Evangelisasie gebeur nie meer nie. Evangelisasie het vir sommige mense ‘n “tipe van spiritualiteit” geword waarmee hulle verkies om nie geïdentifiseer of geassosieer te word nie. Evangelisasie het natuurlik vir verskillende mense verskillende betekenisse en inhoud. Hoe dit ookal sy, evangelisasie is nie meer hoog op die agenda van die kerk nie. Ons lewens moet die praatwerk en die getuieniswerk doen. Die probleem is egter dat dit vir my lyk asof die goeie nuus van God se verlossing in Jesus Christus nie verder as eredienste en kleingroep-byeenkomste kom nie.
In sy kommentaar op Johannes 1:29-42 het David Lose melding gemaak van hierdie drie stappe (SIEN – DEEL – NOOI) van getuienis. Hoe meer ek met die hierdie drie stappe na Johannes 1:29-42 gekyk het, hoe meer het ek dit raakgesien.
JOHANNES
- SIEN Jesus se doop en ontdek wie Hy is.
- DEEL met sy (twee) dissipels wat hy gesien en beleef het.
- NOOI, deur te deel, hulle uit om volgelinge van Jesus te wees.
JESUS
- SIEN twee van Johannes se dissipels volg Hom.
- DEEL met hulle deur hulle ‘n vraag te vra: “Wat soek julle?”
- NOOI hulle om self te kom kyk. “Kom saam, dan sal julle sien.”
ANDREAS
- SIEN waar Jesus bly.
- DEEL dit met Simon.
- NOOI Hy bring (nooi/lei) hom na Jesus toe.
Het ons getuienis of evangelisasie nodig om meer as dit te wees? Ek is getref deur die redelike gemak waarmee beide Andréas en Petrus op die uitnodiging reageer. Kan dit wees omdat dit elke keer is omdat iemand wat hulle vertrou met hulle hulle eie, persoonlike ervarings gedeel het? In Andréas se geval is dit Johannes, sy leermeester wat met hom deel wat wat hy van Jesus geleer en besef het. In Simon se geval is dit Andréas, sy broer, wat met hom deel wat hy beleef het toe hulle ‘n paar ure saam met Jesus was. Kan dit wees omdat elkeen van die wat nooi ‘n ingesteldheid het van “Kom saam, dan sal julle sien.”, in plaas van: “Gaan!” Johannes wat uit sy pad uit gaan om seker te maak dat niemand hom met die Messias sal verwar nie en dat Hy regtig net ‘n voorbereidingsrol het om te speel. Andréas wat Simon tot by Jesus bring en hom nie stuur nie.
Al wat Johannes en Andréas deel is die bietjie wat hulle weet. Maar dit is genoeg. Nadat Johannes gedeel het en genooi het is Andréas in Jesus se hande. Nadat Andréas gedeel en genooi het, is Simon in Jesus se hande. Andréas vind en word gevind en so ook Simon en elkeen van ons. Andréas verander en word verander en so ook elkeen van ons. Simon kry ‘n nuwe naam en daarmee ‘n nuwe identiteit – Petrus of Sefas of Rots.
Ek (en natuurlik jy ook) kry ook ‘n nuwe naam en daarmee ‘n nuwe ideniteit. Kies watter naam jy vandag sou wou hê: Gedoopte, Geliefde Kind, Vergeefde Sondaar, Begenadigde, Tempel, Nuwe Skepping.
As gedoopte kan ek ook maar net op die uitkyk wees vir nood, van watter aard ookal, en dan deel. Dikwels sal ek eers iets fisies moet deel kos, versorging, beskerming, ondersteuning. Dan kan ek my ervaring deel: “Ons het die Christus gevind. Kom saam, dan sal jy sien.”
Sien – Deel – Nooi.
Dissipels maak dissipels.
Gaan lees gerus my kommentaar onder die bespreking: https://www.facebook.com/#!/vossie123/posts/10202895738571828