‘n Geestelike Reisgenoot

Enige persoon wat in God drie-enig glo, is onlosmaaklik deel van die huisgesin van God. Om saam met ander gelowiges kinders van God te wees, impliseer tog duidelik die gedagte van ‘n geloofsfamilie. (Sien Ef 1:5) God het ons geskep en herskep om as deel van hierdie geloofsfamilie te laat wees. (Sien 1Kor 12:13-26) God gee ons met ons verskillende gawes vir mekaar sodat ons geestelik volwasse kan word. (Sien Ef 4:11-16) Geestelike groei kom dus as gevolg van ons interaksie met dié mense saam met wie ek in ‘n geloofsfamilie is.

In Hebreërs 10:24 staan hierdie mooi woorde: “Laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie werke.”  en in 1 Tessalonisense 5:11: “Praat mekaar moed in en versterk mekaar…”

In die tyd waarin ons lewe, het ons so geïsoleerd begin lewe en het godsdiens so privaat geword dat hierdie dinge amper glad nie gebeur nie. God het ons bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun (Rom 8:29 en 2 Kor 3:18). Hierdie “bestemming” is ‘n lewenslange reis van heiligmaking. Die mense in my geloofsfamilie is bedoel om my op hierdie reis te help. Deel van hierdie reis is dat ons ook die sonde in ons lewens hanteer.

God gaan elkeen van ons verantwoordelik hou vir ons lewens en rekenskap van ons vra. (Rom 14:12) Gal 6:1-2 maak dit egter ook duidelik dat ons vir mekaar verantwoordelik is en dat ons aan mekaar rekenskap moet gee:

“Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n Gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste en gee so uitvoering aan die wet van Christus.”

‘n Geestelike reisgenoot is dalk net die regte persoon om my hiermee te help. ‘n Geestelike reisgenoot is iemand wat as my broer of suster in Christus langs my kom loop en my help om die lewe te leef wat God bedoel het ek moet leef.

In my gesprekke met mense oor hierdie onderwerp het ek agtergekom dat hulle skrikkerig is vir hierdie saak. Die eerste gedagte is dat hierdie persoon iemand gaan wees wat die foute en sondes in my lewe uitwys en my die hele tyd wil reghelp. Die bedoeling is egter heel eerste om my aan te moedig om te volhard sodat ek by God se bestemming vir my lewe kan uitkom.

‘n Persoon wat op soek is na ‘n geestelike resigenoot is iemand wat ‘n behoefte het aan geestelike groei. ‘n Geestelike reisgenoot kan my help om te groei in integriteit, volwassenheid, karakter, verhoudings in die algemeen en in besonder ons verhouding met Christus.

‘n Geestelike reisgenoot is iemand met wie ek in ‘n verhouding is waar ons mekaar soveel vertrou dat ons met mekaar ons lewensreis deel deur met mekaar daaroor te praat en sodat ons kan leer waar ons hulp nodig het en ons stryd en swakhede kan verstaan en aangemoedig kan word om op koers te bly. Ons help mekaar wanneer ons struikel en ons word vir mekaar rolmodelle.

‘n Paar wenke.

1. Hierdie persoon kan jou man of jou vrou wees op voorwaarde dat daar nie iets in jou lewe of in julle verhouding is wat julle nodig het om uit te sorteer nie. Indien dit jou lewensmaat is, is dit egter belangrik om hierdie gesprekke per afspraak te voer, anders gaan dit nie gebeur nie.  ‘n Objektiewe buitestaander is dalk ongemaklik, maar kan dalk wonderlike waarde toevoeg tot jou persoonlike geestelike groei. Dit is egter ook moontlik dat dit jou lewensmaat én iemand anders kan wees. Die enigste voorwaarde is dat as hierdie persoon nie jou lewesnmaat is nie, dan moet dit iemand van dieselfde geslag as jy wees. Geen uitsondering.

2. Jy kan met een persoon hierdie reis onderneem, maar sommige reisgenote is groepe van 3-5. Belangriker as die getal is egter wat julle doen.

3. Indien jy ‘n behoefte aan so ‘n persoon het, is die persoon wat die rol kan speel heel waarskynlik klaar deel van jou lewe. Vra die Here om vir jou te wys wie so ‘n persoon kan wees. Maak ‘n koffie-afspraak met die persoon en praat hieroor. Verduidelik dat jy ‘n behoefte het om geestelik te groei en dat jy dink hy/sy kan jou daarmee help. Moenie dadelik ‘n antwoord verwag nie. Gee die persoon kans om self daaroor te gaan dink en dan met ‘n antwoord te kom. Wanneer die persoon instem kom ooreen hoe gereeld julle mekaar gaan sien. Weekliks, twee-weekliks, maandeliks?

4. Die volgende is ‘n paar vrae wat julle kan help om die gesprek te voer:

4.1 Op watter maniere was die Here vir jou goed vandat ons laas gesels het?

4.2 Watter besondere vreugdes het jy beleef vandat ons laas gesels het?

4.3 Op watter maniere kon jy God se liefde uitleef vandat ons laas gesels het?

4.4 Watter teleurstellings het jy beleef vandat ons laas gesels het? Watter invloed het dit op jou verhouding met die Here gehad?

4.5 Hoe gaan dit met jou deel wees van jou geloofsfamilie? Woon jy eredienste by? Gee jy ‘n deel van jou tyd om jou geloofsfamilie te dien? Gee jy ‘n finansiële dankoffer vir die werk van jou geloofsfamilie?

4.6 Is jou gesin ‘n prioriteit in jou lewe? Gee jy genoeg tyd en aandag aan hulle? Is jou verhouding met jou lewensmaat wat dit moet wees? Gee jy genoeg tyd en aandag aan hom/haar?

4.7 Is daar ‘n sonde waarmee jy worstel? Wat doen jy om dit te oorkom?

4.8 Wat dink jy gaan jou grootste geestelike uitdaging wees totdat ons mekaar weer sien?

4.9 Hoe kan ek/ons jou help om God se doel vir jou lewe (Rom 8:29 en 2 Kor 3:18) te verwesenlik?

Namate die verhouding ontwikkel word dit al hoe makliker om oor die dinge te gesels. Begin stadig. Moenie verwag om reg van die begin af die diepste en donkerste van jou lewe te ontbloot nie. Moet egter nooit die vrae vergeet nie. Die vrae help julle om op koers te bly. Julle kan ook vrae byvoeg om by julle behoeftes aan te pas. Maak jou reisgenoot ‘n belangrike deel van jou gebed. Bid vir hom/haar en vir die dinge waaroor julle gepraat het. Onthou dat vertroulikheid krities is. Jy mag nie met iemand anders oor die inhoud van julle gesprek praat nie.

In die tyd tussen afsprake kan julle per sms of so iets met mekaar kontak hou. Hierdie is ‘n manier om jou te help om geestelik te groei. Op die ou end bly dit jou keuse.

“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus Kom. (Filippense 1:6) 

3 Kommentaar

Filed under Algemeen, Die Christelike Lewe

3 responses to “‘n Geestelike Reisgenoot

  1. Christelle van der Walt

    Om eerlik te wees ek het al baie so ‘n dringende behoefte gehad. Telkens was ek teleurgesteld. Die beste raad wat ek kan gee is om Jesus Christus jou reisgenoot te maak. Baie van my probleme is al opgelos net deur te bid.

  2. Werner Olivier

    Christelle, nie alle mense is geskik vir bogenoemde metode nie.Ds Attie deel mee dat vertroulikheid,krities van aard is.Daar is baie goeie mense daar buite,maar almal besit nie die geaardheid om iets vertrouliks te kan hanteer nie.Deur die jare leer mens mense ken en later weet jy met wie jy ‘n vertrouensverhouding kan loop met enige aspek van die lewe.Ek sal met my vrou en enkele ander mense so ‘n pad kan loop.Voor jy so iets dan oorweeg maak seker jy ken die persoon/persone baie goed.Goeie skrywe.
    Groetnis.

  3. GERRIT

    EK WIL BAIE GRAAG GROEI DANKIE VIR DIE RAAD.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s