Dinsdag-aand vra iemand: Mag ek net weet wanneer die koffietafel dan weer aan die gang kom? Nou ja, hier is die resultaat van daardie vraag. Laat ek gou verduidelik waarom dit Dinsdagaand was.
Ek is baie bevoorreg om ‘n lekker span volwassenes te hê wat elke jaar saam met die tieners van ons in gemeente reis. (Op enkele uitsonderings na is almal van hulle self ook ouers van tieners.) Die tieners praat van “journey.” Nou ja ons “journey” Dinsdae-aande in ‘n kleingroep en dan “journey” hulle weer Sondae-aande saam met die tieners in kleingroepe. Ons maak gebruik van KONTAK se materiaal wat ons soms so hier en daar bietjie aanpas vir ons eie gebruik. Die doel van die Dinsdae-aande is vir elkeen van ons se eie geestelike vorming. Dinsdae-aande gebruik die Here ons om mekaar as sy volgelinge te vorm. Die doel is egter ook om die jeugleiers vroegtydig bietjie meer vertroud te maak met die teksgedeelte wat hulle Sondag-aand weer saam met die tieners gaan lees.
Ons maak hoofsaaklik gebruik van die Leesrooster se tekste. Die implikasie is dat die hele gemeente in elke aktiwiteit in ‘n gegewe week dieselfde teksgedeelte lees. Eerskomende Sondag sal Johannes 1:29-42 tydens die oggenddiens gepreek word en ook tydens die aanddiens. Die laerskoolkinders behandel dieselfde teks wat op hulle vlak vir hulle aangebied word. Na die aanddiens het ons tienerkleingroepe waar dieselfde teks steeds op hulle vlak behandel word. Deur die loop van die week lees al ons kleingroepe ook weer dieselfde teks.
Ons kleingroep op ‘n Dinsdagaand is egter altyd ‘n week vooruit. Vir twee redes. Die een het ek reeds genoem: So berei ons as gespreksfasiliteerders voor vir ons ontmoeting Sondagaand met die tieners. Maar, dit gee ook vir my (as die een wat die meeste van die kere preek) ‘n idee van wat die alledaagse lesers in die teks raaksien en watter vrae daar by hom/haar ontstaan. Ek het dan die res van die week om daarmee ook besig te wees.
Maar, hierdie is ‘n kreatiewe groep. Hulle kom gewoonlik met ‘n praktiese manier om dit wat ons sê vir die tieners verstaanbaar en meer interessant te maak. Ons wou graag ‘n bietjie kyk of ons ‘n rigting of tema vir die jaar kan kry. Ek het met ‘n bepaalde idee gegaan. Maar, ek weet ookal dat ek moet hoor wat sê die groep. En daar gooi hulle my idee by die deur uit en kom met ‘n nuwe idee na vore. Die tema vir die jaar het sy oorsprong in die teks wat ons gelees het. Wanneer twee van Johannes se dissipels besluit om eerder vir Jesus te volg en Jesus hulle raaksien, vra Hy vir hulle:
“Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?” Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” (Johannes 1:38-39)
Elkeen van hierdie drie opmerkings het die groep aan die gesels gekry: “Wat soek julle?” “Waar gaan U tuis?” “Kom saam dan sal julle sien?”
Op ‘n manier wil ons hierdie jaar besig wees met die vraag: “Waar gaan U tuis?” Want ons weet dat Jesus steeds in hierdie wêreld aan die werk is. Ons roeping as sy volgelinge is eintlik om uit te vind waar Hy aan die werk is, en dan deel te word van dit waarmee Hy besig is. Ons moet die leidrade soek van waar Jesus reeds aan die werk is.
Hiervoor het ons ‘n metafoor gekies waarmee ons gaan werk. Dit sou egter onregverdig wees as ek dit hier sê voor ek dit vir die tieners gesê het. Ek sal Maandag dan iets daaroor skryf.
Groete.
Ek het woes vir ‘n preek gesoek vir Sondag, ek dink jy het dalk nou net die vonkie gegee daarvoor, dankie Attie!