos hierdie, nie vir enige ander tyd nie. Ons as die kerk moet gewoon leer om in die 21ste eeu te dien. God het my en elke ander gelowige juis vir ‘n tyd soos hierdie in hierdie land, in hierdie gemeente en in hierdie gemeenskap geplaas.
Meeste van alles het hy vir my verduidelik wat dit beteken om in harmonie te lewe. Leonard Sweet het daarop gewys dat ons vir te lank net een melodie gesing het. Die kerk moet leer om in harmoenie tesing. Hy het ons herinner dat wanneer ‘n groep in harmonie sing, sing almal nie dieselfde melodie nie, almal sing nie eers op dieselfde oomblik dieselfde woorde nie, almal sing nie op dieselfde ritme nie en almal sing nie eers van dieselfde bladsy af nie. “But everyone is singing a lovesong to Jesus.” Ek wil in harmonie sing.
WOW!