Preek: Kersdag 2014 Hebreërs 1:1-10

Stille Nag

Kersdag kan ʼn mens nogal met gemengde gevoelens laat. Aan die een kant die rustigheid en die vrede wat eintlik net met ʼn kersoggend gepaard kan gaan. Rustigheid omdat alles toe tog gedoen gekom het. Rustigheid, sommer net omdat dit Kersdag is en dit is hoe dit veronderstel is om te wees.

Die gemengde gevoelens kom wanneer jy jouself toelaat om bietjie te dink oor alles wat gebeur en wat besig is om te gebeur. Op Oukersaand wanneer persente gewoonlik oopgemaak word en op Kersdag self wanneer ons kerk toe gaan. As jy jouself net so ʼn bietjie kans gee om te dink, dan wonder jy: Is dit nou waaroor al die bohaai gegaan het? Is daar nie meer as net dit wat ons nou hier beleef nie?

Hierdie gemengde gevoelens maak dat ʼn mens dalk dink dat as jy volgende jaar net ʼn klein bietjie meer moeite met familie en vriende en geskenke en vakansiereëlings doen, dan sal die dag dalk vir jou ook anders wees.

Die wat op ʼn Kersfeesmore kerk toe gaan beleef hierdie gevoel dalk nog meer. Ons ken die verhaal nou al so goed. Dalk al te goed. Ons probeer ons indink in hoe dit moes gewees het om Josef of Maria of een van die herders of een van die wyse manne te wees. Maar ons kan ons nie regtig in daardie omstandighede indink nie. En nou het die verhaal so bekend geraak dat ons selfs hier kom sit en in ʼn mate verwag om maar net te hoor wat ons nog elke ander jaar rondom Kersfees hoor.

Die geskarrel rondom Kersfees en al die tradisies en gebruike en die jaarlikse bohaai daaroor, kan ʼn mens nogal met ʼn leemte laat. As jy nie versigtig is nie, dan word daardie leemte ʼn stuk leegheid wat jy net nie kan afskud nie. ʼn Leegheid wat baie maklik tot gevolg kan hê dat jy sê: Hierdie is die laaste Kersfees wat ek kerk toe kom.

Hierdie leemte of leegheid kan baie name kry. Maar kom ons noem dit vanoggend: Stilte. Met ander woorde kom, ons dink nie negatief oor hierdie leemte of leegheid nie. Kom ons gee dit ʼn beter naam. Ons noem dit stilte. Dalk die stilte waarvan ons sing as ons Stille Nag sing.

Ek dink nie dit was die eerste Kersfees juis stil nie. Elke hoekie en gaatjie in die klein dorpie Betlehem was vol mense. Familie en jeugvriende wat mekaar in baie jare nie gesien het nie, wat mekaar nou weer vir die eerste keer sien. Ek dink nie dit was stil nie. Maar tog moes daar ʼn stuk heiligheid, andersheid in die nag gewees het. ʼn Stilte wat jaarliks terugkeer na elkeen van ons toe. ʼn Stilte wat deur die Skepper self in ons gewerk word.  ʼn Onverklaarbare stilte. Maar tog is dit ʼn bewustelike stilte. Dit is ʼn stilte wat vra om gebreek te word.

ʼn Stilte wat maak dat ʼn mens jou ore spits. Wat sal dit wees wat hierdie stilte binnedring. Kan dit dalk ʼn stem wees? ʼn Stem wat rus en vrede en kalmte bring. Ek dink die Een oor wie hierdie dag eintlik gaan sou graag in hierdie stilte wou praat. SY stem laat hoor.

Hebreërs 1 gaan juis oor hierdie Een. Die skrywer van die brief is opgewonde oor die Een. Hy kan nie uitgepraat raak oor die Een nie. Vers 1-4 is in die Grieks een lang sin. In daardie tyd was dit ʼn teken dat jy die kuns van skryf onder die knie het as jy so ʼn lang sin kan skryf.

In hierdie een sin skryf die skrywer sewe wonderlike dinge oor die Een oor wie vandag gaan en die Een oor wie sy brief gaan. Die Een wie se stem jy dalk in jou eie stilte wil hoor praat.

Mens sou kon sê dat die skrywer se eerste lesers ook ʼn stilte beleef het. ʼn Stilte wat gemaak het dat hulle vra: Is hierdie Jesus regtig wie ons gedink het Hy is? Is hierdie Jesus van Nasaret regtig die Messias? Is Hy alles wat ons sê dat Hy is? Waaroor gaan dit alles? Tussen hulle kon hulle nie die antwoorde op hierdie vrae kry nie. Hulle was verward. Die groepe wat hulle anders wou oortuig se stemme was so oorweldigend dat dit net stil was binne hulle. Soos wanneer dit duidelik word dat dit waarop jy gehoop het, nie gaan gebeur nie en nie die waarheid is nie.

Die skrywer skryf hierdie brief om daardie vrae te beantwoord en die stilte te besweer.

Die Een oor wie dit gaan staan bekend as die Seun. Ons weet natuurlik dit is die Seun van God. Hierdie dag vier ons die geboorte van die Seun oor wie hierdie skrywer skryf. Wie is die Seun? Ds. Hennie het verlede Sondag gesê: Hy is Immanuel! Immanuel beteken God met ons.

Die skrywer maak ʼn belangrike punt oor die Een, oor wie dit gaan. “… nou in hierdie laaste dae het Hy met ons gepraat deur die Seun.” (Hebr. 1:2) Maar dit is nie asof God nog nooit voorheen gepraat het nie. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete…” (Hebr. 1:1) Op Kersdag praat God met ons deur sy Seun. God breek die stilte. Hy praat deur die Seun.

In hierdie vier verse wat eintlik een sin is noem die skrywer sewe wonderlike dinge oor die Seun. Sewe, want sewe is die volmaakte getal. Sewe, want in die Seun het God alles gesê wat Hy moontlik kan sê.

Die sewe dinge wat hy oor die Seun sê is:

  1. Die Seun is erfgenaam van alle dinge (1:2).
  2. Die Seun is die Een deur wie God alles geskep het. (1:2) Hy erf in elk geval net wat Hy geskep het.
  3. Uit die Seun straal die heerlikheid – tabernakel heerlikheid – van God. (1:3)
  4. Hy is die ewebeeld van die wese van God. (1:3) Hy is die afdruk van die wese van God. In die Seun sien ons wie die Vader regtig is.
  5. Hy hou alle dinge in stand. Die teenwoordigheid van die Seun en die betrokkenheid van die Seun strek oor verlede hede en toekoms.
  6. Hy is ons Hoëpriester. Hy het reiniging van al ons sondes bewerk. (1:3) Hy het ons swakhede op Hom geneem. Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
  7. Hy sit aan die regterhand van die Vader (1:3). Hy is nie net meer as die profete nie, Hy is ook meer as die engele (1:4). Oneindig meer. Hy is groter as en meer as enige denkbare magte en kragte.

God was nie tot nou toe stil nie. God het deur die eeue op verskillende tye en op verskillende plekke en op verskillende maniere deur die profete gepraat. Maar nou het God in die stilte gepraat. Kersfees vier daardie praat van God in die stilte. Kersfees vier die geboorte van die Seun van God. God wat mens geword het.

In die tyd waarin ons lewe raak ons al hoe minder opgewonde oor feite. Met ander woorde, die sewe wonderlike dinge oor die Seun is sekerlik waar en dit het sekerlik alles besondere betekenis, maar feite breek nie die stilte nie. Dit is asof die skrywer dit baie goed besef. Kom ons kyk wat doen hy volgende.

Geboorte van kinders gaan onder andere gepaard met hierdie groot vraag wat veral deur die oupas en die oumas gevra word: Wat gaan julle hierdie kind noem? Het jy agtergekom dat die skrywer terughou op die naam van die Seun. Tot nou toe ken ons Hom net as die Seun.

Die skrywer wil God die geleentheid gee om vir sy Seun ʼn Naam te gee. Die stilte van die eerste lesers kan dalk gebreek word as hulle hoor wat God sy Seun noem.  God het aan hierdie Seun ʼn besondere naam gegee. “Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam is wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.” (Hebr. 1:4)

Van vers 5 af word die baie besondere posisie van die Seun beskryf. “Immers aan wie van die engele het God ooit gesê: ‘Jy is my Seun van vandag af is Ek jou Vader,’ en ook: ‘Ek sal sy Vader wees en Hy sal my Seun wees’? En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring sê Hy: Ál die engele van God moet Hom aanbid.’” (Hebreërs 1:5-6)  Geen ander mens of wese het die verhouding met God soos die verhouding wat die Seun met Hom het nie.

In hierdie verse, stapel die skrywer Ou Testamentiese op mekaar en hy ryg hulle aan mekaar om dit vir die lesers duidelik te maak: Hierdie is die Een op wie julle gewag het. Hierdie is die een wat julle verwag het. Hierdie is die Een na wie die Ou Testament verwys. Hierdie is die Een wat moes kom. Hierdie is die Seun van God. God is sy Vader soos God geen ander iets of iemand se Vader is nie.

Die Een wie se geboorte ons op hierdie dag vier, staan in ʼn unieke verhouding tot die Vader. Hy is die Seun van die Vader. Die Naam wat meer verhewe is as enige ander naam wat aan enige iets of iemand anders gegee is, is aan die Seun gegee.

Maar die Naam wat meer voortreflik is as enige ander naam, is nog nie gesê nie. Hier kom dit:

“[V]an die Seun sê Hy: ‘U troon, o God, staan vir ewig vas…’” (Hebr 1:8) ‘

Ën verder: ’U, Here, het in die begin die aarde gevestig..” (Hebr 1:10)

Hoor die Naam wat meer voortreflik is as enige ander naam. Die Naam wat die Vader self vir sy Seun gee. Die Seun is God en Here. Wanneer mens hierdie woorde lees, dan dink jy byna onwillekeurig aan Tomas. Tomas wat nie by was toe Jesus die eerste keer na sy opstanding aan die ander dissipels verskyn het nie. Wanneer Jesus dan in lewende lywe voor hom staan bely Tomas: “My Here en my God.”

Hierdie is die boodskap van Kersfees. God het mens geword. Hy het onder ons kom woon. Hy het een van ons geword en een met ons geword.

Die Seun is God wat mens geword het. Hierdie menswording beteken natuurlik dat Hy aan die kruis gesterf het en vir ons verlossing bewerk het. Deur Hom word ons van ons sonde gereinig. Hierdie sonde beteken natuurlik al daardie dinge wat ek en jy doen wat teen God se wil is en wat maak dat ons verhouding met God nie is wat dit moet wees nie.

Maar selfs al hierdie dinge het jy as Kersfeesvierder reeds geweet. Die stilte is nog daar. Jy kan selfs die verhaal nog verder vertel. Jesus is nie net gebore nie. Hy is ook gekruisig. Hy het ook gesterwe. Hy het vir ons verlossing van ons sonde bewerk.

Daar is meer. Hierdie kindjie, hierdie Seun, vir 33 jaar op hierdie stukkende aarde geleef het en dat Hy tot by mense in hulle nood gekom het. Hy het die stiltes in mense se lewens raakgesien. Hy het die stiltes in mense lewens met sy liefdevolle stem binnegedring. In die stiltes wat hulle beleef het, het Jesus nie net kom praat nie. Hy het ook verskyn. God het met ons gepraat deur die Seun (1:2)

Walter Wangerin Jr vertel hierdie baie besondere storie. Hy noem die storie Ragman. Die Lapman. Ek gaan die storie wat hy vertel, vertel soos hy dit vertel. Asof dit met my gebeur het.

Een Vrydagoggend, voor dagbreek het ek ʼn jong man gewaar wat in die strate in ons stad rondgeloop het. Die jong man was aantreklik en sterk. Hy het ʼn ou trollie met nuwe klere agter hom aangetrek. In ʼn duidelike en helder stem het hy geroep: “Lappe, lappe! Gee my jou verslete, vuil en ou lap en ek sal vir jou ʼn nuwe een gee. Lappe! Lappe!”

Hierdie was vir my ʼn wonderlike ding. Hierdie jong man was ʼn rapsie oor die twee meter lank met fris, gespierde arms en intelligente oë. Kan hy geen ander werk kry as om Lapman in die middestad te wees nie?

Ek kon nie anders nie, ek moes hom volg. Ek was net te nuuskierig. Op ʼn veilige afstand het ek al agter hom aangestap.

Nie lank nie, toe sien die Lapman ʼn vrou op haar stoep sit. Met ʼn sakdoek voor haar gesig het sy gesit en bitterlik. Die hartseer van duisend trane. Die oomblik toe hy haar sien, het die Lapman sy trollie gestop. In stilte het hy nader gestap na die vrou toe.

“Gee vir my jou lap,” sê hy met besondere teerheid vir haar, “ek sal vir jou ʼn ander een gee.”

Saggies het hy die sakdoek weggetrek van haar oë af. Sy het opgekyk, en hy het in haar hand ʼn ander stukkie lap neergesit. Helder skoon en nuut. Haar oë het beweeg tussen geskenk en gewer.

En toe, toe die Lapman weer begin om sy trollie te trek, het die vreemdste ding gebeur. Hy het die trane-gevlekte-sakdoek na sy eie gesig toe gebring; en toe begin hy huil. Hy huil met dieselfde hartseer as wat die vrou gehuil het by wie hy die sakdoek gevat het. Sy skouers het geruk. Ek het na haar gekyk. Haar gesig was skoon. Geen teken van hartseer. Geen traan meer in haar oë nie.

“Hierdie is ʼn wonderlike ding,” het ek vir myself gesê. Ek het die snikkende Lapman gevolg soos ʼn kind wat nie kan wegdraai of wegkyk van die grootste misterie wat hy nog ooit gesien het nie.

“Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!”

Nie lank hierna nie, toe die dag begin breek, het die Lapman by ʼn jong meisie gekom wie se kop met ʼn verband verbind was. Haar oë was leeg. Bloed het deur die verband om haar kop gesyfer. ʼn Enkele straaltjie bloed het teen haar wang afgeloop.

Die Lapman het met besondere deernis na die jong meisie gekyk. Hy het die mooiste geel hoedjie uit sy trollie uitgehaal.

“Gee vir my jou lap,” het hy vir haar gesê, “en ek sal vir jou myne gee.”

Die jong meisie kon net na hom kyk terwyl hy die verband losmaak, dit afhaal, en dit om sy eie kop vasmaak. Die vrolike geel hoedjie het hy op haar kop gesit. Ek kon nie glo wat gebeur nie. Saam met die verband het ook die wond gegaan! Die wond was nou op sy kop. Die vlek op die verband was helderder. Dit was sy eie bloed wat deur die verband gesyfer het.

“Lappe! Lappe! Ek vat jou ou lappe” het die man geroep.

Die son het al hoog gesit en het warm op my gebak. Die Lapman het al hoe haastiger geraak.

“Gaan jy werk toe?” het hy vir ʼn man gevra wat teen ʼn lamppaal gelê het. Die man het sy kop geskud.

“Is jy gek?” het die man gevra. Hy het weggestaan van die paal af. Die regter mou van sy baadjie was leeg. Hy het nie ʼn arm nie.

“So,” sê die Lapman. “Gee vir my jou baadjie, dan gee ek vir jou myne.” Sagte, dog duidelike gesag in sy stem.

Die man met die een arm het sy baadjie uitgetrek. So ook die Lapman – ek het gebewe toe ek sien wat gebeur. Die Lapman se arm het in sy mou gebly. Toe die ander man sy baadjie aantrek, toe het hy twee gesonde arms. Maar die Lapman het net een.

“Gaan werk toe,” het hy vir die man gesê.

Hierna kom hy by die plaaslike dronkie wat langs die bottelstoor sy roes lê en afslaap. Hy het vir hom skoon nuwe klere gelos. Daarna ʼn ou man wat krom getrek is deur die siekte, wat onder ʼn kombers sit. Hy het die ou man ʼn nuwe kombers gegee en die ou man se kombers om homself gevou. Skielik het hy soos ʼn siek man gelyk.

Hierna moes ek byna hardloop om by die Lapman te bly. Alhoewel hy onbeheerst gehuil het, en vryelik aan sy kop gebloei het terwyl hy sy trollie met net een arm trek en strompel van dronkenskap, terwyl hy weer en weer neerval, het hy uitgeput, oud en siek tog steeds teen ʼn besondere spoed beweeg. Op maer bene het hy voortgestrompel tot hy by die buitewyke van die stad gekom het.

Ek het gehuil oor die verandering wat ek in de man gesien het. Ek het seergekry om sy hartseer te beleef. Tog moes ek te alle koste sien waarheen hy met so ʼn spoed op pad was. Dalk wou ek weet wat dit was wat hom so voortgedryf het.

Die klein ou Lapmannetjie het by die plaaslike vullishoop gekom. Ek wou hom help met wat hy doen, maar ek het myself ingehou. Ek het weggekruip. Hy het teen ʼn opdraande uitgeklim. Met erge moeite het hy ʼn plekkie skoon gemaak. Toe het hy gesug. Hy het gaan lê. Met die sakdoek en die baadjie het hy vir homself ʼn kussing gemaak. Hy het sy bene met ʼn ou kombers toegemaak. En so het hy gesterf.

Hoe het ek nie gehuil nie toe ek hom sien sterf nie. Alles binne in my het in daardie oomblik so leeg gevoel. Stilte, doodse stilte. Ek het in ʼn ou verslete kar daar op die vullishoop skuiling gevind en gehuil soos iemand sonder enige hoop. Want ek het die Lapman lief gekry. Elke ander gesig het verdof wanneer ek aan die Lapman gedink het. Ek het myself aan die slaap gehuil.

Sonder dat ek dit besef het, het ek dwarsdeur daardie Vrydag en die Vrydagnag en die Saterdag en die Saterdagnag geslaap. Maar Sondagoggend was daar skielik ʼn geweldige gebeure wat my wakker gemaak het.

Lig, spierwit, helder lig het op my gesig geskyn. Ek het my oë geknip en gekyk en ek het die eerste en laaste en grootste wonder van alles gesien. Daar was die Lapman. Hy het die kombers baie versigtig opgevou. Op sy voorkop was daar ʼn litteken. Maar hy het gelewe. Hy het nie net gelewe, hy was ook gesond. Daar was geen teken van hartseer, ouderdom en pyn nie. Al die lappe wat hy so bymekaar gemaak het, was helder skoon.

Toe het ek my kop laat sak. Al bewend na alles wat ek gesien en beleef het, het ek nader gestap na die Lapman toe. Met skaamte het ek my naam vir hom gesê. In vergelyking met hom was ek ʼn bejammerenswaardige figuurtjie.  Toe het ek net daar al my klere uitgetrek en met groot verlange in my stem vir hom gesê: “Trek my aan!”

En Lapman het my aangetrek. Hy het vir my spierwit nuwe klere aangetrek. En nou is ek ʼn wonder langs Hom. Die Lapman! Die Lapman! Die Christus, die Seun van God. My Here en my God.

En in die stilte diep binne in my het ek die stem gehoor wat ek so graag wou hoor: Jy is gereinig. Jy is nou myne. “Dit my liewe mens,” het ek Hom hoor sê, “is waaroor al die bohaai van Kersfees gaan.”

Lewer kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s