CHRIST SCENE INVESTIGATORS

Ek het verlede Donderdag HIER verwys na die interessante tipe van metafoor waarmee die jeugleiers vir hierdie jaar vorendag gekom het. Die metafoor is CHRIST SCENE INVESTIGATORS. Die metafoor is gebaseer op die TV Reeks CRIME SCENE INVESTIGATORS of CSI. CSI’s ondersoek ‘n misdaadtoneel vir enige leidrade met betrekking tot die misdaad wat gepleeg is. Wanneer hulle dan die leidrade ‘n bietjie van naderby ondersoek, dan kan hulle op die ou end die oortreder identifiseer, opspoor en arresteer.

Ons is hierdie jaar CSI’s. Die enigste verskil is dat ons nie ‘n misdaadtoneel ondersoek nie. Ons ondersoek die Christus-toneel. Die toneel waar die opgestane Here Jesus lewend aan die werk is. Die aarde en alles daarop, die see en alles daarin, die ganse skepping is die werkplek van ons Here. Die leidrade is egter nie so voor die hand liggend nie. Net soos die regte CSI’s moet ons ook maar mooi kyk om te sien waar in hierdie skepping God in Christus aan die werk is. Ons het natuurlik ‘n idee van die Persoon na wie ons op soek is. Volgens Johannes 1:29-42 kan ons ten minste al die volgende sê oor die Een wie se leidrade ons hoop om op die toneel te vind:

  • Hy is die Lam van God (1:29)
  • Hy neem die sonde van die wêreld weg. (1:29)
  • Hy is die een wat voor alles reeds bestaan het. (1:30-31)
  • Hy is die Een op wie die Gees gekom het en gebly het. (1:32-33)
  • Hy is die Seun van God. (1:34)

As goeie CSI’s sal ons natuurlik ook probeer om soveel as moontlik te lees van in die Boek oor Hom geskryf is. Ons sal daardie Boek met ‘n vergrootglas fynkom om seker te maak dat ons nie ‘n leidraad wat op Hom wys mis nie, maar ook om seker te maak dat ons nie ‘n verkeerde leidraad volg nie.

Die belangrikste leidrade wat Hy laat waar Hy ookal op die toneel was, is dat Hy alles nuut maak. (Openbaring 21:5 – Ek het HIER iets oor die teksgedeelte geskryf.) Ek dink skielik oor hierdie “alles nuut maak.” Vir my sê Johannes dieselfde ding, net in ander woorde wanneer hy sê Jesus die sonde van die wêreld wegneem. Waar die opgestane Here Jesus dinge weer nuut maak, word die tekens van die sondeheerskappy in hierdie wêreld teengewerk en verminder. Honger mense kry kos; daklose mense kry huise; verwerptes beleef aanvaarding; eensames beleef verhoudings; siekes beleef bemoediging; treurendes beleef troos; vervreemdes beleef versoening; die wat deur onreg getref is beleef hoe reg vir hulle geskied. En so sou ons kon aangaan. Daardie is die leidrade weaarna ons op soek is. Ons doel is nie om iemand te arresteer nie, maar eerder om deur Iemand gearresteer te word. Ons wil deel word van dit waarmee Hy besig is en saam met Hom tekens oprig van die ander werklikheid van die God se koninkryk.

As CSI’s hoor ons ook maar hier aan die begin van die jaar wat Jesus vir Andreas en die ander dissipel van Johannes gesê het. Eers vra Jesus vir hulle “wat soek julle?” Dan antwoord hulle met ‘n vraag: “Rabbi, waar gaan U tuis?” Jesus antwoord met ‘n uitnodiging: “Kom saam, dan sal  julle sien.” Nou ja, so gaan ons hierdie jaar “journey.” As CSi’s op die voetspore van die Een wat die sonde van die wêreld wegneem.

“Kom saam, dan sal julle sien.” (1:39)

Hoe lyk dit, reis jy saam?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: