‘n Eietydse Gelykenis – So kom die Koninkryk

Matteus 13:31-33, 44-52 

Gelykenisse en die “misterie” van die koninkryk.

In die drie evangelies, Matteus, Markus en Lukas vertel Jesus in totaal 32 gelykenisse. Gelykenisse was ‘n baie belangrike deel van hoe Jesus die mense en die dissipels geleer het. Die gelykenisse was nie maklik om te verstaan nie. Daarom het die dissipels Jesus soms gevra om te verduidelik wanneer hulle alleen by Hom was. In Matteus 13:11 vra die dissipels vir Jesus hoekom Hy van gelykenisse gebruik maak. Jesus antwoord hulle so: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.” (Mt 13:12) Die Griekse woord wat met geheime vertaal is, is musteria. Dit klink en lyk soos “mysterie” of “misterie.” Die koninkryk van God het geheimenisse wat net vir sekere mense toeganklik is. Die koninkryk is ‘n misterie wat nie alle mense beleef nie.

In Matteus en Markus begin Jesus sy bediening met die opmerking dat die koninkryk in Hom tot by ons gekom het. Hoe kom God se koninkryk in hierdie wêreld? Om die vraag te verduidelik het Jesus onder andere die gelykenis van die saaier vertel en toe ook die gelykenis van die onkruid. In vandag se gedeelte vertel Jesus ses kort gelykenisse wat ook handel oor die koms van die koninkryk.

Leerlinge van die koninkryk.

Dit is juis een van hierdie gelykenisse, die laaste een (13:52),  wat iets verduidelik van die gelykenisse. Nadat Jesus hierdie vyf gelykenisse vertel het, vra hy vir sy dissipels of hulle nou alles verstaan. (Vers 51) Hulle antwoord dadelik: “”Ja!” (Vers 51) Dan vertel Jesus hierdie gelykenis wat amper by ‘n mens verbygaan: “So is elke Skrifgeleerde wat ‘n leerling van die koninkryk word in die koninkryk van die hemel, soos ‘n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.” (Vers 52)

‘n Leerling van die koninkryk verstaan hoe langer hoe meer die geheimenisse, die misterie, van die koninkryk. Skrifgeleerdes was Jesus se opposisie. Selfs sy vyande. Hulle het die Skrifte net so goed geken as Jesus. Maar Jesus het die Skrifte anders geïnterpreteer as hulle. Vir die Skrifgeleerdes is die Skrifte ou en bekende voorraad. Alhoewel die Skrifte vir hulle belangrik en waardevol en heilig is, wanneer die Skrifgeleerde sy voorraadskuur oopmaak, dan bring hy net ou dinge te voorksyn. Wanneer so ‘n skrifgeleerde egter ‘n leerling in die koninkryk word, stap hy in dieselfde voorraadkamer in en hy bring ook nuwe dinge te voorskyn.

Jesus maak dus van gelykenisse gebruik om die leerlinge van die koninkryk die nuwe betekenis van die Skrifte en van God se beloftes te laat sien. Nuwe betekenisse wat vir ander geheime bly.

Die impak van stories.

Daar is ‘n tweede rede waarom Jesus gelykenisse vertel. Gelykenisse is verhale of stories. Stories doen iets aan en met ‘n mens. Wanneer iemand vir ons ‘n verhaal of ‘n storie vertel, dan word ons byna onwetened deel van die verhaal. Ons word in die verhaal ingelok. Op die manier skep stories ‘n belewenis. Wanneer ons iets beleef van die storie wat vertel word, dan kry die storie besondere krag. Die storie maak emosies in ons wakker. Die storie laat ons wonder oor hoe ons dinge sien en hoe dit ooreenstem met dinge soos dit regtig is en soos ander dit sien.

In die gelykenisse wat Jesus vertel het, het die dissipels en die ander leerlinge van die koninkryk nie feite oor die koninkryk geleer nie. Hulle het ervarings gehad wat by hulle vasgesteek het. Splinternuwe betekenis van ou-ou waarhede gaan skielik oop. Dieselfde voorraadkamer. Nuwe dinge.

Ek weet nie hoe dit met jou werk nie. Maar ek kyk sekere flieks en TV Programme en as ek dit klaar gekyk het, vergeet ek daarvan. Ander steek by my vas. Ek het so deel geword van die verhaal, die storie, dat ek bly wonder en dink oor die karakters in die verhaal. Oor die storielyn. Die fliek is klaar, maar die storie leef steeds voort. Jesus se gelykenisse werk ook so. Hulle is kort. Mens verwag nog ‘n ontknoping of ‘n opvolg, maar dit is klaar. Die hoorder moet maar self die verhaal klaar gaan vertel.

Die geheimenis of misterie wat opgesluit lê in Jesus se gelykenisse daag ons uit. Sien die storielyn! Sien die intrige! Sien die ontknoping! Sien hoe raak hierdie verhaal jou! Hoe kan hierdie verhaal jou verander? Hoe raak hierdie verhaal jou waardes, jou drome, jou vrese, jou ideale, jou oortuigings? Hoe is hierdie wêreld wat Jesus deur hierdie verhaal skets anders as die wêreld wat jy ken?

‘n Verstands-godsdiens.

Ons probeer alles verduidelik en aan alles betekenis gee. Intussen word ons uitgenooi om te beleef. Luister na die gelykenis. Beleef hoe die gelykenis jou raak. Beleef hoe God deur die gelykenis jou emosies roer. Beleef hoe God deur die gelykenis jou gedagtes deurmekaar maak. Jou veronderstelde sekerhede laat wankel en jou veronderstelde onsekerhede omskep tot vaste sekerheid. Laat toe dat God jou laat twyfel. Tywfel oor dit waarvan jy seker is. Twyfel oor jou tywfel.

Ek dink ons het imuun geraak het teen die effek van Jesus se gelykenisse. Ons is nie imuun teen die betekenis nie. Nee, ons leef in ‘n wêreld waar ons met die druk van ‘n knoppie baie beter verduidelikings van ‘n gelykenis kan kry as wat ek ooit in ‘n preek sou kon oordra. Ons het die betekenis van gelykenisse in ‘n sekere sin onder beheer. Die vrae wat ons het is nie omdat ons nie verstaan wat die gelykenis beteken nie. Ons vra die vrae omdat ons hoop hier spring ‘n nuwe betekenis uit wat die opskryf van die gelykenis in die Bybel die moeite werd maak. Ons het vrae omdat ons ‘n vermoede het daar moet meer wees as dit wat ons uit hierdie gelyeknisse uit kry. Ons is immuun teen die effek van Jesus se gelykenisse en oorversadig aan betekenis.

Wie word emosioneel geraak wanneer ek hierdie gelykenis lees? Deels is dit omdat die manier waarop ons kerk doen ons bederf het. Ons betaal iemand om vir ons hierdie gelykenis te interpreteer en verstaanbaar te maak. As die dmoninee se huiswerk gedoen het, hoef Ek self nie te hard te dink of te wonder nie.

Maar ons het ook groot geword in ‘n wêreld waar logika en wetenskap en beredenering die enigste manier is om betekenis aan iets te gee.  In hierdie wêreld is emosies gevaarlik. Sintuie is betroubaar. As ek dit nie kan sien, hoor, voel, proe, ruik nie, dan bestaan dit nie. Gevoelens – dis vroumensgoed. In hierdie proses het verbeelding gesterf. Ons sukkel om ons in ‘n verhaal in te leef.

Verworwe Immuniteit-sindroom

Die gevolg is: Ons is immuun teen die effek van gelykenisse. Daar is natuurlik ‘n manier om hierdie immuniteit teen te werk. Daar is ‘n manier om dit vir elkeen van ons moontlik te maak om in hierdie voorraadkamer in te stap en nuwe dinge daarin te kry. Die manier is: Begin om self in gelykenisse te dink: Sê nou jy moet ‘n gelykenis vertel oor hoe jy die koninkryk van God verstaan, wat sou jy vertel? Dalk wil jy iewers hierdie week gaan sit en hieroor gaan dink: As jy ‘n storie moet vertel oor hoe jy die koninkryk verstaan, watter storie sou jy vertel?

Ek gaan dit vanoggend doen. Ek gaan ‘n eietydse gelykenis vertel oor die koninkryk van God. Die eietydse gelykenis maak in ‘n sekere sin dieselfde punt maak as wat die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg wil maak.

‘n Eietydse gelykenis

Die koninkryk van God is soos… (Hou dit in gedagte tydens hierdie eietydse gelykenis!)

‘n Dogtertjie stap op ‘n kleinerige plein oorkant ‘n kerk in Wene. Die kerk se naam is de Sant Roc. Skielik sien sy die man sit. Hy het ‘n aandpak aan. Hy hou ‘n basviool vas. Voor hom op die grond is sy hoed. Langs hom is ‘n stoel. ‘n Paar mense het begin saamdrom oor hierdie vreemde man op die vremde plek in die vremde drag. Die klein dogtertjie is bekend met die beginsel. Hierdie is ‘n straatmusikant. As jy geld in sy hoed gooi, gaan hy vir jou musiekmaak. Die dogtertjie neem ‘n muntstuk en gooi dit in die man se hoed…

Maar, dalk is dit beter om die gelykenis te beleef op ‘n manier wat vir ons bekend is. Kom ons kyk na ‘n opname van hierdie gebeure wat ook as ‘n gelykenis kan dien. Terwyl jy kyk, hou in gedagte dat dit is hoe die koninkryk is. Raak bewus van jou gedagtes en jou emosies. Hoe raak dit jou oor hoe jy dink en voel oor wat regtig belangrik is? Hoe laat dit jou dink en voel oor dit wat op hierdie stadium besig is om in jou lewe te gebeur?  (Kyk by: )

Voordat ons verder gaan, beleef dit weer. Hoe het hierdie videosnit jou geraak? Watter emosies, gevoelens maak dit by jou wakker? Wat gaan deur jou gedagtes? Hoe raak dit jou gedagtes oor die koninkryk? Die eerste keer toe ek hierdie video gekyk was dit vir my besonders. Maar, die oomblik toe ek vir myself sê: So is die koninkryk, toe gaan daar vir my heeltemal ‘n nuwe wêreld oop. Hierdie video is nog lank nie klaar met my nie. Hierdie eietydse gelykenis het in my gedagtes bly maal. Elke keer as ek daaraan dink, dan is daar iets anders wat my aan die koninkryk herinner.

Die geheimenis: Die koninkryk is hier by ons.

Die dogtertjie het dit nie geweet nie, maar binne hoorafstand van die basviool was daar ‘n hele simfonieorkes met ‘n koor. Al waarvoor hulle gewag het was die eerste klanke van die basviool. Al waarvoor die basviool speler gewag het was vir iemand om ‘n muntstuk in die hoed te gooi. Toe die muntstuk val, begin die basviool en dit groei en dit groei en dit groei.

Die koninkryk van die hemel is soos mosterdsaadjie wat iemand gevat het en in sy tuin tussen die ander plante geplant het. Die koninkryk van die hemel is soos ‘n muntstuk wat ‘n dogtertjie in ‘n straatmusikant se hoed gegooi het.

Die geheimenis, die misterie van die koninkryk is dat dit hier reg rondom my is, maar ek sien dit raak nie. Ek beleef dit nie. Want ek is nie geleer om dit te verwag nie. Ek is nie geleer om dit raak te sien nie. Ek is so gewoond daaraan dat die een dag net soos die vorige dag sal wees. Ek het al begin aanvaar dat mense nie meer verander nie. Ek sien hoop as iets vir die toekoms – ver in die toekoms. Vir hierdie wêreld en hierdie lewe, wel… Intussen is hierdie die werklikheid van die simfonie orkes en die koor vir ons weggesteek. Net die geringste en die onverwagse oorweldig ons. So is die koninkryk.

Die geheimenis: ‘n Klein saadjie sit iets groots aan die gang.

‘n Klein saadjie wat iets aan die gang sit. Eers is dit net die klank van die basviool wanneer die man se strykstok oor die snare gly. Dan kom daar uit die omstanders ‘n dame met ‘n tjello vorentoe. Die twee musikante laat die eerste klanke van Beethoven se negende simfonie oor die plein weerklink.

Ek dink aan die klein groepie volgelinge wat Jesus met sy hemelvaart agtergelaat het. In die bokamer wag hulle op die vervulling van die belofte. Op Pinksterdag kom die ander uit elke stam en volk en nasie na vore. Ek dink aan die groei van die kerk soos dit in Handelinge beskryf word.

Die mosterdsaad groei tot ‘n reuse boom waarin die voëls van die hemel kom nesmaak. Soos die musiek vorder sluit meer en meer musikante by hulle. Soos die mense aansluit klink die musiek van Beethoven se negende simfonie “Ode to Joy” al hoe harder en al hoe verder. Verbygangers gaan staan verbaas.

Ek sien hoe die mense dit geniet en betrokke raak by dit wat hier gebeur. Iets  en iets diep binne in my roer. Ek onthou hoe ek op hierdie punt saggies gebid het: Laat U koninkryk so kom. Uiteindelik is daar ‘n hele simfonieorkes bymekaar. Saam met hulle ‘n koor wat hierdie vreugdelied oor die stadsplein laat weerklink.

Ek sien in my gedagtes ‘n gemeente waar mense hulle gawes en vaardighede en talente gebruik om die Here op verskillende terreine en maniere te dien. Ek sien God se gemeente die wêreld ingaan en soos koring tussen onkruid gaan groei. Watter wonderlike musiek moet dit nie vir God wees wanneer die koninkryk so deur die werk van sy kinders kom nie. Wanneer die kerk soos suurdeeg in hierdie wêreld in beweeg en geen stukkie van die wêreld ongeraak bly nie. Nêrens op die plein en die geboue rondom die plein kan jy wegkruip vir die klank nie.

Ek sien hoe mense in die skare eers gaan staan. Die wat die melodie ken neurie saam. Die wat die woorde ken sing saam. En ek bid: Mag dit tog so wees dat ons as gemeente deur ons lewens musiek maak wat die mense van hierdie wêreld sal laat stilstaan en ‘n paar selfs sal aanmoedig om saam te wieg en saam te neurie en wie weet dalk selfs saam te sing.

Die geheimenis: ‘n Uitnodiging om deel te word.

Iets in my wil saamsing. Dit is presies wat Jesus met sy gelykenisse wil doen. Hy wil ons bewus maak van hierdie dinamiese krag wat in Hom in hierdie wêreld ingebreek het en steeds besig is om in te breek. ‘n Krag vol misterie en geheimenisse. ‘n Verskuilde krag. ‘n Krag wat met die geringste aansporing losgelaat kan word en alles en almal verander.

So kom God se koninkryk in hierdie wêreld.

Maar so kom God se koninkryk ook in elkeen van ons se lewens.

Die geheimenis: Klein genoeg vir my.

Een ding wat my weer en weer getref het, was hoe maklik die kinders betrokke raak by dit wat hier gebeur. Wanneer die dogtertjie haar muntstuk in die hoed gooi, is daar reeds ‘n paar nuuskieriges wat saamgekom het om te kom kyk wat hierdie man met sy aandpak en sy basviool gaan doen. Niemand het egter daaraan gedink om ‘n muntstuk in die hoed te gooi nie. Ek sien hoe die basvioolspeler die dogtertjie se oog vang en diep in haar oë kyk. Hy speel asof hy net vir haar speel. Die verbasing op die dogtertjie se gesig wanneer sy sien hoe die ander musikante bykom en hierdie hemelse musiek maak. Vir ‘n oomblik lyk dit asof dit vir hierdie dogtertjie net ‘n saak tussen haar en die musikante is. Onbewus van die skare mense wat deur die musiek getrek is.

So kom God se koninkryk in my lewe. In jou lewe. Soos ‘n dogterjie wat ‘n muntstuk in ‘n straatmusikant se hoed gooi. Soos iemand wat ‘n mosterdsaad in sy tuin geplant het. Soos ‘n vrou wat suurdeeg in haar meel ingewerk het. So kom God se koninkryk. Die koninkryk groei ook in my.

Hierdie eitydse gelykenis het my laat dink aan die mense wat God in my lewe gebruik het om ‘n mosterdsaadjie te plant. Die mense wat God gebruik het om suurdeeg in my lewe in te werk. Ek weet nie hoe en waar dit alles begin het nie. Een ding weet ek en dit is dat iewers het die muntstuk geval en die musiek het nog nooit opgehou nie.

Terug by die kinders. Kinders klim teen pale op om beter te kan sien. Ander derigeer saam met die dirrigent. Hulle dans hulle vreugde uit. Kinders word spontaan deel van hierdie wonderlike gebeure rondom hulle. Dalk moet mens nuut begin dink oor om te glo soos kinders. Dalk het dit niks te make met die aanvaarding van sekere waarhede wat deur meerderes aan jou oorgedra is nie. Dalk het dit alles te make met die ongekompliseerde saam speel en saam dans en saam sing in God se simfonieorkes en God se koor.

Die geheimenis: Die begenadigde bly nooit die middelpunt nie.

As die musiek wegsterf soek die kamera die dogtertjie wat die muntstuk in die hoed gegooi het. Sy is weg. Sy het een van die skare geraak. Maar ‘n onvergeetlike ervaring sal haar bybly. So kom God se koninkryk in my lewe. So kom God se koninkryk in jou lewe.

Hierdie eitydse gelykenis wil-wil ‘n mens se oë laat oopgaan vir iets wat nog altyd daar was, maar jy net nie van bewus was nie. God se koninkryk is hier rondom my.

Is hierdie preek nie dalk daardie muntstuk wat vir my in die hoed val of die mosterdsaad wat in my lewe geplant word nie?

Is hierdie erediens nie dalk die geleentheid waar God ei plantjie water gee en laat groei nie?

Die geheimenis: Hierdie koninkryk is ‘n kosbare en waardevolle skat.

Maar iets in my wil ook sê: Hierdie koninkryk wat hier rondom my is en wat op so ‘n wonderlike manier deurbreek in ons lewens, is kosbaar. Ek moet dit hê.

Dit laat mens dink aan die kosbare skat in die veld ontdek word. Die man wat die skat ontdek is bereid om alles prys te gee om daardie skat te kry. So ook met die mees kosbare pêrel denkbaar. Ek kan nie anders as om te wonder: Hoe kosbaar is hierdie skat van God se koninkryk vir my? Wat is ek bereid om prys te gee en om te offer om hierdie kosbare skat te verkry?

Dit bly tog vreemd. Gelykenisse is net nooit klaar vertel nie.

5 Kommentaar

Filed under Preke

5 responses to “‘n Eietydse Gelykenis – So kom die Koninkryk

  1. Janetta

    Baie dankie vir die preek. Dit i werklik so dat mens die Bybelse verhale so baie gehoor het dat mens soms “oor” die dele lees sonder om die boodskap in te neem. Dankie vir die deel daarvan deur epos.

  2. Word waardeer

    Ek verskil van die kerk waarin ek ‘n lidmaat is. Hoe gaan ek te werk om my lidmaatskap op te gee en kan ek vra dat dit skriftelik bevestig word?

    • Natuurlik kan jy ‘n brief skryf en bedank as lidmaat en dan vra dat hulle ontvangs van jou skrywe erken. Ek sou egter ook aanbeveel dat jy met iemand in ‘n leiersposisie by die gemeente gaan praat. Dit kan die dominee wees of enige iemand anders wat invloed het. Die redes waarom jyb wil gaan kan dalk vir die gemeente geleentheid wees om weer te besin oor dit waarmee hulle besig is en waarheen hulle oppad is.
      Sterkte.

      • Baie dankie. Tweede Attie waarmee ek the doen kry en dit lyk my hulle is altryd professioneel en effektief.

        Ek dink nie praat gaan help nie. ek baklei al 44 jaar met die saak en my gewete pla my nou te veel

        Minder ernstig hoeveel grappe word in die Bybel vertel? My gunsteling is 2 konings 10 vers 27

  3. Job

    …hi attie…ek het jou hartsuk gelees en die aangrypende video gekyk oor die koninkryk van God wat so kom…dis aangrypend…dis mooi…ek VERLANG!!! om Godse koninkryk so te beleef…te sien…te deel…daar’s egter niks…Sy Koninkryk raak al dower…al verder…my lewe besig om stuk-stuk te disintegreer…na 58 jaar verbondskind en gelowige…maak dit…sy koninkryk…Hy…God… wat my altyd opgewonde gemaak het…geen sin nie…hoe kom ek daarby om die muntstuk inni hoed te gooi en te sien en te beleef wat die dogtertjie sien en beleef?…hoe dans ek op die koninkryksmusiek?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s