Aswoensdag is die eerste dag van Lydenstyd op die Christelike kalender en is 46 dae voor Paassondag. Dit word Aswoensdag genoem omdat die vroeë kerk op die dag iewers op die gelowiges se liggame ‘n kruis gemaak het met die as van die gebrande palmtakke van die vorige jaar se Palm-Sondag. Hierdie 46 dae is die tyd op die Christelike kalender waarin die kerk voorberei vir die fees van die opstanding op Paassondag.
Volgens die evangelies het Jesus 40 dae in die woestyn deurgebring waar Hy deur die duiwel versoek is. Aswoensdag is dan die begin van die kerk se meelewing van Jesus se 40 dae van versoeking in die woestyn. Een van die maniere is dan dat ons as Christene ook vir hierdie 40 dae vir iets “nee” sê. Hierdie 40 dae word dan ‘n liturgiese tyd van gebed, vas en onthouding.
Van die 46 dae na Paassondag is 6 Sondae. Sondae word nie getel as deel van die “vastyd” nie omdat dit feesdae is waar ons selfs in lydenstyd die opstanding van Jesus Christus vier.
Elke persoon besluit self of hy vir hierdie 46 (40) dae iets wil opsê. Sommige besluit byvoorbeeld om vir 40 Dae niks koffie te drink nie. Ander besluit om vir 40 dae niks TV te kyk of koerante te lees nie. Elkeen kan self besluit of en hoe hy/sy aan hierdie lydenstyd (Engels = Lent) gaan deelneem. Dalk wil jy hierdie jaar saam met die wêreldwye kerk lydenstyd leef.
Hierdie tyd word egter die mees sinvolle beleef wanneer jy aan die een kant iets laat los, maar aan die ander kant ook iets opneem of daardie tyd daarmee vul. Ek gaan dit in hierdie tyd op hierdie manier doen:
1. Ek gaan vir die 46 dae van Lydenstyd “nee” sê vir Facebook en Twitter. Ek is redelik aktief op Facebook en Twitter, maar vir hierdie tyd gaan ek nie een keer daarna kyk nie. Ek gaan wel op die Koffietafel skryf wat dan outomaties op Facebook en Twitter verskyn, maar ek gaan nie daar gaan kyk wat gebeur nie.
2. Margaret Feinberg het Christene oor die wêreld uitgedaag om die in Lydenstyd die hele Nuwe Testament deur te lees. Ek gaan ook in Lydenstyd saam met ‘n hele paar ander mense probeer om die hele Nuwe Testament in hierdie tyd deur te lees. Om dit reg te kry moet ‘n mens 7 hoofstukke per dag lees wat jou tussen tussen 20-30 minute per dag neem.
Ek nooi jou om saam met my die Nuwe Testament te lees. Hier kan jy gaan kyk watter hoofstukke op watter dag gelees word. Jy kan die blaadjie uitdruk en dit in jou Bybel bêre.
Hoe lyk dit, sien jy kans? As jy kans sien, skryf dit hier onder sodat ons kan weet ons is nie alleen nie.
More is dag een dan lees ons Matteus 1-7.
Ek lees graag saam
Ek is ook in. Is juis besig om deur Johannes te werk so dit werk so reg in my kraal.
Ek gaan chokolade los vir 40 dae!!!
Ek gaan suiker uitsny!
Hi vriende ek wil ook saamlees asseblief. Ek glo in vandag se tyd is daar niks wonderlikers as kuier in die Woord nie.
Sterkte.
Maria