Dissipelskap is die “buzz”-woord op hierdie stadium. HIER kan jy gaan lees wat mense oor dissipelskap gesê het. Ek weet nie hoe ander daaroor voel nie. In alle eerlikheid moet ek sê dat wanneer ek oor dissipelskap lees, dan kry ek dikwels die gevoel dat ek dit nie maak as dissipel nie.
Ek preek Sondag uit Johannes 1:29-42. In die gedeelte lees ons van Jesus se eerste drie dissipels. Ons ken net twee van die drie se name. Die twee broers, Andreas en Petrus.
Andreas lyk vir my na die dissipel in die skadu. Hy word drie keer in die evangelie genoem waar hy iets doen. Hy bring elke keer iemand na Jesus toe. Hy bring vir Petrus (1:42) en die seuntjie met die vyf brode en twee vissies (6:8) en die groepie Grieke (12:20-22).
Andreas se naam word nooit alleen genoem nie. (Behalwe as hy met Petrus gaan praat.) Hy en die onbekende dissipel besluit om volgelinge van Jesus te word. Hy word twee keer Simon-Petrus se broer genoem. Hy en Filippus gaan saam om Jesus van die Grieke te vertel. Dit lyk regtig asof hy altyd in die skadu van sy uitgesproke en dinamiese broer Petrus moet lewe. Petrus se naam word 32 keer in die Johannes-evangelie genoem. Nie minder nie as 8 keer meer as Andreas sin.
Tog is hy ‘n effektiewe volgeling van Jesus. Mens hoef nie ‘n Petrus of ‘n Paulus te wees om ‘n volgeling van Jesus te wees nie. Dit lyk my mens kan sommer maar net jouself wees. Jy kan sommer net jou eie unieke lojaliteit teenoor Christus leef, deel wat jy beleef en doen wat jou hand vind om te doen. Dan sal jy ‘n goeie dissipel wees.
Kan dalk vir my werk.
Wat dink jy?
Attie,ek dink baie mense voel onwaardig in hulle menslike swakheid om Dissipelskap uit te leef in hulle eie unieke omstandighede.Ek dink dit is ‘n groot fout,want elke mens het ten minste een Geestelike Gawe ontvang en talente om sy/haar Dissipelskap uit te leef.
Attie ek dink nie jy hoef self te voel dat jy dit nie maak as Dissipel nie,allermins.Jy het absoluut die gawe van profesie ontvang,maw om ons Meester se wil bekend te maak.Ek glo geen mens hoef in die skadu van enige mens te leef om sy Dissipelskap uit te leef nie.
Voorspoedige 2014 en groetnis.
Kan u asb ‘n eposadres vir my aanstuur – ek sou u graag persoonlik wou kontak maar die link op hierdie blad werk nie. robberts.elmarie@gmail.com