Preek: Geloftediens 16 Desember 2014

Die gelofte is op 16 Desember 1838 by Bloedrivier afgelê. Andries Pretorius was die bevelvoerder van die Voortrekkers. Sarel Cilliers was die predikant. Dit wat ons vandag as die gelofte ken, was op die oggend van 16 Desember deel van die gebed tydens die oggendgodsdiens wat deur Sarel Cilliers waargeneem is.

Hy het onder andere gebid:

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring; en dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Dit is dus 176 jaar terug wat die gelofte afgelê is. Byna 180 jaar het verloop. Met groot vrymoedigheid kan ons sê: Niks is meer dieselfde nie. Om die minste te sê, die Afrikanervolk is nie die dieselfde nie. Gelofte is in sommige geselskappe ‘n moeilike saak. Mense twyfel nie noodwendigheid aan die opregtheid van die wat die gelofte afgelê het nie. Hulle was eerlik, hulle wou opreg en gehoorsaam wees.

Die geskiedenis vertel vir ons dat selfs Andries Pretorius dit nie getrou gevier nie. Sedertdien het so baie dinge verander. Onder andere het hierdie dag nou ‘n ander naam: Versoeningsdag. Dalk is dit gepas. Op die dag het ‘n groupie mense trou belowe aan die God wat deur sy Seun Jesus Christus versoening tussen God en mens en mens en mens bewerk het. Ons kan dus versoening vier en uitleef.

Tweedens, meer en meer Afrikanermense wil niks met die dag te make hê nie. Ander bevolkingsgroepe in SA agterdogtig oor ons fees. Ons sou kon prober om die Afrikaners wat dit nie wil vier nie met ‘n skuldgevoel te manipuleer. In die postmoderne samelewing waarin ons lewe, sou dit egter waarskynlik meer kwaad as goed doen.

Eenvoudig antwoord wat sulkes gee: Ek het nie gelofte afgelê of die belofte gemaak nie. Iemand anders kan en kon my nie op so ‘n manier verbind nie.

Ons wat hier is kan egter van hierdie dag ‘n getuienisgeleentheid maak. Ons getuienis is: God het ingegryp toe mense in nood na Hom geroep het. Vandag se nood is net radikaal anders. Vandag se nood is nie ‘n militêre bedreiging nie en ‘n militêre oorwinning sou nie noodwendig uitkoms wees nie. Indien dit jou behoefte is, dan is ons nie op dieselfde bladsy nie.

Ons roeping as gelowiges is om op hierdie dag die nood rondom ons raak te sien. Om juis vandag te besef dat God ook in hierdie nood kan ingryp. Ons, die kerk, is die manier waarop God kan en wil ingryp.

Dalk kan die profeet Jesaja ons op hierdie dag help. Jesaja skryf aan ‘n volk in ballingskap. Ek wil nie nou daarop uitbrei nie: Die kerk beleef ‘n tyd van ballingskap. Die kerk leef op die rand van die samelewing . Feitlik niemand steur hulle meer aan die kerk nie. Ek dink Jesaja sou vir ons in hierdie kerkgebou vanoggend wou sê:

Onthou om te onthou.  

“Luister na My, julle wat wil reg doen, julle wat na die wil van die Here vra: Dink aan die rots waaruit julle gekap is, aan die klipgroef waaruit julle gegrawe is. Dink aan Abraham julle voorvader, aan Sara wat vir julle in die wêreld gebring het. Ek het Abraham geroep toe hy kinderloos was en Ek het hom geseën en hom ʼn groot nageslag gegee. Nou gaan die Here Hom oor Sion ontferm, Hy gaan Hom oor al die puinhope daar ontferm, Hy gaan die woestyngedeeltes maak soos Eden, die barre wêreld soos die tuin van die Here. Daar sal vreugde en blydskap in Sion wees, daar sal gedank en gesing word.” (Jesaja 51:1-3)

Onthou om te onthou. Onthou om Abraham te onthou. Jesaja spring oor baie belangrike name wanneer hy die volk oproep om te onthou. Wat van Moses en Josua en Elia en Samuel en Dawid? Nie een van hulle was die begin  nie. Onthou waar alles begin het

Onthou: God se pad met Israel begin by Abraham. Onthou: Alles begin by God.

Ons mag nie dink dat God se pad met ons hier aan die Suidpunt van Afrika op enige ander plek begin as by God wat vir Abraham roep nie.

Die verhaal van die Christene in Suid Afrika gaan verder terug as 16 Desember 1838. Ons verhaal gaan terug tot by God en meer spesifiek by God  wat vir Abraham roep.

Hoekom Abraham? Eerstens om God die inisiatief neem as Hy vir Abraham roep. Maar Abraham was ook ‘n mooi voorbeeld van getrouheid en gehoorsaamheid. In gehoorsaamheid aan God draai Abraham sy rug op die bekende. Hy gehoorsaam en trek na die onbekende. Hy gee die gemaklike lewe prys vir ‘n lewe van onsekerheid. Abraham trek na ‘n land waarvan hy nie die naam geken het nie. Abraham kon met God argumenteer oor Sodom. Abraham was bereid om sy eie seun te offer. Alles vir die toekomsbelofte wat God aan hom gemaak het.

Onthou om vir Abraham te onthou.

Hierdie kan dalk deel van ons problem wees. Ons, die Afrikanervolk, identifiseer so bietjie met Abraham. Ons lees iets van die Afrikaner verhaal in die verhaal van Abraham in. Ons voorvaders het ook die bekende vir die onbekende verruil. Ons voorvaders het ook die gemaklike prys gegee vir die onveilige. Is die gelofte nie dalk ‘n teken dat hulle ook met God geargumenteer het nie? Daar is soveel verhale in die geskiedenis van die Afrikaner wat daarop dui dat God deel was van die verhaal.

Die ooreenkomste het gemaak dat sommige begin dink het: Die Afrikaner is die nuwe uitverkore volk. Ek herinner my selfs dat onderwysers in Jeugweerbaarheidsperiodes dit so vir ons gesê het.

Maar: Onthou om te onthou, die kerk van die Here Jesus Christus is die Nuwe Israel. Die kerk se verhaal begin God wat vir Abraham roep. Onthou om vir Abraham te onthou.

Onthou ook om vir Sara te onthou. Sara het God uitgelag oor die belofte van ‘n kind op haar ouderdom. Maar God was groter as haar twyfel en kleingeloof. Isak is gebore.

Onthou om vir Sara te onthou – maar onthou in besonder God se aandeel. Sara het tog God se wil vir haar aanvaar. Sara was beskikbaar en gereed sodat God deur haar sy belofte aan Abraham kon waarmaak. Sara het geglo dat God lewe kan bring waar daar dood is. Sara het geglo dat God riviere in droë plekke kon laat opspring.

Onthou om vir Sara te onthou.

Onthou om te onthou.

Kom ons vertel vir ons kinders en kleinkinders die verhale van ons voorvaders. Maar kom ons vertel dit as kerk. Ons verhaal is deel van God se verhaal. Ons leef in ʼn tyd waar feitlik niks meer onthou word nie. Tog is die jonger geslag honger vir verhale. Ons het die voorreg om vir hulle verhale te vertel waar ons onthou om te onthou. Onthou om te onthou dat ons verhaal en ons volk se verhaal en ons kerk se verhaal eintlik God se verhaal is. Nie ons eie verhaal nie.

Toe ek hierdie week weer gaan lees hoe Leipold Scholtz Andries Pretorius, as een van die helde in die geskiedenis van die Afrikaner beskryf, toe is God nêrens in die verhaal nie. Die oorwinning bly Bloedrivier was volgens daardie verteller omdat Andries Pretorius ‘n briljante leier en krygsman was.

As ons die verhale so vertel, sal ons as Christen-Afrikaners net meer en meer van die ander Christene in ons land vervreem raak. Onthou om te onthou dat ons verhaal deel vorm van God se verhaal.

Daar is ‘n tweede ding wat Jesaja dalk vandag vir ons sou wou sê.

Onthou om te vergeet.

“Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ʼn pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. Dit is die volk wat Ek vir my geskep het, en wat my lof sal verkondig.”  (Jesaja 43:18-20)

Israel in die tyd van Jesaja het ‘n paar verhale gehad om te vertel. Dit sou byna ‘n onreg wees om sommige uit te lig. Maar dink maar aan Abraham; Isak; Josef; die Eksodus; die deurtog deur die Jordaan; die inname van Jerigo; die heldedade van die Rigters; dink maar aan die besondere verhale rondom Dawid.

Vra enige vraag oor wie en hoe God by die volk betrokke is, en die enige een van die ouer mense sal die een verhaal na die ander vertel. En die verhale sou hulle sekerheid bevestig: Ons is die uitverkore volk van God.  Hulle het onthou om die geskiedenis te onthou.

Maar, hulle het stil gaan staan by die dinge wat in die verlede gebeur het. Vir hulle sê Jesaja op ‘n mooi manier: Onthou om te vergeet. Moenie by die vroeër dinge stilstaan nie.

Hulle het die verlede geromantiseer. Die verlede was die beste tyd wat daar was. As alles maar net kan wees soos dit in die verlede was. Ons moet die verlede onthou. Maar ons moenie by die verlede stilstaan nie. Ons moet vanuit die verlede die toekoms tegemoet gaan. Nie vanuit die hede teruggryp na die verlede  nie.

Onthou om te vergeet.

Die verlede is die verlede. God is die God van die geskiedenis. Maar vandag is more se geskiedenis. Geskiedenis is lewend. God maak vandag geskiedenis. As ons nie onthou om te vergeet nie, gaan ons die stukkie geskiedenis mis.

God doen vandag ’n  nuwe ding sodat more beter kan wees. Dit is tragies dat  ons verhale vertel van God wat ’n nuwe ding gedoen het en dan nie kans sien vir die nuwe ding wat God vandag doen nie.

Nuwe ding soos geen ander nuwe ding nie. Anders is dit nie nuut nie.  Ons probleem is dat ons hede nie ‘n baie mooi verhaal is nie. As ons dan die verlede onthou ontvlug ons eintlik uit die hede. Ons vertel vandag se verhaal op so ʼn manier asof dit selfs vir God onmoontlik is om iets nuuts te doen.

Intussen is hier rondom ons besig om ʼn groot nuwe ding te gebeur.

Israel in ballingskap het onsekerheid beleef. Christene in Suid-Afrika en dwarsoor die wêreld beleef onsekerheid. Dinge verander so vinnig dat ons nie kan byhou nie. Dinge sal nooit weer wees soos dit was nie. Juis in sulke tye het God deur die geskiedenis dramaties ingegryp.

Onthou om te vergeet – Moenie by die verlede stilstaan nie.

God kan net vorentoe gaan met ‘n kerk wat nie terugverlang na die verlede nie. God se groter verhaal is ‘n nuwe ding wat Hy doen. God se groter verhaal behels dalk nuwe verhoudinge tussen mense. Mense wat voorheen niks met mekaar te make wou gehad het nie.

God se nuwe ding behels dalk nuwe verhoudings tussen ryk en arm.

  • Tussen die wat het en die wat nie het nie.
  • Die wat bevoordeel is en die wat benadeel is.
  • Die wat ingesluit was en die wat uitgesluit was.

God se nuwe ding behels dalk dat sy volgelinge se prioriteite radikaal verander. God se nuwe ding gaan dit dalk nie altyd vir ons makliker maak nie. Maar, het ons nie verklaar dat ons bereid is om ons kruis op te neem en Hom te volg nie.

Onthou om te vergeet – Moenie by die verlede stilstaan nie.

God se nuwe is onseker. Ons sien maar nog net die tekens daarvan. Die onsekerheid gaan vir nog ‘n rukkie aanhou. God se Gees sal ons moet laat sien waar die Lig in die duisternis skyn. Die Lig wat nie deur die duisternis oorweldig kan word nie.

Ons oë sal moet oopgaan om God se werk in hierdie wêreld raak te sien. Sodat ons deel kan word van die nuwe ding wat God doen. Watter voorreg is dit nie om deel te wees van God se werk in ons tyd nie. Wat ‘n voorreg is dit nie om deel te wees van die nuwe ding wat God vandag doen nie.

Ons sal dalk vir ons kinders en kleinkinders kan vertel: Ons was deel van die nuwe ding wat God gedoen het.
Onthou om te vergeet – Moenie by die dinge van die verlede stilstaan nie.

Die kerk word deur God opgeroep om te gaan en mee te werk aan die oop breek van God se nuutheid. Om met die waagmoed van Abraham te dink en met die vreugde van Sara te ontvang. Om die baarmoeder te wees waardeur ʼn nuwe wonder in hierdie wêreld deurbreek, riviere in die woestyn, ʼn egte tuiste vir mense wat vasgevang is in vrees.

Die kerk is bedoel om die instrument te wees waardeur God se nuwe ding in hierdie wêreld in breek. As sommige sou vassteek by die dinge van die verlede sou dit nie God se nuwe ding keer nie. God gebruik ons, maar God is nie afhanklik van ons nie. God kan uit klippe kinders van Abraham verwek. As ons dit nie uitroep nie, sal die klippe dit uitroep.

Onthou om die ou strydpunte te vergeet. Onthou om die ou seerkry te vergeet.

God se uitdaging is: Ek doen ʼn nuwe ding! Is jy bewus daarvan? Kan jy dit sien? Wil jy nie weer kyk nie?

Jesaja het ʼn derde ding om vir die volk in ballingskap te sê. Eers het hy gesê: Onthou om te onthou. God se verhaal is groter as ons verhaal. Toe het hy gesê: Onthou om te vergeet. Moenie by die verlede stilstaan nie.

Die derde ding wat hy sê is: Gaan met vreugde die toekoms binne.

Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. In die plek van ʼn doringbos sal daar ʼn sipres opskiet, in die plek van ʼn dissel sal daar ʼn mirteboom opskiet. (Jesaja 55:12-13)

Hierdie lyk dalk vir ons na ‘n onmoontlikheid. Hoeveel vreugde kan daar wees in ons omstandighede hier in Suid Afrika? Dalk moet ons weer gaan dink hoe die verhale wat ons vertel ons emosies beïnvloed. Hoe die dinge wat ons onthou ons geloof beïnvloed. Hoe die dinge wat ons nie kan en wil vergeet nie ons hoop beïnvloed.

As vreugde en gejubel vir ons onmoontlik is, dan is dit dalk omdat ons verkeerd onthou en niks vergeet nie.

Daarom mense van die Moot omgewing, trek weg.

Trek weg van die ou dinge wat ons so moeg maak. Trek weg van die vrese wat mense en selfs vir ons so verdeel. Trek weg van die onopgeloste strydpunte. Trek weg van  die sonde en misstappe wat mense net  nie wil vergewe nie. Trek weg van die ou besluite wat seergemaak en gewond het. Trek weg van die ou herinneringe wat onveranderlike beelde geword het. Trek weg na God se nuwe roeping en taak.

Onthou om te onthou:

Onthou om te gaan soos Abraham – op ʼn nuwe pad na ʼn nuwe lewe.

Onthou om te gaan soos Sara –  verras deur die nuwe lewe wat God skep.

Onthou om te gaan – na die mense rondom ons wat wag vir net een daad van omgee.

Onthou om te vergeet:

Vergeet dat dinge ooit weer sal wees soos hulle vroeër was. Vergeet dat dieselfde dinge op dieselfde manier gaan gebeur. Vergeet om te dink dat God nie ʼn nuwe kan doen nie. God doen ʼn nuwe ding.

Terwyl julle gaan, sing, vier fees, wees dankbaar. Jubel want God se werk is nie klaar nie. Daarom is die werk van die kerk nie klaar nie. Jubel want God se kerk is nie bedoel is om die verlede en selfs die hede in stand te hou nie. Jubel want die toekoms van die kerk is nie om dinge te doen soos dit nog altyd gedoen is nie.

Het dit nie dalk tyd geword dat ons ʼn nuwe simbool oprig nie? ʼn Simbool wat ons laat onthou om te onthou van God se groot verhaal. ’n Simbool wat ons laat onthou om te vergeet om by die verlede stil te staan. ‘n Simbool wat ons met jubeling in God se nuwe ding inneem.

Sal ons nie ‘n nuwe lied kan sing nie?

Het dit nie tyd geword dat ons die geslag word wat ‘n baie ou verhaal nuut vetrel nie. ʼn Nuwe lied wat vertel van die gevaar as ons sou vergeet wat ons eintlik moet onthou en onthou wat ons eintlik moet vergeet en as ons bly terwyl ons moet trek.

Laat ek afsluit met Paulus se besondere woorde in Filippense 3:

“Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Ons almal wat geestelik volwasse is moet hierdie gesindheid hê.” (Filippense 3:12-15)

1 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

One response to “Preek: Geloftediens 16 Desember 2014

  1. Christelle

    Seker een van die duidelikste bewyse waar God Sy krag en heerlikheid aan ons nageslag openbaar. Nog steeds verstaan die wereld nie die boodskap.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s