Preek: Nie foto’s nie, voetstappe

Preek Rom 10:5-15

Foto’s speel ‘n belangrike rol in ons lewens

As dominee kom ek in baie mense se huise. In feitlik elke huis wat ek kom, is daar in die vertrek waar ons kuier foto’s. Foto’s laat mens verstaan watter mense is vir die mense van hierdie huis belangrik. Meestal is dit foto’s van familie. Kinders en kleinkinders en broers en susters. In ons huis is dit nie anders nie. In ons sitkamer is daar rame vir elkeen van die kinders met ‘n paar foto’s van hulle alleen en dan ook saam met die res van die familie. Die foto’s laat my onthou. Interessant, ek onthou selde indien ooit dieselfde ding. Ek dink baie keer aan hoe vinnig hulle groot geword het. Hoe die jare  verby gevlieg het. Ek onthou soms die omstandighede waarin die foto geneem is. Ander kere dink ek aan iets wat ek onthou wat hulle gedoen het; of ek wonder waarmee hulle nou besig is.

Die foto’s laat my ook verlang. Ek wens hulle wil kom kuier. Ek wil hulle graag by my hê. ‘n Foto is net nie genoeg nie. ‘n Foto is mos nie die persoon nie. ‘n Foto is net ‘n afbeelding van die persoon. Terwyl ek na die foto kyk is die persoon nai wie se foto ek kyk op ‘n ander plek besig om iets anders te doen.

As hulle by die is, is dit anders. As hulle by die huis is hoor ek hulle; sien ek hulle; raak ek aan hulle. Heerlik om die een in die foto by jou te hê. Ons kinders kom hierdie naweek. Drie van die vier gaan by die huis wees.

Dink nou net vir een oomblik, hoe sou dit wees as ek hierdie naweek terwyl die kinders hier is en hulle seker buite rondom ‘n braaivleisvuur kuier, in die huis is en na die foto’s kyk van dieselfde kinders wat buite is.

Israel het aan ‘n foto bly vashou.

God het vir Israel iets gegee wat hulle moes laat verlang na iets anders. God het vir Israel die wet gegee sodat hulle na die Messias kon verlang. Die bedoeling van die wet was om Israel bewus te maak daarvan dat hulle nie op hulle eie in die regte verhouding met God kan kom nie. Die Jode het hulle hele lewe lank ‘n “foto” gehad van die Messias. Alles in die wet en die profete het hulle daarop gewys dat God ‘n Messias belowe het en dat die Messias nog moes kom. En toe kom die Messias. Toe die Messias in lewende lywe, in Jesus van Nasaret, voor hulle staan en tussen hulle lewe, toe herken hulle Hom nie.

Die Jode se bedoeling was suiwer. Paulus skryf so oor hulle: “… ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder regte insig.” (Rom10:2) Maar ‘n bietjie verder beskryf Paulus hoe hulle met foto in die hand gestaan het, terwyl die Een wat in die foto is, self by hulle was. “Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie.” (Rom 10:3) Paulus probeer sy Joodse lesers oortuig dat God in Jesus al die beloftes aan Israel vervul het. Hy wil hê hulle moet aanvaar dat hulle maar hulle foto’s van die Messias kan neersit. Die Messias self is hier.

‘n Hele paar Ou Testamentiese tekste in Romeine 10.

Om dit te kan doen maak Paulus in Romeine 10 gebruik van ‘n hele paar Ou Testamentiese tekste. Paulus wil nie ‘n nuwe leer verkondig nie. Paulus sê eintlik: Ek sê niks wat ons nie nog altyd gesê het. Ek verkondig net wat ons nog altyd verkondig het. Die Skrifte waarmee ons groot geword het, het nuwe betekenis omdat die Messias gekom het.

Neem nou maar Romeine 10:5. “Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe.” Paulus haal in hierdie vers Levitikus 18:5 aan. Daar staan: “Wees gehoorsaam aan my voorskrifte en bepalings. Wie dit doen sal lewe. Ek is die Here.” Hierdie lewe is die ewige lewe. Teoreties is dit heeltemal moontlik om deur gehoorsaamheid aan die wet in die regte verhouding met God te kom.

Teoreties was dit dalk moontlik. Prakties was dit ‘n saak van onmoontlikheid. Moses se wet het bestaan uit 613 verskillende wette en reëls wat ‘n mens moes nakom. As jy daardie 613 wette kon of kan nakom, sal jy vrygespreek wees en in die regte verhouding met God wees. Die praktyk het ons geleer dat niemand dit regkry nie. Daarvoor was daar die offerstelsel. Die wet en die offers moes ons daaraan herinner dat ons nie deur gehoorsaamheid aan die wet in die regte verhouding met God kan kom nie.

Die offers het dinge reggemaak met God.

Elke keer wat ‘n Jood ‘n offer bring moes hy verlang na die dag wanneer hy sonder ‘n offer in die regte verhouding met God kan wees. Die dag wanneer sy skuld vir altyd uitgewis is. Die wet en die offers was ‘n foto van dit wat moes kom.

Tog het mense bly probeer.

Paulus gaan verder om die moete te beskryf wat mense dalk kan doen om in die regte verhouding met God te kom. Iemand sou dalk kon opklim na die hemel toe en Christus afbring aarde toe. Iemand kan ook afklim in die onderaardse diepte en Christus uit die dood terugbring. Hier haal Paulus Deuteronomium 30 aan.

Daar is iets wat ons van Deuteronomium in gedagte moet hou. Die boek Deuteronomium is in die tyd van die ballingskap geskryf. Israel is ver van hulle land af. Hulle is met geweld weggevoer uit hulle land uit. Nou leef hulle met die verwagting dat hulle eendag weer terug sal gaan. Deuteronomium herinner eerstens die volk aan hoe God, veral tydens die uittog, deel van hulle lewens was. Tweedens roep Deuteronomium die volk op om deur hulle lewe te wys dat God deel van hulle lewens is. Dit is die doel van die wet. Deur gehoorsaamheid leef jy op ‘n manier wat wys dat God deel van jou lewe is. Aanvanklik klink dit moeilik. Maar eintlik is dit nie.

In Deut 30:11 staan daar: “Die gebod wat ek jou vandag beveel is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. Dit is nie in die hemel nie… Dit is ook nie oorkant die see nie… “ Met ander woorde, die vryspraak waarna julle verlang kan nie deur julle eie inspanning verkry word nie. Wanneer Paulus die moeite beskryf waarmee sommige mense Christus deel van hulle lewens wil maak dan gebruik hy hierdie tekste uit Deuteronomium. Hy wil die lyn trek tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament en tussen die wet en die Messias. Tussen offers en Christus.

Die punt is God is nie ver van jou af nie. “Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy kan daarvolgens lewe.” (Deutr 30:14) Paulus haal dieselfde teks so aan: “Die Skrif sê: Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” (Rom 10:8)

Paulus se boodskap: Ons moet die Ou Testament lees in die lig van God se Messias wat in Jesus gekom het. Die Ou Testament was die foto. Jesus is die werklikheid. Maar hierdie woord wat in my mond en in my hart is, is ‘n besondere woord. Hierdie is die goeie nuus wat ons nou verkondig. “En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig.” (Rom 10:8b) Ons vertrou nie meer op ons eie pogings nie. Ons vertrou nou op die werk van die Messias.

“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” (Rom 10:9) Wonderlike woorde. Mooi belydenis. “Here Jesus, U is die Christus, die opgestane Seun van die lewende God.” Ek dink elke kind van God kan hom-/haarself maar by herhaling aan hierdie belydenis herinner. Nie om gered te word nie. Maar net sodat ek nooit vergeet op grond warvan ek gered is nie.

Nou kan ons dalk sê: Dankie tog dat ons nie meer die 613 wette van die Ou Testament hoef te gehoorsaam nie. Ons hoef net te bely wie Jesus is, dan is alles reg. As ons so dink, dan is ons eintlik maar net weer waar Israel was of is. Ons kyk weer na ‘n foto. Helaas die foto van ‘n leë kruis en ‘n leë graf, maar nog steeds ‘n foto. Intussen is die Een wat ook nie in die foto is nie, in hierdie wêreld aan die werk. Hy is hier by ons teenwoordig. Dalk is jou foto nie die wet en die offers nie en ook nie die leë kruis en graf nie. Dalk is jou foto diewige lewe, die hemel. Eendag as ek doodgaan sal ek na Jesus toe gaan omdat ek nou in hierdie lewe met my hart geglo het en met my mond bely het. Intussen is Jesus Koning en Here in hierdie lewe. Nuwe Testamentiese gelowiges kan ook aan foto’s vashou terwyl die Een wat in die foto is hier teenwoordig is.

In Deuteronomium was die uitnodiging: God het in die uittog uit Egipte en in die geskiedenis gewys dat Hy deel van jou lewe is. Gaan leef nou as iemand van wie se lewe God deel is. In die Nuwe Testamentiese kerk is die uitnodiging: God het in Jesus die Messias en in die geskiedenis gewys  dat Hy deel van jou lewe is. Gaan leef nou as iemand van wie se lewe God ‘n wesenlike deel is.

God het ‘n duidelike doel en plan met Israel gehad. Die doel en plan was om deur Israel al die nasies van die wêreld te seën. In Christus, die Messias, gaan daardie belofte in vervulling. “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie. Niemand nie! Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word.” (Rom 10:11-13)

Die doel van die wet was om mense in ‘n regte verhouding met God te laat lewe. Die mens het dit al hoe moeiliker gemaak om in die regte verhouding met God te lewe. Selfs in die Ou Testament was die bedoeling dat die mens wat probeer om die wet te gehoorsaam sou besef: “Ek kan nie. As die Here dit nie vir my doen nie…”

Die woord is in ons hart en in ons mond.

Hoe gebeur dat hierdie woord so in ons gevestig word dat dit in ons mond en in ons hart is. Mens moet verstaan dat “in jou hart” wil sekerlik sê dat hierdie nie sommer maar net iets is wat gesê word sodat ek iemand kan beïndruk wat my dan sal beloon vir wat ek gesê het nie. “In jou hart” wil sê hierdie woord het deel van jou lewe geword. Wat ‘n wesenlike deel van my lewe gewod het is: Jesus is die Here. Daarmee sê mens: Jesus is werklik God. God het Hom uit die dood opgewek. Maar hoe word Hy so deel van ‘n mens se lewe?

Die Ou Testament het ‘n besondere antwoord: “Daar kom ‘n tyd sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit: Ek sal my woord op hulle harte skryf en in hulle gedagte vaslê.” (Jer 31:31 en 33) As Nuwe Testamentiese gelowiges woon en werk die Heilige Gees in ons. Hy skryf die woord, goeie nuus, op ons harte en lê dit vas in ons gedagte.

In verhouding met God word hierdie woord en belydenis op ons harte geskryf. Op so ‘n manier dat ‘n lewe in gehoorsaamheid van God beteken dat ek dit wat in my hart is uitlewe. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word.

Elkeen wat die Here aanroep.

Wat beteken dit om die Here aan te roep? Hierdie aanroep van die Here is meer as net om met jou mond iets oor Hom te bely. Dit is in elk geval deur die hele gedeelte duidelik dat Paulus nie die wet van die Ou Testament wil vervang met ‘n nuwe wet van een of ander belydenis wat jou in die regte verhouding met God bring nie.

Wanneer die woord “aanroep” in die Ou Testament gebruik word, word daar verwys na die reaksie wat God op sy selfopenbaring verwag. Wanneer God Homself aan iemand openbaar, dan is sy verwagting dat hulle sal reageer deur Hom te aanbid of Hom aan te roep. Maar hierdie aanbidding is dan ook nie net deur byvoorbeeld in die tempel bymekaar te kom en sekere goed te doen wat mens doen wanneer jy aanbid nie. Hierdie aanroep het daarmee te make dat jy na God roep om jou toe te laat om in ‘n persoonlike verhouding met Hom te staan. Aanroep beteken dan eers: Ek besef nou wie U is. U is God. Ek roep na U. Ek wil in ‘n persoonlike verhouding met U lewe. Vanuit hierdie persoonlike verhouding met U wil ek U aanbid.

Wat is God se doel? Waarmee is God besig? Wat wil God bereik met die kerk in die wêreld? Die antwoord lê hier: God wil dat mense Hom sal aanroep. God wil dat mense Hom sal aanbid. God wil dat elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is.

In Paulus se woorde in Romeine 10 behels hierdie aanroeping van God dat jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het. Wie God op hierdie wyse aanroep sal nie teleurgestel staan nie. Hy sal beleef hoe daar deur God se genade ‘n verhouding tussen God en hom/haar tot stand kom.

Hoe kan hierdie dinge gebeur?

Op hierdie punt vra Paulus ‘n baie belangrike vraag: “Hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?” (Rom 10:14)

In Christus het die teenwoordigheid van God gemanifesteer. Met ander woorde God het Homself aan ons bekend gemaak of geopenbaar. God het gewys wie Hy werklik is. Dit is wat ons bely as ons sê Jesus is die Here. Hou in gedagte dat Paulus hier besig is met Ou Testamentiese tekste. Hy praat met Jode. Die woord “Here” het vir hulle ‘n dubbele betekenis. Die Griekse kurios is die vertaling van die Hebreeuse adonai. Altwee die woorde word met “Here” vertaal. Om te sê Jesus is die Here is om te sê Jesus is die God van die Ou Testament wat in menslike gedaante aan ons verskyn het.

Om die Naam van Jesus die Here aan te roep is om met aanbidding op hierdie openbaarmaking te reageer. Om die Naam van die Here aan te roep is om te sê: Ek wil in ‘n persoonlike verhouding met hierdie Here lewe. Ek wil Hom met my hele lewe aanbid. Ek wil daardie dinge doen wat mens doen wanneer jy God aanbid.

Daar is egter ook ‘n tweede betekenis. Die Romeinse keiser was ook kurios. Hy was die hoogste gesag. Hy het absolute gehoorsaamheid vereis. Om met jou mond te bely dat Jesus die Here is, is om te sê: Die keiser is nie Here nie, Jesus is. Die keiser is nie die hoogste  gesag in my lewe nie. Jesus is. Ek gehoorsaam Jesus en Hom alleen.

Terug by Paulus se vraag: “Hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?” (Rom 10:14) Hierdie geloof is dan om met jou mond te bely dat Jesus die Here is en met jou hart te glo dat God Hom uit die dood opgewek het. As mense nie dit van Jesus glo nie, gaan hulle Hom nie aanbid nie. So voor hulle Jesus as God kan aanbid en in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan lewe, moet hulle eers glo. Maar dit bring ons by ‘n volgende vraag. “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?”

God die Heilige Gees is die Een wat geloof in ons werk. Hy gebruik egter dit wat ons hoor om hierdie geloof te werk. Maar onthou nou, hierdie geloof gaan oor baie meer as om iets vir die waarheid te aanvaar. Hierdie geloof gaan oor aanbidding en verhouding. Jy gaan aanbid wat jy glo. Jy gaan in ‘n verhouding wees met dit wat die grootste inspraak in jou lewe het.

Deel van die vraag is natuurlik: Wat moet gehoor word? Wat gehoor moet word is die boodskap van geloof waarvan Paulus in vers 8 praat. Hierdie is die goeie nuus: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” (Rom 10:9) Dit is die goeie nuus. Wie hierdie goeie nuus hoor, sal kniel en aanroep en aanbid.

Maar daar is nog ‘n vraag: “En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?” (Rom 10:14) Natuurlik is Paulus hier besig om sy eie sending na die Joodse gemeente in Rome te regverdig en te verduidelik. Maar as kerk van die Nuwe Testament en liggaam van Christus in Waverley moet ons ook verstaan dat ons elkeen hier geroep is om te preek. Om te verkondig.

Hierdie preek of verkondig is nie net iemand wat Sondag hier op ‘n kansel staan en dan die Woord verduidelik en julle leer nie. Mens sou dit wat Paulus hier bedoel kon vergelyk met die wat Jona gedoen het. Jona is geroep en gestuur om deur die stad Ninevé te loop en een boodskap te vekondig. Met ander woorde: Jona kon dalk sy boodskap oorgedra het deur ‘n groot teken langs die pad op te sit wat sê: “Nog net veertig dae en Ninevé word verwoes!”  (Jona 3:4) Ons weet wat mense se reaksie is op sulke advertensieborde.

Die verkondiging waarvan Paulus praat is die teenoorgestelde. Hierdie verkondiging is ‘n nimmereindigende proses van pleit en smeek by mense. Hierdie verkondiging gaan gepaard met ‘n liefde wat mense opsoek. Hierdie verkondiging beteken ook dat daar ‘n aanhoudende versorging van die persoon aan wie die evangelie verkondig word. Hoor hoe beskryf Paulus sy werk in die gemeente van Tessalonika: “So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry. Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het.” (1 Tess 2:8-9) Hierdie versorging  van die persoon aan wie die evangelie verkondig word, beteken ook dat ‘n mens sal aanmoedig, waarsku, bemoedig, versterk, vertroos. Terwyl ons al hierdie dinge doen, is ons besig om te preek en te verkondig. Die preek behels verkondiging van die evangelie deur ‘n leefstyl van omgee en liefde en versorging.

Verkondiging van die evangelie moet ‘n leefstyl word. Die kerk het hierdie preek van die evangelie iets gemaak wat vir lidmate van ‘n kerk bedoel is. Sondag preek ons. In die week versorg, vermaan, bemoedig, vertroos, versterk ons die wat Sondag in die kerk was. Daar is niks mee verkeerd nie. Dominees moet hierdie dinge doen. Dominees moet die lidmate van ‘n gemeente versorg en deur die versorging ook preek.

Dit bring ons by Paulus se volgende vraag: “En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?” (Rom 10:15a) Is dit net dominees wat gestuur is? Dominees wat gestuur is na die lidmate van die gemeente om aan hulle die goeie nuus van Jesus te verkondig en hulle te versorg. Ek aanvaar graag verantwoordelikheid vir die gemeente waartoe die Here my gestuur het.

Maar wat van jou gemeente? Maar dominee, ek het nie ‘n gemeente nie. Jy is verkeerd. Jy het ‘n gemeente. Jou gemeente is die mense met wie jy van Maandag tot Saterdag in aanraking kom. Dit beteken nie dat jy ‘n plakkaat teen jou muur moet opsit wat sê: “Is jou saak met die Here reg?” nie. So ‘n plakkaat is omtrent dieselfde as ‘n advertensiebord langs die pad.

God stuur jou na jou wêreld toe. Jy moet die goeie nuus gaan verkondig dat Jesus die Here is en dat God Hom uit die dood opgewek het. Gaan probeer gerus môre om vir iemand te sê: Kan jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en glo jy met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het? Kyk na mense se reaksie. Kon net sowel ‘n advertensiebord gewees het. Maar, sê nou jy sou net hier uitgaan en sê: God stuur my. Want, God stuur jou. Ek moet hierdie goeie nuus gaan verkondig. Maar, die verkondiging behels dat ek my lewe aan ander gee.

Die juffrou wat preek.

Stephan Joubert het ‘n rukkie terug geskryf van die juffrou wat ‘n briefie van een van die kinders in haar klas gekry het. Hy het ‘n huilende gesiggie geteken en daar langsaan geskryf dat hy nie sy huiswerk kon doen nie. Hulle het niks meer kos in hulle huis oor nie. Sy ma het nie ‘n kar nie en hy moet elke dag baie ver skool toe stap. Die juffrou besef toe dat dit vandag nie sal help om vir hierdie kind te sê: “Ek dink aan jou!” “Ek is jammer vir jou!” of “Ek gaan vir jou bid nie.” Die juffrou het besef sy is die Here se antwoord in lewende lywe. Sy is die antwoord op hierdie kind se krisis. Sy is die oplossing vir daardie huilende gesiggie op die brief. Sy kan en wil dit nie meer iemand anders se probleem maak nie. Sy het in haar kar geklim en vir daardie gesin kos gaan koop met haar geld en met haar kar tot by hulle huis gery en die kos in die huis ingedra.

Daardie juffrou het daardie kind en sy gesin se konkrete antwoord op hulle gebede geword. Daardie juffrou het die foto van Jesus die Messias neergesit. Want hier voor haar staan Jesus in lewende lywe. ‘n Seuntjie wat nie kon huiswerk doen nie omdat hy nie kos het nie. Sy het tyd deurgebring met die lewende Jesus self terwyl sy vir die gesin kos koop en dit by hulle huis gaan aflaai. Op ‘n wonderlike manier het daardie juffrou gepreek en die evangelie verkondig deur haar lewe en haar optrede.

Jy het jou eie gemeente.

Die mense met wie jy more in aanraking kom is jou gemeente. Hulle moet die Naam van die Here aanroep. Maar hoe kan die mense van hierdie wêreld die Naam van die Here aanroep as hulle nie in Hom glo nie? Hoe kan die mense van hierdie wêreld in Jesus die Here glo as hulle nie van Hom hoor nie? En hoe kan hulle van Hom hoor as daar nie iemand is wat met hulle lewens preek nie? En hoe kan iemand met sy lewe preek as hy nie gestuur is nie?

Jy is ‘n gestuurde. Sit neer die foto van Jesus die Messias. Sit neer die foto van die leë kruis en die leë graf. Sit neer die foto van die hemel en van die ewige lewe. Jesus is oral rondom ons. God stuur elkeen van ons. God stuur jou. Gaan preek met jou lewe. “Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van die wat die goeie boodskap bring.” (Rom 10:15)

Jy is reg, dit is jou voetstappe wat mense hoor.

1 Kommentaar

Filed under Prediking, Preke

One response to “Preek: Nie foto’s nie, voetstappe

  1. Christelle van der Walt

    Die voetstappe lei ons na mekaar….
    Wat belangrik is, is die spore wat ons agterlaat. Die wat verlore geraak het kan daarop volg. Die leiers wat voortrek moet koersvas wees, oe gerig op God. Dan sal niemand verlore raak.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s