Sondag 16 Februarie begin ons 40 Dae van Saamwees. Hierdie veldtog slauit baie mooi aan by ons gemeente se visie en missie:
Ons is ‘n geloofsfamilie wat God -drie-Enige voluit dien, deur Hom in alles te verheerlik, geestelik te groei, vir mekaar om te gee en ‘n verskil te maak in die wêreld.
Ons berei hierdie week voor vir ‘n ontmoeting met die Here. Die Bybel het verskeie verhale van ontmoetings met God. Nie twee van die verhale is dieselfde nie en nie twee se eindresultaat is dieselfde nie. Ons gaan nie elke dag by die kerk bymekaarkom nie, maar ons gaan saam bid.
“Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg. ” Handelinge 2:46-47
Hemelse Vader, saam met my geloofsfamilie bid ek…
- dat elkeen in ons gemeente deel sal wees van hierdie 40 Dae van Saamwees veldtog. Ek bid dat U deur U gees baie mense in hierdie week sal oortuig om deel te wees van ‘n kleingroep.
- dat elkeen wat in ‘n kleingroep is nuwe verhoudings sal ontdek en ook sal beleef hoe U hulle lewens verander. Gee dat die leiers van daardie kleingroepe toegerus sal wees deur U Gees vir hierdie belangrike rol wat hulle speel.
- dat elkeen wat die weeklikse eredienste bywoon se lewens deur U Gees en deur U Woord aangeraak sal word. Ek bid ook vir almal wat een of ander rol in die erediens sal speel dat hulle krag daarvoor sal kry en vreugde daaruit sal put.
- Gee ons vandag ons daaglikse brood.
NS – Onthou Saterdagoggend (06:30-07:30) ons gesamentlike aanbidding, gebed en nagmaalsgeleentheid.
Laat 'n boodskap