Preek Sondag 14 Desember 2014: Tussen julle is daar Iemand… (Joh 1:26)

Begin

Die evangelie van Johannes is geskryf om en by 90 n.C. Van die vier evangelies is Johannes die een wat laaste geskryf is. Johannes is anders as die ander drie evangelies. Terwyl die ander drie evangelies baie inhoud met mekaar deel, skryf Johannes sy evangelie op so ʼn manier dat dit duidelik is dat hy nie baie op hulle staat gemaak het nie. Johannes vertel byvoorbeeld van die geboorte van Jesus nie.

Die evangelie begin by die begin, die skepping. Johannes wil in besonder aantoon dat die hoofkarakter waaroor die evangelie gaan, reg in die begin reeds bestaan het. Alles het deur Hom, die Een oor wie die evangelie gaan, tot stand gekom. (1:2)

Geboorte van ʼn nuwe wêreldorde

Tog is hier ʼn geboorteverhaal in hierdie evangelie. Hierdie geboorteverhaal vertel van die bedoeling agter die geboorte van die Messias. Die Messias se geboorte is ook in besonder die geboorte van ʼn nuwe wêreldorde. ʼn Nuwe wêreldorde wat die ander evangeliste die koninkryk van God noem. Johannes beskryf die nuwe wêreldorde in 1-4 en 9-16. Gaan lees weer daardie gedeeltes. Vergeet net vir ʼn oomblik om ʼn teologiese betekenis in elke vers en elke woord te ontdek. Gaan lees die verse net met hierdie een gedagte: Hierdie is die geboorte van ʼn  nuwe wêreldorde wat besig is om deur te breek. Johannes beskryf dit onder andere so: “Die ware lig wat elke mens verlig was aan kom na die wêreld toe.” (1:7)

Die aankondiging van die geboorte van die nuwe wêreldorde word onderbreek.  Midde in die beskrywing van hierdie grootse gebeure lees ons eers van ʼn man. “Daar was ʼn man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes.” (1:4) Besonder interessant is dat die skrywer van hierdie evangelie hom nie een keer Johannes die Doper noem nie. Net een keer is daar ʼn verwysing daarna dat hy mense gedoop het. Maar sy identiteit, wie hy is, is iets anders as ʼn man wat mense gedoop het.

Nou wil ek myself onderbreek. Hierdie nuwe wêreldorde, waarvan die geboorte hier aangekondig word, is sedert die geboorte van die Messias, steeds besig om deur te breek. Advent en die feeste rondom die geboorte van Jesus moet ons daaraan herinner. Sedertdien word die deurbreek en inbreek van hierdie wêreldorde nie aangekondig nie, dit word uitgewys. Kyk daar en daar en hier en hier is hierdie nuwe wêreldorde besig om deur te breek, in te breek, los te breek. Kyk hier en daar en daar is die lig wat elke dag aan kom is na die wêreld toe.

Gestuurdes van God

En daar is steeds mense soos Johannes. Johannes was eerstens ʼn man wat deur God gestuur was. (1:6) Hierdie is nogal ʼn belangrike gedagte. In hierdie woorde lê Johannes se identiteit opgesluit. In die evangelie word net twee mense gestuurdes van God genoem. Die een is Johannes en die ander een is Jesus self.

Tot heel aan die einde van die evangelie. In Johannes 20 verskyn Jesus aan sy dissipels. Hy sê vir hulle: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle. Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: ‘Ontvang die Heilige Gees!’” (Johannes 20:21-22)

God is ʼn sturende God. God stuur vir Johannes. God die Vader stuur vir Jesus. God die Vader en God die Seun stuur God die Heilige Gees. God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees stuur die kerk, vir ons. Ons is gestuurdes. Die kerk het geen ander besigheid nie, geen ander roeping nie, geen ander taak nie, geen ander prioriteit nie, geen ander missie. Die kerk kan niks anders as gestuurdes wees nie.

Gestuurde getuies

Johannes is vir ons ʼn goeie voorbeeld van ʼn gestuurde. ʼn Gestuurde het ʼn sekere funksie of werk. Die funksie of werk word ook in hierdie vers uitgespel. “Hy het gekom om te getuig.” (1:6)

Johannes is ʼn gestuurde getuie. Getuie is ʼn belangrike woord in hierdie evangelie. Dit word meer as 45 keer gebruik. Die oorsprong is die regswêreld. ʼn Getuie is iemand wat instaan vir iets wat hy glo die absolute waarheid is.

Ek dink ons maak drie foute oor die hele gedagte dat ons gestuurde getuies is. Ons maak eerstens die fout om te dink dat ons die waarheid moet verdedig. Dink bietjie aan ʼn getuie in die regswêreld. ʼn Getuie verdedig nie die waarheid nie. ʼn Getuie vertel net die waarheid. ʼn Gestuurde getuie sê net: Hier is Jesus. Ek volg Hom. Jy sou nie ʼn fout maak om Hom ook te volg nie. Jy dink dalk die waarheid is iets anders of behoort iets anders te wees. En weet jy, jy het die reg om so te glo en te dink en te voel oor die waarheid, maar hierdie is hoe ek die waarheid sien en verstaan en ek kan nie anders nie. Gestuurde getuies hoef nie regtig die waarheid te verdedig nie. Iemand anders verdedig die waarheid.

In ʼn regsaak is die advokaat die een wat die waarheid moet verdedig. Hy is die voorspraak van die waarheid. Die Heilige Gees is die Advokaat, die Voorspraak van die waarheid. Hy gebruik ons getuienis oor die waarheid. Die Heilige Gees oortuig en verander en vorm en roep. Ek en jy is, soos Johannes, net gestuurde getuies. Ons moet net van die waarheid getuig en die res in God se hande laat. Die eerste fout wat ons maak is om te dink dit is ons werk om die waarheid te verdedig.

Die tweede fout wat ons maak is om te dink dat ons net gestuurde getuies kan wees wanneer ons praat. Beide Jesus en Johannes se getuienis lê sekerlik in dit wat hulle gesê het, of wat hulle getuig het. Maar ook in die mense wie hulle was. Die manier waarop hulle gelewe het. Gestuurde getuies in die 21ste eeu het nie meer ʼn gehoor wat nie kan wag om te hoor wat ons te sê het nie. Gestuurde getuies in die 21ste eeu verstaan dat hulle die reg om gehoor te word moet verdien.

Die derde fout wat ons maak is om te dink dat ons niks hoef te sê nie of niks mag sê nie. Ons moet net goed wees vir mense en liefde uitleef en mense in nood versorg en die res in God se hande laat. Woord en daadgetuienis moet mekaar aanvul.

Ons lewe moet mense se aandag trek. Ons lewe moet mense nuuskierig maak sodat hulle vrae begin vra. Wanneer hulle vra getuig ons. In Johannes se geval was dit so. Johannes se reputasie het die Jode in Jerusalem bereik. Hulle moes te alle koste weet wie Johannes was en wat hy doen en waarom hy dit doen. “Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: Wie is jy?” (1:19)

Johannes was nie die Christus nie

Ek dink dit is op hierdie punt belangrik om net weer te noem dat die evangelie in ongeveer 90 n.C. geskryf is. Die geskiedenis leer vir ons dat daar op daardie stadium ʼn groep was wat daarvan oortuig was dat Johannes die Messias was en nie Jesus nie. Die manier waarop Johannes reageer op die vraag “Wie is jy?” sal enige twyfel daaroor uit die weg ruim. So getuig Johannes duidelik en ondubbelsinnig op die vraag: “Ek is nie die Christus nie.” (1:20) Christus is die Griekse woord vir Messias. Die skrywer van hierdie evangelie wil geen twyfel laat nie. Johannes was seker dat hy nie die Messias was nie. Ons moet ook seker wees dat hy nie die Messias was nie. As mens dit nie so verstaan nie, dan maak Johannes se antwoord net eenvoudig nie sin nie.

Dan volg die ander vrae. Is jy dan Elia? Is jy dan die Profeet? Op al hierdie vrae antwoord Johannes negatief. Hy is nie een van hulle nie. Hy het geen titel nie. Hy aanvaar geen titel nie.

Die Johannes evangelie is nogal bekend vir die “Ek is…” uitsprake van Jesus. Dalk moet die evangelie net so bekend wees vir die “Ek is nie…” uitsprake van Johannes. Johannes is maar net ʼn gestuurde getuie. Johannes se “Ek is nie…” uitsprake frustreer die priesters en die Leviete. “Nou maar wie is jy dan? Ons moet ʼn antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het. Wat het jy oor jouself te sê?” (1:22)

ʼn Stem wat roep

Johannes antwoord: “Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.” (1:23) Dalk moet ons hierdie belangrike les leer. Vir ʼn gestuurde getuie gaan dit nie oor hom- of haarself nie. Juis daarom al die ontkennings.

Die kerk, ons as gestuurde getuies, sukkel hiermee. Ons sukkel om dit oor iets anders as oor onsself en ons belange te laat gaan. Ons vrese maak dat alles oor ons gaan. Ons kan nie na ʼn saak kyk, dit objektief beoordeel en dan die regte en die beste besluit neem nie. Ons eerste bekommernis is: Hoe gaan dit my raak? Hoe gaan dit ons raak? Ons leef met soveel vrese. Ons is bang ons gemeente maak dit nie! Ons is bang ons kerk maak dit nie! Ons is bang ons moet erken dat ons verkeerd was! Ons is bang ons gaan sleg lyk as iemand dalk reg al die tyd reg was! Ons is bang dat ons weergawe van die waarheid verlore gaan raak! Ons is bang dat ons dalk nie hemel toe gaan nie! Ons is bang dat verkeerde mense dalk in die hemel gaan kom! Ons is bang iemand gaan meer mag ons hê! Want dit gaan oor ons.

As dit oor ons gaan, het ons die punt gemis. As ons dit oor ons gaan dan staan ons in die pad van die nuwe wêreldorde wat sedert die geboorte van Jesus Christus besig is om in hierdie wêreld in te breek. As dit oor ons gaan dan is ons besig om hierdie lig wat in die duisternis skyn en die duisternis probeer verdryf, uit te doof. As dit oor ons gaan is die stem wat in die woestyn roep stil.

Volg Jesus en vertrou die Gees

Ek lees hierdie week hoe iemand vir ʼn man vra: Hoe hanteer jy as Christen ander godsdienste en gelowe? Die man se antwoord was iets soos die volgende: “Ek nooi hulle om volgelinge van Jesus te word. Ek sê vir hulle: Wees ʼn Moslem of ʼn Hindi of ʼn Jood wat Jesus volg.” Hierdie antwoord het by my vasgesteek.

Ek kyk rondom my en ek sien dat ons as Christene mekaar op dieselfde manier hanteer. As iemand nie sing soos ek sing nie en nie kerk doen soos ek nie en nie Christenskap leef soos ek nie en nie passievol is oor die werk waaroor ek passievol is, dan moet ek alles in my vermoë doen om daardie persoon of groep of kerk af te kraak en af te breek en verdag te maak sodat die mense sal dink dat hulle minderwaardige Christene is. Intussen breek hierdie nuwe wêreldorde op verskillende maniere deur verskillende mense op verskillende plekke deur. My manier is nie die enigste manier nie.

Wanneer enige mens, ongeag sy godsdiens, kultuur of agtergrond ʼn volgeling van Jesus word dan kom leef daardie persoon waar die Heilige Gees werk. Maar, ons is bang die Heilige Gees doen nie sy werk nie. Ons wil die Heilige Gees se werk vir Hom doen. Ons wil van die Moslem en die Hindi en die Jood ʼn Christen maak voor hy ʼn volgeling van Jesus kan word. Ons wil van die volgelinge van Jesus Christene soos ek maak voordat hulle as volgelinge van Jesus geklassifiseer kan word. Want alles gaan oor my. Ek is bang…

Die fees van die Vredevors

Advent is die fees van die Vredevors. Hy bring vrede. Hy bring nie die waarborg dat alles gaan bly soos dit altyd was en dat niks gaan verander en dat alles net mooi en goed en reg sal wees nie. Hy bring vrede terwyl dinge net nie ophou verander nie. Hy bring vrede terwyl die lewe soms vol aaklige dinge is soos geweld en misdaad en moord en verkragtings en korrupsie en armoede. Hy bring vrede terwyl onreg voortgaan. Hy is die Vredevors.

As die een probleem is dat ons met ʼn klomp vrese leef, dan is die ander probleem dat ons te belangrik wil wees. Johannes wou nie belangrik wees nie. Dit gaan nie net oor wat Johannes gedoen het nie. Dit gaan in besonder oor hoe hy dit gedoen het. Johannes was nie eers die een wat die pad gereed gemaak het. Hy het ander opgeroep om die pad reguit te maak. Ons wil titels hê en posisies beklee en mag hê en invloed uitoefen. Johannes sê duidelik nee vir elke titel. Hy is nie Elia nie en nie die Profeet nie en baie beslis nie die Messias, die Christus nie.

Die groep priesters en Leviete wat gekom het om Johannes te ondervra het nie net vrae gehad oor sy identiteit, oor wie hy is en wie hy dink hy is, nie. Hulle het ook vrae gehad oor die outoriteit, die gesag, waarmee hy doen wat hy doen. “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?” (1:25)

Johannes was ʼn bedreiging vir elke persoon in ʼn gesagsposisie. Johannes het almal van Jerusalem tot Rome wat nie ʼn reguit pad geloop het nie uitgedaag. Mense wat alles net rondom hulleself laat draai het en met alles wat hulle het aan magsposisies vasgehou het en mense uitgebuit het om hulleself te verryk, het onder Johannes se tong deurgeloop.

Baie Christene hou natuurlik hiervan. Hulle onthou ook net een ding wat Jesus gedoen het terwyl hy op aarde was: Hy het die tafels in die tempel omgegooi. So baie Christene het hulle die reg toegeëien om wie ook al onder hulle tonge te laat deurloop en waar ook al tafels om te gooi. Ek dink daar moet sulke tye wees. Maar voor daar sulke tye kan wees, moet ons darem eers met dieselfde oortuiging van Johannes kan weet wat ons roeping is en ons hele lewens moet op dieselfde  manier getuig dat dit nie oor ons en oor ons vrese en ons sekuriteite gaan nie. Johannes het hierdie mense in gesagsposisies uitgedaag, omdat hy deur God gestuur is om juis dit te doen.

ʼn Nuwe geloofsgemeenskap

In hierdie nuwe geloofsgemeenskap wat ons die kerk noem, waarvan die kerk deel is het mense nie titels nie. Hulle het net een titel. Kind… kind van God. Volgeling… volgeling van Jesus die Christus.

Die uitstaande kenmerk van Johannes is: Dit gaan nie oor my nie. Johannes is ʼn gestuurde getuie, maar dit gaan nie oor Johannes nie. Ek is ʼn gestuurde getuie, maar dit gaan nie oor my nie. Jy is ʼn gestuurde getuie, maar dit gaan nie oor jou nie. By herhaling in hierdie gedeelte is dit duidelik: Dit gaan nie oor Johannes nie.

1:6 – “Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.”

1:20 – “Ek is nie die Christus nie.”

1:21 – “Ek is nie [Elia] nie.”

1:21 – “Ek is nie [die Profeet] nie.”

Maar wie was Johannes dan?

1:7 – “Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig…”

1:23 – “Ek is die stem van een wat uitroep in die woestyn: Maak die pad vir die Here reguit.”

Johannes het homself nie as belangrik gesien nie.

Dalk kan ons as Christene hierdie jaar vir die wêreld ʼn groot kersgeskenk gee. Dalk kan ons vir ons families ʼn groot kersgeskenk gee. Ons kan ophou om dit oor ons te laat gaan. Dalk is dit die beste manier om mense bewus te maak van Jesus die Messias wie se geboorte ons juis in hierdie tyd vier. Dalk kan ons op hierdie manier ʼn stem word wat mense na Jesus toe te wys. Hierdie leefstyl is presies die teenoorgestelde van dit waaraan ons in hierdie wêreld gewoond is.

Die fees van die Koning

Ons kan net ons eie belangrikheid en titels en posisies en invloede prysgee in verhouding met die Een wat die titel het van Koning van die konings en Here van die Here. Dit is juis hierdie Koning op wie se geboorte ons in Advent wag.

Maar in Advent, die tyd waar ons wag om die geboorte van die Messias te vier, kan Jesus weer in ons lewens en deur ons lewens in hierdie wêreld gebore raak. Wanneer volgelinge van Jesus Christus ʼn lewe leef wat daarvan getuig dat hulle gestuurde getuies is wat die pad vir Iemand anders gereed maak. ʼn Lewe leef waar dit nie oor onsself gaan nie, maar die Een wat ons stuur om van die Lig te getuig. ʼn Lewe waar ons ons vrese oorwin deur ons in verhouding met die Vredevors te leef. ʼn Lewe waar ons al hoe minder word en Hy al hoe meer omdat ons die heerskappy van die Koningskind leef.

Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie

Johannes was seker oor sy roeping en sy taak. Johannes was ʼn gestuurde getuie. ʼn Stem, wat roep in die woestyn. Johannes maak ʼn baie belangrike opmerking. “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat na my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.” (1:26-27)

Hierdie tema loop deur die hele evangelie. “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

In hoofstuk 2 is Jesus saam met sy dissipels by ʼn bruilof. Jesus se dissipels het eintlik geen idee wie Hy is nie. Eers nadat Hy die water in wyn verander het, het sy dissipels tot geloof in Hom gekom. (2:12) “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

In hoofstuk 3 kom Nikodemus in die nag na Jesus toe. Wanneer Jesus met hom oor weergeboorte praat, dan babbel hy oor hoe ʼn mens terug kan klim in sy moeder se skoot in. (3:4) Geen idee van wie hierdie man is met wie hy praat nie. “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

In hoofstuk 4 is dit die vrou by die put van Samaria wat nie verstaan as Jesus vir haar water aanbied wat sal maak dat sy nooit weer dors word nie. Sy droom oor die water, want dan sal sy nooit weer na hierdie put toe hoef te kom om water te kom skep nie. (4:15) Geen idee wie hierdie man is wat nou met haar praat nie. “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

In hoofstuk 5 staan Jesus by ʼn man wat al vir 38 jaar lank siek is. Jesus vra hom of hy gesond wil word. Hy kan nie uitgepraat raak oor hoe hy sukkel om by die water te kom en daar elke keer iemand voor hom in die water is nie. (5:7) “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

In hoofstuk 8 staan Jesus tussen ʼn skare mans wat ʼn vrou met klippe wil doodgooi nadat sy op owerspel betrap is. Jesus maak hulle so skaam dat hulle almal hulle klippe laat val en wegstap.  En Hy veroordeel haar ook nie. “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

In hoofstuk 9 maak Jesus die blinde man gesond. Wanneer die man wat blind was deur die Fariseërs ondervra word, is hy verbaas dat hulle nie weet wie Jesus is of waar Hy vandaan kom nie. (9:30) “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

In hoofstuk 14 is dit Filippus, een van Jesus se dissipels, wat na alles nie weet waar Jesus heengaan nie. En dan sê Jesus: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus.” (14:9) “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

Wanneer Jesus voor Pilatus staan vra Pilatus vir Hom: “Is jy die koning van die Jode?” (18:33) “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

Wanneer Maria na Jesus se dood en nadat Hy begrawe is na die tuin toe gaan en by die leë graf staan en huil, sien sy Jesus staan, maar sy weet nie dat dit Hy is nie. Sy dink dit is die tuinier. Eers wanneer Hy haar naam sê besef sy dit is Jesus. (20:16)  “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

Wanneer die dissipels na Jesus se opstanding gaan visvang en nadat Hy reeds ten minste twee keer aan hulle verskyn het, staan Jesus op die strand, maar hulle weet nie dat dit Hy is nie. (21:4) “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.”

Johannes skryf sy evangelie ongeveer 90 n.C. Hy skryf aan gelowiges. Hy skryf met ʼn spesifieke doel. “… hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (20:31)

Vir Johannes die gestuurde getuie het dit nie oor homself gegaan nie. Vir Hom het dit gegaan oor die Een van wie hy ʼn getuie moes wees. Vir Hom het dit gegaan oor die Een wie skoene hy nie werd is om los te maak nie. Vir Johannes die gestuurde getuie het dit gegaan oor die een wat hy moes uitwys. Die Een wat tussen hulle was maar wat hulle nie geken het nie.

Jesus is steeds tussen ons

Ons glo dat Jesus steeds by ons teenwoordig is. Hy het vir ons die Heilige Gees gestuur sodat ons nooit weer alleen sou wees nie. Ons moet Hom net raaksien in hierdie wêreld. Die probleem is egter dat ons Hom nie raaksien nie net soos die mense in die Johannes evangelie Hom nie raakgesien het nie.

Daar is verskillende redes waarom ons Hom nie raaksien nie:

  • Soos Nikodemus het ons dalk te veel om te verloor as ons Hom sou raaksien.
  • Soos die vrou by die put van Samaria mag ons dalk te swaar dra aan ons ons sondeskuld om Hom te raak te sien.
  • Soos die man by die bad van Betesda het ons dalk vrede gemaak met ons pyn en ons ongemak en ons lot en het enige motivering om te verander lankal verdwyn en daarom kan ons Hom nie raaksien nie.
  • Soos die manne met die klippe mag ons ons dalk net blind staar teen ons eie veroordeling en vooroordele om Jesus raak te sien.
  • Soos Filippus mag ons eie verwagting en die feit dat dinge anders gaan wees as wat ons dit sou wou hê en gedroom het dit moet wees maak dat ons Jesus nie raaksien nie.
  • Soos Pilatus kan dit dalk net wees dat Jesus as koning sou beteken dat ek nie meer koning is nie en daarom is dit beter om Hom nie raak te sien nie.
  • Soos Maria mag ons so verblind wees deur die verskriklikheid van die kruis dat ons nie die opgestane en lewende Here reg voor ons raaksien nie.
  • Soos die dissipels op die strand mag die vreemde plek waar Jesus sy opwagting maak dalk net maak dat ons Hom nie raaksien nie.

Advent – ons vier die deurbreek van ‘n nuwe wêreldorde. Ons is gestuurde getuies van hierdie nuwe wêreldorde – die koninkryk van God. Advent is die fees van die Vredevors. Vor hom kan ons al ons vrese neerlê. Hy bring vrede ten spyte van. Advent is die fees van die ewige Koning. Voor hom kniel ons in aanbidding wetende dat dit nie oor ons gaan nie. Alles gaan oor Hom. In hierdie nuwe wêreldorde is ons tevrede met titels soos: Kind van God en volgeling van Jesus Christus of gestuurde getuies.

Advent mag nie die tyd wees wanneer Jesus weer in ons harte gebore word nie. Advent moet die tyd wees wanneer Jesus deur ons lewens weer in hierdie wêreld en in ons gemeenskappe gebore word.

Advertisements

3 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

3 responses to “Preek Sondag 14 Desember 2014: Tussen julle is daar Iemand… (Joh 1:26)

  1. Werner Olivier

    ‘n Mooi uiteensetting van die Vleesgeworde Woord,volgens die Johannes Evangelie,Attie.My gedagtes het na die lees van die skrywe so 30 -40 jaar teruggegaan in die kerk toe ek nog kind en jong mens was.Die titels het toe hooggety gevier en ek is baie bly dat dit vandag so te se verdwyn het.Ons het gewone mense op verhogies geplaas en die ”eie ek” het algemeen voorgekom.Ek dink tog ons maak groot vordering.Ons Meester het vir ons die volmaakte voorbeeld kom gee.Ons moet dit net uitvoer soos ons Voorbeeld dit van ons verwag.
    Groetnis.

  2. Linda

    Baie mooi opgesom. Dankie Ds. Mag die Heilige Gees ons lei op ons ‘journey’ as gestuurde getuienisse. Wat ‘n wonderlike reis.

  3. Francois van Zyl

    Besielende en treffende boodskap. Mag dit ook ander besiel in die nuwe jaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s