DIe wysiging van kerkorde Artikel 1 is in sekere kringe hoog op die agenda van dit wat tans besig is om in die NG Kerk te gebeur. Ek dink ek behoort van die begin af my kaarte op die tafel te sit. Ek is van mening dat lidmate van die NG Kerk “Ja” moet stem vir die wysiging van Artikel 1. Die redes waarom ek so sê, is die volgende:
Eerstens maak die nuwe Artikel 1 voorsiening vir belydenisse wat nog nooit in die kerkorde vervat is nie. Op hierdie stadium maak die Artikel net voorsiening vir wat ons ken as die Drie-Formuliere van Eenheid (Die Nederlandse Geloofsbelydenis; dIe Dordtse Leerreëls en die Heidelbergse Kategismus) Een van die wat nou genoem gaan word is die Apostoliese Geloofsbelydenis. Die Apostoliese Geloofsbelydenis is die belydenis wat bekend is by die meeste van ons lidmate omdat ons dit dikwels tydens eredienste bely. Die ander twee belydenisse is die belydenisse van Athanasius en Nicea. ‘n “Ja” stem sê maak hierdie belydenisse ook deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk.
Tweedens skep die wysiging van Artikel 1 ruimte vir diegene wat die Belharbelydenis as in ooreenstemming met die Woord van God beskou en wil bely. Ek kan nie sien waarom ek iemand anders nie die ruimte wil gun om so iets te doen nie. Hierdie kan nie ‘n debat word oor die meriete van Belhar nie. Die teologiese verantwoordbaarheid van die Belhar belydenis is reeds in 1998 deur die Algemene SInode van die NG Kerk deurtrap en beredeneer en aanvaar, as dat dit nie in stryd is met die Drie-Formuliere van Eenheid nie of die Woord van God nie. Vir my skep hierdie Artikel juis ruimte vir diegene wat om historiese of teologiese of emosionele redes nie op hulle gemak met Belhar is nie, om dit nie te aanvaar nie. ‘n “Ja” stem skep ruimte vir mense wat op hulle gemak is met Belhar en ook vir mense wat nie op hulle gemak is nie.
Derdens maak die Artikel dit duidelik dat belydenisvorming nie onder dwang geskied nie. Niemand word verplig om enige iets te aanvaar of te bely waarmee hulle nie op hulle gemak is nie. ‘n “Ja” stem dwing niemand om enige iets teen sy sin te bely nie. ‘n “Nee” stem maak dan mos dat belydenisvorming wel onder dwang geskied aangesien andersdenkendes gedwing word om nie in ooreenstemming met hulle oortuigings en gewete te handel of op te tree nie.
Ek hoor die redenasie van sommige mense (veral leraars) wat sê dat die Algemene SInode die besluit moes neem en daarmee kon hierdie saak afgehandel gewees het. Die punt is dat dit eerstens nie kerkregtelik moontlik is om dit so te doen nie. Die wysiging van die belydenisgrondslag van die kerk moet met ‘n twee derde meerderheid op gemeentevlak, Streeksinodevlak en Algemene Sinode vlak gedoen word en al die streeksinodes moet met ‘n twee derde meerderheid ten gunste van die wysiging stem.
Tweedens is ‘n Algemene SInode besluit gerieflik want dan hoef ek nie op voetsoolvlak eienaarskap te aanvaar nie. My vraag is of ons as leraars en ander leiers op gemeentevlak nie nou die geleentheid het om tog te sê hoe ons oor hierdie saak dink en voel nie. As die Algemene Sinode die besluit neem, is dit net so maklik om die ontevredenheid van lidmate op voetsoolvlak te “hanteer” met die gedagte dat die Algemene Sinode besluit het en ek kan nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie. Dominees en kerkraadslede sal hierdie keer na vore moet kom en sê: “Gemeente, dit is hoe ek teologies en prinsipieel oor hierdie saak dink en voel.”
Dalk oorvereenvoudig ek hierdie aangeleentheid, maar op die ou end sê hierdie proses: As ek “ja” stem dan kan ek die Belharbelydenis deel maak van die belydenisgrondslag sodat die wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God wil bely, dit so kan doen. Die wat nie wil nie, hoef nie.
As ek “nee” stem dan sê ek: “Ek stem met iets hier nie saam nie, en daarom mag niemand anders die geleentheid hê om Belhar so te hanteer nie.”
Ek lees die “Mening”, dink daaroor en lees dit toe versigtig weer deur.
Ek lees onder andere dat ‘n “nee” stem nie ruimte laat vir die mense wat “ja” stem nie.
Hierdie opmerking stem nogal baie ooreen met die Jan van Riebeeck storie.
My enigste opmerking is dus: Hoekom dan deur die lomp proses van stemming gaan.?Maak Belhar eenvoudig deel van die beleidenisse en laat die wat dit wil belei so maak en die wat dit nie wil doen nie, ook maar so maak.
So kan ons maar met alles maak. Laat ruimte vir alle mense se keuses. As jy wil trou voor jy met ‘n gesin wil begin, doen so, maar laat ruimte vir die wat nie wil trou en buite egtelike kinders in die lewe wil bring en so kan ons aanhou.
Of die stem nou “ja” of ” nee” is aanvaar die uitslag en leef daarmee saam.
Hierdie mening van “nee” laat nie ruimte vir die wat “ja”
Ek weet nie hoekom word daar so gekarring aan als nie. Waarom kan ons nie soos ons voorgeslagte net in rus en vrede ons geloof uitleef soos dit geskrywe staan in die Lewendige Woord van God nie.
Christelle, my vraag is maar altyd: Hoe ver terug gaan die voorgeslagte? Kies ons werklik vir ‘n tipe van kerkwees en Christenwees waar niks nooit verander nie. Is dit nie juis die wese van ons kerk wees dat ons op grond van nuwe insigte en nuwe verstaan tot nuwe handelinge oorgaan nie.
Als in die lewe kan verander maar GOD se Woord sal nooit verander .
Ek wil nou ook my sent in die armbeurs gooi deur die volgende vrae te vra;
Hoekom word die ander geskrifte (Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Anthanasius) nou skielik by die voorgestelde nuwe Artikel 1 ingesluit??? Moet dit nou Belhar help om in te kom???? … Die bogenoemde belydenisskrifte was nog nooit in openbare debatte bespreek nie en van hulle word heel dikwels tydens eredienste gebruik. ….of word lidmate se intelligensie onderskat???? Ek is nie ‘n teoloog nie en kan nie begryp hoekom Belhar so krities vir die NG kerk geword het nie.