GODSDIENSTIG MAAR NIE GEESTELIK NIE

Enige iemand wat bietjie van die gesprek hieroor weet, sal besef dat die onderwerp van hierdie inskrywing ‘n stroomop opmerking is. Die eintlik uitdrukking is: “Spiritual But Not Religious.” (Geestelik Maar Nie Godsdienstig Nie) In kort: SBNR. Hulle het selfs hulle eie webblad. Gaan kyk gerus by SBNR.

Die basiese punt sou wees dat sulke persone (SBNR) nie georganiseerde godsdiens nodig het om in die regte verhouding met God te wees nie. Robert Fuller het hierdie benadering so saamgevat: 

“[They] feel a tension between their personal spirituality and membership in a conventional spiritual religious organization…For them spirituality has to do with private reflection and private experience–not public ritual.”

Hierdie gedagtegang het uit die aard van die saak ‘n appél op mense. Deur geestelik te wees kan jy eerstens die bestaan van God met jou hele wese aanvaar en dan natuurlik ook ervaar. Jy kan egter ook geestelik wees en dan nog skepties oor die bestaan van God ook wees. Jy kan egter selfs die bestaan van God verwerp, maar steeds jouself as geestelik beskou.

Georganiseerde godsdiens dryf die geestelik maar nie godsdienstige groep mense weg van die kerk af. Hulle sou byvoorbeeld sê: Al hierdie vergaderings. Ons kan Christene wees sonder om vergaderings te hou. Maar, dan gaan dieselfde groep en besluit: Wanneer kom ons waar bymekaar en wat gaan ons doen? Wanneer meer as een persoon daardie vraag probeer antwoord was daar ‘n vergadering. Dan is julle besig met georganiseerde godsdiens. Wanneer ‘n groep vir ‘n tweede keer bymekaar kom is dit georganiseerde godsdiens.

Maar, vergaderings het ook die diep geestelike karakter. Vergaderings bestaan uit ‘n groep individue wat saam probeer om te besluit wat regtig belangrik is. Ten einde die besluit te neem, behels dat die mense na mekaar luister en by mekaar leer. ‘n Vergadering leer ‘n mens wat nederigheid en selfkruisiging en leerbaarheid beteken. ‘n Vergadering leer ‘n mens om te aanvaar dat jy nie alles weet nie en ook nie al die insigte het nie. ‘n Vergadering bied aan jou die geleentheid om die werking van die Gees in en deur ander mense te beleef. ‘n Vergadering kan ook ‘n diep geestelike belewenis wees.

Ek het geweldig baie waardering vir mense soos Richard Foster, Richard Rohr en Dallas Willard wat almal ‘n groot invloed op my geestelike lewe gehad het. Maar ek is doodeenvoudig nie sterk genoeg om geestelik maar nie godsdienstig te wees nie. Dalk is ek net nie genoeg van ‘n geestelike persoon nie. Ek het al in my lewe diep geestelike konneksies of belewenisse gehad, maar dit is veel eerder afwesig as wat dit aanwesig is.

Ek glo met my hele hart dat die Heilige Gees in sy volheid ook in my woon en werk. Ek glo dat Hy my lei en leer en versterk. Maar ek wonder dikwels of hierdie nou my eie stem of gedagte is en of dit die stem van die Heilige Gees is. Ek het al baie kere gedagtes gedink wat ek vir myself sê: Hierdie kan nie van die Heilige Gees wees nie. Later sal ek ontdek dat dit wel van die Heilige Gees was. Ek kon maar gesê het. Ander kere was ek oortuig dat die opmerking wat ek wil maak ‘n diep geestelike waarheid is. Later sal ek ontdek dat dit maar my eie gedagtes was.

Maar, onder andere het ek by die drie manne wat ek hier bo noem iets geleer van geestelike dissipline. Ek doen sekere dinge nie omdat dit vir my reg voel nie, maar omdat ek glo dit is die regte ding om te doen. Ek gaan kerk toe. Ek hou my daaglikse stiltetyd. Ek bid ten minste een keer op ‘n dag die Ons vader gebed. Ek herhaal vir myself ten minste een keer op ‘n dag die Apostoliese geloofsbelydenis. Ek is deel van ‘n weeklikse kleingroep. Ek woon vergaderings getrou en gereeld by.

En dan kan ‘n mens natuurlik nie wegkom van die Nuwe Testament af nie. Jesus het nie sy rug op georganiseerde godsdiens gedraai nie. (Lukas 4:15) Die eerste volgelinge van Jesus in die vroeë kerk het deelgeneem aan die georganiseerde godsdiens van die dag. (Handelinge 3:1) En in die brief aan die Hebreërs word die lesers aangemoedig om deel te wees van georganiseerde godsdiens. (Hebreërs 10:24-25)

Ek is in my wese ‘n godsdienstige mens met ‘n bietjie geestelikheid daarby. Ek dink daar is ander wat gaan sê ek is ‘n geestelike mens met bietjie godsdienstigheid daarby. Moet ons regtig tussen die twee kies? Het God ons nie eerder verskillend gemaak nie?

Dit werk vir my. Ek is godsdienstig en nie geestelik nie.

2 thoughts on “GODSDIENSTIG MAAR NIE GEESTELIK NIE

Add yours

  1. Attie, ek stem saam dat ons nie moet kies tussen die twee nie en dat ons verseker verskillend gemaak is.Ek lees so tyd gelede ‘n kort skrywe van ‘n skrywer wat meedeel dat ons hier op aarde eintlik geestelike wesens is wat oorwegend ‘n fisiese ervaring beleef en nie fisiese mense is wat oorwegend ‘n geestelike ervaring hier op aarde beleef nie.Dit laat ‘n mens nogal dink.
    Wat ek partykeer nie kan verstaan nie,is dat daar mense is wat met hierdie wereld en sy probleme niks te doen wil he nie,maar sodra daar probleme opduik word die probleme vergeestelik.Ons het darem ook elkeen ‘n verstand gekry om probleme op te los.Goeie skrywe.
    Groetnis.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: